BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 23 Februarie 2018

AANGEDRYF DEUR DIE LIEFDE!

(WAT MOTIVEER JOU?) 


Ons weet ons as kinders van God is veronderstel om voluit vir die Here te leef. Die Here verwag van ons ’n lewe van radikale oorgawe, opoffering en gehoorsaamheid. Vreugdevolle diens. Om voortdurend te kies teen sonde. Om Hom eerste te stel bo materiële dinge, afstand doen van wêreld se skatte, ’n najaging van Koninkryksbelange. Maar hoe kry mens dit reg? Hoe bly mens entoesiasties? So dikwels kla ons – “ek weet ek leef laks, ek doen nie wat ek moet doen nie....my liefde vir die Here is so gebrekkig...” 

Wat inspireer die kind van God? Kom ons vra die vraag vir Paulus. Paulus het die pad van toewyding en entoesiasme gestap. Wat was sy geheim? In 2 Korintiërs 5:9-15  kry ons ’n duidelike aanduiding. Ons vind drie faktore wat Paulus motiveer: 

~Die werklikheid van die oordeel. “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.” (9,10) Hier gaan dit oor die feit dat ook die kinders van God se dade beoordeel gaan word. Dit gaan nie hier oor redding nie. Die mense wat op Jesus vertrou het, is mos reeds gered en vrygespreek. Dit gaan hier oor verantwoording doen, dit gaan oor beloning! Wat maak jy met die genade en geleenthede wat vir jou gegee is? Is ons gedurig bewus daarvan dat ons elkeen voor Jesus sal verskyn en rekenskap moet gee? Dit gaan nie oor wat mense van ons sien en wat mense van ons dink nie, maar oor die Here wat die verborge dieptes van ons harte ken.*

Hierdie afspraak bly ons by en motiveer ons, maar daar is nog iets baie groter...

~Die werklikheid van Christus se liefde. “Die liefde van Christus dring ons,...” (14) Dit gaan oor die heerlike ontdekking wat Paulus gemaak het van Jesus se liefde. Ook vir Hom persoonlik. Watter groter motivering as liefde kan daar wees? Ons weet vanuit die alledaagse lewe watter groot aansporing die liefde kan wees...’n persoon los sy taal, geboorteland, eie ambisies, selfs jou familie...ter wille van die een wat vir jou so ontsettend lief is. Die besef dat iemand my werklik liefhet spoor mense aan tot uiterste opofferings. “Die liefde van Christus dring...”- dit gaan hier oor die liefde wat Christus vir ons het. As gevolg van hierdie liefde van Christus vir hom, het Paulus ‘n nuwe visie en doelwit gehad. Radikale toewyding aan God en diens aan ander om vir hulle die evangelie te bring. 

~Insig in die betekenis van Christus se dood. “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (14,15) Die liefde van Christus, die liefde wat Hy vir ons het is ‘n baie duidelike , konkrete liefde. Dit was nie net woorde wat Hy vir ons gesê of ‘n gevoel wat Hy vir ons gehad het nie. Dis ‘n liefde wat sy dood gekos het. Dis ‘n liefde wat gemaak het dat Hy aan die kruis gaan sterf het vir ons. Hierdie sterwe was vir almal. “vir almal” beteken in die plek van almal. Die frase “dit beteken dat almal gesterf het” maak dit baie duidelik. Christus se sterwe was ’n plaasvervangende sterwe. Sy sterwe vir ons beteken dat God dit sien, beskou asof ons self gesterf het en die straf vir ons sonde gekry het. Christus se dood was die dood van almal in die sin dat hy die dood gesterf het wat hulle eintlik moes sterf. Hy het hulle straf gedra. Hy het in hulle plek gesterf. Die doodstraf vir sonde , my sonde is op Jesus voltrek. Jesus het die straf van die hel verduur wat sondaars moes deurgaan. Christus se dood het ons dus bevry van die skuld en straf wat ons na regte moes dra as gevolg van ons sonde. Hierdie “almal” is almal wat die boodskap van versoening deur die geloof in Christus aanvaar. Dis die grootste heerlikste nuus wat daar ooit vir ‘n helverdiende sondaar kan wees! 

Probeer jou indink aan ‘n situasie waar jou lewe aan ‘n draadjie gehang het, waar daar geen hoop was nie... iemand anders waag sy lewe...Om jou te red uit ‘n veldbrand, seestroom... Wat gaan jou reaksie wees? Intense dankbaarheid en liefde teenoor daardie persoon. Nou dink daaraan, Jesus het nie net sy lewe gewaag nie, Hy het inderdaad sy lewe gegee, opgeoffer. 

Vir ons wat bevry is van God se oordeel deur die marteldood van Jesus is daar net een logiese redelike opsie - ons kan nie meer vir onsself leef nie, maar vir Christus. 

 Ja, dis ’n uiters radikale ding, dit maak net sin in die lig van die radikale dood van Christus in my as goddelose se plek. As ek weet ek is van die hel verlos deur Jesus se kruis en opstanding is daar net een keuse wat ek in integriteit kan maak - leef vir die Een wat my verlos het. “Nie meer vir onsself nie, maar vir Hom” .... Natuurlik dis nie so eenvoudig en maklik nie! Om vir myself te leef is die mees natuurlikste ding vir elke mens om te doen. Elke mens op aarde leef outomaties vir homself, al doen hy watse goeie dinge, dis eintlik maar vir homself. Ook diegene wat donasies of borge gee aan al wat organisasie is, doen dit mos maar dikwels vir advertensie of om hulle gewetens te sus, eintlik dus maar vir hulleself. Daarom is dit ’n lewensingrypende besluit om nie meer vir myself te leef nie, dis ’n besluit wat daagliks hernu moet word - dis ’n besluit wat net geneem kan word as ek werklik die implikasie van Jesus se dood en opstanding vir my (en vir ander) besef. 


DIE GEHEIM DUS...

Die geheim van toewyding, die groot motivering is : verstaan die evangelie naamlik die goeie nuus oor die feit en implikasie van Jesus se sterwe aan die kruis, glo die evangelie, absorbeer die evangelie boodskap. Luister na die evangelie, weer en weer, dit wek geloof en dit bring ook toewyding. 

Verstaan ons die evangelie? Geliefde - sien raak die toorn/wraak van ’n heilige God. Sien die ewige hel wat wag vir sondaars. Sien God se regverdige wraak wat vir my en jou wag omdat ons elkeen van sy wette oortree het en sy eer geskend het.....kyk na die film van jou lewe...al die ongehoorsaamheid, al die valsheid, al die selfsug en bedrog, al die geniepsigheid, die rebelsheid....Maar kyk dan op... En sien dan die kruis, daar hang Iemand, stukkend, vol pyn, totaal van God en mens verworpe en verlaat, maar Hy roep uit - “Dit is volbring!” Al die dors, die dorings, die spykers, die géselslae, die Godsverlatenheid en die dood het Hy verduur was omdat Hy vir jou lief is. Ja, God se volle toorn en wraak word op Jesus uitgegiet omdat hy ons sondes dra uit liefde. Aan die kruis is hy as ’n sondaar behandel - Hy is met die dood gestraf sodat ons vrygespreek kan wees. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (21) My aaklige sondes is in Hom gestraf! Klaar en finaal! My sonde kan nie meer teen my gehou word nie, dis regverdiglik gestraf! Hierdie besef is die aansporing om voluit vir Hom en nie meer vir jouself te leef nie! 

Hierdie evangelie sien ons ook hier voor ons oë op die nagmaalstafel en ons gryp dit weer persoonlik vas deur in geloof te eet en te drink! 



*Sien 1 Korintiërs 4:3-5. “Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.