BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 18 Oktober 2018

“KRY ‘N LEWE!”

Wat bedoel jy? En wat bedoel Jesus? 



Ons het gesien Jesus self is God se finale profeet... (Kliek – Esegiël) Jesus het die waarheid onverdund en onbeskroomd (en met liefde!) aan ‘n stukkende mensdom gebring. Wat het Jesus oor geluk, geseëndheid, sukses, en saligheid gesê? Jy sien, almal het ons idees wat geluk, vervulling en sukses behels. Dikwels hoor mens hoe vir iemand gesê word : “Kry ‘n lewe!” Wat bedoel mense hiermee? Wees suksesvol? Kry rigting en geniet jou lewe? Maar wat word nou regtig daarmee bedoel? Elkeen het sy eie idees.... 



Jesus het geluk en lewensvervulling heeltemal geherdefinieer… Nee, dis te sag gestel. Jesus het roekeloos alle denke wat die wêreld oor geluk en sukses behels radikaal omgekeer! So grondig en ingrypend dat net iemand wat inderdaad weergebore is, nuut gemaak is, dit sal kan verstaan en waardeer. Nêrens seker duideliker as in Matteus 5-7 nie. Jesus word geteken as die nuwe Moses wat die berg bestyg en die grondwet of grondbeginsels van God se koninkryk afkondig. Kom ons kyk oorsigtelik na MATTEUS 5:3-12. Hierdie sogenaamde saligsprekinge is eintlik die opsomming en inleiding daarvan. En baie belangrik, jy sal agterkom, dis presies die teenoorgestelde van wat die gemiddelde mens dink lewensgeluk is. Jesus se siening oor sukses bots direk met die algemeen gangbare opvattings van ons dag...

Die wêreld sê : “Gelukkig is die wat selfversekerd is, goed voel oor hulleself en hulleself as wenners beskou en bemark.” (Dis terloops die raad wat jy by die lewensafrigters sal kry!)
Jesus sê : "Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (“Salig is die wat arm van gees is..." OAV) Gelukkig is diegene wat weet dat hulle God nodig het. Gelukkig is die mense wat hulle geestelike bankrotskap besef! Juis aan hulle behoort die koninkryk van God.* Dramatiese waarheid! Die drumpelvereiste, die basiese vertrekpunt vir diegene wat die koninkryk wil beërwe is juis om te besef ek kwalifiseer nie, ek kan dit nie op my eie maak nie. Ek het Jesus Christus nodig! 

Die wêreld sê : “Glo in jouself!” 
Jesus sê : “Erken jou bankrotskap en afhanklikheid.” 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat altyd lag en positief is! 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” Verbysterend, kan dit wees? Wat bedoel Hy? Net diegene wat stukkend is en huil oor hulle eie sonde en gebrokenheid, net diegene wat huil oor die ramp van ‘n wêreld sonder God, sal vertroosting by God vind! Net hulle trane sal in die nuwe Jerusalem afgevee word! 

Die wêreld sê : Gelukkig is die vegters, wenners en ysters! Gelukkig is die ouens wat op ander kan trap met hulle spierkrag, geldmag en invloed. Die wat kan dreig, omkoop en afpers. 
Jesus sê : “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Dit gaan hier oor ‘n houding teenoor ander. Terloops dis juis die groot kenmerk wat Jesus van Homself uitlig... “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed." Matt 11:28,29. Hulle sal die nuwe aarde beërwe ... Net hulle sal ewige wins behaal! Radikaal anders as wat die wêreld dink... Die wenners is nie die Napoleons, Hitlers en Stalins nie, ook nie die bokskampioene en rugbylegendes nie, maar God se sagmoedige kinders wat dikwels deur ander vertrap word en die oordeel aan Hom oorlaat... 

Die wêreld sê : Gelukkig is die wat geluk najaag en duidelike doelwitte van sukses nastreef. 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is (geregtigheid OAV), want hulle sal versadig word.” Gelukkig is die wat ‘n passie het om te doen wat God wil hê! Hulle sal versadiging en vervulling vind. 

Die wêreld sê : “Kry ‘n lewe!” 
Jesus sê : “Soek geregtigheid!” 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy op jou regte staan, hard wees, jy moet wraak neem en almal terugkry.” 
Jesus sê : “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Besef wat jyself van God nodig het... genade en barmhartigheid en betoon dit aan ander! Niks is meer onvanpas by ‘n volgeling van Jesus as onbarmhartigheid en hardvogtigheid nie... ‘n Lewenswyse van genade teenoor ander is ‘n bewys van iemand wat self ‘n ontvanger van Goddelike genade is. Gelukkig is jy as jy so iemand is! 

Die wêreld sê : “Image is wat tel!” (Jy moet 'n kar ry wat jy eintlik nie kan bekostig nie en ja, gewone nommerplate is vir jou te alledaags, dit moet persoonlike nommerplate wees...!)
Jesus sê: “Die hart is wat tel, ‘n rein hart!” “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Die mens met ‘n rein hart kry die grootste beloning denkbaar, hy en net hy sal God sien. Hy sal die teenwoordigheid van God self beleef nou en tot in alle ewigheid! 

Die wêreld : Kyk na die IMAGE! 
Jesus : Kyk na die HART! 

Die wêreld sê : “Om gelukkig te wees moet jy jou teenstanders wen. Roei hulle uit! Wees slimmer en sterker as hulle!” 
Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Vredemakers beteken nie hier dat ons bemiddelaars of diplomate moet wees nie, maar dat ons in die eerste plek self vrede sal nastreef met almal. Ook met diegene wat met ons verskil. God is juis die Groot Vredemaker! Hy het juis Jesus gestuur om vrede tussen ons en Hom te maak. As ons vredemakers is, vertoon ons ons Vader se karakter, dan is ons waarlik sy kinders. 

Die wêreld sê : “Sorg dat jy populêr is en dat almal van jou hou. Wees ‘n manteldraaier, ‘n people’s pleaser!” Die wêreld se siening is hoe meer “likes” jy kan kry op Instagram hoe beter. 
Jesus sê: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” ("ter wille van geregtigheid" OAV) Hier kom die kontras tussen die wêreldse denke en Koninkryksdenke van Jesus die sterkste na vore. In Lukas 6:22,23 en 26 word dit nog meer drasties beklemtoon! “Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel. Hulle voorvaders het immers met die profete net so gemaak.” Maar “Ellende wag vir julle as al die mense goed van julle praat. Hulle voorvaders het immers met die vals profete net so gemaak."

Hier in vers 10 is die klimaks van die Saligsprekinge. Hierdie een kry die meeste klem en word daarom ook verder uitgewerk in vers 11 en 12. "Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg." Hier vind ons ook die geheime sleutel vir die regte verstaan van al die saligsprekinge. Wat is dit? “ter wille van My” Baie belangrik - Ek is nie geseënd as ek ongewild is weens my onvriendelikheid of moeilike humeur nie. Ek is geseënd as ek ongewild is weens my lojaliteit aan Jesus! Nou eers verstaan ons ook vers 6! Om te honger en te dors na geregtigheid, is om te honger en te dors na Jesus! Hy is ons geregtigheid! Net in Hom kry ek deel aan die koninkryk! Saligheid en geluk gaan oor ‘n lojale verbintenis aan Jesus! Hierdie verbintenis sal ‘n sigbare verskil in my lewenshouding maak wat deur die wêreld as belaglik en tragies beskou sal word! 

VERSNIPPER EN VERPLETTER!

Die saligsprekinge sny baie diep! Dit versnipper en verpletter ons huidige westerse lewensbeskouing! Dit daag ons uit om weer diep na te dink oor ons lewensdoel en verstaan van lewensgeluk! Die saligsprekinge is nie maar ‘n mooi klompie morele reëls nie. Dit gaan oor Jesus. Dit vra vir my en jou of ons navolgers is van die nederige, rein, sagmoedige Jesus. Is ons bereid om radikaal aan sy kant te kom staan en die veragting en vervolging van die wêreld te verduur soos Hy? Salig is diegene wat aan Sy kant is! Dis hulle en net hulle wat ‘n "lewe" gekry het! 

*Koninkryk van God is die hooftema. Daarom die inclusio. Dit word genoem by die eerste saligspreking in vers 3 en die laaste een by vers 10. Vers 10 is die laaste een en word net verder uitgebrei in vers 11 en 12.


Kleine Marula/Dikbas - naby Tsumeb

2 opmerkings:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.