BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 31 Januarie 2020

WAARHEIDSKOMPAS

- God se WOORD in tye van misleiding en lyding! 


Die lering van die valse profete word gekenmerk deur ‘n liefde vir die self. (Kliek op Selfbeheptheid) Teenoor die leer van die vals leraars het Timoteus die voorbeeld van Paulus, die ware apostel gevolg. Ons lees hiervan in 2 Timoteus 3:10-17. Dis ook in hierdie gedeelte waar Paulus positief vir Timoteus (en ook vir jou en my) aanmoedig! 

‘N LEWE VAN VRUG ÉN VERVOLGING 

Dit is ‘n totaal teenoorgestelde koers en rigting. Die pad van die valse leraars is ‘n pad van selfgesentreerdheid – selfbeheptheid, selfbelang, ‘n liefde vir geld en ‘n liefde vir genot eerder as vir God! Die leefstyl en loopbaan van Paulus staan in skrille kontras met die van die vals leraars. 

Paulus se lewe word bepaal deur ‘n liefde vir God en selfopoffering. Die pad wat Paulus geloop het en wat Timoteus nagevolg het is ‘n lewenswyse gekenmerk deur geloof, geduld, liefde en dit lei noodwendig tot vervolging en ontbering. “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (12) Kategoriese uitspraak! En dis waar van alle Christene, alle tye, in alle omstandighede... As jy dus nog nooit teenstand, bespotting of vervolging gekry het ter wille van jou Christenskap nie, dan is daar iewers fout... Hoor mooi ter wille van Christenskap – met ander woorde as jy ly omdat jy nie jou skuld betaal nie, is dit jou eie fout en nalatigheid. Dis iets heel anders as Christelike lyding! 

Terloops, Paulus het op baie plekke gely, maar hy noem waarskynlik juis hierdie drie stede in Galasië, naamlik Antiochië, Ikónium, en Listra, omdat Timoteus self ‘n inwoner van Listra was en heel moontlik ‘n ooggetuie was toe ‘n skare hom daar buite die stad uitgesleep het en met klippe gegooi het. (Vgl. Hand 16:1)* 

Die punt wat Paulus maak is – “Timoteus, daar sal altyd vervolging en swaarkry wees vir Christene en daar sal altyd die gevaar wees van goddelose bedrieërs wat ander mislei. Jy weet mos wat het met my gebeur!” 

AANMOEDIGING 

Timoteus het die regte pad geloop en nou wil Paulus hom aanmoedig om in die toekoms nog steeds die regte pad te bewandel. Teen die agtergrond van die misleiding van die mensgesentreerde boodskap van die dwaalleraars word Timoteus nou aangemoedig. (14) Die hoofsaak is: “Bly by wat jy geleer het.” Die boodskap wat jy by my as apostel geleer het. Moenie nou agter hierdie nuwe rigting en nuwe idees aanloop nie. Pasop vir die sogenaamde progressiewes! Progressiewe Christenskap is niks anders as regressiewe dwaling nie! Bly by die oorspronklike evangelie boodskap wat ek Paulus die apostel aan jou verkondig het. Terloops – as mense beweer dat hulle nou ‘n nuwe openbaring ontvang het, of dat God nou iets nuuts aan die kerk in die laaste dae bekend gemaak het- dan moet die rooi ligte flikker. Die evangelie is vir eens en altyd oorgelewer. God sal nooit n nuwe boodskap gee in stryd met die Skrif nie. Orals in die NT word ons opgeroep om vas te hou aan die boodskap wat reeds aan die apostels en kerk gegee is. “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (Judas 3) 

Pasop vir nuwe morele waardes. Byvoorbeeld- Dwarsdeur die Bybel was God se bedoeling vir die huwelik ‘n lewenslange verbintenis tussen man en vrou – nou skielik wil mense dit verander, omdat ons in nuwe tye woon! Paulus vermaan Timoteus om te bly by wat hy van hom (Paulus) geleer het. 

DIE HEILIGE SKRIF HOU ONS OP KOERS! 

Maar nou - baie belangrik! Paulus se prediking het nie sommer uit die lug geval nie. Paulus se prediking was vanuit die Skrifte, gebou op die Skrifte! Luister na wat Paulus aan koning Agrippa tydens sy verhoor vertel in Handelinge 26:22. “Omdat God my tot vandag toe bewaar het, staan ek hier as sy getuie voor klein en groot. Ek verkondig maar net waarvan die profete en Moses gepraat het” (Vgl. Romeine 1:2) 

In ’n vyandige omgewing van misleiding en swaarkry, is daar net een manier hoe jy gaan oorleef - ken die Skrif! 

In die stormsee van teenstand en dwalings is daar net een manier hoe jy veilig gaan seil - as jy die kompas van die Woord het. Hoe gaan jy volhard as jy nie die beloftes van God ken wat mens krag gee om vas te byt nie? Hoe op aarde gaan jy onderskei wat is misleiding en wat is waarheid as jy nie spesifieke Bybelse kriteria en voorskrifte ken nie? Geestelike dwaling kom waar mense nie die Skrif ken nie... “Maar Jesus antwoord hulle: "Julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie.” (Matteus 22:29) Die groot vyand is Satan en sy bose magte - hoe oorwin ons en bly staande? Ons het 'n kragtige wapen nodig. Wat is dit? Die swaard van die Gees. En wat is dit? Die Woord van God! (Efesiërs 6:10ev)  Selfs Jesus het hierdie wapen gebruik tydens sy versoeking in die woestyn. "Daar staan geskrywe..." (Matteus 4.) 

Voordat die Woord vir jou tot nut kan wees, moet jy dit lees en ken. Toe onder die stof op jou bedkassie is die Bybel wat jou ouma jou geskenk het van weinig waarde! Ken die Woord soos jy die alfabet of maaltafels ken. Iewers het jy dit geleer - anders sou jy dit nie geken het nie. Iewers moet jy die Woord leer ken. En neem tog kennis, Timoteus het dit van kleins af geken. “en jy ken van kleins af die heilige Skrif.” (15) Die belangrikste kennis wat jy jou kind kan leer, is kennis van die Skrif. In Timoteus se geval was dit waarskynlik sy ma en ouma wat dit vir hom geleer het. 

DIE WAARDE VAN DIE WOORD 

Watter praktiese verskil maak Skrifkennis aan ’n mens? Anders gesê, waarom moet ek die Bybel ken? 

1) Dit vertel jou hoe jy verlos kan word. Dit lei jou na die Persoon, Jesus! “...Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.” (15) Ken jy dit? Weet jy wat ’n mens moet doen om gered te word? Sal jy dit met beloftes uit die Skrif kan verduidelik? As jy dit nie vir ander kan verduidelik nie, ken jy dit self waarskynlik ook nie. Dis tog op grond van die Skrifbeloftes wat mens glo, dat jy gered word. 

2) Dit rus jou as reeds verloste toe vir goeie werke. Dit vertel jou hoe om as kind van God op die regte manier uit dankbaarheid te leef. Paulus noem ’n paar praktiese dinge in vers 16. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Dis ‘n mondvol. Dink bietjie daaroor. 

Voel jy geestelik onseker, moedeloos en verward? Word jy gebombardeer deur versoekings en beskuldigings van Satan? Begin erns maak met die Woord. Dit verg ’n doelbewuste poging. 

Vat daai Bybel en begin dit lees en leer! Gaan na 'n kerk waar die Woord suiwer binne konteks uitgelê word!

GOD PRAAT MET JOU! 

Die kruks van die saak kry ons in 16. “die hele Skrif is deur God geïnspireer...” Glo jy werklik dat God deur hierdie boek praat? Die lewende God, die Skeppergod wat alles gemaak het, die genadige Verlossergod, ook die God wat ons eendag gaan oordeel... Hier in hierdie boek praat Hy duidelik en persoonlik met jou en my... Stel jy belang om te hoor wat Hy sê? 

Wat jy met hierdie Woord maak, gaan ’n radikale verskil in jou lewe maak NOU en EWIG! 

* “Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was ‘n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook ‘n gelowige, was ‘n Joodse vrou en sy pa ‘n Griek.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.