BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 27 Mei 2013

GAY AGENDA

- die Franse leer ons dalk ‘n les.


Die aggressiewe drywers van die goddelose gay agenda behaal wêreldwyd sukses met al hoe meer lande wat toegee aan die druk om homoseksuele huwelike te erken. Selfs “burgerlike verbintenisse” wat hulle regte waarborg is nie genoeg nie, nee die huwelik self moet geherdefinieer word om sodoende hierdie kosbare instelling van God te probeer aantas. Frankryk is die 9de land in Europa en die 14de land in die wêreld wat hierdie verfoeisel wettig.

Interessant en merkwaardig is egter die teenstand wat hierdie wet, bekend as la loi Taubira in die hoogs gesekulariseerde Frankryk ontlok het. Daar was die afgelope Sondag weer ‘n reuse betoging hierteen in Parys. Dit inteenstelling met die “Christelike” Suid-Afrika waar homoseksuele huwelike al ‘n geruime tyd gelede feitlik sonder slag of stoot goedgekeur is! ‘n Mens wonder waar was die kerk en al die sogenaamde Christene? Het die heidense Franse dalk meer insig en “common sense” as die Bybelonkundige Christendom van Suid-Afrika?

Natuurlik beteken die onrus wat nou in Frankryk aan die gang is nie dat hulle enigsens wil terugkeer na die Skrif as norm nie, (die ongewildheid van die patetiese Hollande speel ongetwyfeld ‘n rol), maar dit wil amper lyk asof hulle tog meer logies dink as baie “Christen” Suid-Afrikaners! 

Le Figaro, ‘n Franse koerant berig (baie vry vertaal) : Op die podium les Invalides, verduidelik die filosoof Bertrand Vergely dat daar basies baie meer op die spel is as homoseksuele huwelike. Ons verkeer in demokratiese dronkenskap. Ons maak ‘n nuwe mens. Eendag sal iemand jou vra : “Wie is jou pa?” En jy sal antwoord : “Ek weet nie, KI strooitjies van Swede.” “En jou ma?” “ ‘n Maag in Ukraïne.”* Dis half komies, maar wys tog eintlik goed uit dat as die wese van die huwelik bedreig word, die mens in sy diepste bestaan geraak word.



Die gay agenda word op alle fronte gedryf. Juis in Frankryk het die eksplisiete lesbiese drama La Vie d'Adele – Chapitre 1 & 2 (Blue is the Warmest Colour) op die pas afgelope Cannes rolprentfees, die Palme d'Or gewen vir die beste film! Satan slaap nooit, maar is die Christene wakker?

Mag die wêreldwye aanslag van Satan teen die huwelik (ook veral in die vorm van losbandigheid en egskeiding) ons meer vasbeslote maak om hierdie heilige Godgewe verbond in ere te hou! Die huwelik gaan immers oor baie meer as net ‘n aardse verbintenis, dis ‘n afbeelding van ‘n Goddelike geheimenis! Die rein en opofferende liefde wat Christus vir sy kerk het! (Efesiërs 5)

*Sur le podium des Invalides, le philosophe Bertrand Vergely explique que «les enjeux de fond dépassent le mariage homo. On est dans l'ivresse démocratique. On fabrique l'homme nouveau. Un jour, on te demandera “qui est ton père ?”. Et tu répondras “je ne sais pas, des paillettes de Suède”. “Et ta mère?” “Un ventre en Ukraine”».


                                           (foto - le Figaro)

4 opmerkings:

  1. “‘n Mens wonder waar was die kerk en al die sogenaamde Christene?”

    Hierdie vraag word dikwels as ’n retoriese vraag gevra. Maar daar word nie verwag dat daar ’n antwoord op hierdie vraag gegee moet word nie.

    Wanneer hierdie vraag gevra word, word die persepsie geskep dat die kerk en die Christene in Suid-Afrika nie waarlik kerk of waarlik Christen is nie, omdat hulle nie “opstaan” en “iets sê” of “iets doen” wanneer goddelose wetgewing ingevoer word nie.

    Tog meen ek dat daar baie opregte gelowiges is wat besorgd is oor die veranderinge in die land, maar nie ’n idee het wat om te doen en wat om te sê wanneer daar weereens ’n goddelose wet ingevoer word nie. Sulke mense sal dikwels vermeld dat hulle besorgd is oor sekere ontwikkelinge, maar bitter min het idees om verder te gaan as om net besorgd te wees.

    Ek wonder of iemand enige idees het waar die kultuur in kerke vandaan kom om besorgd te wees oor allerhande sake, maar nooit verder te gaan as dit nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Ek glo jy is heeltemal reg dat baie opregte gelowiges besorg is oor dinge wat gebeur. Miskien voel dit net soos te veel moeite om verder te gaan? Tog dink ek daar is 'n gebrek aan sterk leiers wat Christene kan motiveer en mobiliseer, maar is die gebrek aan leierskap nie dalk al reeds 'n oordeel van God oor 'n kerk wat lou geword het nie, net God alleen kan mos ware leiers skenk aan sy kerk?

      Vee uit
  2. "Waar was die kerk en die Christene van Suid Afrika?"
    Dis nie waar dat die kerk en baie van sy lidmate net niks gedoen het nie! Op talle forums en in verskeie gespreksgroepe is hierdie saak met mekaar as Christene, interdenominasionele kerkgroepe asook met verteenwoordigers van die regering in diepte bespreek en bepleit. Die kerke (Christene) het hulle stem laat hoor. Dat die regering nie na die wagte op die mure geluister het nie, kan nie net voor die deur van die kerke gelê word nie.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Kyk na die onderstaande berig. Dit skep nie die indruk van baie sterk weerstand nie.

      Oct 11 2006 09:59:52:493PM - (SA) BEELD
      Neels Jackson
      Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het hom gister gedistansieer van die voorlegging van die NG Kerk se parlementêre lessenaar oor gay-huwelike.

      Die GKSA, wat sedert begin vanjaar met die parlementêre lessenaar saamwerk, wil nou in sy eie voorlegging standpunt inneem teen die wettiging van gay-verbintenisse.

      Dr. Ben du Toit, parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk, vra in sy voorlegging aan die parlementêre komitee dat daar een wet moet wees wat op gelyke basis voorsiening maak van alle kategorieë van huwelike en verbintenisse.

      Dit moet die Christelike huwelik erken, maar ook dié van Jode, Moslems, Hindoes, Afrika-godsdienste en dieselfdegeslag-verhoudinge.

      Omdat daar te min tyd oor is om die Huwelikswet heeltemal oor te skryf stel Du Toit voor dat die huidige huwelikswet as ’n tussentydse maatreël met enkele begripswysiginge aangepas word om volgens die konstitusionele hof se uitspraak voorsiening te maak vir gay-huwelike.

      Daarna moet die hele wet herskryf word. Die GKSA sê in sy standpunt dat homoseksuele gedrag volgens die Bybel teen die skeppingsorde is. Gays moet hul weerhou van homoseksuele gedrag.

      Die kerk waarsku dat die wettiging van gay-huwelike die boodskap kan uitstuur dat homoseksuele gedrag moreel aanvaarbaar is.

      Hulle is ook bekommerd dat dit kan lei daartoe dat gay pare kinders wetlik kan aanneem.

      Die GKSA sê gay mense moet dieselfde grondwetlike regte as ander mense geniet, maar omdat die huwelik ’n heteroseksuele instelling is, sluit dit egter nie die aangaan van ’n homoseksuele huwelik of verbintenis in nie.

      Ds. Cassie Aucamp, woordvoerder van die GKSA se laaste nasionale sinode, het gister gesê die kerk se bron van gesag is die Bybel en die kerk moet die hof se uitspraak daaraan toets.

      Oor die verskil met die NG Kerk se parlementêre lessenaar, sê Aucamp die nasionale sinode se samewerking met die parlementêre lessenaar beteken nie dat die GKSA se naam net onder die NG Kerk se voorleggings bygevoeg word nie

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.