Ek het Elia jare gelede leer "ken" langs die pad iewers tussen Okahandja en Otjiwarongo. Dit was nou nie juis ‘n aangename dag nie. Ek was oppad na Tsumkwe in Boesmanland (in die verre noordooste van Namibië) en het van die pad afgetrek omdat ek van mening was daar was fout met die bakkie waarmee ek gereis het. Vanaf die oggend het ek ander voertuie gestop en boodskappe by Windhoek probeer uitkry na my pa om te kom help. (dit was voor die tyd van selfone) Eers laatmiddag, ongeveer by vyf uur se kant, het Pa en ‘n werktuigkundige opgedaag, net om uit te vind daar was al die tyd niks fout nie... Praat van ‘n groot verleentheid... Maar nietemin, terwyl ek uur na uur daar gewag het, het ek aan A.W. Pink se bekende boek, “Elijah” gelees...
Die profeet Elia is vir my ‘n fassinerende en inspirerende persoon. ‘n Held met ‘n harige mantel en ‘n leergordel. Natuurlik, gaan dit nie oor sy voorkoms nie, maar sy onverskrokke karakter. Op sy Facebookprofiel sou ek baie graag ‘n “like” wou registreer. Kyk bietjie saam met my na sy profiel soos die Woord dit vir ons teken :
Elia het in die teenwoordigheid van God geleef. Coram Deo was die groeibodem van sy lewensuitkyk en aksies. Ons lees : “die God van Israel... voor wie se aangesig ek staan...” (1 Konings 17:1,18:15)* Hier lê die geheim van sy lewe en loopbaan. Hy het in eerbiedige kontak met God geleef. God se wil, wense en eer was sy ambisie en motivering. Hy het nie een of ander selfsugtige of selfgerigte agenda nagevolg nie, maar bloot opgetree volgens God se duidelike opdragte. Telkens lees ons : “toe kom die woord van die HERE tot hom...” (1 Konings 17:2,8; 18:1; 21:17) Al sy aksies was in gehoorsaamheid aan God se woord. (1 Konings 18:36) Elia was ‘n regverdige wat in ‘n verhouding met die Lewende God gestaan het en nie bloot ‘n beroepsprofeet nie. Hy het ‘n passie vir God gehad, ‘n ywer vir die HERE wat sy hart in beroering gebring het. Soos Henog het hy met God gewandel en soos Henog word hy lewend in die hemel opgeneem. Hy word die unieke voorreg gegun om die heerlikheid van God binne te gaan met ‘n wa en perde van vuur. Verbysterend!
Elia was God se leerling avonturier en moes telkens nuwe grense van gehoorsaamheid oorsteek. God het vir Elia stap vir stap geleer wat geloof en vertroue behels. Hy moes ondervind dat God vir hom op enige plek en deur enige agent kan sorg. By die spruit Krit, het God kraaie gebruik om brood en vleis te bring. Elia is egter nooit toegelaat om in een of ander gemaksone te stagneer nie. Die spruit het al stadiger geloop en op ‘n dag heeltemal opgedroog... Wat nou? Elia moes eenvoudig net nog dieper op God vertrou. Van alle mense stuur God hom toe na ‘n weduwee (heeltemal hulpeloos in die destydse sosiale opset) en boonop nog ook ‘n heiden, juis in die gebied waarvan Elia se grootste vyand, die bose Isebel vandaan gekom het! Kyk, God het darem ‘n sin vir humor! Vanuit ‘n krisis stuur God vir Elia na iemand wat nog in ‘n groter krisis is om vir hom te sorg. Die dreigende ramp word afgeweer deur ‘n wonderwerk (vermeerdering van die meel en olie), maar Elia se geloofskursus was nog nie klaar nie. ‘n Groter ellende het gewag. Dink net sy groot verleentheid toe sy weldoener se enigste seun sterf... Alles deel van God se plan om Homself en sy almag aan Elia te openbaar, alles ter voorbereiding vir die groot slag van Karmel.
Elia het proefondervindelik geweet :
GOD LEEF!
Elia was nie ‘n people’s pleaser nie. Dink jou in, ‘n “kerkman” wat vir droogte bid! Laat ‘n predikant dit vandag waag om so iets te doen... Elia het hom bitter min aan enige openbare opinie of tydsgees gesteur. Dit kon nie anders nie, want ons het mos gesien hy het voor God se aangesig geleef. Toe Agab vir hom beskuldig dat hy die beroerder is van Israel, vertel Elia hom kaalkop die waarheid : “Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het.” (1 Konings 18:18) Elia het nie geglo aan ‘n sagte diplomatiese boodskap met mooi woordjies nie. Hy het gesê wat hy bedoel, en het bedoel wat hy gesê het. Op Karmel daag hy die volk in reguit taal uit : “En Elia het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” Elia, aangevuur deur sy ywer vir die ware God, het nie belanggestel in samesprekings met dwaalprofete en kompromieë met Satan se agente nie. Sy houding teenoor God se vyande was eenvoudig en duidelik , sy aksie was deeglik en dodelik : “Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elia het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag.” (1 Konings 18:40)
Kan jy raai wat sou die etiket om Elia se nek gewees het, as hy vandag sou optree? Ja, reg – ONVERDRAAGSAME FUNDAMENTALIS!
Elia was ‘n bidder. ‘n Bidder volgens God se wil en plan. As God gesê het daar sal droogte wees, dan bid Elia vir droogte (Jakobus 4:17) en as God besluit het, dit moes weer reën, dan bid Elia vir reën! (Jakobus 4:18) Sy gebede was egter nie net tot water beperk nie. Vreesloos bid Elia vir vuur, nie om mense te vermaak of lof vir homself te probeer inoes nie, maar vanuit ‘n hartstogtelike begeerte dat God se volk na Hom moet terugkeer. Hy stort sy hart voor God uit. “En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elia nader gekom en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer.” (1 Konings 18:36,37) God antwoord inderdaad hierdie vurige gebed met vuur! Maar nog was dit nie die einde van Elia se gebede nie! Toe Agab optrek om te eet en te drink, het Elia opgeklim om te smeek en te pleit voor God vir die reën! (1Konings 18:42) Ware bidders stel alles uit en af om eers met God besig te raak! Elia het die kuns verstaan om met sy kop tussen sy knieë voor God te pleit totdat die deurbraak kom en God hoor! En was dit ‘n worsteling! Eers nadat sy dienaar die sewende maal gaan kyk het, het ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand verskyn...
Elia was tog ook net ‘n gewone brose swakke mens. Elia moes ook die dure les leer dat die sterkste gelowige nog steeds niks en volkome afhanklik van God se genade is. Elia wag hierdie keer nie vir die woord van die HERE nie en die gevolge is katastrofies : die dapper profeet word bang, vlug vir ‘n vrou en verval in patetiese pessimisme en diepe depressie. (Lees meer hieroor, kliek op – PROFEET ONDER DIE BOS) Die held van Karmel se moed verkrummel en hy wankel op die rand van selfmoord! Gelukkig is God getrou. Hy verlos Elia en gee aan hom weer ‘n nuwe visie van Homself en nuwe opdragte. Elia se uitgesprokenheid en waagmoed, maar op ‘n manier juis ook sy swakheid inspireer my...
(as jy wonder, ja, Elia het volkome van sy angste herstel en later vreesloos in opdrag van die HERE geprofeteer dat die honde Isebel sou opvreet...)
Man, ek sê weer, ek “like” Elia. Mag God ons genadiglik sulke manne skenk wat vreesloos en met integriteit sal optree. Dit kan gebeur, want die God van Elia is nog steeds God!
*Skrifaanhalings kom uit die Ou Afrikaanse Vertaling
Lees gerus Ps. Joachim Rieck se blog http://joachimrieck.blogspot.com/2013/04/1-kings-191-18-hard-hearts-and-broken.html vir 'n wonderlike en alternatiewe insig! Met Christelike liefde, Pieter Slabber
AntwoordVee uitDankie Pieter, hierdie insig maak Elia net nog meer "n ware held" Mag ons ook so gebroke wees oor die vervalle toestand van God se volk!
Vee uitTog bly dit waar dat die dapperste van God se kinders ook juis kan val en beslis volkome afhanklik is van die Here se genade! (Moses, Dawid, Petrus...)