BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 01 Maart 2014

GOD, OSCAR EN GESLAGSGEBASEERDE GEWELD

- kom ons grawe ‘n bietjie dieper.

Die afgelope tyd is die samelewing in Namibië geruk deur berigte van geslagsgebaseerde geweld. Met reëlmaat word verneem van vroue van alle ouderdomme wat die slagoffers van moord, verkragting en mishandeling geword het.* Die publiek verwag dat die kerk antwoorde en oplossings moet gee. Inderdaad moet die kerk in sulke tye nie afsydig swyg nie. (Onlangs het ‘n groep predikante van die NGKN en die VGKN ‘n gesamentlike verklaring hieroor uitgereik tydens ons afgelope konferensie by Rock Lodge, naby Okahandja.) Die probleem strek natuurlik ook verder as net Namibië. In groter internasionale konteks kan verwag word dat die Oscar Pistorius hofsaak ook weer hierdie gruwelike misbruik in die kalklig sal stel.



Die verskynsel van geslagsgebaseerde geweld is beslis gekompliseerd en simplistiese oplossings wat uit sommige oorde voorgestel word, hou nie hiermee rekening nie. En tog is die saak ook nie so heel onverstaanbaar en ingewikkeld nie...


‘n Paar Bybelse perspektiewe wat sommer so by my opkom (wat dikwels vergete geraak het), kan moontlik ‘n bydrae lewer tot ‘n nugtere en praktiese benadering...


DIE WORTELSONDE : Sigbare misdrywe is simptome van dieperliggende sonde en uiteindelik is alles die gevolg van een kernsonde. Geslagsgebaseerde geweld in watter vorm ook al is dikwels die gevolge van ‘n immorele leefstyl of gesinsverbrokkeling en dan speel alkoholmisbruik natuurlik ook ‘n baie groot rol. Al hierdie verbrekings van God se wet gaan egter nog dieper terug na een groot sonde. Die sonde om God nie as God te erken en te dank nie. Neem maar tyd en lees heel rustig weer Romeine 1 vanaf vers 18 en verder.

Vanuit die geskiedenis van Israel is dit duidelik dat sonde God kwaad maak en dat Hy dit straf deur die soort van ellendes wat ons samelewings teister. Dit sluit ellende oor ‘n breë spektrum in, van geweld teen vroue, leierloosheid, afskeep van bejaardes... tot ontwrigting op bykans elke terrein van die lewe.

 “Vrouens is in Sion verkrag, en jong meisies in die stede van Juda.
Leiers is gevat en opgehang, oumense word met minagting behandel.
Jongmanne word gedwing om maalwerk te doen, jong seuns struikel onder vragte hout.
Die oumense sit nie meer in die poorte van die stad nie en die jongmanne maak nie meer daar musiek nie.
Vrolikheid het uit ons lewe verdwyn, ons koordanse het plek gemaak vir rou.

Ons het ons aansien verloor, daar het ellende oor ons gekom, want ons het sonde gedoen!” (Klaagliedere 5:11-16)

Hieruit volg : 
  • Die kerk sal duidelik aan die nominale Christendom van hierdie land moet vertel dat bekering tot God die eerste nood en behoefte is. Programme van bewusmaking en mobilisering tot sosiale verantwoordelikheid (optogte en advertensies) het sekerlik ‘n plek, maar is tot mislukking gedoem as die worteloorsaak, naamlik die mens se bose hart ver verwyder van God, nie deur die evangelie aangespreek word nie.
  • Die evangelie(goeie nuus) van God se werk deur Jesus se kruis en opstanding, en nie bloot moralisme nie, sal duidelik verkondig moet word, met die gepaardgaande eis van geloof en bekering.
  • Die evangelie maak ook net sin (soos die Romeine brief aantoon) teen die agtergrond van God se toorn oor alle ongeregtigheid. Sonde, verlossing en dankbaarheid (Heidelbergse Kategismus) is inderdaad die Bybelse boodskap! Meer as ooit het ons gebroke samelwing behoefe aan die volle waarheid.
DIE VERLIES VAN DIE MORELE PADKAART : Die samelewing waarin ons leef het die Bybelse boodskap van genade verdraai en gebruik dit as ‘n verskoning vir alle vorme van losbandigheid. Dit waarteen Judas vers 4 waarsku is algemene praktyk. “Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe...” Soveel mense (selfs ook diegene wat in die kerk sit) steur hulle net nie meer aan God se norme vir seksualiteit, huwelik en gesinsordes nie. Saambly verhoudings (die aanhou van ‘n “liefmeisie” of ‘n “houvrou”) onder alle bevolkingsgroepe het aanvaarbaar geword, soveel so dat die kerk bang geraak het om dit aan te spreek. (En as jy eers ‘n bekroonde model of bekende sportman geword het, is dit blykbaar nog méér aanvaarbaar!) Vroue se waarde word doelbewus gedegradeer tot seksobjekte deur die media, maar ons “Christene” kyk nog steeds na hierdie TV programme, koop nog steeds hierdie tydskrifte en leer hulle dogters van jongs af dat dit maar reg is om jou liggaam ten toon te stel as ‘n objek van wellus. (Regtig? Wel, hoekom laat ouers dan toe dat hulle skamel en uitlokkend geklede dogters met wolwefluite begroet word op ons strande en by skoonheidskompetisies) Mense wat God se voorskrifte ignoreer, maar by Hom kla oor geweld, laat my dink aan ‘n ongehoorsame seun wat sy pa se motor steel en dan vir Pa kwaad is as hy ‘n ongeluk maak en homself beseer!

Hieruit volg :
  • Die kerk sal sonder skroom weer ‘n Bybelse etiek aan haar lidmate moet voorhou en soos Paulus, praktyke en gewoontes wat nie met die lig strook nie duidelik uitwys. (Bestudeer Efesiërs 5)
  • Die kerk behoort deur heilige stabiele gesinne in haar midde as rolmodelle ook die sigbare hoop van ‘n alternatiewe leefstyl te bied. Ons kan iemand dwing om anders te leef nie, maar ons kan aan ander wys dat dit ‘n vreugde is om volgens God se norme ons lewens in te rig!
  • Die kerk (as sy haar eie huis gesuiwer het) sal ook ‘n profetiese stem na die regering se kant moet laat hoor, om deur wetgewing kwesbares te beskerm. Natuurlik is dit ‘n delikate aangeleentheid, want ons weet almal dat moraliteit nie deur wetgewing geskep of afgedwing kan word nie – daarvoor is ‘n hartsverandering deur die Heilige Gees nodig. Tog sal ons almal saamstem dat daar wette moet wees om ons teen die roekelose bestuursgewoontes van sommige padgebruikers te beskerm. Sou dit dan verkeerd wees om beskerming vir ons en ons kinders te vra teen ‘n roekelose media wat geweld en immoraliteit vir eie gewin aan ons opdis en opdring – selfs langs ons paaie en in ons winkelvensters waar ons nie eens ‘n keuse het of ons dit wil sien nie? Die regering kan daarop gewys word dat wetgewing en wetstoepassing en gepaardgaande strawwe die morele norme van God se Woord en die waarde van menslike lewe behoort te weerspieël.

SAMEVATTEND : BEKERING ÉN TROOS

Die kerk wat gehoorsaam wil wees aan haar Here sal dus nie mag swyg nie, maar die boodskap van beide bekering en troos bring. 

God en die kerk word dikwels bygesleep (“Waarom laat God sulke dinge toe? Hoekom beskerm Hy nie vroue en kinders nie? Hoekom doen die kerk nie iets nie?”) deur mense wat in hulle alledaagse handel en wandel God en sy gebod totaal ignoreer. Dis eers wanneer daar ‘n ramp of ellende oor hulle pad kom, dat hulle ewe skielik van God onthou. Hulle moet asseblief kennis neem dat God nie in ons diens staan nie en dat Hy ons niks skuld nie. Sulkes moet eerder sy daaglikse genade en goedheid raaksien en wonder hoekom Hy ons nog nie vernietig het (soos ons verdien) nie. God se goedheid moet ‘n aansporing wees tot bekering! Dis nou nog genadetyd! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Romeine 2:4)

Aan almal wat hulle bekeer het, mag die evangeliese troos van vergifnis verkondig word. Aan God se kinders wat ook onder sinlose geweld deurloop, kan ons die troosboodskap verkondig dat Hy die wreker is van alle kwaad. Nooit mag ons verval in wraaksug en vergeldingsdrang nie, maar ook nie in moedeloosheid, passiwiteit en fatalisme nie. Ja, ons doen nou als wat ons kan om lig en sout te wees, te getuig en lydendes te help, maar ons weet dat slegs die wederkoms van Jesus, die Groot Regter, ‘n einde gaan bring aan alle onreg. Hierdie feit maak ons mense van hoop in die donkerste omstandighede.

* En nog steeds iis daar geen einde in sig nie. Kyk die berig hieronder wat gister in die REPUBLIKEIN verskyn het.

Onderwyser oorleef aanval


Tammy Kleinhans - Sy is telkemale met ’n mes én ’n skroewedraaier gesteek, maar ’n vrou van Otavi was gelukkig om die hoeveelste gru-daad van geslagsgeweld in Namibië te oorleef.
’n Onderwyser van die Primêre Skool Shalom op Otavi, me. Sonnet Simasiku (34) is Woensdagnag in haar woning deur haar gewese kêrel (29) aangeval. Sy sterk tans in ’n hospitaal aan nadat sy die gewelddadige aanval oorleef het.
Volgens die skakelbeampte van die polisie in die Otjozondjupastreek, sersant Maureen Mbeha, het die voorval omstreeks 23:00 plaasgevind. Simasiku het haar woning die aand gesluit, maar die verdagte het met behulp van ’n skroewedraaier een van die vensters oopgedwing en na die slagoffer se kamer gegaan.
"Hy het haar sewe maal met ’n mes en die einste skroewedraaier op haar kop, in die maag en rug gesteek. Die bure het Simasiku se krete gehoor en die polisie gebel," het Mbeha aan Republikein gesê.
"Die polisie was op patrollie in die omgewing en kon gelukkig vinnig by die woning opdaag om haar te help."
Simasiku is na die staatshospitaal op Tsumeb geneem en die verdagte is in hegtenis geneem.
Die slagoffer het onlangs die verhouding met die verdagte beëindig en hy kon glo nie daarmee vrede maak nie.
"Hy het verlede naweek vir haar gaan smeek om hom terug te neem. Sy het nie in ’n versoening belanggestel nie en die polisie gebel om hom van die erf te verwyder," het Mbeha gesê.
Volgens haar het die polisie aan die man gesê hy moet die situasie aanvaar en terugkeer na Katima Mulilo van waar hy kom.
Die verdagte sal vandag in die hof op Otavi op ’n klag van poging tot moord verskyn.
Volgens die woordvoerder van Nampol, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, is 36 geslagsgeweld verwante moorde vanaf Januarie 2013 tot 17 Februarie vanjaar gepleeg.
Van die moorde was ses mans slagoffers en al die verdagtes met die uitsondering van een, is reeds in hegtenis geneem.
Volgens hom het die meeste van die moorde, te wete agt, in die Omusatistreek en sewe in die Kavangostreek voorgekom.
Kanguatjivi het gesê mense moet besef dat as hulle ’n verhouding met iemand aanknoop, die moontlikheid bestaan dat dit gaan versuur en hulle moet dit dan so aanvaar.
Die jongste vroulike slagoffer is 18 en die oudste is 64 jaar oud. Die jongste manlike slagoffer is 25 en die oudste was 51 jaar oud. Die meeste slagoffers was in hul twintigs. Die wapens wat in die voorvalle gebruik is, is onder meer messe, pistole, pangas en byle.
"As jy na die ouderdomme kyk, kan jy sien hulle is nog onvolwasse," sê Kanguatjivi.
Volgens hom het vorms van mishandeling voor die moorde plaasvind. Hy het gemaan as enigiemand vir sy lewe vrees, moet die polisie daarvan ingelig word.
Voorvalle per streek
Omusati 8
Kavango 7
Karas 4
Omaheke 4
Ohangwena 4
Hardap 3
Otjozondjupa 2
Oshana 1
Oshikoto 2
Khomas 1
Totaal: 36

5 opmerkings:

  1. Jou 2de laaste paragraaf is ter sprake: God en die kerk word dikwels bygesleep (“Waarom laat God sulke dinge toe? Hoekom beskerm Hy nie vroue en kinders nie? Hoekom doen die kerk nie iets nie?”) deur mense wat in hulle alledaagse handel en wandel God en sy gebod totaal ignoreer”.

    Om dit verder toe te lig kan ons aan diegene wat God (en die kerk) so tot optrede wil roep herinner dat God nie niks doen nie maar dat Hy alreeds die beste oplossing gegee het nl. sy Seun Jesus Christus wat ons sondes kom vergewe het, ons met God kom versoen het en nuwe lewe kom gee het.
    Die kardinale vraag is nou nie meer wat doen God aan die gemors nie, maar wat doen ons as mense met die Oplossing wat God vir ons aanbied?
    As mense nie bereid is om dit ten minste ernstig te bekyk om te sien of God se ingrype en genade en liefde en aanbod tot ‘n beter lewe en samelewing die waarheid is nie, moet hulle liewer stilbly tot tyd en wyl hulle wel ernstig die saak ondersoek het en dan genoegsame bewys kan lewer dat God se ingrype en Christus se volkome en voltooide werk vals is.
    En ja, naas die kerk het die staat as mededienskneg van God (Rom 13) om die samelewing te help beskerm, te orden en te bevorder het ook ‘n plig om boosheid en sonde teen te staan en daarom ook soos jy genoem het die nodige maatreels te tref.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie Wolf vir jou verhelderende opmerking. Ek is dit heelhartig eens met jou. God het reeds ALLES in Jesus gedoen, maar die hooghartige mens weier om die oplossing te aanvaar.

      Vee uit
  2. Jou 2de laaste paragraaf is ter sprake: God en die kerk word dikwels bygesleep (“Waarom laat God sulke dinge toe? Hoekom beskerm Hy nie vroue en kinders nie? Hoekom doen die kerk nie iets nie?”) deur mense wat in hulle alledaagse handel en wandel God en sy gebod totaal ignoreer”.

    Om dit verder toe te lig kan ons aan diegene wat God (en die kerk) so tot optrede wil roep herinner dat God nie niks doen nie maar dat Hy alreeds die beste oplossing gegee het nl. sy Seun Jesus Christus wat ons sondes kom vergewe het, ons met God kom versoen het en nuwe lewe kom gee het.
    Die kardinale vraag is nou nie meer wat doen God aan die gemors nie, maar wat doen ons as mense met die Oplossing wat God vir ons aanbied?
    As mense nie bereid is om dit ten minste ernstig te bekyk om te sien of God se ingrype en genade en liefde en aanbod tot ‘n beter lewe en samelewing die waarheid is nie, moet hulle liewer stilbly tot tyd en wyl hulle wel ernstig die saak ondersoek het en dan genoegsame bewys kan lewer dat God se ingrype en Christus se volkome en voltooide werk vals is.
    En ja, naas die kerk het die staat as mededienskneg van God (Rom 13) om die samelewing te help beskerm, te orden en te bevorder het ook ‘n plig om boosheid en sonde teen te staan en daarom ook soos jy genoem het die nodige maatreels te tref.

    AntwoordVee uit
  3. Ja ek stem saam met alles wat hier gesê word, maar ek dink ons moet ook kyk na die man se situasie veral hier in Suid-Afrika. (Ek praat geensins geslagsgebaseerde geweld goed nie) in teendeel ek verwerp dit met afsku. Kom ons kyk wat is die mens se posisie volgens die Woord, koning, priester en profeet. Ek is die priester van my huis, die Woord sê ek is ook die hoof van my huis. Ek moet werk om brood te verdien sê die Woord in Gen 1. Maar kom ons kyk wat gebeur vandag. Die man word afgegradeer na die laaste plek op die prioriteitslys as dit by werk kom. Hy voel ʼn mislukking. Op hoeveel TV advertensies word die man verkleineer deurdat hy uitgebeeld word as die dom (stupid) een, ma slaan hom met die pan oor die kop en die kinders lag vir hom. Dit is alles anti Bybels. Dit gee die man nog nie die reg om daardie lelike dinge te doen nie, maar satan buit dit uit. Ek kan nog hoeveel voorbeelde noem, maar kom ons los dit eers hier
    Boeta

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ja jy is heeltemal reg, die aftakeling van die man se posisie as hoof van die huis soos God dit in sy ordes bepaal het, is beslis deel van die probleem. Dit sorteer eintlik onder wat ek genoem het :"Soveel mense (selfs ook diegene wat in die kerk sit) steur hulle net nie meer aan God se norme vir seksualiteit, huwelik en gesinsordes nie." Dankie dat jy dit eksplisiet uitwys!

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.