Die Kersdiens sonder Jesus
Ons kamp by Keurboomstrand. Die omgewing is pragtig en die weer wonderlik. ‘n Mens voel sommer lus om die Here groot te maak. Met hierdie gemoedstoestand besluit ek en vroulief op Oukersaand dat ons die volgende oggend ons spannetjie gaan aanjaag na die “Boskerk” wat volgens ou kampers laer af in die kampterrein onder die bome gehou word. Blykbaar ‘n baie gewilde bymekaarkomplek. Ek is van vroeg al op en soos gewoonlik bekommerd dat ons weer laaste daar gaan opdaag en ons kan nie juis ongemerk insluip met ‘n ‘n 18 jarige, ‘n eenjarige en iets van alles tussenin nie.
Ek raak daarom toe ook besonder kriewelrig toe al meer en meer mense met stoele al van vroeg oggend by ons tent verbystroom onmiskenbaar op pad na die Boskerk met stoele in die hand, op die kop en selfs op bakkies gelaai. Die diens begin mos eers 10HOO? Om onnodige spanning te voorkom maak ek so 9H30 die voorstel dat ek maar solank sal gaan om plek te hou. Op pad soontoe is my stille gebed dat die preek tog my oudste sal aanraak wat maar swaar op my hart lê.
Ook maar goed ek het betyds gegaan. Die plek was stampvol. Maar nog net met stoele. Dit was blykbaar die gewoonte om eers jou stoel te gaan plaas en dan later, kort voor die diens jouself op die stoel te gaan plaas.
Nou ja, uiteindelik het my spannetjie darem opgedaag en het ons ons sit gekry. Die Boskerk was gepak. Baie bekende openbare figure het na ‘n stoel geskuif, van oud springbokke tot bekende predikante. Nadat ‘n paar bekende Kersliedere gesing is, party minder geslaagd as ander, is ons welkom geheet en die prediker voorgestel. Nogal van Pretoria en ‘n studenteleraar. Sekerlik die regte man vir die kinders....
Met verwagting het ek na Johannes 3 geblaai wat ons teksgedeelte sou wees. Ja, dit is nou ‘n goeie gedeelte vir die geleentheid het ek stilweg gedink – jy kan wedergeboorte en Jesus se koms wonderlik hier bymekaarbring.
Die preek begin goed. Enkele sinvolle inleidende opmerkings word gemaak oor die feit dat Jesus in Johannes evangelie dikwels iets leer deur misverstand. So byvoorbeeld dink die vrou by die put Jesus praat van gewone water terwyl Jesus van geestelike water praat. Hier in Johannes 3 praat Jesus oor geestelike geboorte, terwyl Nikodemus dag Jesus praat oor fisiese geboorte. Ek is heel opgewonde, vanoggend kan hier dalk iets gebeur...
Daar was nog een, volgens my, sinvolle aanhaling van iemand wat verwys na die feit dat ons dink ons is vry met al ons sosiale media, maar eintlik is ons meer vasgevang as ooit. Dit was dit. Hierna is my verwagtinge stadig maar seker tot poeier verpletter. Of daar ooit weer in die preek na Jesus verwys is kan ek nie heeltemal onthou nie, maar indien wel, net so terloops. Van Sy koms, onthou dit was Kersdag – niks. Toe ons almal nog dink dat hy gaan begin, toe eindig hy en maak verskoning teenoor die kinders dat die diens so lank was!
So wat het hy eintlik gesê? Hier is my beskeie poging om nadat ek alles gesif het, uit te kom by die kern van die preek. Johannes 3 gaan volgens die prediker oor vryheid. Nikodemus was nie vry nie, hy was deel van ‘n groep waar hy nie vry was nie. Daarom kom hy na Jesus. Hiermee kan ek nog saamgaan. Maar hoe word ek vry? Wat is wedergeboorte volgens die prediker? Wedergeboorte vind plaas wanneer jy deel word van ‘n groep/gemeente waar jy aanvaar word met al jou unieke andersheid. Dan is jy waarlik vry.
As ek hom verkeerd verstaan het sou ek graag reggehelp wou word. Maar dit is maar wat my vrou ook gehoor het. My arme kinders het helaas niks gehoor nie!
Ek was, om dit lig te stel, ontstoke. Ek het gevoel ek is gekul, beroof. My hart was stukkend oor die honderde om my wat net mooi niks oor Jesus, Sy menswording en verlossing op hierdie heerlike dag gehoor het nie.
Nadat die prediker op ligter toon die kampgangers vermaan het om nie Bybelse vrae vir hom op die strand te vra nie aangesien hy wil ontspan, het ons almal soos skape ( wat geen groen gras gekry het nie) malende wegbeweeg na ons tente. Ek kan nie onthou dat ek iemand iets hoor sê het oor die feit dat daar geen Kersfees, geen Jesus, geen evangelie was nie. Ek het gewonder. Aanvaar almal dit maar? Sekerlik moet daar nog wees wat voel soos ek...
Almal kan tog nie tevrede wees met ‘n Kersdiens sonder Jesus nie?
Ai dit is soveel meer tragies omdat die gesin gegaan het met 'n VERWAGTING , met 'n HONGER! Dit herinner aan die woorde van Amos: Amo 8:11 Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.
AntwoordVee uitAmo 8:12 En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.
Ek gaan elke Sondag kerk toe met n verwagting van: bou vehouding met Jesus....gebed... Bybelstudie... Maar Sondag na Sondag kry ek n morele preek.... Oor konflikhantering... Dra mekaar se laste nie mekaar se pakkies nie... En ek kry skaam vir myself..... Hoe verwaand is ek nie om te verwag om op Jesus se skoot te sit ini kerk nie.... Hoe verwaand is ek nie om heeltyd oor Hon te wil dink en praat nie.... Want ek sien: mense wil nie met die Bybel onder die arm loop nie..... Hulle wil net gesus wees in die wete: ek was in die kerk..... Dit laat my koud..... Hoe verwaand is ek nie!!!!
AntwoordVee uitHi Celia, so lekker om 'n slag jou opinie te hoor!
Vee uitJa, die armoede van die prediking is iets vreesliks, God se skape is honger, mag Hy vir jou iewers voedsel voorsien... Sterkte!