BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 22 April 2020

BELOFTE IN BENOUDHEID

- Die Wuhanvirus wys dalk of ons regtig glo! 


Glo ek en jy regtig God se beloftes? Ek dink ons word deur ons huidige moeilike omstandighede getoets, spesifiek ook wat betref God se beloftes van finansiële versorging en materiële bystand. Sommige verloor hulle werk in hierdie tyd van paniekerige regeringsoptrede, ander se inkomste is drasties gesny... Glo jy wat hierdie moeilikheid in die gesig staar, die wonderlike belofte in Hebreërs 13:5? Dis waar God self belowe: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie." Jy sal sien dit word in ‘n finansiële konteks gesê! 

WYER KONTEKS 

Geen belofte staan natuurlik in isolasie nie. Kom ons kyk dus net eers na die groter konteks van die Hebreër brief. Mens sou kon sê dat die brief/preek aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike en benoude tye. Daar was die gevaar van afvalligheid, van afdwaling en moedeloosheid. Gelowiges wat die handdoek wou ingooi. Daar was mense met die spreekwoordelike “slap hande en lam knieë”. Dit was moontlik die gevolg van ook fisiese swaarkry. Party is van hulle goed beroof en dit lyk ook asof sommige van hulle in die tronk gegooi is. 

Die sentrale boodskap van die Hebreërbrief skrywer aan hierdie Christene was : HOU VAS AAN GOD SE BELOFTE OOR JESUS DIE VOLMAAKTE HOËPRIESTER. Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (Hebreërs 1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, die tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy is die Middelaar van die Nuwe Verbond – ‘n beter verbond met beter beloftes! Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Hyselfs is die nuwe lewende Weg! Ons kan weet Hy het medelye met ons, ons kan deur Hom met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

“Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” 

(Hebreërs 4:14-16) 

ONMIDDELIKE KONTEKS 

Hier aan die einde van die brief vind in hfst. 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake, OPDRAGTE wat eintlik verskeie aspekte van ons lewe as gelowiges dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye: 


Beoefen broederliefde. Dis so kosbaar in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat hierdie uitmergelende tye van inperking en frustrasie jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… (vgl. 1 Johannes 3:16ev) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar! 

Bewys gasvryheid. In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang! 

Betoon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. Sien vriende, weereens, die fokus moet nie op onsself wees nie, maar op ander en hulle nood! 


Bewaar en respekteer die heiligheid van die huwelik. Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Egskeidings kom al hoe meer voor. Internet pornografie is ‘n groter versoeking as ooit. Huishoudelike geweld word algemeen. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik ontugtiges (pornous) en egbrekers (moigous). Dit gaan dus oor meer as net owerspel of egbreuk in die eng tegniese betekenis, maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Dis iets wat die meeste mense (selfs binne die kerk) hulle weinig aan steur. 

Bekeer jou van gierigheid. Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. Paniek en selfsug neem so maklik oor! MAAR LUISTER NOU! Juis hier vind ons hierdie heerlike belofte van God se nabyheid en bystand binne die raamwerk van geldsake. Belangrik - die belofte kom saam met ‘n duidelike waarskuwing en opdrag. 

Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Jesus se waarskuwing word in ander woorde herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) 

Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. TEL JOU SEËNINGE, DOEN DIT SOMMER NOU! Dink bietjie... Onthou ‘n slag... Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. Nooit, ooit in die steek laat nie! 

DIE HERE IS MY HELPER! 

En wat is die heerlike gevolg as ek kies om hierdie belofte van God se versorging en bystand te glo? ‘n Triomfantelike sekerheid en vreesloosheid! Vers 6 - “Daarom kan ons met vertroue sê: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ‘n mens aan my doen?" 

Ja, moeilike tye is inderdaad nooit maklik of lekker nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind heilig wees en in dankbaarheid lewe sonder vrees! Die geheim is : GLO GOD SE BELOFTES! Maak erns met die beloftes en die hele konteks waarbinne dit staan! Gaan kyk weer met nuwe oë na God se beloftes en vind so vrede! 

NASKRIF Ek wil net sommer van hierdie geleentheid gebruik maak en aan alle broers en susters wat ook deur hulle gawes God se werk ondersteun en spesifiek ook ‘n helpende hand uitreik na diegene wat behoeftig is, Paulus se woorde aan die Christene in Filippi toebid : “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19) AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.