BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 18 Augustus 2016

KYK NA DIE GROTER PRENTJIE

van God se planne en besef dis nie nou die tyd om eie belang voorop te stel en jou teen jou eie bekommernisse vas te staar nie!



JEREMIA SE BOODSKAP


Ons weet almal van die profeet Jeremia se stryd vir die waarheid. Hy het nie gepreek dit wat die mense wou hoor nie, maar dit wat God wou sê. Die waarheid! Dit het hom in konfrontasie gebring met almal: die koning, die priesters, die valse profete en die volk. Hy het almal se sonde en ongeregtigheid aangespreek en blootgelê. Die valse profete het die volk se sondes toegesmeer en gesê :”Vrede, vrede”, terwyl daar geen vrede is nie. (Jeremia 6:14) Hierteenoor het Jeremia voorspel dat God, Juda sal straf en het hy die val van Jerusalem voorspel. Vanweë sy ongewilde boodskap moes arme Jeremia dit ontgeld, hy is o.a. in ‘n put gegooi. Na Jerusalem se inname deur Nebukadnesar gaan Jeremia se bediening voort. Die goewerneur Gedalja is deur die Babiloniërs as goewerneur oor die agtergeblewe Jode aangestel. Gedalja word vermoor en omdat die Jode nou die wraak van Nebukadnesar vrees besluit hulle om na Egipte te vlug. Hulle vra vir Jeremia wat God se wil is en tog verwerp hulle sy boodskap wat hy van die Here ontvang het - presies wat mense vandag nog doen. (sien Jeremia 42:3,43:1-3) Jeremia word gedwing om saam te trek na Egipte.

EN WAT VAN BARUG?*

Ons het miskien maklik meegevoel met arme Jeremia, maar vergeet gewoonlik van Barug. Jeremia het gebruik gemaak van ‘n persoonlike sekretaris, Barug. Dit was geen gerieflike en veilige beroep nie. Saam met Jeremia moes hy die kritiek en verwerping verduur; soveel so dat die volk eintlik vir Barug die skuld gegee het toe Jeremia vir hulle ‘n boodskap gegee het oor hulle beplande vertrek na Egipte. (43:3) Hy is dan ook saam met Jeremia na Egipte toe geneem soos ons lees in 43:6.

Ons kry hier in hoofstuk 45 ‘n profesie wat op Barug persoonlik betrekking het :

Jeremia 45:1 ‘n Woord van die profeet Jeremia aan Baruk seun van Nerija, toe Baruk opgeteken het wat Jeremia vir hom gedikteer het. Dit was in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda, seun van Josia.

2 So sê die Here die God van Israel oor jou, Baruk:

3 Jy sê dit is klaar met jou, die Here het nog meer lyding by jou smart gevoeg, jy is al uitgeput van kla, jy kry nie rus nie?

4 Die Here sê ek moet vir jou sê: So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met ‘n hele land.

5 En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie! Ek gaan ‘n ramp oor alle mense bring, sê die Here. Tog sal Ek jou jou lewe laat behou waar jy ook gaan, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.

Uit hierdie gedeelte en vanuit Barug se rol in die algemeen blyk dit baie duidelik dat sy taak veeleisend en gevaarlik was. Op ‘n stadium het alles blykbaar vir hom te veel geword, sy werk was hard (Onthou daar was nie eens ordentlike penne nie, wat nog van tikmasjiene en rekenaars!), die druk te groot, die teenstand te fel, hy is blootgestel aan voortdurende smaad. Maar meer nog en dis waarskynlik waaroor dit hier gaan : die profesieë van oordeel oor Juda sou hom wat Barug is ook raak. God se oordeel sou sy eie toekomsplanne en ambisies in gedrang bring. Die boodskap wat hyself help formuleer het, het intense BEKOMMERNIS by hom veroorsaak! Die inhoud van die profesieë het daarop neergekom dat die hele land verwoes sou word, mens en dier sou uitgeroei word. Die einste boodskappe van oordeel wat Barug so getrou neergeskryf het sou hom self ook nadelig tref. Wat gaan word van sy toekoms? Hierdie situasie en omstandighede het Barug laat kla en sug (45:3) “die Here voeg lyding by my smart, ek is uitgeput van die kla” (NAB)

‘N BAIE PERSOONLIKE BOODSKAP 

God reageer op Barug se selfbejammering en ongelukkigheid, deurdat die Hy deur Jeremia ‘n spesiale persoonlike boodskap aan hom rig. In hierdie boodskap word Barug berispe sowel as getroos:

  • Barug word aangespreek en tereggewys: Barug se persoonlike lot het vir hom baie erg gelyk. "Kyk wat gaan my alles tref!"  Die Here gee nou vir hom ‘n groter perspektief. (4) God wil miskien sê : “Besef jy wat hou dit alles vir myself in? Die oordele behels dat ek my eie volk tugtig.” Dis die einste volk aan wie Hy soveel aandag en liefde bestee het. (vgl. Jesaja 5) Hierdie oordele is geen ligtelike saak vir God nie. Hy verwoes Sy eie eiendom. Moontlik is die bedoeling van God hier : “Wat gaan dit jou aan? Dis my eiendom wat ter sprake is! Barug jy het nie regtig rede om so hartseer en ongelukkig te wees nie!” Dan gaan die Here voort in vers 5. Dis die kerngedagte my betref en wat ek glo tot elke kind van God sal spreek. “En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie” (OAV) “En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie?” (NAB) Mens sou dit ook so kon stel : “Hoe durf jy persoonlike voordeel vir jouself opeis?** 
Barug daar is ‘n groter saak, die saak van God. In die lig van hierdie groter saak durf jy nie bekommerd oor jou persoonlike ambisies, ideale en gerief te wees nie! Kry begrip vir die groter geheel, moenie teen jou ooglede vaskyk nie. Dink aan die volgende prentjie : ‘n Groot woonstelgebou is aan die brand. Honderde mense moet gered word! Lewens word bedreig. Daar is miljoene rande skade. Maar nou kom kerm iemand by die brandweermanne oor sy hamster wat weggeraak het. Ons is so dikwels onsensitief vir die betekenis en omvang van die ewigheidsdrama wat afspeel. In die lig van die aantasting God se eer, in die lig van Sy groot raadsplanne, die oordele wat wag - wat tel my en jou persoonlik belange, wat is ons klein opofferinkies en verliese? Sien die groter prentjie raak. 

Laat ons ophou om in onsself gekeer te wees met ons ou klein probleempies. 

Moenie so arrogant wees om spesiale behandeling te verwag nie! God gaan die wereld oordeel, God stuur ons nou om die evangelie te verkondig.... Moenie net aan jouself dink nie, terwyl die wêreld voortsnel na ‘’n einde nie!

  • Barug kry ‘n heerlike belofte. “jou lewe laat behou” Te midde van al die oordele sou sy lewe gespaar word. Ja, selfs al gaan dit oor die groter saak van God se eer, vergeet God nie Sy kinders nie. Lewe is tog die belangrikste, dis tog eintlik wat tel.*** Ja , God se mense word nie gevrywaar van ellende nie, maar ten opsigte van dit wat regtig tel sal ons geseënd wees. Uit Nuwe Testamentiese perspektief weet ons dat lewe ten diepste na die ewige lewe by God verwys. Ja, selfs waar die kinders van God hulle aardse lewens verloor sal hulle (ewige) lewe behou. Jesus sê tog duidelik “Wie sy lewe bo my liefhet, verloor dit, en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie (haat), sal dit vir die ewige lewe behou” (Johannes 12:25)
Samevattend

  • Sien die groter geheel raak. Kry ‘n wyer visie as jou eie geestelike lewe, jou eie loopbaan, eie gerief. Raak eerder bewus van die nood van die kerk, die uitbreiding van die Koninkryk van God, jou taak in die liggaam van Christus, die groot dag wat nader kom. Moenie dat klein persoonlike sake jou aandag van hierdie enorm belangrike dinge aftrek nie.
  • Ons eie belange en idees bots dikwels met die belange van die Koninkryk van God. Daar is ‘n groter prentjie, daar is ‘n groter plan, my ambisies moet plek maak vir daardie groter plan. (My keuse oor woonplek, beroep is ondergeskik aan God se plan en wil.) In hierdie saak was Jesus gedurende Sy aardse lewe die absolute voorbeeld, Hy het alle persoonlike belange prysgegee om die die werk van en saak van Sy Vader te dien - dit het Hom tot by die kruis gelei...
  • Om in te val by God se plan kos ‘n prys, tog is dit nie ‘n uitsiglose doodloopstraat nie. Ons kan weet ook in situasies wat ons alles moet verloor, kyk God met Vaderlike sorg en liefde na ons. Ons bly ewige wenners! Die omvattende saak van Sy koninkryk kom eerste en tog beloon Hy Sy kinders uitermate. Jesus se woorde in Matteus 19:29 het heerlike belofteryke konsekwensies vir elkeen wat die groter saak van God se koninkryk eerste stel – “En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” AMEN
Motiveringsprekers en lifecoaches leer ons dat God ons sal help om ons planne, ambisies en belange te bevorder; die Woord leer ons moet inval by God se raadsplanne en koninkryk en God sal vir ons sorg volgens sy besluite.



*NAB – Baruk

** so in ‘n Franse vertaling : "Et toi, tu oses réclamer un avantage personnel?"

*** God het ‘n soortgelyke belofte aan Ebed- Meleg , die Kusietiese kneg gemaak wat verantwoordelik was dat Jeremia uit die put getrek is ( Sien Jeremia 38; 39:15-18)




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.