BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 13 September 2014

#JusticeforReeva

- die dieperliggende en ewige implikasies.

Die Twitter groepering #JusticeforReeva versprei soos ‘n weghol Oktoberveldbrand na die uitspraak van regter Masipa in die Oscar Pistorius hofsaak die afgelope Vrydag.

Oor die reg of verkeerd van die betrokke uitspraak wil ek my nie uitlaat nie – dit sou beslis onverantwoordelik wees, want ek is nie ‘n regskenner nie. Wat my wel noop om iets te sê is die geweldige gevoel van verontwaardiging as sodanig dat reg en geregtigheid nie geskied het nie. Hoekom? Wel, ons leef vandag in die denkklimaat van die post modernisme en hierdie filosofiese rigting verkondig eintlik mos dat daar geen absolute objektiewe waardes is nie! Hiervolgens is als eintlik maar relatief en subjektief. Vir ‘n God en ‘n Bybel wat vir ons sê daar is sekere dinge wat reg is en sekeres wat verkeerd is, kan daar nie in die huidige wêreld plek gevind word nie. Sonde het ‘n uitgediende en taboe begrip geword in baie kringe.

My punt is dat die byna histeriese reaksie oor die Pistorius hofsaak se uitkoms, duidelik wys dat post modernisme inkonsekwent en inherent onhoudbaar is. Diep binne homself het die mens ‘n besef dat daar iets is (moet wees) soos reg en verkeerd. Onderliggend het ons almal die verlange dat geregtigheid sal geskied en dat onreg gestraf sal word. Ja, ‘n gevoel vir “justice”. Daarom #JusticeforReeva!

ONS HET VASTE WAARHEID NODIG!

Die mens het inderdaad ‘n gevoel dat daar iets soos reg en verkeerd is, maar dis baie lukraak, wisselvallig, normloos en subjektief. Reg en verkeerd word deur die mens geïnterpreteer soos dit homself en sy eie sondige gewoontes die beste pas. Die hele Oscar debakel illustreer dit pragtig. Baie wat (tereg) voel dis ‘n misdaad om ‘n lewe te neem, bly heeltemal stil oor die verkeerdheid van losse buite egtelike seksuele verhoudings. Dis geestelik net so gevaarlik, want beide die heiligheid van lewe en die heiligheid van die huwelik is vir God belangrik. Daar is immers nie net ‘n sesde gebod nie, maar ook ‘n sewende! En dit bring my by die feit dat die mens as die kroon van die skepping en spesifiek geskape as ‘n moreel verantwoordelike wese aangewese is op vaste waarheid, die vaste waarheid van God se Woord. Sonder die vaste objektiewe waarhede, wette en norme soos die Bybel leer sal die mens totaal verwilder! Die mens sonder God is in ‘n vryval van morele selfvernietiging en dis slegs sy ALGEMENE GENADE wat keer dat die ongelowige mens nie ten volle verdierlik en gedemoniseerd word nie! 

Die eis vir geregtigheid wat nou weer orals opklink moet ons ook daaraan herinner, dat volle geregtigheid eendag wel sal geskied. God laat vaar nie die werke van sy hande nie. Hy het ‘n eindplan van geregtigheid vir hierdie wêreld. Dit sluit ook in dat Hy as die groot Regter finaal uitspraak sal gee. Dit sal volmaakte en regverdige regspleging wees waarin ook die diepste bedoelings en verborge motiewe van almal se harte (Romeine 2:16) beoordeel sal word. Nie volgens skewe menslike standaarde nie, maar volgens die eise van God se geregtigheid. Van hierdie oordeel sal geen aardse gladdebek advokaat ons kan vrywaar nie, dis slegs diegene wat die REDDENDE GENADE van God deelagtig geword het in Christus Jesus wat dan finaal vrygespreek sal word. Anders gestel, net diegene van ons wat nou reeds in geloof ons hoop op die gekruisigde en opgestane Jesus Christus as ons persoonlike advokaat gestel het, sal ons verdiende skuldigbevinding en ewige straf vryspring. Daarvoor sal God se kinders Hom tot in alle ewigheid loof en prys!

In God se Woord vind ons 'n gebaande weg met duidelike merke, vaste grense en 'n heerlike eindbestemming!

3 opmerkings:

  1. Baie dankie hiervoor dominee. 'n Saak het inderdaad vele kante, en u is een van die min mense wat dit waag om te verwys na die stilte "oor die verkeerdheid van losse buite egtelike seksuele verhoudings".

    Jare gelede as Engels-juffrou het ek kortverhale met matrieks gedoen. Ek kan nie meer die titel van die storie onthou óf die skrywer nie, maar so kortweg die hooftema: Die skatryk eienaar van die plaas het geen kinders gehad nie ( en dus geen erfgenaam vir die groot plaas nie) , maar die brandarm bywoner had 'n string kindertjies. Die dokter wat geweet het hoe graag die eienaar en sy vrou kinders wou hê, het eendag mymerend na 'n tuisbesoek aan die eienaar vir homself gesê: "The world is a d**n unequal place". Hierdie woorde het deur die jare in my geheue vasgesteek, veral as ek skynbaar "onregverdige" dinge teëgekom het.

    Daar is 'n hele paar (na my eie mening) skynbaar onregverdighede selfs in die Bybel . Moses word ernstig gestraf ( mag nie die beloofde land ingaan nie) vir 'n "klein" oortreding ( slaan die rots by Mara i.p.v. om daarmee te praat); die "ontugtige" Batseba se kind Salomo word een van die grootste en slimste konings van Israel én 'n voorvader van Jesus; onskuldige mense word doodgemaak vir Dáwid se sonde van die volkstelling ... en die heel grootste onregverdigheid is dat 'n sondelose Jesus in die plek van sondaars 'n wrede dood aan 'n kruis moet sterf ...

    So wat probeer ek sê? Die mens wik maar God, die Groot Regter, beskik. Hierdie veelkantige saak is nog lank nie verby nie, lees ons elke dag in 'n halfdosyn koerante en selfs op die internet. Selfs al word regter Masipa se bevinding behou "aan die einde van die dag", MOET ons glo dat die Here in beheer is. En sê sy Woord nie vir ons nie: "Alles werk mee ten goede vir dié wat God liefhet"( Rom: 8:28) .

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie. Ja, God is God en Hy is ALTYD goed en regverdig, al lyk dit vir ons onvolmaakte mense nie so nie.

      Hier wou ek nou nie juis daarop ingaan nie, maar bloot net aantoon hoe inkonsekwent mense is wat aandring op "justice", soos dit hulle pas, maar God se wette en norme verwerp. Dit terwyl Hyself die finale Regter gaan wees...

      Vee uit
  2. As daar iets is wat mense meer saambind as die verlange na geregtigheid dan is dit die verlange na wraak.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.