BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 21 Februarie 2018

BILLY GRAHAM

Is vandag in die rype ouderdom van 99 jaar oorlede. Hy was ongetwyfeld die bekendste rondreisende evangelis van sy tyd. Ek dink dis gepas om ook hier met dankbaarheid aan die Here erkenning te gee aan iemand wat sy lewe gewy het in diens van die evangelie van Jesus Christus. 




Natuurlik is ek bewus daarvan dat alle evangeliese Christene nie ewe opgewonde en positief oor Billy Graham se bediening is nie. Hy is onder andere al gekritiseer oor sy samewerking met Rooms Katolieke en liberale protestante. 'n Mens wonder ook oor sy betrokkenheid by verskeie Amerikaanse presidente van wie sommige uiterste voorbeelde van goddeloosheid was. Het Graham hulle reguit aangespreek en opgeroep tot bekering? Daar kan seker vrae gevra word oor sy metode van massa evangelisasie en die egtheid van die talle bekerings wat aangemeld is tydens sy dienste. 

Aan die positiewe kant sal selfs sy teenstanders moet erken dat Billy Graham ‘n voorbeeldige lewe gelei het vry van die tipe skandale en skandes wat baie lewens van ander TV predikers in hierdie tyd ontsier het. 

Ek sal dit aan ander oorlaat om sy teologie en bediening te evalueer (en dis sekerlik nodig), maar self sal ek wou volstaan met ‘n wens dat meer van ons die entoesiasme en volharding van ‘n Billy Graham sal toon in ons verkondiging van die evangelie! 

Ek dink dat Graham homself graag met die houding van Paulus sou wou vereenselwig waar hy sê: 

“Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel.” (1 Kor. 4:3,4) 

Laat ons elkeen voor die aangesig van God leef en die bediening wat Hy aan ons toevertrou het, volvoer! Die Here alleen ken ons harte...

Luister na 'n voorbeeld van GRAHAM SE PREDIKING (Johannesburg 1973)

Sommige gereformeerdes raak bitter dinge oor Graham kwyt, maar luister gerus na John Piper se verfrissende woorde. Kliek PIPER.




1 opmerking:

  1. Baie dankie, ek het gekyk. Ek onthou in 'n radio uitsending min of meer daardie tyd het hy gepraat oor die wetteloosheid in Amerikaanse skole. Sy sterk stem hoor ek steeds: "O if we could just have the Ten Commandments on the walls of our classrooms, that our children will know: thou shalt not steal, thou shalt not kill ..." Vroom Godvresende mens, van wie daar baie min oor is...

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.