BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 17 Januarie 2016

HIER BO IN DIE NOORDE...

het die Ring van die Noorde van die NGKN vergader.



Die feit dat die AS van die NGK se besluite oor selfdegeslagverhoudings (wat o.a. voorsiening maak vir die bevestiging van praktiserende homoseksuele predikante op die kansel) na verskeie appèlle effektief vir twee jaar uitgestel is, het nog nie die bedreiging van hierdie dwaling afgeweer nie. Sekere teoloë beywer hulle nog steeds baie sterk vir die invoer van hierdie afwykende beskouings.


Daarom is dit verblydend en 'n groot bemoediging vir evangeliese Christene dat die Ring van die Noorde van die NG Kerk in Namibië hierdie AS besluit verwerp het op haar vergadering van 16 Januarie 2016 te Otjiwarongo. Twee gemeentes te wete Tsumeb en Otjiwarongo het die buitengewone sitting aangevra. 

Die Ring van die Noorde het ook 'n beskrywingspunt opgestel ter voorlegging aan die komende sitting van die NG Kerk in Namibië se sinodesitting in Maart.

Die besluite van die Ring van die Noorde is soos volg:

1. Die Ring van die Noorde verwerp die besluite van die Algemene Sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudings en handhaaf die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfde-geslag-verhoudings.

2. Die Ring van die Noorde stuur die volgende beskrywingspunt na die eersvolgende sinode van Namibië (18 tot 21 Maart 2016):

Beskrywingspunt na Namibiese sinode 2016

In die lig van die ontsteltenis en besware van talle gemeentes in Namibië oor die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudings besluit die sinode van die NG Kerk in Namibië om:

2.1. Die besluite van die AS 2015 oor selfdegeslagverhoudings te verwerp en die besluite van die AS van 2013 en vroeër rakende selfdegeslagverhoudings te handhaaf.

2.2 ‘n beroep te doen op die volgende Algemene Sinode om die besluite oor selfdegeslagverhoudings 2015 te herroep in die lig van die getuienis van die Skrif en die belydenisskrifte.

2.3. sy teenkanting uit te spreek oor die wyse van Bybelgebruik op die AS 2015 wat aanleiding gegee het tot die besluite oor selfdegeslagverhoudings deur die Algemene Sinode van 2015 en te vra vir ’n herbesinning oor ons kerk se maniere van omgaan met die Bybel.

2.4. in die lig van bogenoemde ‘n kommissie aan te wys om dringend oor alternatiewe teologiese opleiding op eie bodem te besin.

2.5. ons kerkverbandelike verhoudings te heroorweeg.

2.6. aan te beveel by die AS om besluite oor selfdegeslagverhoudings te verwys na al die kerkrade in elke sinodale streek vir hantering en goedkeuring of nie nadat die appélle afgehandel is.

Kommentaar (myne) : Die enigste manier hoe die NGKN binne die huidige opset nog getrou aan Christus en sy Woord kan wees, is as die Algemene Sinode tot bekering kom en hulle besluit van 2015 oor selfdegeslagverhoudings herroep. Indien dit nie gebeur nie, is ons enigste alternatief om ons hier in Namibië los te maak van die Algemene Sinode van die NGK (uit die verband te tree) en net so belangrik is dat ons alternatiewe Bybelgetroue opleiding aan voornemende predikante sal bied. (byvoorbeeld deur by NETS in te skakel)




3 opmerkings:

  1. Ek het groot waardering vir die sterk, Skrifgebonde standpunte wat hier gestel word. Baie dankie vir die voorbeeld wat julle stel. Mag dit soos 'n tsoenami hier na die suide oorspoel!

    AntwoordVee uit
  2. Sterkte. Baie dankie vir julle moed en voorbeeld. Mag baie in die voetspore volg

    AntwoordVee uit
  3. Ek is seker daarvan dat daar 'n koor van protes sal opgaan vanuit die "voetvolk" van die NG Kerk. Selfs hier in 'n baie liberale Australië, is selfdegeslagverhoudings van bedienaars van die Woord nie eers op die agenda van enige kerk nie! Hokaai, NG Kerk!

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.