BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 27 April 2014

AFRIKANER BYGELOOF

-  wanpersepsies, mistastings, onkunde en naïwiteit met vernietigende gevolge...

Daar is ‘n tipe “volksgeloof” wat lewend onder Afrikaners is, maar wat baie ver verwyderd is van Bybelse geloof. (Natuurlik kom hierdie en ander mistastings onder ander groepe ook voor, maar ek het veral met Afrikaners te make... en ekself is mos ook een...) Hierdie bygeloof en blindheid is ‘n ernstige saak, want dit maak dat die behoefte aan ‘n Verlosser moeilik besef word. Die EVANGELIE bly dikwels versluier en word selde raak gehoor.



Kyk saam met my na ‘n paar voorbeelde van Afrikaner bygeloof en populêre opvattings (sommige het in die huidige tyd dalk effens gekwyn en ander het net nuwe baadjies aangetrek en vertoon hedendaagse variasies) :



# “Ek is ‘n Christen, want ek het teen die goddelose Kommuniste en terroriste op die grens geveg.” (dis ‘n bygeloof van veral die vorige geslag.) Die Afrikanersaak is dikwels outomaties en naatloos gelykgestel aan die Koninkryk van God... Die Woord leer ons egter dat slegs diegene wat aan Jesus behoort, deel is van God se volk. Hierdie volk het niks te make met etnisiteit of politieke strukture nie.

# “As ek as kind gedoop is, is my pad hemel toe mos geteer.” ‘n Al groter groep glo nou ‘n variasie van hierdie leuen, naamlik : “As ek iewers weer gedoop is, is ek ‘n ware Christen, ongeag in watter morele gemors my lewe verkeer!” Die tweede dwaling is net so erg as die eerste.

# “‘n Christelike begrafnis, sal al my sondes van die verlede uitwis en my ‘n kind van God maak. Die dominee het sulke mooi dinge op X se roudiens gesê, hy kan net op een plek wees...” Dit maak nie saak of iemand nooit enige tekens van ware geloof en bekering getoon het nie, dit maak nie saak as kerkbywoning en sakramentsgebruik heeltemal verontagsaam is nie, solank daar net ‘n roudiens of begrafnis vanuit ‘n kerk kan plaasvind, waar almal die versekering gegee word dat X nou veilig “op ‘n beter plek is...” (en ja, sulke people’s pleasers dominees en pastore, wat wil saamspeel is altyd te vinde.)

# “Ek is ‘n ingeskrewe lidmaat van die ... kerk en dus is my saak met God reg. My oupa was immers ‘n medestigter van hierdie gemeente, my ouma se neef was jare lank ‘n sendeling in Malawi...” Hierdie kerklikheidsbygeloof is nou vervang met ‘n nuwe onkerklike een : “My saak is reg, want Sondae oggende kyk ons vir Andries Enslin op TV!” Ek het natuurlik niks teen Andries nie, maar dis opvallend dat soveel kerklos mense wat dikwels in goddeloosheid en ongehoorsaamheid lewe, heel tevrede is met hulleself omdat hulle na Andries luister... Dis immers ‘n baie gerieflike tipe Christenskap. Die opperste vorm van gemakstoel dissipelskap. Ek hoef nie eens aan te trek en my motor uit die garage te trek nie... Ek hoef geen verantwoordelikheid vir die liggaam van Christus te neem nie, ek hoef my nie te steur aan die verbreking van my lidmaatsbeloftes voor God nie...

# “Dit staan tog immers geskrywe... in die HUISGENOOT...” Die HUISGENOOT is die ware bron vir die bepaling van baie Afrikaners se norme en waardes, nie meer die Bybel nie. Dit klink dalk vir sommige vergesog, maar luister maar... Vandat hierdie verderflike skindertydskrif euwels soos saambly en homoseksuele gedrag begin goedpraat het – deur hulle misplaaste heldeverering, is hierdie sondes nie meer ‘n taboe in “Christen Afrikanergeledere” nie.

# “‘n Goeie dominee, is ‘n lekker dominee en ‘n lekker dominee is een wat als saam doen, van saam vloek tot saam dans!” ‘n Lekker dominee sal dit ook nooit waag om enige sonde by die naam te noem nie, want die lekker dominee se hooftaak is om almal gelukkig te hou en so die kerk se bankrekening te probeer stabiliseer. “O, ja, die lekker dominee moet verkieslik ook nie langer as tien minute preek nie, want ek moet gou by die huis kom, want die Sondag is daar gestel om my siel te versadig met RAPPORT se voedsame vullis!” En as ‘n dominee nou regtig “upmarket” wil wees, dan vertel hy die mense daar is nie iets soos ‘n oordeel en hel nie...

# "Byna al ons helde is sulke pragtige Christene!" Die huidig geestelik arme Afrikaner raak naïef opgewonde oor elke celebrity (rugbyspeler, sanger, filmster, skoonheidskoningin...) wat hulle Christenskap in die media verklaar, op een of ander tydskrif se voorblad pronk en daarna voortgaan om soos heidene te leef. Hierdie celebrities se Christenskap mag nooit bevraagteken word nie, al verskyn hulle ook halfnaak op daai voorblaaie... (kliek op CELEBRITIES)

# Die een (soms seker die enigste) Bybelteks wat alle Afrikaners ken is die een wat sê : “Moenie oordeel nie.” Die verkeerde interpretasie van hierdie (uit konteks) aangehaalde teks beteken dat geen geestelike gebruik of morele gewoonte bevraagteken word en dat geen tugwaardige sonde aangespreek mag word nie. Die kerk het dus in normlose chaos verval en elkeen maak soos hy wil. (kliek op die DUIWEL SE BYBEL)

# Die Afrikaner is allerweë in die verlede beskou as baie tradisievaste mense. Dit was miskien so, maar dis beslis nie meer die geval nie. Die “tradisie” van die huwelik, inderdaad ‘n Goddelike instelling is vinnig besig om uit te sterf. “Ons het nie papiere nie, maar is voor God getroud,” is die flou verskoning vir ‘n lewe van seksuele losbandigheid. (kliek op MAAGD VOOR KANSEL)

# Daar is een saak wat die Afrikaner se toewyding, opoffering en blinde lojaliteit vra en wat sy identiteit definieer : RUGBY. Dis nie ‘n grap om dit die Afrikaner se werklike godsdiens te noem nie, dis die naakte werklikheid! Vir hierdie spel sal die Afrikaner sy tyd, geld en siel prysgee. Dis waar sy ware skat is en dis waar sy hart is! Gaan toets dit! Waaroor raak ons mense opgewonde? Rugby of evangelie? Waarvan dra hulle kennis? Meestal van rugby. Bybelkennis het amper heeltemal verdwyn ...

# Skriflesing en gebed by openbare geleenthede is die Afrikaner se aller sterkpunt en die openbare “badge” van toewyding. Hoor hier, daar is bykans niks onder die son wat nie met hierdie ritueel afgeskop word nie. Van die vetveeskou waar daar gesuip word tot die konsert waar daar met God gespot word. En toe ons nog in beheer van die “army” was is die Skrif aangehoor op dieselfde paradegronde waar daar blou were gevloek is... Misbruik van God se heilige Naam in ‘n opperste vorm!  Ja, laat ons na die Woord luister, orals en altyd, maar kom ons gehoorsaam dit en raak ontslae van die afgode in ons volksgeledere!

EN TOG IS DAAR HOOP...

‘n Mens wil amper soos die dissipels uitroep : "Wie kan dan gered word?" (Dit was nadat Jesus vir hulle vertel het hoe moeilik dit is vir ‘n ryk man om gered te word.) Ja, wie kyk na ons samelewing kan maklik begin wanhoop, maar tog bly Jesus se heerlike versekering van krag: "Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik." (Matteus 19:25,26) Inderdaad red God nog steeds Afrikaners uit genade en bewaar Hy ook sy kinders tot die einde toe!


Afrikaners. Nie die stomme beeste nie, maar die misleide volksgenote...!

7 opmerkings:

  1. Halleluja!

    DC Coetsee

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie vir jou skrywe. So jammer dat soveel van ons mense op hierdie pad is. Mag die Here ons almal maar net genadig wees.

    Aangaande die Huisgenoot: Anderdag kom ons baie laat tuis en gaan koop gou morskos by ‘n wegdra “fastfood”. Daar staan ‘n vrou by in die ry met ‘n Huisgenoot onder die arm en ek dink toe: Wat ‘n dieet - Junk vir die maag en junk vir die kop.

    Op ligter noot oor die Rapport: Laat een Sondag sit die hele gesin rond – elkeen met ‘n deel van die Rapport. Die jong outjie vra later: “Pa wat beteken sexy?”. Die pa is sommer dadelik opsternaat. “Vrou, ek sê al lankal hierdie smerige koerant moet uit hierdie huis uit », en vra sy seun wat staan daar. Die outjie antwoord: “Hierso Pa, Seksie 1, seksie 2, seksie 3, seksie 4”.

    AntwoordVee uit
  3. Dankie vir jou werk met hierdie blog! Ek wonder, wat sou die wortel van die kwaad wees wat Afrikaner-bygelowe betref? Waarom is dit moontlik dat dié dinge geslag na geslag so aan die lewe bly? Toe ek jonk was, was daar 'ooms', met wie jy nie oor die soort goed moes redeneer nie, maak nie saak wat die Skrif sê nie. (En moenie die tannies weggooi nie). Nou is ek ouer as wat party van daardie 'ooms' was, en daar is maar net weer 'n nuwe opkomende geslag 'ooms', met jonger mense in hulle huise wat dieselfde pad loop.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. In enige antwoord moet mens seker waak teen oorvereenvoudiging en veralgemening, maar as ek so vinnig moet dink : ‘n Volkskerksituasie sonder tug en sonder evangeliese vereistes vir lidmaatskap, ook die historiese politieke ontwikkeling van die Afrikaner (die idee van Christelik-Nasionaal, waar Christenskap in diens van ‘n etniese doelwit gestel word), maar die belangrikste seker die gebrek aan suiwer en vreeslose evangelie verkondiging... elke geslag moet immers opnuut die evangelie hoor en tog bekering opgeroep word!

      Vee uit
  4. Hallo Johannes, dankie vir die goeie skrywe sodat mens goeie selfondersoek kan doen. As jy 'n tydjie het, doen asb vir ons een ook oor "Nuwe SA bygelowe". Dankie en groete daar. Slabbert

    AntwoordVee uit
  5. Hallo Johannes, dankie vir die goeie skrywe sodat mens goeie selfondersoek kan doen. As jy 'n tydjie het, doen asb vir ons een ook oor "Nuwe SA bygelowe". Dankie en groete daar. Slabbert

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dag Slabbert. Ja en is daar nie baie nuwe bygelowe nie, soos mense wat dink Zille is die Mezias?

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.