BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 07 Maart 2014

DIE KRISIS VAN ‘N KRAGTELOSE KERK

- ons Meester gee die oplossing.


Die kerk het baie planne en projekte, maar mens kry die indruk dat ons dikwels magteloos is om diegene te help wat vasgevang is in sonde, verslawing en wanhoop. Het Jesus dalk sy krag verloor? Is die evangelie se rakleeftyd verstreke? Of lê die probleem dalk iewers anders?
Nadat Jesus afgekom het van die berg van verheerliking word Hy weer met die skokkende werklikheid gekonfronteer. Twee hartseer feite word in Markus se weergawe van hierdie gebeure in hoofstuk 9:14-29 beklemtoon. Ons word gekonfronteer met :

Die skokkende feit van ‘n gebroke wêreld. Vol sonde, hartseer en stukkendheid. Stukkende mense, stukkende verhoudings, stukkende huwelike, stukkende gesinne, stukkende families... Hoekom is dit so? Deur die sondeval in Eden het die mens mos gekies om aan Satan onderdanig te wees. Nou is hy daagliks besig om verwoesting te saai. Hierdie verwoesting word treffend en grafies vir ons geteken as hierdie bekommerde pa sy seun se toestand aan Jesus beskryf. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons." (21,22) Van hierdie ongelukkige seun het eintlik net ‘n wrak oorgebly. Die duiwel is daarop uit om menselewens te vernietig in alle opsigte! (Vergelyk Jesus se woorde in Johannes 8:44) Satan haat die mens met ‘n passie om so God se eer te probeer aantas! Hy probeer God se skeppingswerk vernietig en hy spits hom toe op die mens wat geskep is na God se beeld.

Maar hier is nog ‘n meer skokkende feit wat vir ons uitgelig word en waarop Markus die klem laat val : die magtelose kragteloosheid van Jesus se dissipels. Jesus was op die berg van verheerliking. Daar het sy drie leiers, Petrus, Jakobus en Johannes ‘n vlugtige blik gekry op sy Goddelike heerlikheid. ‘n Voorskou van die heerlikheid waarmee Jesus eendag by sy wederkoms sal verskyn. Maar eers het die kruis nog gewag. God sou die heerlikheid net laat aanbreek as Jesus die versoening aan die kruis sou bewerk het... Intussen het ‘n drama homself afgespeel aan die voet van die berg. ‘n Desperate pa het sy seun wat van die duiwel besete was na die dissipels gebring, maar hulle kon hom nie help nie!

Is dit nie ook dikwels die skokkende toestand van die kerk nie. Orals word ons gekonfronteer met mense wat slagoffers is van die duiwel se verwoestingswerk... mense strompel gebukkend voort onder skuldgevoelens, verlam deur angs en vrees, verslaaf aan vernietigende gewoontes, geteister deur gebroke verhoudings, in moedeloosheid en depressie, sonder hoop en visie... en ons het nie die krag om hulle te help nie! Ja, ons praat, maar ons woorde en boodskap maak nie indruk nie, dit bring nie bevryding nie, dit kan nie troos en heelmaak nie... Ons praat met ons kinders, maar dit lyk so vrugteloos. Ons preek en pleit by sondaars sonder sukses. Waar lê die fout? By Jesus of dalk by ons wat sy dissipels is? Ons gelese gedeelte wys mos duidelik waar ons die oorsaak moet soek....

Die fout lê by Jesus se dissipels. Hulle is magteloos om te help. Hulle laat hierdie man in sy diepste nood in die steek, maar nog erger, hulle bring ‘n klad op Jesus se naam! Hulle steek Jesus in die skande! Hulle was mos Jesus se gevolmagtigdes en verteenwoordigers. Wat ‘n swak advertensie vir Jesus en sy koninkryk! Hulle hulpeloosheid wek nou wantroue en ongeloof in Jesus se krag by ander mense.

Jesus is diep teleurgesteld in sy dissipels. Hy bestraf hulle baie skerp. “Jesus sê toe vir hulle: "Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe."(19) Hy verwyt hulle vir hulle ongeloof! Miskien kom die vraag by ons op of Jesus nie dalk bietjie onbillik en hard met sy dissipels was nie. Was hierdie seun nie dalk maar net ‘n uiterste moeilike geval nie? Op die oog af kan dit dalk so lyk, maar as ons terug blaai in Markus kry ons ‘n ander perspektief. In Markus 6:7 lees ons pertinent hoe Jesus aan hulle die volmag gegee het om duiwels uit te dryf. “Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee.” En verder lees ons dat hulle dit inderdaad gedoen het! “Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.” (6:13) 

Hoekom die mislukking?

Nou wat was dan nou fout? Hoekom kon hulle nie nou hierdie seun help nie, terwyl hulle vantevore soortgelyke gevalle kon hanteer? Ons kry die antwoord toe Jesus na die tyd weer alleen met sy dissipels gepraat het. “Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: "Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?" Hy het vir hulle gesê: "Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie." (28,29) Die dissipels het die fout gemaak om te dink dat die gawe wat hulle ontvang het in 6:7 in hulle mag was en dat hulle dit kon gebruik soos hulle wou. Nee, ons het net krag in voortdurende afhanklikheid van God en daardie afhanklikheid vind uitdrukking in gebed! Vorige suksesse waarborg nie voortgaande sukses nie. (Die beste elektriese lamp kan net brand terwyl dit gekoppel is aan die kragbron.) Elke dag het ons opnuut God se krag en genade nodig. Jesus het reeds gewys op die noodsaaklikheid van geloof in vers 23. “‘As U iets kan doen,’ sê jy," antwoord Jesus. "Vir die een wat glo, kan alles." Hier word nou verder gekwalifiseer wat geloof is, ware geloof is ‘n geloof wat BID! Gebed is geloof in aksie. Geloof is nie hierdie ingewikkelde abstrakte stuk breingimnastiek nie. Geloof is ‘n geloof wat met God praat in vertroue. As ek werklik in God glo, sal ek mos met Hom praat en my hart voor hom uitstort. Gebed is die belangrikste vorm van dankbaarheid, m.a.w. praktiese Christenskap. (Sien Heidelbergse Kategismus Sondag 45 Vraag 116 wat dit besonder deeglik raakvat)**

As ek op hierdie oomblik in my lewe nie ‘n biddende mens is nie, is ek ‘n kragtelose mens. (al het die Here my dalk in die verlede kragtig gebruik) As ons nie op hierdie oomblik ‘n biddende gemeente is nie, is ons ‘n mislukking! Dan kan God ons nie gebruik om bevryding aan ander te bring nie.

BIDDELOOSHEID IS ‘N SONDE

Biddeloosheid is nie maar net ‘n fout of ‘n swakheid nie, dis ‘n sonde!*** (onthou sonde is nie net dinge wat ons doen nie, maar ook wat ons nalaat om te doen) Biddeloosheid is ‘n sonde wat groot skade veroorsaak. Dit beroof ons van blydskap en Jesus se daaglikse teenwoordigheid. Dit beroof ons van krag en energie. Dis ‘n sonde met ernstige gevolge vir onsself, maar ook vir ander mense en bo alles doen dit God se eer skade aan.

Jesus gee die oplossing vir ‘n kragtelose kerk. Nie nog meer kursusse en programme nie, nie indrukwekkender (of meer wêreldgelykvormige) reklamefoefies om jongmense te lok nie, nie beter Powerpoint aanbiedings nie, maar terug na ons knieë in gebed! Wie is ons om sy raad te verontagsaam?

Met Jesus se almag is daar niks fout nie. Hy bevry die seun, selfs al was sy pa se geloof nie juis baie sterk nie. “Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (24) Dis vir ons ‘n heerlike troos. Dit bevestig maar net weer dat die deurslaggewende faktor nie ons geloof is nie, maar die EEN in wie ons glo! 

Die vraag is net, glo ons regtig? Ons kan mos nie van gesonde geloof praat as ons nie na Hom in die gebed kom en met Hom praat nie! Praat jy met Hom? Hoe dikwels? Hoe ernstig? 

Kom ons maak erns met gebed – met binnekamergebed, maar ook gesamentlike gebed. Daar word heerlike beloftes aan beide vorms van gebed gekoppel : 

“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (Matteus 6:6)

“Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle." (Matteus 18:19,29)

Gaan ek en jy nou bid? Sommer nou?

* Die frustrasie wat God beleef het met die ongelowige Israel is nou weer die frustrasie wat Jesus beleef met die toekomstige geloofsgemeenskap vgl. Deuteronomium 32:5,20.

** 116 Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

(a) Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.

*** So word die nalaat van gebed vir ander ‘n sonde teen God genoem in 1 Samuel 12:23. “Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.