BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 24 Junie 2020

JHWH

- OF WATTER NAAM? 





Baie opregte Christene voel deesdae sterk oor die Hebreeuse naam JHWH. Daar is natuurlik ook kultusse vir wie dit ‘n kernsaak van die geloof is. Kom ons kyk bietjie rustig na hierdie tema vanuit God se Woord. Die God van Abram, Isak en Jakob, die Vader van ons Here Jesus Christus het sy Naam aan Moses bekend gemaak toe Hy hom geroep het om die volk uit Egipte te lei. Ons lees dit in Eksodus 3:13-15. 



Daarna sê Moses vir God: "Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?" 



Toe sê God vir Moses: "Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur." 

Verder sê God vir Moses: "Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. 

EK IS WAT EK IS

Moses het ‘n probleem gehad. God het hom daar by die brandende doringbos geroep en hom na die slawevolk van Israel in Egipte gestuur en hy moes darem vir hulle kon sê WIE hom gestuur het. God antwoord toe : “EK IS WAT EK IS.” Hoe dit presies vertaal moet word is nie heeltemal duidelik nie, maar die betekenis is tog nie so moeilik nie en waarskynlik baie ryk – Die lewende God se bestaan is van niemand, geen mens afhanklik nie. Hy was en is en sal wees! Hy is nie ‘n menslike maaksel of uitdinksel soos die derduisende afgode nie! Hy is net. Die suggestie van B. S. Childs is dat JHWH hierdeur wou sê dat sy karakter bekend sou word uit sy toekomstige handelinge, vernaam die bevryding van die volk uit Egipte. Dit sou moeilik wees om net te sê “Ek is” het my gestuur en daarom lees ons in die volgende vers die naam JHWH. (vertaal met Here) Dis duidelik dat die naam ‘n verwantskap het met die woorde “Ek is”, maar die presiese betekenis is ook nie duidelik nie. 

HOEKOM VERTAAL ONS DIE NAAM JHWH IN AFRIKAANS MET HERE? 

En miskien wonder jy sommer ook waar kom die naam Jehova vandaan? Kom ons gaan bietjie terug in die geskiedenis. Uit respek vir God en uit vrees om die naam van die Here ydellik te gebruik het die Hebreërs nie die Godsnaam JHWH uitgespreek nie. In die plek van waar JHWH gestaan het, het hulle Adonai gebruik. (Adonai of Adon wat ons ook met Here vertaal het ‘n wyer betekenis gehad en kon na God of na ‘n mens verwys). Of Elohim (ook ‘n generiese Godsnaam). Om mense te herinner dat hulle nie die heilige naam JHWH naam moet uitspreek nie en eerder Adonai moet lees het hulle die vokale van die woord Adonai gevat en onder die konsonante van die woord JHWH geskryf. (Onthou net, oorspronklik is Bybelse Hebreeus net met konsonante geskryf, die vokale is later deur ‘n groep bekend as die Masorete ingevoeg.) Dit was net ‘n herinneringstegniek en hierdie woord met die vokale van Adonai was nooit bedoel om uitgespreek te word nie. As mens dit wel sou uitspreek sou dit getranskribeer kon word as Jehova. Dis waar die woord Jehova vandaan kom ,maar dis duidelik dat dit nooit die oorspronklike Godsnaam se uitspraak was nie. (Die Jehova getuies baklei dus vir iets wat nie regtig bestaan nie.) 

Dit blyk dat die ander titels in plek van die JHWH (ook genoem die tetragrammaton omdat dit uit vier letters bestaan) baie algemeen geword het na die verwoesting van die tempel en die Babiloniese ballingskap. Teen die tyd van Jesus is die naam JHWH nooit deur die gemiddelde Joodse persoon gebruik nie. 

VOORBEELD - Psalm 97:5




In die meeste Bybels word die Godsnaam JHWH dus nie as Jahweh of Jehova vertaal nie, maar as Here/LORD. In Afrikaans word die naam JHWH sowel as die naam Adonai/Adon met Here vertaal. Kom ons kyk bietjie na PSALM 97:5 as voorbeeld waar beide die naam JHWH en Adonai voorkom: 

ASV - The mountains melted like wax at the presence of Jehovah (JHWH), At the presence of the Lord (Adon) of the whole earth. 

NIV – The mountains melt like wax before the LORD, before the Lord of all the earth. 

OAV Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde. 

NAV - Berge smelt soos was voor die Here, voor die Here van die aarde. 

Nuwe Direkte Vertaling - Berge smelt soos was voor die HERE, voor die Heer van die hele wêreld. (Die nuwe Direkte Vertaling is dus die duidelikste in die sin dat die onderskeid tussen JHWH en Adon waarneembaar is vir die leser)

Om op te som - Daar is dus niks snaaks en verkeerd met die naam JHWH nie. In ‘n akademiese konteks kan dit selfs noodsaaklik wees om onderskeid te maak tussen verskillende name. Dis immers die verbondsnaam van God wat meer as 6000 keer in die OT voorkom. 

WAAROM NIE?

Die logiese vraag is dan nou seker - Waarom gebruik ons (en die Christelike kerk deur die eeue) oor die algemeen nie die naam JHWH in ons normale aanbidding nie? *

1.Niemand weet in elk geval presies hoe om dit reg uit te spreek nie. Ek het reeds verduidelik dat die presiese uitspraak verlore gegaan het. Dis belangrik om te onthou dat die huidige uitspraak “Jahweh” ‘n akademiese rekonstruksie is van die vermoedelik oorspronklike uitspraak, wat eerste voorgestel is deur Wilhelm Gesenius (1786–1842). Baie huidige geleerdes is oortuig dat dit nie die regte uitspraak is nie. Daar is dus verskil van mening. Dit opsigself is seker nie heeltemal ‘n voldoende rede om die gebruik van die naam JHWH veral in Bybelvertalings te ontmoedig nie. (Daar is wel ander redes) 

2. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die LXX (Septuaginta) het die Hebreeuse JHWH vertaal met die Griekse woord kurios wat Here beteken. Dit geld veral vir die bekendste LXX manuskripte. Ter wille van volledigheid - daar was wel manuskripte waarin ‘n transliterasie van die naam JHWH ook voorgekom het. Die punt is net die Griekse vertaling van die Ou Testament is wyd gebruik in die vroeë kerk en dit is dus logies dat Christene God as Here sou aanspreek en nie JHWH nie. Insiggewend is dat die titel, kurios wat in die plek van JHWH gebruik is, ook vir Jesus in die Nuwe Testament gebruik word. Dis ‘n kragtige bewys van die Godheid van Jesus! 

3.Die Nuwe Testamentiese skrywers soos Paulus, die evangeliste en ander apostels het nêrens in hulle geskrifte soos ons dit in die Nuwe Testament aantref, die naam JHWH gebruik nie, maar eerder generiese terme soos God (QeoV), Vader en Here. Ook waar hulle die Ou Testament aanhaal het hulle nooit JHWH gebruik nie. 

4.Daar is geen bewys Jesus ooit die naam JHWH gebruik het nie. Jesus was ‘n vroom Israeliet en sou definitief volgens die siening van sy tyd nooit die naam JHWH in die openbaar gebruik het nie. Vanuit die Nuwe Testament weet ons dat Hy die generiese terme Vader (In Aramees, sy huistaal, Abba) gebruik het. Ons weet ook almal dat Jesus in sy modelgebed vir ons geleer het om God as Vader aan te spreek. Die enigste ander aanspreekvorm wat ons van weet dat Jesus dit gebruik het was “Eloi,” (my God) aan die kruis- as ‘n generiese term en nie as ‘n eienaam nie. 

Wat vir Jesus goed was is seker vir ons ook goed! 

Waarskuwing: Daar is niks fout met die naam JHWH as sodanig nie, maar die skielike gebruik van en die beheptheid met die naam JHWH is dikwels ‘n aanduiding dat mense in die kloue van die Israelvisie of Hebrew Roots Movement beland het. Dis ‘n gevaarlike glybaan weg terug na die Ou Verbond toe en uiteindelik heeltemal weg van die evangelie. 

POSITIEF!

Kom ons bekyk als positief! Op watter naam val die fokus in die Nuwe Testament? ( En ek dink hier kom ons by die hart van die saak) Die Nuwe Testament lê wel klem op ‘n NAAM! Kom ons kyk na Handelinge 4:10-12. (OAV) Dis besonder belangrik – (in die konteks is dit duidelik die Naam, Jesus) “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” 

Die Nuwe Testament is ook baie duidelik oor watter naam bo elke naam is! Lees maar in Filippense 2 waar Paulus so treffend eers Jesus se vernedering en dan sy verhoging beskryf. Dan maak hy hierdie wonderlike stelling in Filippense 2:9-11. 

“Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 
en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader.” 

Die naam wat ek en jy moet ken om gered te word is die Naam Jesus, die Seun van die Lewende God. 

Hieroor is Paulus baie duidelik in Romeine 9:9,13. 

9. As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 
13. want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 

Het jy al die regte Naam om gered te word aangeroep? Dis die naam van Jesus. Hy is die Middelaar en Hoëpriester tussen ons en die Vader. Daar is geen ander pad van verlossing nie, want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe!

*Streng gesproke maak die Christelike kerk tog wel algemeen gebruik van die naam JHWH in die term "halleluja"  wat beteken : Prys Jah (Jah is 'n afkorting van die naam JHWH) Ons vind dit natuurlik algemeen in die Psalms in 'n konteks van lof en ook in Openbaring byv. 19:1 "En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!"


Kyk ook op YouTube - kliek op NAAM?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.