BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 08 Julie 2016

KERK ARRESTEER JESUS?

Dis pynlik en hartverskeurend! Die bruid vergeet haar Bruidegom en flankeer met allerhande vreemde vryers. Die kerk is besig om haar te Koning verag. Hoe dan so? Wel die kerk lyk nou presies soos die wêreld wat in die mag van die bose is. In plaas daarvan dat ons getuig  en lig is te midde van ‘n krom en verdraaide geslag neem die kerk lustig deel (en organiseer) danse en skoonheidskompetisies. Ons geestelike bankrotskap word weggesteek agter die vertoon en lawaai van feeste en bedenklike vermaak. Solank die dollars inrol gee ons nie om wie ons gebruik en wat ons doen nie.


Is die skat van die kerk nog die evangelie? Raak ons nog opgewonde daaroor? (Waarom hoor ons van so min bekerings?) Of moet ons nou staatmaak op Kurt Darren en sy wellustige liedjies om mense te lok? Wat van Jesus, is Hy hoegenaamd nog welkom op die feeste en funksies wat die kerk reël? Wat het geword van die “heilige kerk” wat ons bely? Die kanse is baie goed dat as Jesus vandag  ‘n spreekbeurt sou kry op een van hierdie kerklik georganiseerde feeste, Hy bykans onmiddellik met geweld verwyder sou word. Die kerkmense sou Jesus laat arresteer! Ja, want Hy sou heel waarskynlik sy stem  teen die agtergrondsgeraas van “Loslappie” verhef en uitgeroep het : Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.”  (Markus 11:18)

Mag ons as kerk terugkeer na Jesus sodat ons die stukkende mensdom aan Hom as Verlosser  kan voorstel in plaas daarvan om hulle op lawaai en wellus te trakteer...

N.S. Ja, jy is reg dit is inderdaad die Hervormers se Biltongfees in Windhoek wat my so ontstel en die impetus was vir hierdie kort skrywe, maar dis maar net een voorbeeld... Die kerk in die algemeen volg die verdorwe pad van die kultuur (soos die AS 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings) in plaas van om sout en lig te wees in die kultuur. Laat al ons kerke hier in Namibië (en ons Christelike radio), maar die hand in eie boesem steek...

6 opmerkings:

  1. Baie baie dankie, ek is diep geraak hierdeur en weer herinner aan die roerende Eseg 16, waar die Here Sy liefde vir Israel verklaar en sy ontsteltenis oor hulle so hoereer met ander gode. Mag die boodskap ver en wyd gehoor word, mag mense daarop ag gee.

    AntwoordVee uit
  2. Johannes, ek kan nie ander as “Amen” te sê op jou standpunt soos hierbo gestel nie. Die kerk se ampsdraers het deesdae so ‘n geweldige vrees om as “skynheilig” gebrandmerk te word dat niemand meer sy mond oopmaak oor hierdie goed nie. Of is dit dalk ‘n geval dat baie van ons kerklike ampsdraers self in so ‘n mate in die onheiligheid verval het dat hulle bang is dat hulle blootgestel sal word en beskaamd voor God en wêreld sal staan? Ek weet nie.

    Baie dankie egter dat jy die suiwer standpunt hier duidelik en ondubbelsinnig stel. Mag ons almal hierdeur aangespreek word tot ernstige selfondersoek en korrigerende optrede in die toekoms.

    AntwoordVee uit
  3. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit
  4. Ek is bly suster dat jy bemoedig kon word. Onthou net , binne die konteks van afval en dwaling staan God se fondament steeds vas : die Here ken die wat Syne is EN laat ons elkeen wat aan Hom behoort afstand doen van alle ongeregtigheid! Laat ons blymoedig volhard!

    AntwoordVee uit
  5. wil graag e pos kontak kan dit moontlik wees

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.