BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 05 Februarie 2016

DIE GROOT HONGER VAN DIE MENSEHART

- ‘n verlange na die genadeglorie van God!


“Laat my tog u heerlikheid sien.” Hierdie teks is geskrywe in die voorportaal van ons kerkgebou hier op Tsumeb. Dis nie toevallig daar nie, dis eintlik ‘n samevatting van die rede hoekom ons hier is! Kom ons kyk bietjie...

Moses rig ‘n passievolle versoek tot God in Eksodus 33:18. (OAV) “Laat my tog u heerlikheid sien.” Wat ‘n gewigtige smeekroep! Voordat ons kyk na hoe God hom geantwoord het moet ons eers na die konteks en agtergrond vra van Moses se woorde. In Eksodus 32 lees ons van die volk Israel se sondige opstand teen God, toe hulle die goue kalf aanbid het. Dit het die toorn van God laat ontvlam soos ons lees in 32:9,10. “Verder het die Here vir Moses gesê: "Ek het gesien dat dit ‘n opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ‘n groot nasie maak." 

Moses pleit egter om genade by God en God vernietig nie die volk nie, al straf Hy hulle baie swaar. God gaan dan voort met sy plan om die volk na die beloofde land te lei, maar Hy sal dit deur ‘n engel doen. “Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde." (32:34) God wil nie meer saam met hulle trek nie, want Hy weet Hy sal hulle vernietig omdat hulle so moedswillig en hardkoppig is. “Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen." (33:3) Moses pleit egter by die Here om self saam te gaan. “Toe het Moses vir Hom gesê: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie." (33:15) En God staan die versoek toe! “Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam." (33:17)

Dis teen hierdie agtergrond wat Moses vra om die heerlikheid van God te sien. (vers 18) Dis asof Hy die versekering en gerustelling wou verkry in die openbaring van God se heerlike karakter dat God vir Hom en die volk genadig sal wees! Dis asof hy vra, “Here wys my tog regtig wie U is sodat ek daarop kan vertrou dat U ons genadig sal wees en nie sal vernietig nie, al verdien ons om vernietig te word!” Toe antwoord die Here hom...

“Maar die Here sê: "Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.
Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie."
Die Here het verder gesê: "Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan.
As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.
Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie."
(Eksodus 33: 19-21)

Twee sake kom duidelik na vore:

God se heerlikheid gaan oor genade. God se heerlikheid is 'n genadige heerlikheid! God koppel sy Naam aan genade! Vers 19! In die volgende hoofstuk word dit bevestig. “Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep.
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
Moses het toe vinnig gebuig in eerbied
en gesê: "As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom."
(Eksodus 34:5-9)

God se genade beteken dat Hy vergifnis skenk aan skuldige mense en hulle 'n erfdeel gee. Aan mense wat dit nie verdien nie, soos hierdie hardkoppige volk. Dis werklike genade, Hy gee dit soos Hy besluit, dis op geen menslike verdienste of prestasie gegrond nie! Maar moenie kanse met God probeer vat nie, vergifnis is nie ‘n ligtelike saak nie. Moenie sy genade as swakheid opvat nie! Moenie dwaas wees soos sommige en dink dis "ons voorreg om te sondig en God se plig om te vergewe" nie!

God se genade is nie vanselfsprekend nie, dis 'n voorreg wat met diep ontsag en eerbiedige dankbaarheid ontvang moet word!

God het sy heerlikheid net ten dele aan Moses geopenbaar. Moses sien God net van agter af. God voldoen aan Moses se versoek, maar op beperkte skaal.

ONS SIEN 'N GROTER HEERLIKHEID AS MOSES!

Die goeie nuus vir onder die bedeling van die Nuwe Verbond is dat God nou deur Jesus sy heerlikheid aan ons ten volle bekend gemaak het. Om dit te verstaan moet ons blaai na Johannes 1:14-18. 

 “14. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15. Johannes getuig van Hom en roep uit: "Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar." 16.Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18.Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak."


Sien jy die raakpunte met die Eksodusgebeure is uiters opvallend? Dit lees trouens soos ‘n opvolg kommentaar oor die gedeelte wat ons in Eksodus gelees het! Dit gaan oor Jesus, die Woord, wat mens geword het. God maak Homself nou sigbaar vir mense! Ons het die voorreg om sy heerlikheid te sien. 

Jesus self is die finale volle antwoord op Moses se versoek! 

Hoe lyk hierdie heerlikheid wat Hy vertoon? Wat is die aard van God se heerlikheid? Vol genade en waarheid! (14) Dis twee wye begrippe wat handel oor God se barmhartigheid, guns, verbondsliefde, getrouheid, waaragtigheid. Dis ‘n duidelike terugverwysing na die gebeure in Eksodus 33-34* Spesifiek na 34:6 waar hierdie twee elemente beklemtoon word. Die punt is, die heerlikheid van God wat aan Moses geopenbaar is, word nou ten volle in Jesus sigbaar vir elkeen wat waarlik glo... En deur Jesus word ons lewens persoonlik aangeraak deur God se heerlikheid, want ons ONTVANG genade op genade! (16) Dis nie maar net iets waarvan ons teoreties moet kennis neem nie, die sondaar smaak hierdie genade as ons vergifnis en vryspraak in Jesus verkry! Meer nog, God is nie suinig met hierdie genade nie, dit kom uit sy oorvloed! Die res van die Johannes evangelie gee vir ons praktiese voorbeelde van hierdie oorvloed...die Samaritaanse vrou, die vermeerdering van die boord, die blinde man, die gelykenis van die Goeie Herder (Johannes 10:10 "lewe in oorvloed"), Petrus se herstel na sy groot val... God se openbaring aan Moses wat die wet ingesluit het was net ‘n tydelike voorlopige fase. Die volle openbaring van God se heerlikheid en genadige karakter beleef ons nou in Jesus. Daarom word ook die kontras tussen Jesus en Moses hier deur Johannes uitgelig. (17) Die genade van Jesus is die genade van die Nuwe Verbond!

Moses se verlangende begeerte en dringende behoefte is eintlik elke mens se begeerte. Dit verwoord die diepste nood en versugting van elke mens. Die groot honger en hunkering van elke hart. Ons is geskape met hierdie behoefte na God se heerlikheid. Ons wil vervulling en gerusstelling vind in God se heerlikheid en karakter! Ons smag na iets groter as net ‘n bestaan van eet en drink, grootword, trou, kinders kry... Ons is trouens geskape om God se heerlikheid te bewonder, gemaak om ons te verlustig en te verbly in die asemrowende en ontsagwekkende majesteit van God. Dis die hunkering van elke mens, al is alle mense nie noodwendig daarvan bewus nie. Wanneer die Heilige Gees in die mens werk, dan eers besef ons ons nood, ons sonde en die leegheid van ‘n lewe sonder God. Ons besef al die plaasvervangers van geld en plesier kan my nie bevredig nie, maar neem my net verder weg van God. En dan kom hierdie versugting op in ons harte: “Here, laat my tog U heerlikheid sien! ‘n Heerlikheid wat my nie sal vernietig nie, maar sal vergewe en herstel.”

En nou antwoord God ons deur Jesus. So lyk my heerlikheid, vol troue waaragtige genade! Niemand het God ooit gesien nie, selfs nie Moses nie. Maar nou kan ek en jy wat Jesus aangeneem het God se heerlikheid “sien”, want God se eie Seun Jesus Christus het Hom aan ons bekend gemaak, verklaar!

Het jy ‘n honger en dors na God se heerlikheid? Voel jy ‘n behoefte aan genade? Kom kry dit in Jesus! Hy nooi jou uit! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37) Dis natuurlik nie net ’n eenmalige ervaring nie. Nee, elke dag saam met Jesus word ons iets meer bewus van God se heerlikheid. En tot in ewigheid sal ons ons in hierdie heerlikheid verbly en Hom daarvoor bewonder! AMEN

*So sien Carson dit in sy "The Gospel According to John"


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.