BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 14 November 2015

Liberté, égalité, fraternité...

- word uitmekaargeruk deur ontploffings en geweerskote toe SATAN GESOEN WORD.



Weereens is Frankryk (en die wêreld) in ‘n toestand van skok en verdwasing! Die wonde van die Charlie Hebo aanvalle vroeër vanjaar het nog skaars genees toe word die hart van Frankryk oopgeruk deur ‘n skaal van geweld wat ongekend in die land is sedert die Tweede Wêreldoorlog.



‘n Paar gedagtes kom sommer vinnig by my op:

Wanneer gaan die wêreld leer dat die utopie waarna almal smag en verwoord word in die strydkreet van die Franse rewolusie naamlik, liberté, égalité, fraternité… ‘n altyd ontwykende ideaal sal bly vir hierdie sondige bestel? Ware vryheid is slegs te vind in Jesus, gelykwaardigheid (daar bestaan nie iets soos gelykheid nie) is slegs te vind in die nuwe gemeenskap van gelowiges wat Jesus skep en egte broederskap kan nooit bestaan sonder ons ouer broer Jesus nie. Die volheid van hierdie nuwe lewe is iets waarna ons smag en streef, maar sal eers volkome word met die finale verlossing by die wederkoms.

Daar is ook ‘n stuk wrange ironie wat mens kwalik kan miskyk. ("afgryslik" is dalk 'n meer gepaste woord) Die groot slagting het plaasgevind tydens ‘n optrede van die alternatiewe Amerikaanse groep, "Eagles of Death Metal”. Volgens die pers* het die skietery begin kort nadat die groep begin het met een van hulle gewilde nommertjies, "Kiss the Devil." Het ons hier te maak met ‘n misvoltreffer in die geestelike realm? Kry die mens wat hy regtig soek?

Europa het ‘n (partykeer letterlik) sterwende kontinent sonder ware leierskap en norme geword. Dis duidelik dat vryheid en dit ‘n vryheid sonder die norme en grense van die Woord, te ver gevoer is. Europa het nie meer die ruggraat om op te staan vir Christelike waardes nie. Hierdie lam in die knieë kultuur het geen teenvoeter of boodskap van hoop vir die groeiende Moslem bevolking in sy midde en die honderde duisende wat daarheen op pad is nie. Dis ‘n kontinent waarin die evangelie bykans uitgesterf het. Wat is die statistiese kans dat ‘n Moslem immigrant met ‘n wedergeborene se getuienis te doen gaan kry en so hoop en bevryding in Jesus kan vind?

Die veragtelike daad van Islamitiese terroriste moet in die sterkste moontlike taal veroordeel word en met die sterkste moontlike optrede beveg word. En tog mag dit ons nie daarvan weerhou om God se hand agter alles raak te sien nie! God het immers nie geskroom om sy volk Israel deur die geweld van heidennasies te straf nie, daar is ook niks wat Hom keer om sy oordele oor 'n goddelose humanistiese Frankryk (en westerse beskawing) uit giet en Moslem radikale as instrumente te gebruik nie.

Die armoede van president Francois Hollande se boodskap kort na die krisis bevestig maar net weer die leegheid van sekulêre humanisme. Die land van ons Hugenote voorouers se jare lange geestelike bankrotskap het ‘n vreeslike tol geëis, wat baie meer en skrikwekkender is as die hartseer verlies van menselewens waarmee ons nou gekonfronteer word. Die hutsmerk #PrayForParis wat nou so gewild op Twitter is, laat mens wonder waarvoor nou juis gebid moet word? Miskien moet ons bid dat God in sy genade die oë sal open van ‘n volk wat lankal nie meer bid nie, omdat hulle die Middelaar deur wie ons moet bid glad nie ken en eer nie!

Ja, en tog ons kan bid en almal wat daar die evangelie verkondig ondersteun. Niks is immers vir God onmoontlik nie! Ook nie om Franse en Moslems te red nie! (Kliek FRANSE HERLEWING)

[Kort hierna het baie gesterf... terwyl hulle die satan eer... die duiwel is 'n mensemoordenaar volgens Jesus]

*Onder andere die Franse koerant, Le Figaro : "Au Bataclan, la fusillade éclate au son de Kiss the Devil"

3 opmerkings:

  1. Wat ons as Christene behoort te doen:
    http://www.christianitytoday.com/edstetzer/2015/november/we-are-all-parisians.html?paging=off

    AntwoordVee uit
  2. “En tog mag dit ons nie daarvan weerhou om God se hand agter alles raak te sien nie!”
    “God kan ook wrede radikale Islamitiese terroriste gebruik om 'n uittartende en goddelose Weste te straf wat Hom bespot en uitdaag.” (Woensdag, 07 Januarie 2015 CHARLIE HEBDO AANVAL)
    As die slagoffers ongelowiges was, was die aanval net die pretdeel van God se straf. Die ergste begin mos nou eers. Hulle gaan hel toe om te brand, vir altyd en altyd te brand. Snaakse liefde.
    Ek hoop nie jy glo regtig God het die mense doodgemaak (laat doodmaak) nie. Dit sou die daad lofwaardig maak. God doen of reël mos nie “veragtelike” goed nie, of hoe?
    Dit was terroriste. Jy hoef nie te glo nie, jy kan weet.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dade van terroriste is beslis altyd veragtelik en verkeerd.

      Kan God mense laat doodmaak, vra jy? Wel dink aan die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gemorra, die verwoesting van Jerusalem deur 'n goddelose wrede (vragtelike) Babiloniese mag... dan sê jy my.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.