BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 24 September 2014

MAAK SEKER JY MAAK KLAAR!

- praktiese raad vir marathon atlete in die Christelike wedloop.

As jy vir ‘n Comrades, ‘n Two Oceans of ‘n Cape Argus ingeskryf het en misluk, kan jy altyd weer probeer. Dis ook nie so erg om dit nie te maak nie, jy mis net ‘n medalje, verloor ‘n bietjie ego en gaan maar weer aan met jou lewe. Die Christelike wedloop is egter iets heel anders. Wie dit voltooi kry die ewige lewe, dis ‘n prys wat net nooit eindig nie en onbeskryflik heerlik is. Ja, ons kan dit onsself nie eers probeer indink hoe heerlik nie... Aan die anderkant, wie hierdie wedloop nie voltooi nie, verloor alles en is sonder hoop en vreugde tot in alle ewigheid. Verdoem tot ‘n ewige nag... In Hebreërs 12 word die Christelike lewe spesifiek as ‘n wedloop beskryf, maar eintlik gaan die hele Hebreër brief oor praktiese aansporing en aanmoediging om hierdie wedloop te voltooi of ander gestel, die noodsaak van VOLHARDING. Kom ons kyk so vinnig oorsigtelik na die praktiese raad wat ons uit hierdie kosbare brief kan kry:

Spring weg op die regte plek en manier. Ek kan enige wedloop net suksesvol voltooi as ek van die begin af volgens die reëls weggespring het. Die Christelike wedloop begin by ‘n ontmoeting met Jesus. Inderwaarheid draai dit in geheel om Jesus Christus. Hy is immer die Begin en die Einde! Hoekom is Hy so belangrik? “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.” Hebreërs 1:1-3. Hy is God se finale plan en openbaring aan ons. Die Christelike wedloop begin as ek myself toevertrou aan Jesus. As Hy my enigste Middelaar en my enigste Hoëpriester geword het. Die Christelike wedloop behels dat ek daagliks my vertroue op Hom plaas en nie meer staatmaak op my eie godsdienstigheid, ordentlikheid of goeie eienskappe nie. Dat ek van begin tot die einde aan Hom vashou... natuurlik juis omdat Hy my eerste gegryp het, soos Paulus in Filippense 3 sê. 

Raak ontslae van alles wat jou hinder. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,” Hebreërs 12:1. Twee groot hindernisse word genoem : Laste en sonde. ‘n Las is iets wat nie noodwendig teen die reëls is nie, maar wat jou op een of ander manier in die wedloop kan benadeel of vertraag. Geen atleet hardloop met ‘n ekstra onnodige gewig of kledingstuk nie. Dit gaan jou uitput of jou laat struikel. Laste in die konteks van die Christelike wedloop is nie altyd noodwendig opsigself iets verkeerd nie, maar dis ‘n “gewig” wat jou voortgang belemmer.* Wat vir een kind van God ‘n hindernis is, is ook nie noodwendig vir ‘n ander kind van God nadelig nie – ek moet net baie eerlik met myself voor die Here wees! Byvoorbeeld skadelike of tydrowende gewoontes kan jou Christelike wedloop benadeel. Maak seker dat jou TV gewoontes, jou leesgewoontes, jou ontspanningsgewoontes, jou toewyding in jou beroep (wat reg is!) nie jou fokus op Jesus verdof of jou tot kompromie mislei nie!

Sonde is ‘n groot bedreiging in die Christelike wedloop. Sonde is alles wat God se Woord verbied. Moenie toelaat dat enige sonde ‘n vatplek op jou kry nie. In Hebreërs 12:14-16 kry ons die hartseer voorbeeld van Esau. “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het.” Wees uiters versigtig! Sonde is so ‘n ernstige bedreiging, ons moet self bereid wees om daarteen te stry ten koste van ons lewe! “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” Hebreërs 12:4 Hoe dikwels al het ‘n sondige seksuele verhouding of ‘n sondige besigheidspraktyk van bedrog en gierigheid, mense al die ewige lewe gekos!

Pasop om fokus te verloor. “Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie.” Hebreërs 2:1 Dis belangrik om doelgerig te hardloop, gedurig jou kop reg te hou. Anders kan jy geleidelik fokus verloor. Traag raak, afdwaal... Baie Christene se afval kom nie skielik met een groot sonde of krisis nie. Geleidelik verloor hulle belangstelling en spoed, stelselmatig raak hulle minder betrokke en minder entoesiasties. Ja, hulle dryf net so ongemerk weg... Die ywer raak minder en die verskonings raak meer totdat hulle heeltemal ophou met hardloop. 

Positief gestel : Fokus gedurig op die heerlike einddoel en beloning. Hoe? Neem kennis van die skare geloofshelde wat reeds die wedloop voltooi het. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het,” Hebreërs 12:1 Hulle word genoem “geloofsgetuies” Dis die ouens van wie ons in hfst11 lees... Noag, Abram, Moses... Hoekom word hulle getuies genoem? Hierdie "geloofshelde" se lewens getuig van die moontlikheid dat ’n mens in geloof kan volhard ten spyte van versoekings, valstrikke en vyande. Terwyl jy swaarkry weet beslis - geloof kan oorwin! Neem kennis, daar is baie mense wat reeds deur God se genade volhard het en nou veilig by die Here is! Dit gee ons hoop, en laat ons vinniger hardloop!

Hardloop saam met die wat dieselfde doelwit het. Elke langafstandatleet weet wat dit beteken as iemand saam hardloop en jou aanmoedig as jy die "muur" geslaan het en wil ophou. Ons is nie bedoel om die Christelike wedloop op ons eie aan te durf nie. Dis een van die redes waarom deel wees van ‘n gemeente so belangrik is. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.” Hebreërs 10:25 Ons moet erns maak om mekaar aan te spoor en aan te moedig! “Maar solank daar nog ‘n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.” Hebreërs 3:13 Wees dus aktief deel van 'n WOORDGETROUE GEMEENTE!

Staan dadelik op as jy geval het. Almal val een of ander tyd in die Christelike wedloop. Selfs die helde wat in Hebreërs 11 genoem word het ook by geleentheid geval. Wat dan? Is als verlore? Nee! Die oplossing is om na God se troon van genade te gaan deur Jesus. Staan op en gaan sonder versuim na Jesus. Ons kry hierdie aanmoediging in Hebreërs 4:14-16. “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” Onthou as jy geval het sal die duiwel als in sy vermoë doen om jou weg te hou van Jesus af. Hy sal fluister : “Jy het vreeslik gesondig, jy kan nie sommer dadelik na Hom gaan nie. Miskien moet jy eers ‘n tyd wag, dalk wil Hy jou 'n ruk laat swaarkry... Miskien is God so teleurgesteld dat Hy jou nie wil terug hê nie.” Moenie Satan se leuens glo nie, glo die boodskap van die (kliek op) GENADETROON!

Aanvaar teregwysing van die Afrigter. Tydens hierdie wedloop praat God soms baie hard met ons. Dit kan ook in die vorm van tugtiging wees – een of ander vorm van swaarkry wat Hy oor ons pad bring. Dan moet ons dit nie verkeerd verstaan en moedeloos word nie, maar besef dis juis sy liefde wat ons weer terug wil bring in die wedloop! Ja, dis nie lekker om berispe of getug te word nie - dit laat ons dikwels huil en kreun, maar dis vir ons beswil. “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.” Hebreërs 12:11 

  Kind van God, daardie onaangename, slegte of hartseer ding wat jy tans beleef is nie ‘n teken dat God jou nie liefhet nie, maar juis dat Hy jou wil nadertrek en weer op koers wil kry of sommer net Homself dieper aan jou wil openbaar!

Volhard en volhard en volhard in die geloof. Die noodsaaklikheid van volharding is ‘n deurlopende tema in die Hebreër brief. “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” Hebreërs 3:14 Die hele Hebreërbrief is vol ernstige (en soms skrikwekkende) waarskuwings om nie afvallig te word en op te hou met die geloofswedloop nie. Wat ook al gebeur, hoe ook al jy voel, moet net nie ophou nie, moet hoegenaamd nie dink aan omdraai nie, dis nie eers ‘n opsie nie!

Hou jou oog op Jesus, wat reeds die wedloop voltooi het. “Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Hebreërs 12:3 Vertrou op Jesus, bedink wat Hy gedoen het, bewonder Hom – laat Hy en sy werk aan die kruis en sy volharding voorop in jou gedagtes staan. Hyself het ook geweldig gely en teenstand in die wedloop ondervind (net soos wat jy nou waarskynlik ervaar), maar Hy het volhard en het dit vir ons moontlik gemaak om die wedloop te voltooi. Hy geniet nou die heerlike beloning aan die regterhand van God. Laat hierdie feite gedurig in jou gedagtes wees...

*FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p349.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.