BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 12 Februarie 2016

HOE WEET EK?

[Vaste waarheid en norme in die onseker wêreld van wisselende gevoelens en groeiende relativisme]

Hoe weet ek dat God my liefhet? Sommige sal sê : “Ek voel so.” of “Die Here het my gehelp.” Maar wat van die kere wat jy nie so voel nie of nie ervaar dat die Here jou help nie? Is Hy dan nou nie meer lief vir jou nie? 

Hoe weet ek dat ek ‘n kind van God is? Weereens, sommige sal beweer : “Ek voel so.” Maar dis ‘n uiters wisselvallige barometer, want ons weet ons gevoelens verander gedurig en meer nog, ons emosies en buie is altyd maar baie onbetroubaar. (Almal wat positief voel hulle het ‘n wiskunde toets deurgekom, is nie altyd deur nie.) Hoe kan mens iets so belangrik soos jou ewigheidsbestemming op gevoelens grond? 

Hoe weet ek wat is reg en verkeerd? (Al hoe meer word dit in ons postmodernistiese wêreld betwyfel of daar hoegenaamd nog iets soos reg en verkeerd is, want elkeen, so word beweer, is mos sy eie norm en maatstaf.) So dikwels hoor mens : “Ek voel net dis reg.” Dis mode (en ek dink dit word goed bedoel) om ‘n WWJD bandjie om jou arm te dra. Maar die vraag is nog steeds, hoe weet jy wat Jesus sou gedoen het? Is dit maar net jou subjektiewe opinie en pas jy nie maar daardie opinie aan by jou gevoelens en voorkeure nie? Verskriklike onreg en losbandigheid word gepleeg onder die naam van Jesus...

Die allerbelangrikste vraag is geliefdes, hoe weet ons wat is regtig waar, hoe weet ons wat is regtig reg of verkeerd, hoe weet ek my sonde is vergewe, hoe weet ek dat ek in ewigheid by die Here sal wees?

Kom ons kyk wat het Jesus self as die bron van waarheid aangedui in Lukas 24:44-49.

Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’
Julle is getuies van hierdie dinge.
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

(Jesus sê hierdie dinge na sy opstanding en nadat Hy Homself lewend aan sy dissipels vertoon het.) 

Merkwaardig! Hoe versterk en bou Jesus die wankelrige dissipels se geloof? Waarheen verwys Hy hulle om die waarheid te weet? Hy verwys hulle terug na die Ou Testament. Die wet, die profete en die psalms, met ander woorde die Bybel van daardie tyd, want die Nuwe Testament was nog nie op skrif nie. Jesus doen nou nie meer opspraakwekkende sigbare wonderwerke nie hier na sy opstanding nie, maar wat doen Hy? (45) Hy doen ‘n innerlike wonderwerk, Hy open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. Jesus verduidelik die betekenis van sy koms en die dissipels se opdrag aan die hand van die Bybel. Let op – “So staan daar geskrywe...” Niemand kan meer twyfel aan die waarde, gesag en belangrikheid wat Jesus self aan die geskrewe Woord toeken nie! 

As jy respek het vir Jesus sal jy respek hê vir die Bybel!

En veelseggend, Jesus gaan dan verder en herinner hulle aan die belofte oor die koms van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat hulle sou ontvang as hulle in Jerusalem sou gaan wag. Hier vind in dus reeds baie duidelik die kombinasie : WOORD en GEES! Woord en Gees gaan altyd saam en is onlosmaaklik aan mekaar verbind! Ons sien dit baie duidelik in ‘n gedeelte soos 2 Petrus 1:20-21.

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Petrus het reeds in vers 19 gesê dat die boodskap van die profete soos ‘n lamp is wat in ‘n donker plek skyn. Dis duidelik hy verwys na die Skrif. Maar dis ook duidelik dat ons die Skrif nie deur eie insig kan uitlê of verklaar nie, maar net met behulp van die Heilige Gees, want die Heilige Gees was direk betrokke by die skryf van die Woord. Jesus open nog vandag steeds mense se verstand om die Skrif te verstaan! Dis seker een van die duidelikste kenmerke van die wedergeboorte. Die Bybel wat altyd vir jou dof en deurmekaar was begin skielik sin maak en lewend word! Jesus doen dit deur die Heilige Gees! Weereens , WOORD en GEES! 

Implikasies :

1.Die Woord is die enigste vaste norm- nie tradisie nie, nie ons “gut feeling” nie, nie openbare mening nie, nie politieke korrektheid nie, nie een of ander opwindende ervaring of visioen nie. En beslis ook nie een of ander uitspraak van ‘n hedendaagse geldmaakprofeet of postmodernistiese verwarringsteoloog nie! As ons praktiese vrae wil beantwoord hê en eerlik God se wil wil doen moet ons na die Woord toe gaan. Praktiese vrae oor kerk toe gaan, hoe moet ‘n huwelik en gesin lyk, hoe moet ek geld hanteer, wat moet ek maak in omstandighede waar ek benadeel en sleg behandel word, hoe word ek gered...? Dis dwaas om te sê, “dit of dat voel vir my reg of nie”, die Woord sê duidelik wat ek moet doen!

2. Ons moet vashou aan beide die belangrikheid van die Woord en die Gees. Mens hoor : “Ons het nie meer die Bybel nodig nie, ons is nou verby daardie fase, die Gees praat sommer nou direk met ons.” Dit geliefdes is ‘n baie gevaarlike mite!* Ja, die Gees praat met God se kinders, maar Hy gebruik die Woord as instrument. Daarom noem Paulus die Woord, “die swaard van die Gees.” (Ef 6:17) Aan die anderkant is daar mense wat net ‘n blote kopkennis van die Woord het, dit help ook niks nie. Ons bly gedurig afhanklik van die Gees. As die Gees nie in ons werk nie, sal ons die waarskuwings van die Woord nie regtig ter harte neem nie, sal die Woord nie regtig vir troos bring nie. As die Gees nie ons harte sag maak nie, bly ons onaangeraak deur die beloftes en vermanings van die Woord, dan by ons sonder bekering, sonder geloof, sonder liefde, sonder hoop! 

3. Die Woord moet gehoor, uitgelê en verstaan word as ons wil groei en vrug dra. Ons het gesien hoe Jesus self sy dissipels terugverwys na die Skrif. Hy het seker mos darem geweet wat hulle (en ons) nodig het! Geen vrug sonder verstaan van die Woord nie! ‘n Toe Bybel en ‘n onverstaanbare Bybel is nutteloos! Jesus beklemtoon dit self in die gelykenis van die Saaier. “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig." (Matteus 13:23) Vir vrugdra moet ons dus erns maak met praktiese geleenthede soos huisgodsdiens, Bybelstudie, katkisasie, prediking...

Daar is geen kortpaaie na volwasse vrugbare kindskap nie! Ons het die Woord, die Gees is hier by ons, kom ons maak erns met Woord en Gees!

*Die gevaar om Woord en Gees van mekaar los te maak is sterk deur die Reformatore beklemtoon in hulle stryd beide teen die Roomse en Anabaptiste. Op klassieke manier word die noue verbintenis tussen Woord en Gees deur Calvyn verdedig in sy beroemde brief aan die Roomse biskop Sadoletus wat die mense van Genève probeer teruglok het onder die Roomse juk in. Hierin sê Calvyn onder andere dat Christus die kerk inderdaad regeer deur die Heilige Gees, maar sodat hierdie regering nie vaag en onstabiel sou wees het Hy dit verbind aan die Woord. Vir hierdie rede het die Gees by monde van Paulus verklaar dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete. (Ef 2:20) Calvyn beskuldig beide Anabaptiste en Roomse dat hulle terwyl hulle uitermate roem oor die Gees, hulle die geneigdheid het om die Woord te begrawe en so ruimte te maak vir hulle eie valshede.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.