BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 27 Maart 2013

LINA LOS DIE KERK

- watter lesse moet ons hieruit leer? 



Die bekende digter Lina Spies het onlangs in Rapport vertel van haar bedanking uit die NG Kerk. En natuurlik sal die onheilspers nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om ‘n sappige (al is dit bitter sap) verhaal te publiseer wat die evangelie probeer diskrediteer nie. 



Lina kla oor baie dinge, maar wat is die essensie van haar ontnugtering? Sy het in opstand gekom teen die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid. Lina skryf : “Kerkgangers sing ook lustig die huidige Lied 238: “God, enkel lig, voor u gesig/ is niks op aarde rein nie./ Ons is bevlek, met skuld bedek – kan nie voor u verskyn nie.” Die gevolg van so ’n allesoorheersende sondebesef deur jare lange kerklike indoktrinasie is ’n na binnegekeerde selfhaat wat tot uitdrukking kom in woede teenoor andersdenkendes in jou eie geloof en ander gelowe.” Hier is die kruks van die saak : Lina hou nie daarvan as die kerk haar vertel (en dit in sang verwoord) dat sy ‘n sondaar is nie. Sy beskryf dit as kerklike indoktrinasie, maar liewe Lina vergeet dat die lering dat die mens ‘n gruwelike en verlore sondaar voor die aangesig van die heilige God is, nie sy ontstaan by die NGK of enige ander denominasie het nie. Dis die duidelike lering van die Skrif : 


Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is. (Romeine 3:10-20) 



Die verdorwe mens haat dit om te hoor hy/sy is ‘n sondaar. Dis die kernrede vir verset teen die Bybel se boodskap. 


Omdat Lina klaarblyklik verseg om voor hierdie Bybelse waarheid te buig, is dit dan eintlik vanselfsprekend dat sy geen proefondervindelike belewenis van verlossing en dankbaarheid kan smaak nie. Wie die diepte en erns van die sondeval en sy gevolge ignoreer, beleef ook nie die heerlike hoogte van die verlossing deur Jesus nie! En kan derhalwe ook nie saamjuig in dankbaarheid nie! Dis slegs as ek platgeslaan word deur die slegte nuus van die mens se verdorwenheid, dat die heerlike genadenuus van vryspraak my weer ophef as ek dit gelowig aanvaar. Daarom gaan Paulus voort :


Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Romeine 3:23,24) 



Dis eers as die mens die vreugde van hierdie vergifnis ervaar het, dat hy hier en nou voluit tot God se eer kan lewe, as ‘n verloste in ‘n stukkende wêreld. Dit verstaan Lina blykbaar nie. En ja, beslis sien die verlostes wat nog elke dag die pyn van eie sonde en ‘n gebroke en bose samelewing moet trotseer, uit na die finale verlossing en verheerliking, ook van die liggaam. Dis ook onteenseglik deel van die Bybelse boodskap, dat daar ‘n beter toekoms wag. (beter selfs as Stellenbosch...) Hierdie hoop is nie ‘n lugkasteel nie, maar is gebou op die werklikheid van Jesus se liggaamlik historiese opstanding uit die dood, wat ons in hierdie dae met blydskap kan vier. 

Lina, uit wat jy skryf kan ek nie anders as om af te lei dat jy hoegenaamd nie die evangelie begryp nie. Jy reageer op die Woordfeesdebakel rondom Jean Oosthuizen en skryf van Jesus wat nie bang was om met Nikodemus en die Samaritaanse vrou debat te voer nie. Weet jy wat het Jesus vir Nikodemus gesê? Hy het die noodsaaklikheid van die wedergeboorte onder sy aandag gebring. Waaroor het Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat? Hy het haar sondige lewensstyl (saamblyery) ontmasker en vir haar die lewende water aangebied. Dis tog heel iets anders as die Woordfeesdebatvoerders en hulle ondersteuners wat ons wil oortuig dat die Bybel nie waar is nie! Ai, Lina wees bietjie meer skepties oor die filosofie en gaan kinderlik na die Woord van God en mag God gee, dat jy die LIG sal leer ken!    
Beleef Sy vergifnis en liefde, en dan sing jy opreg saam met ons uit die LIEDBOEK (waaraan jy ook gewerk het) van die verlossing van sonde wat lei tot 'n nuwe lewe, nou maar ook eendag!

WAT MOET DIE KERK LEER UIT LINA SE VERHAAL? 

Mag die kerk besef, dat die afskaffing van tug, kompromie met sonde en die gelekkery van teologies liberales geen voordele vir die gemeente van Jesus Christus inhou nie. Hulle word net daardeur aangemoedig om al verder van die waarheid af te wyk en as hulle iewers opgehou pamperlang word, hardloop hulle graag na die media en deel as “gemarginaliseerdes” hulle hartseer verhaal van ontnugtering. 

Die kerk moet duideliker die boodskap van Jesus verkondig. Jesus roep alle mense, inderdaad ook saamblyers en onsedelikes, homoseksuele... fariseërs..., ja, alle soorte sondaars (soos ek ook), maar Hy roep mense tot bekering (Markus 1:14,15) en nie tot selfgeruste stagnasie en versuiping in die vullisbad van sonde nie. 


Die kerk kan gerus weer die Heidelbergse Kategismus afstof en terugkeer na die kernwaarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid. Ons moet duideliker oor sonde en die skrikwekkende gevolge daarvan praat, dan sal mense hulle behoefte aan ‘n volmaakte Verlosser besef en hulle tot Hom bekeer. Maar juis ook dan en net dan kan daar ware dankbaarheidsvreugde en blymoedige aanbidding in die kerk wees.

4 opmerkings:

  1. Broer Johannes, dankie dat jy soos 'n Johannes die Doper 'n stem in die woestyn is, wat die waarheid onverskrokke bring. Soos 'n lig in 'n donker nag, 'n fontein in 'n dor woestyn. Dis wat ons in hierdie dae nodig het.
    Mag die Here jou sy genade gee om so voort te gaan.
    Philip Gittens, Kaapstad

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Phillip, mag jy ook Sy genade daar in die Kaap ondervind!

      Vee uit
  2. Dankie Johannes! Hier's iets verder wat in hierdie situasie van toepassing is:
    "Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie." (1 Joh 2:19)
    Seënwense,
    Philip.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.