BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 10 Mei 2013

AS PRAAT EN PLEIT NIE MEER HELP NIE

- is die Gees nog steeds daar! 


Kinders van God beleef soms baie soorte teleurstellings en moedeloosheid en selfs partykeer ‘n wanhopige gevoel van bekommernis. Die redes is veelvuldig : dinge werk nie uit soos ek dit wil hê nie, probleme so groot soos die berge, moeilike omstandighede wat eindeloos voortsloer... van die ontstellendste krisisse is egter die angswekkende feit van eggenotes, kinders, familie en vriende (selfs gemeentelede) wat onbekeerd voortleef terwyl die einde naderkom... Hulle is vasgevang in Satan se greep, verblind deur die wêreld, verlam in ‘n verlore staat... Jou gepraat val skynbaar op dowe ore, jou gedreig en gepleit het geen effek. Dit maak jou moedeloos en selfs paniekerig. Dan is daar nog die betreurenswaardige toestand van die kerk...dwalinge, morele verval, wêreldsgesindheid en laksheid wat floreer. Dit dreig om baie Christene heeltemal moedeloos of sinies te maak. 

Die profeet Sagaria het vir elkeen wat so voel ‘n besondere boodskap. Sagaria self het opgetree in ‘n konteks van moedeloosheid en teleurstelling. Hy bring sy boodskap in die tydperk nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Hulle het mooi verwagtinge gehad, maar als het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie. Daar was armoede, vyande, geskille en geestelike verval. Die groot taak in hierdie tyd was om die verwoeste tempel weer te herbou, maar dit het maar broekskeur gegaan en op ‘n stadium moes die werk gestaak word. Die goewerneur Serubabel moes in hierdie moeilike omstandighede toesien dat die bouwerk vorder. Die doel van visioen van die olie en die lampe in Sagaria hoofstuk 4 was om hom te bemoedig. Hierdie bemoediging gaan egter verder as Serubabel en sy tyd, dis ‘n profetiese boodskap wat ook ons direk raak... 

Die kernboodskap van die beeld van die olie en die lampe vind ons in vers 6. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis wat die moedelose Serubabel moes hoor : die sukses van sy onderneming het nie afgehang van menslike vermoëns en planne nie, maar van God se Gees wat krag gee. Deur die krag van God se Gees sal die grootste berg, die ongemaklikste struikelblok, ‘n gelykte word! (7) Hoe nodig het ons nie om hierdie boodskap te hoor nie. Ons het mos die neiging om alles met brute krag en geweld te wil regforseer. Ek wil my familie regskree. Ek wil my man regpreek. Ek wil my werksmense sommer met ‘n dropper regmoker tot bekering! God herinner ons... “Nee, my kind, nie deur krag en geweld nie, maar deur my Gees...” 

Kom ons vat dit maar vir ‘n feit: ons kan niemand deur menslike geweld en oorredingskrag verander nie. Ons kan nie self lewe blaas in iemand wat geestelik dood is nie. Ons kan niemand se gewete bring tot berou nie. Ons kan niemand beweeg tot bekering nie...maar die Heilige Gees kan! 

Hierdie visioen van Sagaria beklemtoon ons totale afhanklikheid van God se Gees. Die lampe van die kandelaar word voortdurend voorsien vaan olie. Sonder die olie kan die lampe nie brand nie. Die lampe simboliseer die aanbiddingsgemeenskap, in ons taal, die gemeente. Sonder die bekragtiging en energie van die Heilige gees kan ons nie kerkwees nie, kan ons nie effek hê op mense rondom ons nie, kan ons nie slaag met ons Godgegewe take nie. Ek en jy kan nie in hierdie donker wêreld skyn en ‘n verskil maak sonder die olie van die Heilige Gees nie. 

Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat die Heilige Gees tot beskikking is van elke kind van God! 

As ons dan nou besef dat ons afhanklik is van die Heilige Gees, wat dan nou? 

Bid vir die bekragtiging van die Gees. Gebed is die duidelikste bewys dat ek nie meer op eie vermoëns staatmaak nie, maar op die Heilige Gees. God skenk sy Gees in antwoord op gebed. (Lukas 11:13) 

Waak dat ek nie die Gees bedroef en uitblus nie. (Efesiërs 4:30) Hoe keer ek dat ek die Gees bedroef? (Ef 4:31,32) Stel my verhouding met my medemens reg! 

Getuig onder beheer van die Heilige Gees. Hy gee die krag daarvoor. (Handelinge 1:8) Die Heilige Gees maak ons nie passiewe dromers met wollerige idees nie, maar gehoorsame arbeiders in God se wingerd! Vertel maar net in opregtheid wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het. Moenie geestelike geweld en druk op mense toepas nie. Laat die Gees jou lewe spontaan oorheers, sodat jou woorde deur jou lewensstyl ondersteun word. 

Wie op die Heilige Gees vertrou het rede om positief blymoedig te wees. Die pessimiste sou destyds sê : kyk hoe stadig vorder die tempel, dit sal nooit klaarkom nie. 'n Belangrike deel van die boodskap wat Sagaria moes oordra is: Moenie ‘n klein begin verag nie! (10) Ja, die ware Christene is min, die wat vashou aan die waarheid van die Woord is yl gesaai, ons woorde voel so swak, ons pogings lyk so nietig... Moenie dit geringskat nie. Onthou vir die Gees is niks onmoontlik nie. (Hy kon Paulus die klipharde Fariseër verander...) Jesus self het ons daarop gewys die koninkryk van God begin maar klein, soos ‘n mostertsaadjie, maar dit groei onstuitbaar... 

God self sorg dat sy tempel gebou word!

Hiervoor het Hy destyds mense gebruik wat afhanklik was van die Gees. Die fisiese tempel is wel herbou in die tyd van Sagaria, maar God is vandag nog met iets baie groters besig. Hy bou sy ewige tempel, sy kerk, die liggaam van Jesus. God gebruik weereens mense hiervoor wat afhanklik is van die Heilige Gees. Jesus is ons Gesalfde, Hy was vol van die Heilige Gees en Hy gee sy Gees aan ons om die werk te kan doen. Hierdie feit gee ons hoop en vuur ons aan om te werk. Ons kan Hom vertrou om deur sy Gees groot dinge te doen, al lyk ons pogings hoe klein! 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.