BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 05 Oktober 2017

WEGDRYWE?

“SO ‘N GROOT SALIGHEID!” : DIE GENADEGELEENTHEID WAT ONS NIE DURF MISLOOP NIE!


“So ‘n groot saligheid!” So ‘n groot verlossing! Hoe sal ons ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? As ons God se groot verlossingsplan vertrap of selfs net ignoreer, hoe sal ons ontsnap of ontvlug van Sy skrikwekkende, maar regverdige wraak en oordele?


“So ‘n groot saligheid!” Reeds reg aan die begin van sy brief het die Hebreërs skrywer verduidelik waarom die verlossingsplan so oneindig finaal, groot en heerlik is! Sien Hebreërs 1:1-3. Dit gaan oor Jesus as die finale Woord van God! Voorheen het God op baie maniere met sy mense gepraat deur die profete… wonders, drome, die wet (tora), tabernakel, tempel, maar NOU in hierdie laaste dae het Hy finaal gepraat deur die SEUN! Jesus self is die finale hoogtepunt van God se selfopenbaring aan die mens!

JESUS SE UNIEKE HEERLIKHEID

Nou het God deur Jesus gepraat en HY oortref alles en almal in heerlikheid, uniekheid en belangrikheid. Dis nie sommer praatjies nie. Die skrywer noem sewe redes waarom Jesus se heerlikheid so ontsagwekkend heerlik en onvergelykbaar is.

1.Deur Hom is die wêreld geskep. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3)

2.Hy is die erfgenaam van alles. “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.” (Ps. 2:8 ) Ja, aan Jesus behoort die aarde, maar ook die ganse heelal!

3.Hy is die afskynsel van God se heerlikheid! Anders gestel die heerlikheid van God straal uit Hom. As jy na Jesus se karakter lewe en optrede kyk sien jy God! Dink maar hoe het Jesus opgetree teenoor die Samaritaanse vrou, Saggeus, klein kindertjies... vol genade en waarheid!

4.Hy is die afdruksel van sy wese, die ewebeeld van God. Hy wys vir ons hoe lyk God wat Gees is (soos ‘n afdruksel van ‘n muntstuk in klei) Ja, ook wat betref sy heilige toorn. (dink aan die reiniging van die tempel)

5.Hy hou die heelal in stand. “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.” (Kol 1:17) Hy voer alles na ‘n heerlike finale bestemming en doel.

6.Hy het die reiniging van ons sondes bewerk. Hier is nou ‘n wending. ‘n Verskuiwing van Jesus se kosmiese funksies na sy persoonlike betrokkenheid by ons. Jesus het iets drasties gedoen aan ons verskriklike sondeprobleem, die probleem wat skeiding maak tussen ons en God… Verder maak die skrywer dit duidelik dat Jesus deur Sy een volkome offer ons volkome en vir altyd van ons sondeskuld bevry! “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebr. 10:14)

7.Hy sit aan die regterhand van God! Dis die absolute magsposisie en ereplek in die ganse heelal. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,...” (Fil. 2:9,10) Hy is in beheer, nie Satan of sy trawante nie. Dis ‘n heerlike troos wat ons bevry van vrees!

Verder in die hoofstuk word dan ook beklemtoon dat Jesus ook ver verhewe is bo die engele.

PASOP!

Na die beskrywing van die heerlikheid van Jesus as die fokus en uitvoerder van God se verbysterende heerlike verlossingsplan, kom die skrywer by sy eerste waarskuwing in hierdie brief. Sien Hebreërs 2:1-3. Pasop, moenie wegdrywe nie! Dis so belangrik om dit te hoor. So baie mense gaan verlore, nie omdat hulle op ‘n dag, eensklaps Jesus verwerp nie, nee hulle drywe maar net so stadig en stelselmatig weg van die waarhede van die evangelie… Hulle harte raak geleidelik afgestomp, koud en ongevoelig teenoor Jesus! Dis ‘n resep vir die hel!

Dis ‘n baie dringende ernstige waarskuwing om nie die evangelie te ignoreer of te verwerp nie. Om nie te verswak in die geloof nie. Om die erns te onderstreep verwys die skrywer na die tradisie dat die wet van Moses met behulp van engele oorgelewer is.* As daardie wette deur mense oortree is, is hulle baie swaar gesterf. Die punt is, hoeveel swaarder sal ons gestraf word as ons die verlossingsplan soos geproklameer in die evangelie verwerp? Die evangelie is immers nie aarde toe gebring deur ‘n engel nie, maar deur die Seun van God self!

Hou jy nog vas aan die evangelie van Jesus Christus of het jy al begin wegdrywe?

Wees baie eerlik, wat is jou reaksie tans op hierdie groot saligheid? Raak dit jou hart, het dit al gelei tot waaragtige bekering, motiveer dit jou tot ‘n heilige lewe, maak dit jou opgewonde om spesiaal op Sondae die Here te aanbid en te loof saam met sy kinders in die erediens, het jy ‘n passie vir die gekruisigde en opgestane Jesus, neem jy standpunt in vir Jesus of dryf jy saam met die groot stroom van laksheid en goddeloosheid…? Jy sê : “Ek is nou nie seker oor hierdie vrae nie, maar ek is darem ‘n goeie ordentlike eerlike mens!” Ag vriend, die Bybel leer dat ons almal sondaars is. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,...” (Romeine 3:10) Daar is niemand sonder sondeskuld voor God nie, nie een nie en daar is net een hoop – hierdie groot saligheid wat Jesus gebring het! Hy het die skuld betaal! As jy Hom nie ken nie, of weggedryf het van Hom is daar geen uitkoms nie, geen ontvlugting nie, geen hoop tot in alle ewigheid nie! 

Onthou net God in sy groot genade stuur hierdie waarskuwing ook vandag na my en jou, juis omdat Hy ons bemin en wil behou!

*Dat die wet deur middel van engele oorgelewer is, vind ons nie direk in die Ou Testament self nie. Ons vind hierdie tradisie wel in Galasiërs 3:7 en Handelinge 7:53



Ugab

1 opmerking:

  1. Baie dankie hiervoor ... ek is in die laaste tyd oorweldig deur die grootsheid van die prys wat Jesus betaal het en Wie Hy waarlik is omdat Hy tot die dood toe gehoorsaam was. Openbaring 5 slaan telkens my asem weg wanneer die hele universe deursoek word vir iemand om die seels van die boekrol in God se Regterhand oop te maak en niemand gekry word nie - Johannes is verslae en huil, totdat hy getroos word: daar is Een wat waardig is: die Lam wat geslag is!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.