BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 01 Junie 2013

AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES :

“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”

So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook  in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel?  Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in Levitikus nie? Julle pick en choose net wat julle pas.”

Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste,  skeptici,  Skrifskenders en  Kletskerk aanhangers  baie oortuigend, maar enigiemand wat met nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien nie.

Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se openbaring is.  “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1)

Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle, skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig.  (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer van Homself aan die kruis was  as finale offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus  Christus het één offer vir die sondes gebring... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.”  (Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n miskenning van sy kruisdood.

Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op die veelbesproke skulpvis?  Hoekom hou Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie? 

VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL

Jesus self het hierdie dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op 'n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus 1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie, maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie. Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!

Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soos Levitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer. Ons kyk egter daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot grondbeginsels  wat  hierdie wette onderlê soos die heiligheid van God (vgl  1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45 ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2)  In so ‘n geval weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1 Korintiërs 6:9-11)

DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE 'N SONDE IS NIE.

En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders? God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet daarstel nie. God se volk  is nou versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament  bemoei hom nie met die voorskryf van burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel...

Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!

O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets, want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!

Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL


*Oor die hele kwessie van die kerk se houding teenoor  die vraagstuk omtrent homoseksualiteit  beoog ek om vorentoe in diepte op in te gaan.

8 opmerkings:

  1. Albie Steenkamp03 Junie 2013 om 09:56

    Hi Johannes,Dankie vir die grondwaarhede van die Skrif.Wat 'n stuk verfrissing bring God se Woord nie.....

    AntwoordVee uit
  2. Oor die "lugfoto van die Bybel"... ons "outannie"-groep is besig met Bybelstudie uit Handelinge waar ons behoorlik lang dele lees. So lees ons net vanmiddag die verskillende toesprake van Petrus en ook Stefanus s'n in die eerste 7 hoofstukke. Hoe wonderlik om die goue draad van God se Plan daar raak te lees, met vele verwysings van wat in die OT staan.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Handelinge is 'n fantastiese boek wat net vanuit die OT agtergrond verstaan kan word. Vir die studie van Handelinge wil ek graag die boek van Dennis E Johnson, "The Message of Acts in the history of Redemption" baie sterk aanbeveel.

      Vee uit
  3. Antwoorde
    1. Dag broer Etienne, dis so wonderlik om jou hier raak te loop. Mag die Here jou in die besonder naby wees in hierdie tyd.

      Liefdegroete in Jesus

      Vee uit
  4. Hallo Johannes, hier is ook 'n goeie aanvullende artkel tot die onderwerp wat die saak ook mooi verduidelik. Kliek op Gaan na http://theaquilareport.com/the-bible-homosexuality-and-shellfish-by-matthew-everhard/
    Groete, Wolf.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Dankie Wolf, baie lanklaas van jou gehoor. Mag dit goed gaan deur Sy genade.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.