BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 26 Februarie 2016

LOSPRYS VIR ‘N SLAWEBRUID

- die aangrypende boodskap van die “mooiste” liefdesverhaal ooit!


Die evangelie is eintlik ‘n aangrypende liefdesverhaal. Ons sien dit ook hier in die beeld wat Paulus in 2 Kor. 11:2-4 gebruik. 

"Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.

Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang.

Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ‘n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ‘n ander gees en ‘n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het."

Kom ons vertel dit in storievorm... ‘n Ryk en dapper Prins onderneem ‘n wêreldtoer... Op ‘n dag loop Hy by ’n slawemark verby in ’n verre land. Wat Hy sien bring sy hart in beroering. Hy sien ’n pragtige slawemeisie, vasgeketting, vuil en verwese. Dadelik steel sy die Prins se hart. Sy verkeer in ‘n uiterste toestand van ellende en verwaarlosing, maar die Prins kyk verby haar vuil vodde en vernedering, verby die letsels van lyding en smart. Hy sien haar potensiaal as toekomstige bruid in sy Koninkryk. Op daardie oomblik is sy nog ’n gevangene in die mag van ’n uiters gewetenlose en wrede baas. Die Prins is egter vasbeslote om haar vryheid te bewerk en Hy betaal ’n ontsaglike groot prys vir haar. Sy word losgekoop. Sy kry haar vryheid terug, maar dis nie al nie! Hy vra haar onmiddellik om sy bruid te word! En? Sy sê "Ja!" Dan vra Hy haar om geduldig eers vir Hom te wag sodat Hy die paleis in Sy Koninkryk in gereedheid kan bring vir die grootste Bruilof ooit! Vir ’n feestelikheid wat die wêreld nog nooit gesien het nie! Hulle groet en die meisie beloof om geduldig te wag totdat Hy haar kom haal. Sy onderneem plegtig om aan Hom getrou te bly en haarself gereed te maak vir die groot dag...

VERLEIERS

Maar weet jy wat? Die Prins is skaars weg, toe kom die eerste vreemde vryer en verleier al aan die meisie se deur klop... Wat sal nou gebeur, sal sy getrou kan bly...? Gaan hulle dit regkry om haar te verlei? Gaan sy vergeet van die Prins se opofferende liefde? Gaan sy ontrou word? Gaan sy haar heerlike toekoms net so weggooi...?

Natuurlik verstaan jy die verhaal seker baie goed: Die Prins is Jesus Christus wat ons oneindig liefhet! Die wrede slawemeester is natuurlik Satan. Hy bind ons vas met kettings van sonde. Ons lewens is verniel en geskend. Ons (die slawemeisie) is egter vrygekoop op Golgota met Jesus se kosbare bloed, die hoogste prys moontlik; sy eie lewe! Dis die kernevangelie! “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

Toe jy jou bekeer het en vir Jesus deur die geloof “Ja” gesê het, het jy ingestem om sy bruid te wees. So het die Korintiërs ook deel van die bruid geword. Paulus het deur sy prediking die gemeente van Korinte voorgestel aan die Verlosser Prins Jesus Christus. Hulle het reageer in geloof en so die aanstaande bruid van Jesus geword. Sy Verloofde. Maar nou was daar die gevaar dat hulle mislei sal word deur ʼn “ander Jesus” en ʼn “ander evangelie.” Anders gestel : daar was die gevaar dat daar vreemde vryers sou kom en hulle sou afrokkel van die een ware bruidegom Jesus Christus. Dis ‘n voortdurende gevaar wat almal wat aan Jesus behoort bedreig : dat ons sal val vir ‘n ander Jesus en ‘n ander evangelie. 

Oor hierdie bedreiging skryf Paulus ook aan die Galasiërs :

“Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem.
Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.
Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!”  (Galasiërs 1:6-8)

Wie of wat is hierdie “ander Jesus” waarteen Paulus ons waarsku? (Let wel, dis ‘n valse Jesus, so hierdie ander Jesus gebruik steeds die naam Jesus en dis hoekom ons so wakker en waaksaam moet wees dat ons nie mislei word nie!) Hierdie tipe misleiding is immers net so subtiel en gevaarlik soos die gladbekkige misleiding van Eva deur die geslepe slang in die paradys!

Die enigste manier hoe om die ander valse Jesus uit te ken en te vermy is om die ware Jesus baie goed te ken. Die beste manier om vals geld te leer uitken is om die kenmerke van die egte geld baie deeglik onder die knie te kry.

WIE IS DIE WARE JESUS?

Die ware Jesus is die Een wat gekom het om ons van ons sondes te verlos! Dis reeds duidelik van voor Jesus se geboorte af! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matt 1:21) Hy bring vergifnis en bevryding van sonde! Die valse Jesus beloof ander dinge soos geld, gerief, genot en gewildheid, maar hy laat jou rustig voortgaan met sonde! Die valse Jesus minimaliseer sonde en soek verskonings vir sonde. “relax maar net en wees happy!” Jy kan die aanhangers van die valse Jesus maklik uitken... “Ag, wat dis nie so erg om in dronkenskap, onsedelikheid, gierigheid... te leef nie, die Here sal maar verstaan ons is net mense!” Die ware Jesus se volgelinge jaag na heiligheid en dankbaarheid, want hulle besef hulle verlossing het 'n groot prys gekos!

Die ware Jesus se kruisoffer was genoegsaam en finaal. Toe Hy aan die kruis gehang het Hy uitgeroep : “Dis volbring” (Joh 19:30) Die valse Jesus voeg ekstra dinge by as voorwaarde vir redding. Jy moet die Joodse Saterdag sabbat hou, jy moet in tale praat, jy moet Hebreeuse name gebruik,  jy moet net aan hierdie kerkgroep behoort... Die valse Jesus se volgelinge is altyd aan die rondskarrel agter nuwighede, hoorsêstories en godsdienstige foefies aan. Die ware Jesus se volgelinge vind gemoedsrus en vergenoegdheid in sy volledige en volmaakte werk!

Die ware Jesus het vir sy volgelinge gesê julle sal verdrukking hê in hierdie lewe, maar hou moed ek het die wêreld oorwin. (Joh 16:33) Hy beloof nooit dat ons dit nou maklik sal hê nie, maar Hy beloof vir ons die ewige heerlikheid. Hy beloof vir ons ‘n hemelse erfenis. Sy volgelinge is pelgrims wat uitsien na ‘n beter vaderland. Die valse Jesus sê : “Die beste lewe is hier en nou!” Sy volgelinge is ingestel op die bymekaarmaak van skatte, maar verklaar ewe vroom hoe die “Here ons seën!”

PASOP

Die hoofboodskap van Paulus is duidelik. “Moenie na almal luister wat met mooi stories na julle kom nie. Sulke mense is glad met die tong maar hulle bly nie meer by die ware Jesus en die ware evangelie nie! En onthou die ware evangelie is die evangelie wat ek aan julle verkondig het.” Nou waar vind ons dan die suiwer evangelie wat Paulus en die ander apostels verkondig het? In die Bybel! Dit bring ons weer terug by die belangrikheid van die Woord, om dit te ken en binne konteks te verstaan. Ons noem die Woord ‘n genademiddel. Dit dra genade oor aan ons, dit versterk en verhelder die genade. 

LIEFDESMAALTYD

God het ons ook ander genademiddele gegee soos die doop en die nagmaal. Dis nie goedvoelrituele nie, maar dit onderstreep weer die basiese evangelie waarhede. Anders gesê dit herinner ons weer aan wie die ware Jesus is! Dit fokus ons hart en gedagtes en hoop op die kern verlossingswerk van Jesus, sy genoegsame en afgehandelde werk wat ons volkome verlos van God se wraak en ons bevry om as nuwe mense te leef. Die nagmaal is ‘n liefdesmaaltyd wat ons elkeen opnuut aanspoor om getrou aan die ware Jesus, ons aanstaande bruidegom te bly en alle valse Jesusse en valse evangelies te verwerp. Ons word weer opnuut bewus van die groot losprys wat vir ons betaal is tydens hierdie liefdesmaal. Die ware Jesus is die een wat sy lewe vir jou gegee het, wat jou straf aan die kruis gedra het in jou plek en jou nou uitdaag om Hom met gehoorsaamheid en dankbaarheid en blydskap te volg ! 

Is jy getrou aan Hom?


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.