BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 22 September 2015

PIENK STELLENBOSCH?


Volgens die aanvullende Agenda van die NG Kerk se Algemene Sinode wat in Oktober sit, gaan die volgende beskrywingspunt voor die sinode dien:

[B.15 SELIBAATVOORWAARDE (BESLUIT 7 VAN 2007) EN MENSWAARDIGHEID VAN HOMOSEKSUELE AFGESTUDEERDES (KURATORIUM STELLENBOSCH) (Soos eenparig ondersteun deur die NG Kerk-dosenteraad) 

BESKRYWINGSPUNT 1. INLEIDING Ons het kennis geneem van die besluite wat in die afgelope jare deur die NG Kerk se Algemene Sinode geneem is (2007, 2013) insake die kwessie van die status van homoseksuele lidmate binne die NG Kerk, asook oor verbintenisse tussen homoseksuele lidmate. Ons is dankbaar dat die NG Kerk volledig ruimte gemaak het vir homoseksuele lidmate in terme van lidmaatskap en met betrekking tot die ampte (Besluit 3 van 2007), en dat die status van homoseksuele lidmate – soos dié van heteroseksuele lidmate – binne die raamwerk van ʼn Bybelse siening oor menswaardigheid gedefinieer word (Besluit 2 van 2007; Besluit 3.4 van 2013). Sommige van ons lede (vanuit die Kuratorium, maar ook vanuit die geledere van die NG Dosenteraad) het deur middel van mondelinge en skriftelike insette (onder andere deur Bybelwetenskaplike publikasies waarin die Bybeltekste wat normaalweg in die gesprek genoem word, ondersoek en uitgelê is) deelgeneem aan die prosesse en ondersoeke wat tot hierdie besluite gelei het. Ons voel onsself egter geroepe om deur hierdie beskrywingspunt standpunt in te neem teen teenstrydighede in die vorige besluite wat die diepste menswees van die studente wat ons oplei en toelaat, raak, en wat getuig van inkonsekwente hermeneutiese omgang met die Bybel. Ons doen dit vanuit die perspektief dat die Kuratorium (soos ook die NG Kerk-dosenteraad) ten nouste betrokke is by teologiese opleiding van voorgenome NG Kerk-predikante, en dat ons intens bewus is van die spannings wat tans heers in die uitvoering van die vorige besluite (deurdat gay persone in vaste verhoudings gelegitimeer kan word, maar nie georden kan word in ʼn gemeente nie). Ons stel dus die beskrywingspunt aan die Sinode, veral omdat ons direk met teologiese opleiding en begeleiding, en die lewering van afgestudeerde predikante aan die NG Kerk te make het. Trouens, ons doen hierdie werk juis omdat die NG Kerk aan ons hierdie opdrag gegee het. Ons glo dus dat die Algemene Sinode van die NG Kerk ons voorstelle by die eersvolgende vergadering biddend sal oorweeg. Ons is oortuig dat die NG Kerk sommige aspekte van die vorige besluite moet heroorweeg – nie slegs weens praktiese oorwegings soos toelating tot die bediening en ordening van afgestudeerdes in gemeentes nie – maar veral op grond van die feit dat die menswaardigheid van homoseksuele afgestudeerdes deur die stel van die selibaatvoorwaarde (Besluit 7 van 2007) in gedrang kom, en dat die geldende besluite nie Bybels-hermeneuties verantwoordbaar is nie. Ons vertrou dat die Algemene Sinode binne die Seisoen vir Menswaardigheid en in ʼn soeke na ʼn verantwoordelike Bybelse hermeneutiek ons voorstelle gunstig sal aanhoor en biddend sal oorweeg.

 2. AANBEVELINGS 2.1 Dat die addisionele voorwaarde van die selibaat (addisioneel tot die voorwaardes wat aan heteroseksuele afgestudeerdes gestel word) as kwalifikasie vir ordening en bediening in ʼn 99 gemeentelike konteks, geskrap sal word en dat Besluit 7 van 2007 daarom gewysig word om soos volg te lees: “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode.” 2.2 Dat Besluit 4 van 2007 vervang word met die volgende bewoording: “Die NG Kerk gee amptelike erkenning aan die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ʼn durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig, en dat hierdie verbintenisse met die seën van die NG Kerk kan geskied.” 

3. MOTIVERINGS (verwysend na bg voorstelle) 3.1 Op grond van ʼn Bybelse siening van menswaardigheid vind ons dit onvanpas dat homoseksuele afgestudeerdes in teologie wat gelegitimeer word ʼn onderneming van die selibaat moet gee alvorens hulle tot gemeentebediening toegelaat kan word. Nie net skep dit ʼn onhoudbare praktiese spanning wanneer homoseksuele persone sonder verdere voorwaardes gelegitimeer kan word, maar dan nie georden kan word sonder die selibaatverbintenis nie, maar hierdie praktyk misken ook die menswaardigheid van homoseksuele persone deurdat dit addisionele voorwaardes aan hulle stel as aan heteroseksuele afgestudeerdes. Dit misken dus ook hul Godgegewe seksualiteit (soos erken in vorige besluite van die NG Kerk). Die stel van die selibaatsvoorwaarde berus voorts op twyfelagtige Bybelse hermeneutiek waar Bybelse gronde die legitimasie van gays in verhoudings toelaat, maar nie ordening in gemeentes nie. Binne die Gereformeerde Protestantse tradisie (anders as in die Rooms-Katolieke tradisie) is die Bybelse aanduidings rondom die selibaat (vir ampsdraers) oor eeue reeds kultureel geïnterpreteer, en word die selibaat nie aan bedienaars voorgeskryf nie. Dit val dus vreemd op dat dieselfde hermeneutiek nie ook gebruik word wanneer dit oor homoseksuele bedienaars handel nie. 3.2 Terwyl erkenning gegee word aan die seksuele oriëntasie van homoseksuele lidmate en die standpunt gehuldig word dat sulke lidmate nie van enige lidmaatskapvoorregte en van die ampte uitgesluit kan word nie, gee die NG Kerk deur die geldende besluit tans nie erkenning aan die feit dat gelowige homoseksuele lidmate – soos gelowige heteroseksuele lidmate – behoefte mag hê om ʼn belofte van liefde en trou voor die Here te maak en hul verbintenis met die seën van die Here te laat bevestig nie. Dit staan dus in spanning met die erkenning van homoseksuele lidmate se seksuele oriëntasie en menswaardigheid. Ten diepste spruit die stel van die selibaatvoorwaarde vir homoseksuele bedienaars uit die NG Kerk se huidige verstaan van die huwelik as ʼn verbintenis tussen een man en een vrou. Daar word onses insiens nie erkenning gegee aan die volgende feite nie: dat (i) die Bybel verskillende kultureel-bepaalde huweliksmodelle weerspieël (vgl bv die verskillende modelle wat in die OT en NT voorkom – verskille wat herlei kan word na die onderskeidelike sosio-kulturele agtergronde waarin hierdie geskrifte ontstaan het); en dat (ii) die Bybelse voorstellings oor die huwelik bepaal is deur ʼn heteronormatiewe samelewing (wat nie daarom homoseksuele verbintenisse per implikasie uitsluit nie).]

Die implikasies van so 'n besluit indien die aanbevelings aanvaar word, sou skrikwekkend wees!

Dit sou beteken dat:
  • Praktiserende homoseksueles predikante in die NG Kerk mag word.
  • Die wese en uniekheid van die huwelik aangetas word as homoseksuele burgerlike verbintenisse kerklik geseën word.

'n Mens kan maar net bid en vertrou dat die AS die aanbevelings van hierdie beskrywingspunt sal verwerp.
'n Mens kan maar net wonder wat die toekoms van ons dierbare kerk gaan wees as die dosente van Stellenbosch wat ons jong leraars moet vorm en lei, hierdie invloede aan hulle studente oordra?
'n Mens moet seker vra of sulke instellings wat blykbaar nie meer buig voor die waarheid van God se Woord nie, nog hoegenaamd op Bybelgetroue lidmate se ondersteuning kan aanspraak maak?

Ons mag nie stilbly oor wat besig is om in ons kerk te gebeur nie. Om stil te bly is gelykstaande aan stilswyende goedkeuring! Met my hele hart wil ek beklemtoon dat dit ons eerste passie en taak moet wees om aan alle mense die evangelie te verkondig en tog kom daar tye wanneer ons moet waarsku teen immoraliteit juis om getrou te bly aan die ware geloof wat eenmaal oorgelewer is! (Judas vers 3,4)


Gaan ons staande bly teen bogenoemde propaganda?

NS Die Aanvullende Agenda van die AS 2015 waarin bogenoemde Beskrywingspunt B15 voorkom kan geraadpleeg word by AANVULLENDE AGENDA (kliek)

14 opmerkings:

  1. Johannes. Ek is nie so seker of hierdie beskrywingspunt net so aanvaar gaan word nie. Natuurlik was mens so 'n aanbeveling te wagte. Die sagmaak proses rondom hierdie saak het met hierdie aanbeveling sy toppunt bereik. Nou is dit net 'n kwessie van tyd.

    Ek bid en vertrou dat die meerderheid afgevaardigdes die moed en durf sal hê om hierdie aanbeveling te verwerp. Juis in die lig van die waarheid van die Skrif wat bo alles en almal is. Tye verander, omstandighede ook, so ook sosio-kulturele agtergronde. Maar die waarheid van God se Woord bly egter tydloos.

    Die poging om homoseksuele verbintenisse te regverdig omrede die bybelse verbod hieroor as kultureel gebonde beskou moet word, gaan eenvoudig nie op nie. Die feit en rede vir die Bybelse verbod op homoseksuele gedrag spruit voort uit 'n kreasionele en nie 'n kulturele vertrekpunt nie. Die Bybelse definisie van die huwelik, is deur Jesus Christus self bevestig. Jesus erken die verhaal van die skepping van die mens in Genesis 1 en 2! (Mk 10:6-9; Gen 1:27; 2:24). Dit beteken dat die enigste huwelik of seksuele verbintenis wat die Skrif erken 'n heteroseksuele, monogame verbintenis is. Dis die enigste Godgegewe konteks vir die 'een vlees word' ondervinding.

    Moderne teoloë probeer natuurlik slimmer as Moses, Paulus en selfs Jesus Christus te wees. Ons weet vandag blykbaar veel meer as wat hulle geweet het. Die menslike hubris ken werklik geen perke nie! Maar met al ons sogenaamde geleerdheid en wetenskaplike kennis, staan ons verleë voor die morele krisis waarin die wêreld sedert die sondeval in verkeer.

    Dis immers die kerk van Christus se roeping om sout en lig vir die wêreld te wees. Dit beteken onder meer om die morele verval te keer en nie te bevorder nie.

    Groete in Hom.
    Coen

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek stem saam Coen, ek dink ook nie hierdie verregaande aanbeveling sal nou al aanvaar word nie. Die kommerwekkende is net dat diegene wat hierdie siening steun ons studente leer en so beweeg ons geleidelik na 'n punt wat heeltemal onskriftuurlik is...

      Vee uit
  2. Johannes

    'n Derde betekenis indien hierdie voorstel so aanvaar sou word, is dat die Bybel nie God se Woord is nie, maar 'n geskrif met “voorstellings" wat bepaal is deur 'n bepaalde “samelewing". Hierdie is vir my die kern waaroor hierdie hele saak eintlik gaan. Die Bybel is nie God se Woord nie, en daarom hoef ons ons nie daaraan te steur nie!!!

    Verder word in die voorstel verwys na gays se seksualiteit as 'n "Godgegewe seksualiteit". Dit is skreiende Godslastering om die minste daarvan te sê!! God word nou verantwoordelik gemaak vir die bandelose wellustige sondigheid van die mens!!!!

    Ek verklaar hierteenoor as leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo dat ek die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God aanvaar. Verantwoordelike wetenskaplike tekskritiek is toepaslik, maar hierdie voorstel wat nou voor die Algemene Sinode gaan dien, getuig van niks minder as Godsveragtende Skrifkritiek nie! Daarteen spreek ek my duidelik en ondubbelsinnig uit!!

    Ek distansiëer my verder van enige sogenaamde kerklike vergadering wat voorstelle van bogenoemde bewese Godslasterlike aard ter tafel neem. Hulle hoef nie eers enige besluit daaroor te neem nie; die blote feit dat die Algemene Sinode sulke Godslasterlikhede op sy tafel toelaat dwing my om eenkant te gaan staan in verwerping van sodanige vergadering en alles wat met hom saamhang.

    As leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verklaar ek hiermee dat ek verplig is ter wille van die eer van God om die Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo te adviseer om die posisie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo binne die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in baie ernstige heroorweging te neem.

    Mag God ons genadig wees!

    Hector Jooste (VDM)

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Hector vir jou duidelike standpunt. Mag ons waarlik wysheid ontvang hoe om in die huidige tyd op te tree tot eer van God en die welwese van sy kosbare kerk.

      Vee uit
  3. Ek dink Romeine 1:28 som die situasie baie mooi op.

    AntwoordVee uit
  4. Die vraag by die Algemene Sinode behoort net te wees: "A. Bly ons by die Bybel as ons HEILIGE godsdienstig-wetenskaplike handboek of B. besluit ons nou sommer soos ons wil?" As daar vir A. gestem word, is die beskrywingspunt 'af'. As daar vir
    B. gestem word; kan en mag die Algemene Sinode na hartelus Romeine 1:18 -
    32 gewoon ignoreer/doodkrap/wegredeneer en noem maar op! Dan is die jagseisoen voorwaar so oop soos nog nooit tevore nie en is "fliek" en "kerk toe gaan" net sommer goeters en nie meer belangrik nie! Jan Grey.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir jou standount Jan en seën vir julle daar in Australië! Inderdaad is die wortel van die saak, Skrifbeskouing!

      Vee uit
  5. Nou praat jy! Ja, watter kragtige getuienis sal dit wees as ons bekeerde homoseskuele met liefde kan begelei om deur die krag van die Gees 'n oorwinnende en vrugbare lewe in die gemeente as ware alternatiewe omgeegemeenskap te lei!

    AntwoordVee uit
  6. Nou praat jy! Ja, watter kragtige getuienis sal dit wees as ons bekeerde homoseskuele met liefde kan begelei om deur die krag van die Gees 'n oorwinnende en vrugbare lewe in die gemeente as ware alternatiewe omgeegemeenskap te lei!

    AntwoordVee uit
  7. Hennie baie dankie vir jou opmerkings. Dis uiters belangrik. Die evangelie van hoop moet in waarheid, met deernis en in liefde aan alle mense sonder onderskeid gebring word dat verlossing, vergifnis en die reinigende en vernuwende werk van die Heilige Gees in ons lewens nie net 'n moontlikheid is nie, maar 'n werklikheid (vgl. 1 Kor 6:9-11 - 'En so was party van julle juis ook'). Die woordjie 'was' in vers 11 kry 'n hoopvolle en bevrydende betekenis in sy konteks.
    Groete. Coen

    AntwoordVee uit
  8. Wat die Sinode ookal besluit - Die blote feit dat daar van Stellenbosch se Kuratorium 'n versoek gekom het om praktiserende homoseksueles tot die predikante amp toe te laat, het 'n bykans onherroeplike vertrouensbreuk in ons NG broederkap veroorsaak.
    As die mense wat moet toesig hou oor die leer en lewe van ons teologiese inrigtings, so min respek toon vir die Woord en die belydenis van die Kerk, ontstaan die vraag met watter ander vertolkings van die Skrif gaan hulle nog uit die kas kom. Watter leringe is daar nog in die boesem van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch waarvoor die Kuratorium hom blind hou?
    Die feit dat daar nêrens 'n stem opgaan van enige akademikus of leier in die NG Kerk oor hierdie verregaande sieninge, wat homoseksualisme wil normaliseer in die Kerk versterk die vertrouensbreuk in ons broederskap.
    Jan Louw

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Jy is reg broer. Dit laat baie en ernstige vrae ontstaan oor die stand van ons teologiese opleiding. Ons ken eintlik die antwoorde en daardie antwoorde is ontstellend!

      Vee uit
  9. Stellenbosch se kuratorium is 'n nes van onheil.

    Wat dié taakspan nie kan verstaan nie, is dat om sonde af te wys, absoluut niks te doen het met die Skrifboodskap van Christus oor die menswaardigheid van alle mense, die aanvaarding van alle mense en hul insluiting in God se genadeverbond nie. Dit is twee aparte sake wat hulle vermeng.

    Riaan van Zyl

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.