BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 05 September 2014

GROOT BENOUDHEID

- maar geen bekering tot God.


Dinge gaan nogals rof die afgelope tyd op ons planeet aarde. Dis asof ‘n groot klomp onheil hulleself sommer so gelyktydig aangemeld het. Wêreldleiers skarrel benoud rond, hou vergaderings en berade en reik verklarings, dreigemente en oproepe om hulp uit. Die een oproep wat nodig is : “Bekeer julle tot God” word egter nêrens in die mond van groot leiers gehoor nie, en selfs in die geledere van die kerk het dit skaars geword!

Dink sommer so vinnig oor die wêreldtoneel waarin ons ons tans bevind. Die stryd en slinkse magspel in die ooste van Ukraïne, nadat Rusland op blatante wyse die Krim skiereiland helder oordag geannekseer het, lees amper soos ‘n denkbeeldige oorlogsverhaal! Hierdie onnodige geweld (waarin ook medegelowiges hulle lewens verloor het*) veroorsaak die grootste rimpelings en angstigheid in Europa en NAVO geledere sedert die einde van die Koue Oorlog, wat nie regtig raad het met Putin se taktiek nie. (Daar is darem nou planne aangekondig vir ‘n snelreaksiemag...) Mens moet pasop vir oorreaksie, maar hierdie man se optrede laat mens onwillekeurig terugdink aan Hitler se kat en muis speletjies in aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog... die res is geskiedenis...

Humanitêr gesproke is die wrede voortslepende burgeroorlog in Sirië (tans al 42 maande aan die gang) waar minstens 200 000 mense hulle lewens verloor het, nog ‘n groter kopseer. Ook hier het wêreldleiers soos Obama geen raad nie, want hulle bevind hulle tussen die duiwel en die diep blou see. Die opkoms van die radikale groep IS wat ‘n Islamitiese Kalifaat beoog in die Midde Ooste het alles nog verder gekompliseer. As Amerika te sterk teen IS optree help hulle indirek vir Assad van Sirië. Tree hulle nie op teen IS nie word hierdie uiters wrede terreurgroep al sterker en kan die hele Irak in duie stort en dit sal baie sleg wees vir Amerikaanse belange en prestige. Daar is nou wel ‘n skietstaking bereik tussen Israel en die Hamasbeheerde Gaza, maar dit beteken nie die einde van die probleme in hierdie streek nie. Hamas is na die onlangse geweld nog meer gewild en Israel se planne om nog Palestynse grond in die Wesbank af te neem voorspel niks goeds vir die lang termyn vooruitsigte op vrede in hierdie streek nie.

Dis nie net in die Midde Ooste waar radikale Islamitiese groepe groot menslike lyding en ontwrigting veroorsaak nie. Verder aan is dit alles behalwe rustig in plekke soos Afganistan en Pakistan, al haal dit nie elke dag die nuus nie. Ook Afrika is in die Islamitiese visier. In Nigerië lyk dit asof die regering geen raad weet met Boko Haram (nog ‘n Islamitiese terreurgroep) se brutale geweld nie. Na die skokkende ontvoering van 200 skoolmeisies en ‘n groot internasionale bohaai, gaan hulle steeds van erg na erger met hulle uitdagende aanvalle. Islamitiese groepe het ook ‘n vinger in die geweld in Mali, Libië , Somalië wat onder andere weer ‘n effek het op sekuriteit in ‘n land soos Kenia.

Islamitiese geweld is natuurlik nie die enigste ramp wat Afrika teister nie. Die Ebola virus het al meer as 1900 lewens in Wes –Afrika geëis en die einde is nog nie in sig nie. Behalwe vir lewensverlies het hierdie epidemie ook ekonomiese gevolge wat ‘n arm streek kwalik kan bekostig.

Orals en elke dag sterf mense in onnatuurlike omstandighede. Drie kort opeenvolgende vliegrampe (waaronder twee vliegtuie van Air Malaysia) is maar net van die meer opvallendes. Moord, oproer, geweld, maar ook natuurrampe en ongelukke laat mense daagliks in die ewigheid afstort... Die ellendes van korrupsie, misdaad en roekelose en onbevoegde regerings teister die mensdom...

IS JY VERBAAS?

Moet ons verbaas wees oor al hierdie woelinge en ellendes? As Christene moet ons dit eintlik te wagte wees. Onheile “meld hulleself” nie toevallig aan nie, dis die uitgieting van die toorn van ‘n heilige God in aksie. Openbaring skets mos vir ons God se oordele oor ‘n goddelose wêreld op treffend beskrywende wyse. "Gaan gooi die sewe bakke, gevul met die toorn van God, op die aarde uit!" (Openbaring 16:1) Ek probeer nie bepaalde gebeure in seker tekste in Openbaring inlees nie, maar die oorhoofse feit wat hier gestel word is dat God se oordele die aarde tref (getref het en nog sal tref) – nou reeds, voor die finale oordeel! Wat vir my egter die opvallende is, die verharde harte van ‘n geteisterde mensdom, wat steeds weier om hulle te bekeer! Inteendeel die lastering teen God word net al hoe erger! Die Woord draai geen doekies om nie:

“Die mense is deur ‘n groot hitte gebrand, en hulle het die Naam gelaster van God wat die mag oor hierdie plae het. En hulle het hulle nie bekeer nie en aan Hom nie die eer gegee nie.” (Openbaring 16:9)

“...Die mense het hulle tonge stukkend gebyt van die pyn en het die God van die hemel gelaster oor die pyn wat hulle moet verduur, en oor die swere. En hulle het hulle nie bekeer van hulle verkeerde praktyke nie.” (Openbaring 16:9)

“Groot haelstene, elkeen omtrent vyftig kilogram swaar, het van die hemel af op die mense geval. En die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat die plaag verskriklik groot was.” (Openbaring 16:21)

Hierdie patroon van onbekeerlikheid en volharding in die sonde word alreeds in Openbaring 9 vir ons voorgehou.

“Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie . Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.” (Openbaring 9:20,21)

Dis die prentjie wat ek in die hedendaagse nuus sien. ‘n Wêreld wat kreunend en vloekend gebuk gaan onder die regverdige oordele van God, maar wat steeds weier om God se genade in Jesus te aanvaar en hulle van hulle boosheid te bekeer. Inteendeel, die allerverskriklikste boosheid word nog steeds met passie omhels... Mag ons bewaar word van onbekeerlike harte...

En laat ons dit duidelik vir mekaar sê : “Rampe in ‘n bepaalde deel van die wêreld beteken nie noodwendig dat sekere mense meer skuldig is voor God as andere nie. Hierdie ellendes is ‘n algemene waarskuwing aan almal om betyds te bekeer en die vrugte van bekering te dra.” (Kliek op DIE BOODSKAP VAN RAMPE EN MISDAAD)

En ja, kinders van God ly dikwels ook saam met die goddeloses onder die uitstorting van God se oordele, al hoef ons nooit te twyfel aan sy liefde en sy heerlike finale doelwit met ons nie. As daar oorlog of hongersnood, onstabiliteit en geweld in ‘n gebied is, ly almal tog saam. Is dit vir jou ‘n vreemde gedagte? Wel, dink maar aan die God se getroue profeet, Jeremia. Die feit dat hy die waarheid in gehoorsaamheid, onverdun aan ‘n vyandige volk in moeilike omstandighede verkondig het, het hom nie gevrywaar van alle gevolge van die einste oordele van God wat hy moes aankondig nie... Te midde van chaos, ellende en uiterste woelinge kan God se kinders egter weet dat die God weet wat Hy doen en ten volle in beheer is! Ja, dis juis GOD wat oordele voltrek (nie Satan of toeval nie) en daarmee sy almag en heerskappy binne die gang van die geskiedenis demonstreer! Hierdie wete bring vir ons groot rus en vrede, selfs al moet ons ook swaarkry. Wat ‘n opwindende tyd om ons geloof in ‘n soewereine God te bely en te leef!

*Four martyred in Ukraine

The evangelical community in Eastern Ukraine has been targeted for persecution, as they are considered enemies by pro-Russian separatists. 

Four young FEBC (Far East Broadcasting Company) volunteers who were recently captured by separatists were brutally beaten to death simply for being Christians, according to an FEBC report last week. “These men volunteered for FEBC with zeal, passionately helping to spread the gospel throughout Ukraine,” said the organisation. “We are deeply saddened and shocked.” 

Weeks prior to the tragedy, FEBC’s Eastern Ukrainian broadcast tower in Slavyansk, for months has been in the middle of the fighting between pro-Russian separatists and the Ukrainian central government, was shot down and completely destroyed. 

While FEBC is still broadcasting in Western Ukraine and reaching millions there, they are now looking for a new location to resume broadcasting to Eastern Ukraine, “doing everything we can to give hope to people in a seemingly hopeless situation….” [ASSIST NEWS SERVICE, 7 Aug.] (oorgeneem uit Feldmuis. Miskien kan iemand in Ukraïne meer inligting gee?)



Internasionaal word die mensdom gewurg deur "omstandighede"...
[telefoonpaal wat deur die sand verswelg word naby Luderitz]

15 opmerkings:

  1. My vriend in Duitsland, ek dink jy mis die punt van die artikel.
    Ter inligting, ek is geen blinde ondersteuner van NAVO, die Weste, Obama of enige Westerse leier nie. Inteendeel ek dink hulle is korrup en goddeloos! (elders op die blog lewer ek byv. kommentaar op Hollande se gebrek aan moraliteit ens.)
    Putin is natuurlik ook glad nie 'n engel nie! Ek het persoonlike kontak in Rusland en weet beslis dat sy ondersteuning van die Ortodokse kerk meer oor nasionalisme as iets anders gaan...

    Hoe dit ook al sy, die punt van die artikel was nie om sekere konflikte en geskille moreel te beooordeel nie, maar bloot uit te wys dat al die ellendes wat tans aan die gang is, nie bloot as toevallig gesien kan word deur Christene nie, maar verstaan moet word in die lig van God se oordele! (soos uitgespel in die OT, maar ook in Openbaring) God staan nie buite die geskiedenis nie! En die gepaste oproep in 'n tyd soos hierdie (of jy saamstem of nie), is bekering tot die Een ware God wat Homself deur Jesus Christus as die reddende en genadige God geopenbaar het. Christene se oproep word in liefde gerig, om vrywillig te gehoorsaam - hoe jy dit in verband met die wrede geweldsteologie en praktyke van IS kan vergelyk, begryp ek nie lekker nie!

    Als wat mooi is.
    Johannes

    AntwoordVee uit
  2. My vriend in Duitsland, ek dink jy mis die punt van die artikel.
    Ter inligting, ek is geen blinde ondersteuner van NAVO, die Weste, Obama of enige Westerse leier nie. Inteendeel ek dink hulle is korrup en goddeloos! (elders op die blog lewer ek byv. kommentaar op Hollande se gebrek aan moraliteit ens.)
    Putin is natuurlik ook glad nie 'n engel nie! Ek het persoonlike kontak in Rusland en weet beslis dat sy ondersteuning van die Ortodokse kerk meer oor nasionalisme as iets anders gaan...

    Hoe dit ook al sy, die punt van die artikel was nie om sekere konflikte en geskille moreel te beooordeel nie, maar bloot uit te wys dat al die ellendes wat tans aan die gang is, nie bloot as toevallig gesien kan word deur Christene nie, maar verstaan moet word in die lig van God se oordele! (soos uitgespel in die OT, maar ook in Openbaring) God staan nie buite die geskiedenis nie! En die gepaste oproep in 'n tyd soos hierdie (of jy saamstem of nie), is bekering tot die Een ware God wat Homself deur Jesus Christus as die reddende en genadige God geopenbaar het. Christene se oproep word in liefde gerig, om vrywillig te gehoorsaam - hoe jy dit in verband met die wrede geweldsteologie en praktyke van IS kan vergelyk, begryp ek nie lekker nie!

    Als wat mooi is.
    Johannes

    AntwoordVee uit
  3. Die Skrif leer baie duidelik oor die dinge wat in die artikel gestel word en in die breë kan daar, tong in die kies saamgestem word - maar, Christus, Paulus en ander geinspireerde skrywers van die Woord leer tog baie duidelik, dat die grootste gevaar en afvalligheid van binne die "kerk" sal kom weens "doctrines of demons wat deesdae vry algemeen deur gemeentes goedsmoeds(hopeloss oningelig) nagevolg word. Sien ons dit nie baie duidelik in die omarming van die "kerk" met die RKK, die "New Age"-beweging en die populêre ekumeniese "samewerking" binne baie sg. "kerke", nie. JA die vyeboom bot - maar baie weet nie eens hoe lyk 'n vyeboom nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek wou maar net uitlig dat die slegte gebeure in die wereld vandag nie toevallig is nie, maar dat ons God se toorn soos reeds in Openbaing daarin moet onderskei. Dit gaan dus glad nie oor wat die grootste "gevare" vir ons as Christene is nie. Ja, baie beslis stem ek met jou saam, as dit gaan oor "gevare" dan is ons grootste bedreiging nie van enige mag van buite nie (hetsy Wes, Oos, Islam ens.) maar van dwalinge binne die kerk! Ek is dit met jou honderd persent eens op hierdie punt. Daarom spreek ek ook verskeie dwalinge en valse leer direk aan op hierdie Blog. Groetnis

      Vee uit
    2. Dankie Johannes - dankie dat iemand se oë ook oop is. Ek skryf al jare aan Sinodes, individue en vriende oor hierdie grootse gevaar. Ek blaas nie my eie beuel nie, maar ek het al met plaaslike leeraars, Algemene sekretarisse, en so meer geskakel - die resultaat! - kop in die sand - volstruis politiek; "Broer, moenie te veel branders hier om ons maak nie - ons is vas aan die slaap en verkies dit so". Dit skreeu ten hemele dat "geleerde" mense rustig meeloop en nie die vaagste benul het waarheen hulle op pad is nie. My kommer is dat die gewone "bank mede gelowige" nie ingelig is nie en goedsmoeds alles net so aanvaar, sonder om te vra - "wat sê die Skrif" - Leeraar LEER ons!

      Vee uit
    3. Ek dink hierdie is 'n baie goeie punt want dit is presies hierdie afdwaling van die kerk wat die gemors in die wêreld veroorsaak. In Amerika is die Christene Israel-aanbidders en het van die Here vergeet. Hulle glo leringe van demone wat daarop uit is om die mensdom te vernietig. Hulle gebruik die Bybel om hul oorloë goed te praat, dit is 'n skande.

      Vee uit
  4. "Christene se oproep word in liefde gerig, om vrywillig te gehoorsaam..."
    Hiermee stem ek saam, maar hier bo het jy gesê:
    “Bekeer julle tot God” en dit vergelyk nie net met IS se veldtog nie maar is presies wat hulle sê. Vandaar die vergelyking.

    Die enigste wêreld leier wat, in die laaste jare, die Here se wil en Sy almag genoem het is Putin! Hy het in 'n opebrief aan Amerika geskryf:
    "Ons is almal anders, maar as ons die Here se seëninge vra moet ons nie vergeet dat God ons gelyk geskape het nie."
    Wat ookal Putin se motivering vir sy ondersteuning van die Kerk is maak vir my nie saak nie en daaroor sal ek nie oordeel nie, oordeel die boom aan sy vrug. Is daar nog 'n wêreld leier wat die Kerk ondersteun?

    AntwoordVee uit
  5. Die oproep tot bekering is beslis 'n Bybele imperatief - ons vind dit in die mond van Johannes die Doper, Jesus self en dis die groot boodskap van die apostels in Handelinge! Dit kan geensins in dieselfde kategorie as die gedwonge bekerings wat IS tot 'n vals ideolgie voorstaan, geplaas word nie.

    Putin : soos reeds gestel het my artikel nie gegaan oor 'n morele beoordeling van leiers of kwessies as sodanig nie. Ek wil ook nie stry oor Putin se motiewe nie. Ek stem met jou saam, ek sien nie juis wêreld leiers wat uitgesproke Christene is nie!

    AntwoordVee uit
  6. Hierdie stukkie behoort eintlik onder Uitverkore Volk en Beloofde Land, maar ek sit dit hier in omdat ek aflei dat afrikaansinleipzig nie ooghare vir die Jode het nie. Lees ook Sefanja 3:13 wat dan ook bevestig word in Rom. 11:25-29 Daar is wyd uiteenlopende houdings deur die nasies teenoor Israel. Dit is ‘n belangrike saak hierdie, omdat die oordele van die Here oor Israel se vyande uitgespreek is, en sy seën oor diegene wat hulle ondersteun.Ten spyte van die geestelike doodsheid van die Joodse volk is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die heel gevaarlikste dinge op aarde om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3). Nasies en individue wat Israel verwerp, vervolg en beveg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer vernietig het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke. In Psalm 83 word ‘n Arabiese komplot teen Israel beskryf, waarin Israel se bure saamsweer om dié volk heeltemal uit te wis.Seën hulle Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in:
    “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12). Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees. Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentelikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Ons moet bid vir die vrede van Jerusalem as ons ook in ons eie land in vrede wil leef (Ps. 122:6).Die rede waarom alle gelowiges ernstig en toegewyd vir Jerusalem moet intree, is omdat die stad histories én profeties ten nouste met Israel en die Christendom verbonde is. Die Here Jesus het Homself hier as Messias-Koning geopenbaar, aan die kruis gesterf om versoening vir ons sondes te doen, op die derde dag uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees oor 120 getroue, biddende dissipels in Jerusalem uitgestort. Dit was die geboortedag van die Christelike kerk. Van Jerusalem af is die boodskap van verlossing na die eindes van die aarde uitgedra (Hand. 1:8).Dit is ook na Jerusalem, op die Olyfberg, dat die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal terugkeer om die oorblyfsel van Israel te red, die nasies te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. In antwoord op die gebede van die heiliges, en in ooreenstemming met sy heilige wil, sal die Messias Jerusalem tot die wêreldhoofstad verhef “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7; kyk ook Jes. 52:1-2). Groete Boeta.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Bpeta, ek dink ek het dit ook duidelik gemaak dat ons ons moet beywer vir die redding van etniese Jode en dat geen Christen Jode sal haat (anti-semities mag wees) nie!

      Waar ek wel met jou verskil is dat Jerusalem in konteks van die beloftes van die Nuwe Verbond nie meer ooor 'n fisiese stad gaan nie. Die beloftes oor die heil van Jerusalem vind vervulling in die kerk ( bestaande uit Joodse en heiden Christene) Dis onder andere so treffend duidelik uit Openbaring. Kyk by :

      http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/2012/08/maak-oop-by-openbaring-14.html

      of kyk sommer net onder die onderwerp "Nuwe Jerusalem".

      Vee uit
    2. Dit is omdat ek so lief is vir Jode dat ek geen ooghare het vir sogenaamde Isreal nie. Ek wil graag die Jode ondersteun teen daardie duiwelse regering in Palestina.

      https://www.youtube.com/watch?v=nMQ9C6vni0w

      Vee uit
    3. Anonymous(die eerste een - eintlik Deon Barnard)
      Nee Johannes - ek weet nie van watter nuwe vebond jy praat nie, maar die eerste keer waar ek die term teegekom het was in Jer.31:31-40. Hierdie beloftes staan vas soos God self hier onderneem. Hier word van werklike plekke in praktiese taal gepraat. In Rom.9-11 maak Paulus tog hierdie saak baie duidelik. Terloops ek maak net van die AOV an die KJV in my studies gebruik en doen ook vir jare al "navorsing" oor Skrifvertaling. Dr. Jeanette Erasmus(sy het nie bedoel om 'n Doktorsgraad te behaal nie), se "Skrifgesag: Manuskripte en Bybelvertaling Deel1 &2" - saam amper 1 000p. staan op my boekrak onder andere. Gaan kyk 'n bietjie by www.bibleready.org op die tuisblad - veral by die hofie oor "Bibles", na die "Bible Descent Chart". Dis 'n belewenis! Laat weet maar as jy dit nie kry nie, dan praat ons weer.
      Groetnis
      DB , Tergniet

      Vee uit
    4. Deon, kyk gerus by die sleutelwoordlys (langsaan) onder LUGFOTO VAN DIE BYBEL na die drie artikels daar. Dit wys hoe die hele Bybelse verhaal aanmekaar geweef is en uitloop via al die beloftes op die hoogtepunt van Jesus as die vervulling van al die lemente van die koninkryk naamlik Konig, Volk en Land. groete

      Vee uit
    5. Johannes, Ek het gekyk en 'n baie knap stuk werk raakgelees - ongelukkig kan ek nie met alle saamloop nie. Baie Evangeliese Gelowiges gaan nie met jou saamstem nie. 'n Boek van Johan Malan, "Die Laaste Dae", wat pas die lig gesien het, en honderde ander skrywers van naam stel 'n ander prentjie waaroor ons nie nou gaan redevoer nie. Ek wil dit net onomwonde stel dat die "Land" Israel gladnie uit eindtyd profesieë gewens kan word nie. Die instutusie kerk het Israel beslis nie vervang nie. In Rom 11 gebruik Paulus die sterkste negatief uit Grieks; het God die Jode die rug toegekeer: "NEVER".

      Vee uit
    6. Ongetwyfeld het God nie sy rug op die Jode gekeer nie, maar daar is GEEN GUNS by God sonder Jesus nie! Elke Jood wat hom tot Jesus bekeer is deel van God se Israel en (net soos ons wat glo) 'n verkryger van sy beloftes!
      Ja, jy is reg, die kerk het streng gesproke nie Israel vervang nie, maar voltooi/vervul. Dis juis deur die bekering van die heidene waardeur die "vervalle hut van Dawid" weer herstel is!

      Dink vir jouself (oor die land), wat is die grootste, 'n woestynlandjie in die Midde Ooste of die heerlike nuwe aarde?

      Maar ons moet nie oor hierdie goed stry nie; vir my gaan dit daaroor dat alle beloftes in die OT 'n werklikheid in Jesus geword het! groete

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.