BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

5 opmerkings:

  1. Hallo Johannes, dit is verblywend om te hoor dat julle standpunt inneem met wat DIE HERE beveel. Mag alle kerke ook so optree en dit gesuiwer word van nie net bogenoemde nie maar ook van alle vorme van sonde soos, jaloesie,twis,geldgierigheid,bedrieery,dronkenskap,losbandigheid,towery,vyandskap,
    haat,woede,rusies,verdeeldheid,skeuring,kwaadpratery ens wat soms algemeen in die kerk voorkom.

    AntwoordVee uit
  2. Beste Johannes
    Hoewel uit Rooms Katolieke oord, wil ek die volgende skakel na 'Fifty Shades of Gray' sterk aanbeveel:
    http://www.catholiceducation.org/en/marriage-and-family/sexuality/a-psychiatrist-s-letter-to-young-people-about-50-shades-of-grey.html
    Neels Malan, Bloemfontein.

    AntwoordVee uit
  3. As goddelike en sosiale instelling, is dit sekerlik die rol van die kerk om skadelike aspekte van menswees, wat ons ook soms ‘sonde’ noem, te bestry. Self nie groot op konfrontasie nie, sou ek tog graag die fokus wou draai op daardie aspekte wat ander benadeel, soos in die eerste kommentaar genoem – haat, jaloesie, kwaadpratery, twis, vyandskap, verdeeldheid, skeuring…. Kan mens byvoeg, leuens, finansiële uitbuiting, selfopheffing, emosionele manipulasie vir eie gewin…? Die lys kan lank word.

    My vraag is, het enige groep mense of individu die reg om te oordeel, te straf? Die effek van oordeel is seerkry, wat onttrekking of terugbaklei tot gevolg het (die klassieke ou veg of vlug). Wil ons jong (of ou) sondaarmense vervreem of wil ons hulle nadertrek? Soos tereg genoem in die blogpos, ons almal is sondaars. Ek sou graag die klem wou sien op liefde en koestering van ‘n broos mens – wat mens gelukkig ook in tye van menslike krisis ondervind. En dankie – die menslike koesterengele is oral. Soms is dit net moeilik om hul te vind tussen die klipgooiers.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dis jammer dat jy beskuldigings en insinuasies onder die dekmantel van anonimiteit maak, maar jy vra belangrike vrae en daarom sal ek dit antwoord.

      Die bedoeling was nie 'n volledige lys van sondes nie, maar bepaalde sake wat tans uiters aktueel is in die kerk van Jesus.

      Jy vra : "My vraag is, het enige groep mense of individu die reg om te oordeel, te straf?" Ek hoef gelukkig nie, hierdie eensydig skeefgetrekte vraag te probeer antwoord nie - dit word so duidelik deur Paulus gedoen in 1 Korintiërs 5. Lees dit asseblief deeglik.

      Ek is jammer as jy die getuienis beleef as die van "klipgooiers". Het jy enige bewyse daarvoor? Ek is self diep bewus van my boosheid en broosheid en praat met mense in hierdie situasies op 'n Bybelse manier. Eerlik, maar altyd met die hoop en vergifnis van die evangelie as uitgangspunt. (nog in hierdie afgelope week...) Ek smaak ook die voorreg hoe mense buig onder God se Woord... Dis heerlik. Die vreugde van genade en vergifnis is net moontlik in 'n konteks waar sonde, sonde genoem word. Jesus het immers nie vir goeie mense gekom nie, maar om SONDAARS te RED. As ons wegskram vir die begrip sonde, misken ons ook die moontlikheid van verlossing.

      Het jy dalk punt ses misgelees? "6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste."

      Vriend, lees gerus weer die getuienis in geheel en jy sal sien die hele strekking is eerlik, maar genadig,, reguit, maar nederig...

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.