BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 18 September 2015

DIE GOD WAT JOU LIEFHET ...

is die Grootkoning wat volkome toewyding van jou verwag!

“Ek het julle lief!” Ons sal sien God berispe sy volk baie ernstig en kwaai. Maar die begin van Sy boodskap hier in MALEAGI 1 is egter baie treffend : “Ek het julle lief!” (2) As God met Sy volk praat (hetsy in die OT of NT) dan is dit altyd vanuit hierdie agtergrond en vertrekpunt. Sy groot liefde. Daar gaan nog harde woorde en ernstige beskuldigings uit God se mond kom. Dit alles moet egter verstaan word in die konteks van die groot oorhoofse feit : “Ek het julle lief!” 

BEWYS VAN SY LIEFDE

God herbevestig die feit van sy liefde omdat mense klaarblyklik skepties daaroor gestaan het. Ons kan dit aflei uit die vraag : “Hoe het U ons lief?” (2) Moontlik het hulle aan God se liefde begin twyfel vanweë moeilike omstandighede. (Tydens die na Ballingskapera, het dit ekonomies maar sleg gegaan.) “Ek het julle lief!” - is nie net sentimentele praatjies nie. God gaan nou voort om historiese klinkklare bewyse van sy liefde aan hierdie volk voor te lê. Hy herinner hulle aan die tweeling Jakob en Esau. ( Israel is mos die afstammelinge van Jakob) Nou weet hulle baie goed dat Esau die oudste was. Volgens die algemene reg moes hy die voorkeurbehandeling geniet - en tog God het Jakob uitgekies. Nie omdat daar iets goeds en ouliks aan Jakob was nie, maar omdat God hom maar net begenadig het. God se liefde vir Jakob en sy nageslag was nie gebou op een of ander prestasie of goeie eienskap van hulle kant nie. So God het Jakob bo Esau begunstig teen alle logiese verwagting in. Dit was net suiwer liefde en klaar!

Maleagi bring hierdie boodskap in die na Ballingskap tyd - toe die volk teruggekeer het en die tempel al klaar weer herbou was. Esau se nageslag, die Edomiete se land is ook verwoes, maar dit is nie weer herbou nie. God sê Hy sal sorg dat dit nie herbou word nie sodat Sy toorn oor hulle sigbaar kan wees. So – “volk van Israel, julle kan met julle eie oë die bewyse van my liefde sien!” Wat God deur hierdie vergelyking tussen Esau en Jakob maar net eintlik wil sê is : Julle is uiters bevoorreg, julle is onverdiend begenadig, julle is spesiale voorwerpe van my uitverkiesende liefde - dis nie sommer praatjies nie; die feite van die geskiedenis en van die dag bewys dit.

God het nou Sy liefde as Vader weer duidelik verklaar aan die volk en gestaaf met bewyse uit die geskiedenis en die hede. Let wel : God is primêr Vader! Die Vader-seun verhouding tussen God en sy volk kom al ’n lang pad. (Eks 4:22) Nou kom Hy by die saak van Israel se liefde en eerbied vir Hom en Hy spreek die priesters direk aan...

ONDER DIE VERGROOTGLAS - MINAGTING EN AFSKEEP VAN GOD

Formeel het die priesters God as Vader en Here beskou, maar in die praktyk was daar minagting van God. In plaas van liefde, respek en vertroue was daar ’n antipatie teenoor God en sy wil, hulle het hulle nie werklik gesteur aan Hom nie. (6) As die priesters hierdie verwyt hoor is dit asof hulle half verbaas is : “Hoe kan U so sê, ons doen mos nog ons pligte, ons bring mos nog offers, ons is mos nog op ons pos?” (vers 6 - laaste deel) Ja, dis waar die priesters het nog die regte rituele na gekom, maar nou gaan die Here hulle godsdienstige pligte bietjie onder die vergrootglas plaas. Wat sien Hy?

Hulle bring onrein voedsel op sy altaar. Besmette offers. Wat? Hoe so? Dis besmet deur die houding van die priesters. ’n Houding van minagting en traak-my-nie-agtigheid teenoor die Here. Hulle uiterlike offers is besmet deur dit wat hulle regtig in hulle harte van God gedink het. Die regte kennis en feite, die tegnies en teologies korrekte optrede teenoor God word besmet en uitgekanseleer deur ’n innerlike verkeerde gesindheid.

Regte teologie en vorm is nie genoeg nie, wat is die houding van ons harte teenoor God?



Hierdie minagtende houding word duidelik geïllustreer deur die feit hulle God afgeskeep het. Sommige het blykbaar geredeneer :“Wel, ons moet offer, maar kom ons vat maar hierdie brandsiek ding, hy gaan in elk geval vrek, hierdie mank skaap, hy is mos in elk geval nie veel werd nie...” God verwyt hulle oor hierdie gesindheid. Is dit wat julle van my dink? Niemand sal eers droom om vir hulle goewerneur so iets minderwaardig te bring nie, maar vir my moet dit goed genoeg wees. Is dit wat julle van my dink ten spyte van al my liefde en genade? Ek het julle voluit lief, maar aan my bewys julle so ‘n oorskiet, afskeepliefde! Hierdie priesters het uitdruklik God se voorskrifte geïgnoreer (Lev 22:20-22), want hulle wou so goedkoop moontlik wegkom. Ja, ons sal God nog uiterlik dien, maar dit moet ons net nie iets kos nie! Mense dink van God minder as van ander mense! 

God wei nog verder oor hierdie absolute mingtende houding uit. (9) Wat het ons hier? Hierdie mense het sowaar gedink hulle kan God omkoop, omkoop met so goedkoop moontlik omkoopgeskenke. Uiters arrogant, eintlik ondenkbaar vermetel – hulle bring afskeep gemors aan die lewende God wat hulle onverdiend begenadig het en so wil hulle sy goedgunstigheid koop! "Ek  moet maar 'n slag weer 'n bietjie kerk toe kom of 'n tjekkie uitskryf, want die reënseisoen of martiekeksamen kom weer nader..."

AS GOD DIE KERK WIL SLUIT...

God se reaksie op hierdie houding van die priesters is skrikwekkend - vers 10. "Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie ‘n offer van julle hê nie." Geen godsdiens is beter as hierdie minagtende en beledigende godsdiens! As jy wil kerktoe kom net wanneer dit jou pas, en net wil bid as jy God nodig het – stop dit liewers heeltemal– jy maak God net kwaad met daardie houding. God stel hoegenaamd nie belang in uiterlike rituele van mense wat nie egte ontsag en liefde vir Hom het nie!

As jy 'n DDT* lidmaat wil wees, is jy besig om God te tart en met vuur te speel!

Vers 11 is moeilik om te verstaan. Dit sou kon verwys na heidene wat ook offers aan ware God gebring het. (dink maar aan Naäman) Die groot saak is egter - volk Israel is ongeërg, laks in hulle aanbidding van God . Israel bedryf hulle godsdiens sonder toewyding en respek en oorgawe. (13a - moeite)

MOENIE GOD, DIE GROOTKONING PROBEER FLOUS NIE

God laat Hom egter nie beledig en flous nie. Enige godsdiens wat nie die beste behels nie, wat nie uit die hart uit kom nie - bring God se vloek oor daardie aanbidders. 

Israel en ons moet weet, God is die Grootkoning...

God is die Grootkoning - Hy duld nie minagting van sy Naam en Sy heilige karakter nie.

God is die Grootkoning – Ons moenie dink ons kan Hom dien met afskeeptyd, afskeepgawes en afskeeptoewyding nie. Hy is nie onbillik nie, maar vra die beste en die eerste. 

God is die Grootkoning - Hy kan nie omgekoop en gemanipuleer word nie. Hy is nie tevrede om ‘n noodwiel te wees nie.

God is die Grootkoning - Hy het ons nie nodig nie, ons is van Hom afhanklik. Hy bepaal die voorwaardes!

As God vandag vir ons sê dat Hy ons lief het, dan kom dit na ons via die agtergrond van die kruis en die opstanding van Jesus. Dis die duidelikste konkrete bewys van sy liefde. God se liefde in Jesus gee alles : volledige vergifnis, volkome vryspraak, ja maar dit eis ook volkome toewyding...

Ken jy die ware God, die Grootkoning? Dien ons Hom met die gepaste respek en toewyding of dink ons Hy moet tevrede wees met afskeeptyd en oorskietliefde?

*DDT = met Doop, Dood en Trou. Dis al wanneer hierdie lidmate die kerk se binnekant sien.



Maleagi 1:2 Ek het julle lief, sê die Here. Maar julle vra: "Hoe het U ons lief?" Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob liefgehad

3 en vir Esau gehaat. Ek het sy bergland ‘n verlate plek gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee.

4 As Edom sou sê: "Ons is verpletter maar ons sal die puinhope weer opbou," sal die Here die Almagtige sê: Laat hulle maar bou, Ek sal weer afbreek. Hulle sal bekend staan as die goddelose land, die volk op wie die Here se toorn vir altyd rus.

5 Julle sal dit met julle eie oë sien en julle sal sê: "Die Here is groot, ook buite die grense van Israel."

6 ‘n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige, vir júlle vra, priesters, júlle wat My met minagting behandel. Maar julle vra: "Hoe het ons U met minagting behandel?"

7 Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: "Hoe het ons U te na gekom?" Julle doen dit wanneer julle dink: "Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word."

8 Wanneer julle ‘n blinde ding bring om te offer, is dit dan nie verkeerd nie? En wanneer julle ‘n siek of ‘n lam ding bring, is dit nie verkeerd nie? Bring bietjie so iets vir jou goewerneur! Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang? Dit is wat die Here die Almagtige sê.

9 En dan sê julle: "Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees!" As julle só optree, sal Hy een van julle se versoek toestaan? Dit is wat die Here die Almagtige sê.

10 Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie ‘n offer van julle hê nie.

11 Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers. Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige,

12 maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word.

13 En dan sê julle nog dis ‘n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here.

14 Daar rus ‘n vloek op elke skelm wat ‘n bul of ‘n ram in sy kudde het en ‘n gelofte doen en dan ‘n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.