BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 11 Augustus 2016

“ONSKULDIGE PLESIER”

- DIE TAKTIEK VAN BILEAM



God se liefde vir sy kinders is oneindig groot. (Kliek op FEITE) Die bewys : Hy het ons losgekoop uit sondeslawerny met ’n baie hoë prys - die bloed van sy eie Seun, Jesus. Daarom weet dit : God se kinders is sy oogappels, uitverkorenes! Jy vra : “Regtig? Ek het nog soveel foute, ek val so maklik?” Ja, as jy alleenlik op Jesus Christus vertrou is jy ’n geliefde uitverkorene...! Juis daarom is ons ’n teiken van Satan - hy wil ons kwaad aandoen, laat struikel, vernietig. Al Satan se helse woede is gefokus op God se kinders. Omdat hy God haat, haat hy elke kind van God en soos ’n brullende leeu soek hy wie hy kan verslind. Satan bedreig God se kinders : Hy het dit in die Ou Testament gedoen en hy het dit in die tyd van die Nuwe Testament gedoen en hy doen dit nog steeds. Hy wil ons dislojaal maak teenoor God, hy wil ons verlei om God se liefde te vertrap en te minag!



Nou hoe gaan hy te werk? Tydens die Uittog uit Egipte het die Israeliete deur Moab getrek. In Numeri 22-24 lees mens die merkwaardige verhaal hoe die heidense Moabitiese koning Balak, ’n towenaar/waarsêer met die naam van Bileam gehuur het om God se volk Israel te vervloek! Hy wou ’n vloek ("spell") op hulle plaas! Niks anders nie as ’n aanslag van Satan teen God se volk! Maar wat gebeur toe? Lees maar self - Balak se plan misluk, want God dwing toe vir Bileam om Israel te seën in plaas van te vervloek! (In die proses het God selfs ‘n pratende donkie gebruik!) God is almagtig! God is sterker as die Satan en sy handlangers. 



Hierdie geskiedenis jubel dit uit : God is getrou en almagtig; Hy beskerm en bewaar sy mense!



~ God is getrou aan sy beloftes. Hy het beloof Hy sal hulle na die land Kanaän lei, en Hy hou sy beloftes! Hoekom? Numeri 23:19 -“ God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie.”

~ God is almagtig- Hy beskerm sy volk teen bose magte! Dit word so pragtig gestel in Numeri 23:23 “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie.” Dis presies wat die NT ook vir ons leer- Jesus sê vir sy skape wat na sy stem luister :”Niemand kan julle uit my hand ruk nie!” (Johannes 10:28) Dis ’n heerlike vertroosting. So dikwels leef party Christene in vrees vir geheime organisasies, Sataniste, vloeke en wie weet wat alles! Die groot gevaar is eerder dat ons aandag afgelei word deur allerhande grillerige stories van die werklike bedreiging. Wat is die werklike bedreiging wat ons elkeen bedreig?

VERLEIDING TOT KOMPROMIE

Jy sien Satan gee nie so maklik moed op nie. As sy vloeke  en towerspreuke nie werk nie, maak hy ’n ander plan. Wat is dit? Wat is die werklike gevaar vir die kind van God? Die werklike bedreiging is die taktiek van Bileam : Kompromie met sonde deur oënskynlik onskuldige pret en plesier! Bileam se vloeke kon niks teen Israel uitrig nie, maar op ’n ander manier het hy Israel geweldig skade berokken. Hoe? Hy het aan die Moabiete die raad gegee* om die Israeliete na hulle feeste te nooi. (Moses verwys hierna in Numeri 31:16 as hy verklaar : “en deur toedoen van Bileam was juis húlle (die Moabitiese vroue) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!” Vergelyk met Numeri 25:1-4**) En wat gebeur? Israel val daarvoor, hulle val in die strik van afgodery en seksuele sonde. Hulle sondig en God self rig toe verwoesting onder hulle aan. God bring ’n ramp oor die Israeliete en 24 000 sterf! (Numeri 25:9) 

Baie belangrik om dit raak te sien : Die Satan kon nie deur ’n bose towenaar skade aanrig nie, maar toe Israel kompromie maak met sonde, toe word God self hulle vyand en hulle word swaar gestraf! Let wel – God, nie die duiwel nie, maak sy volk dood!

VERMAAK EN FEESTE

Die grootste bedreiging vir God se kinders is nie vloeke nie, nie openlike vervolginge of geweld, dreigemente van Sataniste, geheime organisasies, hekse of towenaars nie, maar kompromie met sonde! Dis die taktiek van Bileam - subtiele kompromie. Hoe gebeur dit? Die wêreld nooi ons na hulle vermaak, feeste en karnavalle uit! Die wêreld dreig ons nie en sê julle mag nie Bybel lees of kerk toe gaan of bid nie. (So ’n taktiek sou nie werk nie) Nee, die wêreld nooi ons uit – “Kom deel in ons onskuldige pret! Ag, kom kyk maar na ons TV sepies waar wellus en losbandigheid en gierigheid verheerlik word, kom hou saam partytjie waar ons saam dronk kan word, kom deel in ons plesiertjies, kom JOOL en karnaval saam, dis mos vir ‘n goeie doel”- maar dis juis dan wanneer ons in dronkenskap, losbandigheid en allerhande ander sonde verval. Ook Dawid het al die gevaar van die goddelose se feeste ingesien : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4) 

Hierdie taktiek, die taktiek van Bileam naamlik kompromie met losbandigheid was ook in die Nuwe Testament ’n bedreiging. Die gemeente van Pergamum word hieroor voor stok gekry in Openbaring. “Maar Ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.” Sien Openbaring 2:14 (Hier kry ons dus ‘n duidelike verwysing na die tragiese gebeure in Numeri) Destyds kon die bywoning van heidense feeste baie maklik lei tot kompromie met onsedelikheid en afgodery. Daar was byvoorbeeld aan die begin van die Lente ’n drie dae lange Dionisiusfees wat met ’n hewige gedrinkery en onsedelikheid gepaardgegaan het! Klink bekend!?

God duld nie kompromie met sonde nie. Daarom waarsku Hy die gemeente van Pergamum om hulle te bekeer! As hulle hulle nie sou bekeer nie, sal Hy hulle self bestry met die swaard van sy mond! (Openbaring 2:16) Kan jy sien, net soos destyds tydens die woestyntog, word God sy eie mense se vyand as hulle kompromieë met sonde maak. 

Die taktiek van Bileam is vandag nog steeds die grootste bedreiging vir die kerk van Jesus. Die werklike gevaar vir die kind van God is nie Sataniste of kommuniste nie, nie die ANC, ISIS en Islam nie, nee dis kompromie met sonde. Hoekom? Kompromie met sonde bring God se oordele oor sy eie mense, sy eie kerk! (In ons dag het dit al so ver gegaan, sommige van hierdie feeste word deur die kerk self gereël. Kliek op ARRESTEER JESUS )

Wees dus waaksaam! Wees versigtig vir die feeste, flieks en karnavalle van die wêreld. Moenie naïef wees nie! Waak en bid! Vlug weg van alle kwaad (2 Timoteus 2:22) en dien die Here met ’n heilige lewenswandel saam met ander kinders van God wat Hom ook in heiligheid dien. Dan het ons niks te vrees nie!

TROOS EN WAARSKUWING

Die geskiedenis van Bileam bring groot vertroosting, maar ook ’n dringende waarskuwing :

~ Vertroosting : Moenie beangs raak oor Satan nie - geweld van bose magte kan Satan nie God se kinders van hulle verlossing beroof nie!!

~ Waarskuwing : Moenie God uittart deur kompromie met sonde nie. Dit bring sy oordele oor ons. Wees versigtig vir die feeste van die wêreld! 

Kind van God vlug van alle sonde en glo dan die heerlike waarheid van Judas vers 24,25 wat sê :

Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

NASKRIF : En terloops, moet asseblief nie so liggelowig wees nie, alle feeste en funksies wat met SKRIFLESING EN GEBED geopen word is nie noodwendig Christelik nie, gaan kyk maar wat gebeur by die biertent en die dans kort daarna...Kliek op BYGELOOF



* Du Rand, Die A-Z van Openbaring, p174

**NUMERI 25:1-4

“Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Hy het vir Moses gesê: "Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie."

4 opmerkings:

  1. Dankie Johannes! Hier oordenking gee perspektief! As ons mense se oë net kan oopgaan. En onthou vriende, al is jy nie aandadig nie, maar swyg as jou familie, vriende, kollegas en werknemers hulle skuldig maak hieraan, en swyg....

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie, nuwe perspektiewe op hierdie verhaal... ek het inderdaad weer iets nuuts geleer!

    AntwoordVee uit
  3. Baie dankie - net een vraag as ek mag asb. Wat is die Bybelse beskrywing van sonde? Die antwoord is gekry in 1 Johannes 3:4 - sonde is oortreding van Die Wet, Die Torah.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Steve vir jou vraag. Ons moet eerlik hier na die Grieks en na die konteks binne die 1 Johannes brief kyk. (en pasop om nie die HRM se tora teologie gedwonge daarin te lees nie) Die Griekse woord wat hier gebruik word is anomia. (lawlessness) Dit word net hier in die 1 Joh brief gebruik. Die woord "wet" word hoegenaamd glad nie in die Johannesbrief gebruik nie. As dit vir Johannes oor 'n beklemtoning van die tora gegaan het, sou hy dit duidelik vermeld het. Boonop gebruik die LXX die woord anomia as vertaling vir 'n hele aantal woorde wat op sonde dui. 'n Hele paar Joodse tekste vrstaan anomia is vyandigheid teenoor God in 'n eskatologiese konteks. Dis heel waarskynlik dat die Griekse woord hier 'n ander konnotasie het as bloot "tora" het, veral as mens dit vergelyk met 2 Tess 2:3,7 waar die "Man of lawlessness" beskryf word, maw die Antichris. Hierdie woord is klaarblyklik geassosieer met die finale uitbraak van boosheid teen Christus en dit dui op rebellie teen God. Om sonde te doen is dus om aan die kant van die duiwel en die Antichris teenoor Christus te staan. (Hierdie klink vir my na 'n baie sterk moontlike verklaring)

      Indien mens bogenoemde verklaring verwerp en wil kies om anomia te verstaan as verwysend na die tora, sal mens eerlik moet kyk na die konteks waarin Jesus en byv. die apostel Paulus na die tora verwys. Dan word dit in elk geval baie gou duidelik dat nie alle bepalings van die tora (as konstitusie van die verouderde Mosasiese verbond) onveranderd deur Jesus en die apostels gehandaaf is nie. Dink aan Jesus se, "maar Ek sê vir julle..." Dink beslis ook aan Paulus se sterk standpunte teenoor sake soos die besnydenis, sabatte, nuwemane en die voedselwette (in veral Gal en Kol) - dit was als deel van die tora bepalings maar geld duidelik nie meer vir Christene nie! Dit het ek reeds baie duidelik uitgewys in ander plasings op hierdie webjoernaal.

      vriendelike groete
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.