BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 11 September 2015

LEEFSTYL VIR DIE EINDTYD

- moet ons begin bomskuilings bou?


Die einde van alle dinge is naby! Dis nie ‘n voorblad berig in die koerant wat bedoel is om paniek te saai nie. Ook nie die jongste gemorspos e-mail nie! Dis ‘n vaste Bybelse waarheid. Ons lees dit in 1 Petrus 4:7, maar ook op baie ander plekke.

“Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.”

So dikwels in die verlede, maar weer ook in ons dag word mense op hol gejaag deur een of ander einde van die wêreld scenario – op ‘n stadium was daar die Y2k gevaar, toe weer die Maja kalender wat die einde van die wêreld voorspel... kort-kort ‘n nuwe sensasionele storie. Die Christen steur hom nie aan al hierdie stories nie, maar ons vat wel die Bybelse boodskap baie ernstig op : Die einde is inderdaad naby! Dit beteken nie dat ons ‘n spesifiek aantal weke, maande of jare daaraan kan koppel nie. Dit beteken dat die koms van Jesus, die laaste oordeel en ‘n nuutgemaakte skepping realistiese werklikhede is. Dit kan vandag nog gebeur. Die koms van Jesus en natuurlik ons eie dood is nie iets teoreties en veraf nie, dis ‘n om-die-draai-gebeurtenis waarmee ek daagliks moet rekening hou. Dit iets waarvoor ek en jy gereed moet wees. Elke oomblik!

Die einde van alle dinge is naby! Maar wat daarvan? Hoe moet ons reageer? Moet ons bomskuilings bou en noodvoorraad opgaar of DVD’s kyk oor die Antichris en die ses ses ses? Moet ons spekuleer oor bloedmane of histeries raak oor die Moslemgevaar?

NEE! Asseblief, in God se Naam laat ons maar net doen wat die Woord vir ons sê. Wat is die regte Bybelse leefstyl vir die eindtyd? Petrus is baie duidelik. Omdat die einde van alle dinge naby is moet ons selfbeheers en nugter wees sodat ons kan bid. Leef so dat julle biddend kan bly! Hoekom hierdie opdrag? Dis ‘n nuwe leefstyl wat die teenoorgestelde is van hulle vorige gedrag toe hulle nog onbekeerdes was. Hy het daarna verwys in 4:3. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery.” (net terloops daar is baie kerkmense wat hierdie bose leefstyl volg en nie besef dat so ‘n leefstyl van dronkenskap en losbandigheid tot die hel lei nie)

BID

Leef dus ‘n gedissiplineerde en sobere leefstyl sodat julle kan bid. Die einde van als is naby - hierdie vaste wete moet ons bring by bid en nie by bespiegel nie! Dis ‘n impetus vir biddend wees. Bid behels ‘n lewenshouding, gedurige kontak met God wanneer ek my doelbewus oopstel vir sy wil en opdragte. Deur te bid wys ek my vertroue op God en afhanklikheid van Hom. Ek onderwerp ek my aan sy wense en begeertes.

LIEFDE EN DIENS

“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.
As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.” (1 Petrus 4:8-11)

Biddende kontak met God moet ook oorgaan in praktiese liefde vir mekaar. Hierdie liefde sal baie sondes bedek. Wat beteken dit? Dit gaan daaroor dat ek in liefde ander mense hul sondes sal vergewe en dat ons so die onderlinge bande en gemeenskap met mekaar herstel. Die liefde bring genesings in stukkende verhoudings. As jy regtig glo dat die einde naby is sal jy vrede en vergifnis soek met ander mense! 

Nog ‘n uitvloeisel van die liefde is gasvryheid. Dis ‘n saak wat baie klem kry in die Nuwe Testament. “As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves."  (Hebr 13:1,2) Gasvryheid is die teenoorgestelde (en teenvoeter) van selfsug en gierigheid. Laat ons mekaar ontvang, laat ons huise en harte oop wees vir mekaar. Dis die regte leefstyl vir die eindtyd!

Die nabyheid van die einde moet ons juis stroop van selfsug en ‘n wegkruip eenkant houding en ons aanspoor tot diens!

CHARISMATA

Volgens die genadegawes wat elkeen ontvang het moet ons mekaar dien! Alle gelowiges het charismata (genadegawes) ontvang, nie net ‘n paar superchristene nie. Daar heers groot misverstand en skeeftrekkings wat betref die gawes van die Gees. Vir baie mense is die gawes iets om mee te spog. (veral die gawe van tale spreek) Nee, gawes bestaan vir diens. Gawes bestaan nie ter wille van myself nie maar met die oog op diens aan ander. Petrus gee nie hier ‘n volledige lys van gawes nie. Hy noem net twee hoofgroepe van gawes : Gawes van verkondiging (prediking, lering, onderrig). Dis gawes wat die geloof voed en opbou. En gawes van diens (hulpverlening, barmhartigheid,ondersteuning op verskeie vlakke). Dis gawes wat die geloofsgemeenskap onderhou. (Sien ook Romeine 12:4-8)

God het ‘n geweldige kapitaal van gawes in sy kerk belê!** God los sy kerk nie arm nie. God het ‘n groot rykdom en verskeidenheid van gawes aan elke gemeente en gemeentelid gegee. Ons moet dit gebruik, daarmee woeker, nie ter wille van onsself nie, maar van die medegelowiges. Glo jy die einde is naby, glo jy die oordeel is op hande? Wel, is jy besig om jou gawes te gebruik? Of sit jy eenkant en wag dat ander mense jou moet bedien in ‘n tyd van nood? Onthou net die gawes word nie verdien of self opgemaak nie, dit kom van God! As ek praat is dit eintlik God wat praat (dis nie ek wat so oulik is nie), as ek dien is dit God wat die krag gee (dis nie ek wat so sterk is nie). Ek het dus niks om oor te spog nie. As die gawes reg funksioneer kry God die eer. Nie die een wat die gawes beoefen nie, maar die Een wat die gawes gee moet verheerlik word. Ons moet so praat en doen, dat mense sal sê : “God is wonderlik!” Nie – “Jan, Koos of Rina” is wonderlik! nie.

In die lig van die naderende einde, die komende oordeel, die heerlikheid van ‘n nuwe hemel en aarde moet ons ‘n nuwe radikale leefstyl beoefen. ‘n Nugtere sobere leefstyl, ‘n leefstyl vry van losbandigheid, wellus en gierigheid. ‘n Leefstyl van gebed, liefde, gasvryheid en diens wat aan God eer sal bring. 

Jou leefstyl en nie jou spekulasies nie, wys of jy glo die einde is naby!


*Ek glo dat die gawe van die spreek in tale nog steeds kan voorkom soos God dit goed mag goed dink om te gee en dit nodig ag vir sy gemeente. Waar dit voorkom moet dit beoefen word volgens die beginsels en riglyne van 1 Korintiërs 12 en 14. Ek dink nie dis reg om dit uit te sonder as die belangrikste gawe en ‘n toetsteen te maak vir die teenwoordigheid van die Heilige Gees in iemand se lewe nie. Die oormatige klem wat sommige op die spreek in tale plaas lei ongetwyfeld tot die vervalsing daarvan.

**Van Houweling, PHR, Rondzendbrief uit Babylon, p157


[foto - Pininterest]

2 opmerkings:

  1. Baie dankie vir 'n uitstekende blog. Ek stem honderd persent saam met wat jy se. Wat duidelik is, is dat dit al moeiliker gaan word vir Christene wat staan op die Bybelse waarheid. Hetsy dit onder die aanslag van IS is of die aanslag van Amerikaanse wette rondom selfde geslag huwelike. En ek was geskok om te lees van Nelus Niemandt se uitsprake in die pers oor sy siening oor selfde geslag verhoudings. Of dit tekens van die eindtyd is of nie, dit sal groot onderskeiding kos om nie self mislei te word nie.

    Ek het die voorreg gehad om 'n paar weke terug 'n Global Prayer Summit naby Londen by te woon. Ek weet nie van een enkele konferensie waartydens God soveel met goed in my lewe gewerk het nie. Tydens die Summit het ons baie sterk gevoel dat die tyd wel kort is. Ons het dus besluit om 'n oproep aan die Global Kerk te stuur om Christene op te roep om elke dag van 11:55vm tot 12uur (middag) te bid. Ek het dit die afgelope 3 weke gedoen met verrykende gevolge. Dit vat groot self dissipline om elke dag om 11:55 te stop waarmee jy besig is en op God te fokus. Dit beteken om uit 'n tou by die poskantoor te stap om eers te bid of om vergaderings te stop om te bid. Maar ek glo dat as Christene wereldwyd elke dag net vir daardie 5 minute kan saambid, sal dit die Kerk geestelik baie versterk. Hier is 'n webbladsy met meer inligting oor die inisiatief http://www.globalprn.com/unite-in-prayer-1155am/.

    Groete

    Sas

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Sas en baie sterkte vir julle bediening. Ons besef ook al meer die waarde van bid, mag ons genade ontvang om daadwerklik darby uit te kom. Ons doen nou Nehemia - sy strategie was BID EN WERK! Die bid het eerste gekom...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.