BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 19 Februarie 2018

‘N JONGMENS SE PAD MET GOD

DIE FONDASIE , VORMING , VOLHARDING EN VERANTWOORDELIKHEID IN ‘N JONGMENS SE LEWE! 


Dis die lewende God wat sondaars red. Ook jong sondaars. Hý doen dit! Hy maak hulle vas aan Jesus Christus en voeg hulle by sy kerk. Hiervoor gebruik Hy natuurlik sy genademiddele en metodes soos Hy wil! Wat ‘n heerlike wete! Wat ‘n groot rede tot lof en dank! 

Juis ook vir ons wat wonder: “Wat gaan van ons kinders word? Gaan hulle die Here ken, gaan hulle volhard op die pad van die Here? Die aantrekkingskragte van die wêreld is so groot, die Satan so slinks en die pad na die lewe is smal!” 

Timoteus was ‘n jongman wat die Here gedien het. Dis interessant as mens bietjie vra : “Hoe het hy die Here leer ken? Watter mense het God in sy lewe gebruik?  En hoe?Wat was sy fondasie? Wat van sy eie verantwoordelikheid?” Ons gaan veral kyk na 2 Timoteus 3:13-17 maar ook bietjie verder rondloer in die twee briewe wat Paulus persoonlik aan die jongman Timoteus geskryf het en net so ‘n paar sake wat daarin voorkom uitlig. Kom ons noem dit, die deurslaggewende faktore in die lewe van ‘n Christen jongmens. 

"Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus." (2 Timoteus 3:14-17) 

Die fondasie van die Skrif – Timoteus het van kleins af die Bybel geken. (In sy geval natuurlik die Ou Testament) Dit het vir hom die basiese kennis gegee wat hy moes hê. Die kennis het in sy geval tot geloof gelei en so kry hy deel aan die verlossing. Die belangrikheid van kennis oor die Bybelse waarhede kan nie oorbeklemtoon word nie. Huisgodsdiens! Gebrekkige kennis lei tot ondergang en verlorenheid. “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” (Hosea 4:6 OAV) Terloops, dit gaan nie hier oor persoonlik geopenbaarde kennis nie, dit gaan oor kennis van God se Woord (wet), met ander woorde die Skrif! 

Kennis van die Skrif lei tot geloof in Jesus en dus tot verlossing, maar dit gaan ook verder. 

Die Skrif wys ook vir ons hoe ons as verlostes moet lewe! 

Die Skrif het groot waarde, sê Paulus. Deur die Skrif, ken ons die waarheid, dis ons wapen teen dwalinge en valse lering, dit wys ons hoe ons dinge wat in ons denke en dade verkeerd is reg moet maak. Die Woord dui die koers aan hoe om positief ‘n lewe te leef waarvan God hou. Die kennis van die Bybel rus ons toe om die goeie werke wat God van sy kinders te vra te doen. 

Die Skrif is onontbeerlik vir redding en lewe as geredde! 

Baie mense ontken dit vandag en weet gevolglik weinig van die Woord. (Hulle kan die Blou Bulle se spelers opnoem, maar weet nie eens of Jesaja in die Ou of Nuwe Testament is nie!) ‘n Algemene redenasie is: “Ons het nie die Bybel nodig nie, want die Heilige Gees praat sommer direk met ons.” Dis ‘n groot dwaling. Die Gees en die Woord gaan saam. Daar is niks wat jy as ‘n feit oor God en Jesus en die ewigheid kan weet, as jy dit nie vanuit die Skrif weet nie. Daar is net een maatstaf en norm waaraan ons as God se kinders als kan toets en dis die Woord. Die Woord het die voorrang, self bo engele! Ja, regtig! Galasiërs 1:8 leer ons : “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” Geen droom, engel, visioen of bonatuurlike belewenis staan bo die Skrif nie! Paulus wil die jongman Timoteus opnuut net weer vasmaak aan die geskrewe Woord. Bly by die Skrif, Timoteus! Sola Scriptura is nie iets wat deur die reformatore uitgedink is nie, dit was al Paulus se raad en opdrag aan Timoteus. 

Die rol van ander mense. God het ander mense gebruik, juis om vir Timoteus die Woord te leer. Wie was hulle in Timoteus se geval? Sy ma en ouma! Hulle was ware gelowiges. Die mense in sy eie huis. “Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.” (2 Tim 1:5) Later het Paulus self ‘n groot rol in Timoteus se lewe gespeel. Hy noem Timoteus “ my kind in die geloof”. Elke kind van God kan mense opnoem wat ‘n groot rol in sy of haar lewe gespeel het. Moenie hulle raad en lering en voorbeeld sommer weggooi nie. Kyk na hulle pad. Natuurlik is niemand volmaak nie. Maar onthou en respekteer die lering en voorbeeld van hulle wat die pad al verder as jy gestap het. 

Paulus wys Timoteus ook op sy eie verantwoordelikheid. Jy kan nie net op ander se insette staatmaak nie. Elke jongmens kom op ‘n punt van beslissing. Ek self moet nou keuses maak! Ek self moet my persoonlike vertroue in Jesus die gekruisigde plaas. Ek self moet nou volhard en die stryd stry! Kyk na nog ‘n paar verantwoordelikhede wat Paulus uitlig: 

1 Tim 6:20. “Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die "kennis", soos dit verkeerdelik genoem word." Bewaar dit wat jy ontvang het. Pasop vir allerhande los praatjies en kamtige kennis. Moenie als glo wat jy hoor en sien (veral nie) op sosiale media nie! Instagram is nie die standaard van die Koninkryk nie!

2 Timoteus 1:13,14. “Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Weer die noodsaak van bewaring. Dit wat jy geleer het is goed, bewaar dit deur die Heilige Gees. Dit verg moed en aksie van jou kant af, jong Christen! 


2 Timoteus 2:22. "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.” Vlug vir wat verkeerd is. Gebruik jou voete! Bly weg van die partytjies, vriende en vermaak waar God nie geëer word nie. Maar positief, streef na die regte dinge saam met ander kinders van God! Kies jou vriende baie versigting! Hou aan geestelik groei! 


1 Timoteus 6:12 “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het”. Ja, God self is ons Redder, maar jy het die verantwoordelikheid om al jou kragte in te span en te volhard. God het jou geroep Timoteus, God het jou geroep... en jy het jou geloof openlik bely! Nou begin die harde werk en die vasbyt eers regtig! Dis met hierdie boodskap van Paulus waarmee ek julle as ons nuwe lidmate wil verwelkom en ook uitstuur!


Agter (v.l.n.r.): Eleanor Steenkamp, Johan Muller, Charlie Voigts, Mornè Button.
Voor (v.l.n.r.) : Lezanne Britz, Danielle Bartlett.

BAIE WELKOM JULLE!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.