BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 09 Januarie 2015

ONTVANGERS VAN GENADE

- het ‘n duidelike roeping en opdrag.

Ons lê dikwels klem op ons planne en programme, ons visies en ambisies. (veral hier aan die begin van ‘n jaar praat en dink ons dalk meer daaroor) Die kind van God behoort iemand te wees wat sal besef : God het ‘n baie spesifieke plan en doel vir my. Die vraag is natuurlik, wat is daardie plan? Kan ek dit weet? Moet ek probeer uitvind?

Die juweelteks van EFESIËRS 2:8-10 vat als so mooi en gebalanseerd saam :

“8.Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.  9.Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.  10.Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Die oorheersende tema hier  is genade. Dis vandag egter baie moeilik om oor die woord genade te preek sodat mense nog daaroor opgewonde raak. Min mense hoor nog die musiek in die woord “genade.” Die probleem lê nie by die begrip genade self nie, maar by ons huidige kultuur en verstaansraamwerk. Die mens van vandag sien homself nie juis as iemand wat genade nodig het nie. Genade is iets mooi, maar niemand stel daar in belang nie. (Dis vir baie amper so iets soos om ‘n plaas in Zimbabwe te erf – niemand wil dit hê nie!) Hoekom?

Mense sê : “Ag wat God is ‘n God van liefde, Hy sal niemand oordeel en hel toe stuur nie.  Ek het nie juis genade en vergifnis nodig nie.”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” (Openbaring 20:12)

Mense sê : “Ag wat daar bestaan nie juis meer iets soos sonde nie.” As mense in onsedelikheid leef, dan sê ons so half grappig : “Hulle is maar ‘n bietjie stout...” (Ons tydskrifte het kort-kort ‘n artikel oor een of ander filmster of mode heldin wat nou ware liefde ontdek het en by haar kêrel ingetrek het... so min mense besef nog iets van die aakligheid van ‘n onsedelike lewe) As jong mense hulle aan drank te buite gaan hier in die feesseisoen, dan word dit maar afgemaak : “Ag, jong hulle kuier bietjie hard, maar nou ja hulle het hard gewerk deur die jaar...” 

Watse dwase redenasie!  God se Woord sê : “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie." (1 Kor 6:9-10)

Mense sê : “Ag wat ek leef darem ‘n redelike ordentlike lewe. Baie kerklik en godsdienstig. Bekering en genade is eintlik bedoel vir tronkvoëls, moordenaars en Moslems!”  
Watse dwase redenasie! God se Woord sê : "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie...” (Rom 3:10)

Ten spyte van al hierdie dwalings, werk die Gees van God tog nog steeds vandag in mense se harte en oortuig hulle van sonde sodat hulle die genade in Jesus vasgryp deur die geloof.  So kry ons redding van sonde, dood en hel. Genade bly die mooiste woord in die Bybel. Genade is kosbaar vir mense wat  die aakligheid van hulle sonde besef en soos Jesaja uitroep : “Wee my, ek is verlore...” (Jesaja 6:5)  Genade is oneindig soet vir mense wat soos die tollenaar in die gelykenis bid : “O, God wees my sondaar genadig...”

IS JY AL ‘N ONTVANGER VAN GENADE?

Genade is nog net so kosbaar en heerlik vir die ontvangers daarvan vandag soos vir die Verlore Seun. (terwyl dit vir baie ander net so onverstaanbaar en onaanvaar bly soos vir die OUDSTE SEUN) Genade is nog steeds “onbeskryflik groot” Dis nog steeds “Amazing Grace” Dit gee vir ons die redding as geskenk, ‘n heeltemal gratis geskenk, sodat ons niks het om oor te spog of te roem nie! Genade bring aan God alleen die eer!

Genade is nie bloot ‘n wonderlike feit  nie, dit het ook ‘n wonderlike effek. Redding uit genade het ‘n rimpel effek kan mens sê. Gevolge wat sigbaar en wyer uitkring! Die ontvanger van genade is ‘n nuwe skepping. (Vgl. 2 Kor. 5:17) Genade laat jou nie onveranderd nie. Ons lees hier dat die ontvangers van genade geskape is met ‘n baie spesifieke doel. Hier kom ons nou by die antwoord op die vraag oor wat God se doel vir ons is. (10)

GENADE BEVRY EN RIG ONS TOT GOEIE WERKE!

Goeie dade! Goeie werke!  Hoor ons? (So baie mense dink dat goeie werke ‘n Roomse ding is. Nee dis ’n Bybelse ding as ons dit in die Bybelse volgorde verstaan as die uitvloeisel van genade.) Goeie werke is God se doel en agenda vir ons! Hier word ‘n belangrike ding oor goeie werke gesê. (Die OAV  sê dit baie duideliker) “goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Goeie werke het nog steeds ‘n genadekarakter. Dis nie ons prestasie en ons vernuftigheid nie! Nee, God het dit klaar voorberei en moontlik gemaak  vir ons. Dis ‘n pad wat Hy klaar uitgelê het en ons kan net daarop loop! Goeie werke kom ook van God af, dis ook ‘n gawe van God, dis steeds onverdiende genade. Hoe so? Deur die geloof in Jesus het God ons vrygespreek, sodat ons ‘n nuwe status het. Ons is nou nie meer oortreders in God se oë nie, maar kinders, regverdige kinders.  God hou van sy kinders en vind vreugde in hulle dade van dankbaarheid en gehoorsaamheid. (Trouens, al die sogenaamde goeie dinge wat mense buite Christus doen, is wegwerplik voor God. Wanneer goddelose film en popsterre kinders uit Afrika aanneem, tel dit nie in God se oë as goeie werke nie...) Deur die geloof in Jesus gee God vir ons die Heilige Gees wat ons in staat stel om Jesus se voorbeeld te volg. Goeie werke is om soos Jesus te leef in gehoorsaamheid aan Sy Vader. 

God se plan en agenda vir ons wat genade ontvang het is eenvoudig - leef soos Jesus! Gelykvormigheid aan Jesus.

Hoe lyk Jesus se lewe? Jesus het volkome onder die beheer van die Heilige Gees gelewe en dus altyd die vrugte van die Gees  volmaak vertoon. Dit wat die Gees in Jesus se lewe gedoen het wil Hy ook in ons lewe doen. God se doel vir ons,  die goeie werke wat God vir ons voorberei het is dus nie nuwe snaakse goed nie, maar 'n lewenswyse wat die vrugte van die Gees vertoon. (Galasiërs 5:22,23) As jy ‘n ontvanger is van genade, gered is deur die geloof alleen, dan het God jou bedoel en bestem vir 'n radikaal ander lewe gekenmerk deur: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Konsentreer hierop. Laat ons die opdragte van God se Woord en die geleenthede wat Hy oor ons pad bring uitvoer en benut volgens hierdie beginsels. Dis God se plan vir jou, ook in 2015! Oor die detail van waar en hoe hoef jy jou nie te bekommer nie...


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.