BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 28 Januarie 2015

DIE KERKBODE : NO SAFE SPACE?

DIE KERKBODE se goedpraat van ‘n onbybelse lewenswyse skok mens weereens baie diep. Ja, dit laat mens se maag draai van ontsteltenis en jy kry begrip vir Jeremia se sterk emosies oor die angswekkende toestand van Jerusalem as hy uitroep : “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,...” (Klaagliedere 2:11) Die lesbiese lewensstyl en sogenaamde “huwelik” (nogal in ‘n agterna seremonie geseën deur ‘n NG dominee!) van Erna en Liezl word kwistig lof toegeswaai met ‘n ruim omhaal van mense woorde. Wat God se Woord in Romeine 1:18ev oor hierdie leefstyl en die oorsprong daarvan sê, pla blykbaar nie vir Annalise Wiid en DIE KERKBODE nie. ‘n Mens wonder of daar nog iets soos sonde bestaan (behalwe natuurlik die sonde van onverdraagsaamheid), want moet ons nou die res van Paulus se sondelys ook ignoreer of met vroom frases toeverf?



(Vir ‘n gebalanseerde poging om Bybels oor die gaykwessie te dink, Kliek op MAG EK HULLE TROU?)

SAFE SPACE?

Die deurlopende tema van hierdie artikel in DIE KERKBODE is 'n "safe space.” Ons enigste ware “Safe space” is ons getroue Verlosser Jesus Christus wat ons met sy bloed losgekoop het van ons sondeskuld, maar ons ook bevry van die mag van sonde. Alle soorte sondes. Ook dit waarvan ons in Romeine 1:18ev. lees. (Ek gun vir Erna en Liezl hierdie ware veiligheid in die Waarheid....) Afgelei is die kerk natuurlik ook veronderstel om ‘n “safe space” te wees, die kerk as liggaam van Jesus wat in gehoorsaamheid aan en afhanklikheid van Hom leef. Waar ons mekaar versorg en aanmoedig om getrou die stryd teen sonde te stry. Wat ek wel sterk oor wonder is of DIE KERKBODE nog hoegenaamd ‘n “safe space” vir ‘n Bybelgehoorsame gelowige kan wees?

Om self die artikel onder bespreking te lees, kliek op SAFE.


Stadig doodgewurg...





6 opmerkings:

  1. Johannes, dankie weereens vir die duidelike en suiwere perspektief. Weet asseblief dat ek as broeder in Christus jou in my gebede aan die HERE opdra, dat Hy jou sal beskerm teen die aanslae wat jy kan verwag wanneer jy hier besig is om die werk van die duiwel bloot te lê. Die duiwel sal jou beslis nie ongestoord laat voortgaan met hierdie werk waarmee jy hier op jou blog besig is nie. God is egter magtiger. Hy is inderdaad almagtig. Hy sal jou beskerm en dra soos Hy dit in die verlede op baie plekke en geleenthede gedoen het met stryders wat gestaan het vir die waarheid van die evangelie.

    As gemeente-leraar weet ek ook nie meer na hierdie stuk in die Kerkbode, hoe ek die Kerkbode as goeie leesstof by my lidmate kan aanbeveel nie. My gewete laat dit doodgewoon net nie meer toe nie.

    AntwoordVee uit
  2. More Johannes
    Eintlik het ek nie woorde om kommentaar te lewer nie, ek is meer verstom om hierdie uitsprake te hoor. Ek wil nie iets sê wat my in die moeilikheid kan laat beland nie, maar ek dink die verval binne die kerk (en dan bedoel ek nou nie ʼn spesifieke denominasie nie) is so groot dat ons maar net verstom kan staan en toekyk. Al wat ons sekerlik kan doen is wat jy hier doen en dit is om dit ten sterkste af te keur en dan te bid.
    In die artikel word gepraat van “Die wonder van anders wees” Nou ek weet nie wat se wonder dit is nie. En dan “Die Liggaam van Christus buite die boks” nou is daar twee liggame?? Die een Liggaam wat die volle waarheid verkondig binne die boks en die ander liggaam wat die halwe waarheid verkondig buite die boks (verstaan nie).
    Die ergste is nog dat die huwelik geseën word in die naam van Christus. Dit voel vir my godslasterlik.
    Johannes dankie dat jy nie stilbly nie.
    Groete
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Boeta vir jou sinvolle kommentaar, inderdaad staan mens verstom...

      Vee uit
  3. Ds. Johannes, Ek stem saam met jou opinie oor die Kerkbode se artikel, en ek se dit nie omdat ek homofobies is, of homosekuele mense verag nie, maar die feit bly staan dat ons nie verkeerde lewenswyses kan inkleur om mooi te lyk nie. Net soos ons nie diefstal of bedrog, of saambly of buite egtelikke verhoudings, of alkolisme kan mooi inkleur om dit meer sosiaal aanvaarbaar te maak nie. Ek of enige Christen behoort nie die mens te verag vir sy lewensstyl nie maar so ook moet ons dit nie goedpraat of sosiaal aanvaarbaar laat voorkom nie. In my opinie was die Kerkbode in hierdie geval buite orde, en ons as Christene kan dit nie so aanvaar nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Andries dat jy uitwys dat dit hier hoegenaamd nie oor homofobie gaan nie, maar blote gehoorsaamheid aan die Woord. Waar gaan ons eindig as ons sonde begin goedpraat?

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.