BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 02 Februarie 2018

Brood en BROOD

- Dis 'n heerlike troos, maar pasop vir 'n misverstand!


Dis nie meer ‘n geheim nie – ons gaan moeilike tye tegemoet op finansiële en ekonomiese gebied. Al hoe meer mense kry dit swaar om kos op die tafel te sit. (En party gaan dalk selfs nie eers meer water in die krane as vanselfsprekend kan aanvaar nie...Ai, Kaapstad!) Mens kan sê daar is in sommige gevalle al broodsgebrek. Die wonder van die vermeerdering van die brode (Lees dit in Johannes hoofstuk 6) behoort vir ons ‘n groot troos te wees. Dis ‘n uiters belangrike wonderwerk wat Jesus gedoen het. (Terloops, hierdie is enigste wonderwerk wat deur al vier evangelies beskryf word.)

HY KAN SORG!

Dis ‘n groot gerusstelling om te weet dat die lewende Jesus in staat is om vir meer as vyfduisend mense kos te gee met net vyf broodjies en twee vissies. Hy kan die bietjie wat ons het en tot sy beskikking stel, baie maak. Hy voorsien in oorvloed. Almal het genoeg geëet, so veel as wat hulle wou hê! Merkwaardig, toe hulle die brokstukke op tel, was daar meer oor as waarmee hulle begin het. Twaalf mandjies vol! “Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het." (13) Die twaalf is natuurlik nie toevallig nie. Dis ‘n teken dat God deur Jesus vir sy volk kan sorg, die twaalf stamme van die volk Israel. Jesus sorg vir ons wat deur die geloof kinders van Abram geword het! Dis ‘n heerlike realiteit.

MISPLAASTE REAKSIE

Hoe reageer die mense toe op hierdie wonder? Hulle besef Jesus is die profeet, waarvan Moses al gepraat het, maar hulle verstaan nie regtig wat sy sending en doel is nie. Hulle wil Hom sommer met geweld koning maak, want hulle reken Hy sal materiële verligting en aardse bevryding (van die Romeine heerskappy) bring. Jesus laat Hom egter nie misbruik nie. Hy val nie vir ‘n valse vleiery nie. “Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.” (15) Dis egter nog nie die einde van die storie nie…

ONS WERKLIKE NOOD EN DIE WARE OPLOSSING!

Die wonder van die vermeerdering van die brood het ‘n baie belangrike nadraai en betekenis soos Johannes dit beskryf. Jesus het die skare verlaat en oor die see vertrek. Later in Kapernaum* praat Hy met die skare oor die betekenis van hierdie wonder. Jesus maak dan hierdie skerp uitspraak : “Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (26,27). 

Wat bedoel Hy? Natuurlik bedoel Hy nie dat mens nie moet werk nie. Die hele Bybel is duidelik dat ons moet werk vir ons kos. Paulus stel dit selfs so dat die wat nie wil werk nie, moet ook nie eet nie!** Nee, Jesus bestraf hulle oor hulle materialistiese siening van die Koninkryk van God! Hulle dink dat Jesus gekom het om die lewe vir hulle gemaklik en gerieflik te maak. Hulle het gedink Jesus gaan vir ons van kos voorsien en ons van die Romeinse oorheersing bevry. ‘n Misplaaste en selfgesentreerde verwagting van die Koninkryk. Die mense is opgewonde oor iemand wat brood kan verskaf, maar hulle besef nie dat hulle ‘n groter nood het nie!

Dis presies vandag die probleem. Mense klink dikwels opgewonde oor Jesus, maar hoekom? Jesus moet vir ons reën gee (en sommer Kaapstad se waterprobleme ook oplos), Jesus moet my gesond maak, Jesus moet al my finansiële probleme aanspreek…as Hy dit nie doen nie, is ons baie teleurgesteld. Hoor weer… “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee."  (27) Ons diepste nood is die voedsel wat nie vergaan nie, wat die ewige lewe gee. Ons diepste behoefte is om met God versoen te word! 

Die grootste gevaar is nie hongersnood nie, maar helse straf!


DIE BELANGRIKSTE VRAAG

Nadat Jesus hulle tereggewys het en vir hulle laat verstaan het dat hulle fokus en verwagtinge verkeerd is, vra hulle dan… "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" (28) Hulle verstaan nog nie eintlik waaroor dit gaan nie. Sonder dat hulle dit besef het is dit die grootste vraag van die mens, dis die grootste dilemma van die sondaar. Wat kan ek as sondige mens doen dit God tevrede met my sal wees? Hoe kan ek God tevrede stel? Hoe kan ek weet dat ek as regverdige die ewige lewe het? Dan kry ons die wonderlike en veelseggende antwoord van Jesus. “En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (29) Wat God van jou vra is nie een of ander prestasie nie, maar eenvoudige geloof in Jesus! Dis genoeg. Dis die wil van God. Dis die enigste vereiste om deel te hê aan sy ewige koninkryk. 

Dit wat Jesus hier leer stem presies ooreen met Paulus se lering. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Romeine 3:28) “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1)

HY IS DIE WARE MANNA

Jesus self is die oplossing vir ons diepste nood, ons sonde nood. Jesus is groter as Moses. Jesus self is die finale Manna uit die hemel, Hyself is God se BROOD aan ons wat die lewe gee te midde van ‘n geestelike woestyn. Baie mense probeer Jesus misbruik. Baie verstaan nie waarom Hy gekom het nie. Baie het verkeerde verwagtinge oor Hom. Hulle verstaan nie hulle ware nood nie. Ons het ‘n groter behoefte aan BROOD as aan brood. Die wêreld se nood, (ryk en arm) is ‘n sonde nood, wat net deur Jesus aangespreek kan word. My en jou probleem is ‘n sonde probleem. Dis ‘n ewigheidsbedreigende probleem, want sonde versteur ons gemeenskap met God en met mekaar. Sonde bring skeiding en verwydering tussen mens en God en mens en mens. Sonde lei uiteindelik tot ewige dood en skeiding.

Ja, ons leef in moeilike tye! Ook in hierdie tye kan ons weet dat ons Here deur sy Gees by ons is en ons sal versorg. Jesus self het ons immers leer bid : ”Gee ons ons daaglikse brood” Maar onthou net altyd, Jesus het gekom om iets groter as kos, gesondheid, geld en gerief te gee – Hy het gekom om vir ons LEWE te gee. Ewige lewe. En wat is ewige lewe? “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:3)

KEN JY HOM? Het jy al BROOD gekry?

* In die sinagoge van Kapernaum het, waar baie mense aanwesig was wat die wonder beleef het, het Jesus verdere lering gegee. (59) Presies waar die sinagoge gesprek begin is nie duidelik nie. Volgens Carson kan dit al by vers 27 wees. Sien Don Carson se “The Gospel According to John”, p283

** 2 Tessalonisense 3:10 “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie."

En Kaapstad? Mag die mense van Kaapstad besef, Jesus is ook self die Lewende Water en dat hulle Hom selfs nog meer nodig het as die water in die krane... Miskien wil Hy vir ons almal iets leer deur hierdie vreeslike krisis...

2 opmerkings:

  1. Amen, dankie Johannes. Inderdaad, ons grootste behoefte en nood is geestelik.
    Philip, uit 'n droë Kaapstad (fisies & geestelik)

    AntwoordVee uit
  2. Alhoewel hier baie goeie reen oor amper die hele Madagaskar geval het, is hier andersins nog so groot nood - eerstens natuurlik soos jy uitgewys nl. die GEESTELIKE NOOD en is ons dankbaar vir die openheid vi die Evangelie wat osn wel sien - en is ons besig met planne om nog 'n kerkplantingspan op die been te bring; maar dan is daar ook groot armoede en na die jare van kommunisme, diktatorskap en korrupsie sukkel dit nog baie om deur die drif te kom. Maar sover dit ons betref is die Evangelie die prioriteit - soos Christus ook vermaan om eerste die Koningkryk van God en sy geregtigheid te soek en dan sal die ander dinge ook bygevoeg word. Dankie vir jou glas-koue-water boodskap - voorwaar goeie nuus uit 'n ver land soos die Skrif ook elders noem.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.