BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dink maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.