BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 29 Januarie 2022

Boerseun van Migdol

My hart breek vir my Boerevolk wat so herderloos en leierloos is dat hulle na enige strooihalm gryp en die naaste of luidrugtigste valse profeet omhels. Die sogenaamde boerseun van Migdol (ene Japie van Zyl) is ‘n tipiese voorbeeld van laasgenoemde.

Japie herhaal al die ou dwalings en geykte ketterye van die Israelvisie en die Neser volgelinge, (kliek ISRAELVISIE) maar hy gaan ook nog verder. Hy bespreek Lukas 23 vers 34 en maak dan ‘n skokkende uitlating. Kom ons lees eers die teks. Kyk na al drie Afrikaanse vertalings. “En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Ou Afrikaanse Vertaling) “Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" (1983 Vertaling) Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (2020 Vertaling) En sommer ook 'n Engelse vertaling. “Then said Jesus, Father, forgive them; for they know not what they do.” (King James) Japie beweer dat hierdie teks opsetlik verkeerd vertaal is en dat die Griekse negatief “ouvertaal moet word as sou Jesus gesê het “Vader vergeef hulle nie, want hulle weet wat hulle doen.” Nou ja, vir twee duisend jaar vertaal alle vertalings dit verkeerd, maar kenner Japie van Migdol weet nou skielik hoe om dit reg te vertaal! Hy sê “hulle” het dit doelbewus verkeerd vertaal. Ek vra jou Japie, wie is die hulle? (Die King James vertalers in die 1600’s. Totius of wie?) Het Japie al ooit Grieks 1 bestudeer en geleer dat woordorde in Grieks en Afrikaans verskil? Interessant dat Japie die woord “blerrie” gebruik in sy tirade oor die kwansuise verkeerde vertaling! Het profeet Japie se ouers hom nooit geleer dat “blerrie” ‘n lasterlike woord is wat afgelei is van “the bloody Christ” nie? Skaam jou Japie! Gaan was jou mond met seep, skryf in vir Grieks 1, maar belangriker, bekeer jou tot Jesus Christus!

Hoekom maak Japie sulke bewerings? Hy moet die Bybel laat inpas by sy nasionalistiese godsdiens van haat. Hy vergeet dat Jesus hier aan die kruis sy vyande vergewe, en vir hulle bid net soos Hy dit van al sy volgelinge verwag. “Julle het gehoor dat gesê is, ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg," (Matteus 5:43,44) Japie het seker ook nog nooit raakgelees nie dat die martelaar Stefanus tydens sy steniging Jesus se voorbeeld gevolg het, en ook vir sy vervolgers gebid het! “En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” (Handelinge 7:60)

Dis nie al nie... Japie ontken die basiese kernleerstelling van die Christelike geloof naamlik die Drie-eenheid. Hierdeur plaas hy homself buite die grense van die historiese Christelike kerk.

Japie is ‘n misleier en ‘n verdraaier van God se Woord. Mag die Here hom ware bekering skenk.

Ek treur oor almal wat Japie se onkunde opslurp... hierdie nonsens gaan nie vrede tussen jou en God bring nie. Kom ek stel dit nog eerliker... as jy hel toe wil gaan, luister na Japie...

1 opmerking:

  1. Dit breek my hart dat mede volksgenote nog onder die kerk se dwaalleringe vasgevang is.

    God het seker 'n fout gemaak om ons te verlos by bloedrivier. Dink watter ander verhaal dit kon wees as ons hand geskud het met ons swart broers en hulle tot die Christendom bekeer het!? En as ons almal kon ondertrou met mekkaar en een volk, een kleur een ras word. Maar nou staan swart en wit alweer teen mekkaar. Vermenging is versoening! Of hoe?

    Ons volk is moeg vir handskud met 'n volk wat net vernietig, afbreek en nou ons selfbehoud as volk bedreig. Van die dae van die voortrekkers wou wereld se magte ons vernietig. Ons het nie stand gehou en 'n volk gebou omdat ons vermeng het nie. Ons is 'n volk vandag omdat ons godvresende voorouers 'n vorm van apartheid gehandhaaf het. Verminging was nie net 'n skande vir hulle nie maar teen die woord van God.

    Ek hoop en bid jy skrik eendag wakker vir die waarheid.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.