BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 27 Augustus 2012

ONS REAKSIE OP 'N PLAASMOORD

- troos uit God se Woord.

[Soos almal bewus is, het plaasaanvalle en moorde ‘n emosionele saak in Suid-Afrika geword. Die lewensverlies, skade en smarte wat hieruit voortkom kan moeilik in woorde gesê word. Ook Namibië is nie vry van hierdie euwel nie. Aan die einde van April is oom Chris en tannie Meisie Henning op hulle plaas, Bergen in die Tsumeb distrik aangeval. Oom Chris is ernstig beseer. Verlede week is hy in die plaaslike hospitaal oorlede en op Maandag 27 Augustus vanuit die NG Kerk Tsumeb begrawe. Kom deel saam in die troos vanuit God se Woord wat na ons gekom het op die begrafnisdiens.]

Lees gerus saam uit Openbaring 1:4-6 (die aanhef tot die brief aan die sewe gemeentes) en dan vanaf vers 12. (Die visioen van die verheerlikte Christus)

Dit is ‘n ontsaglike genade en voorreg om in ‘n situasie soos hierdie God se Woord voor ons oop te mag hê. Menslike woorde in ‘n tyd van diep smart soos nou, het maar weinig waarde. Al bedoel ons dit hoe opreg, klink ons beste woorde maar hol en ontoereikend in die aangesig van die dood. God se ewige en onfeilbare Woord is die enigste sinvolle fondasie van troos en hoop, ook in ons diepste ellende. Mag ons tog elke geleentheid aangryp om hierdie Woord te hoor. Ja, elkeen van ons hier het nog net ‘n sekere aantal Sondae oor... hoeveel weet nie een van ons nie... Maak gebruik daarvan!

Openbaring is ‘n TROOSBOEK* vir God se kinders. Vir God se kinders wat stry teen versoekings, Satan en  sonde, wat ly, wat swaarkry en selfs onregverdig doodgemaak sou kon word. Die kinders van God se troos lê in die feit dat God in beheer is (daarom hoor ons telkens in Openbaring die uitdrukking : “Hy wat op die troon sit...”) Ons troos is gebou op die feit dat Jesus die Oorwinnaar is! (oor sonde, Satan, dood en hel). Ons word getroos met die vaste wete dat alles oppad is na ‘n heerlike finale doelwit! (‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde)

Reeds hier reg aan die begin van Openbaring  word Johannes (en ook ons) getroos deur ‘n visioen van die verheerlikte almagtige oorwinnaar Christus.  Hy sien die koninklike opgestane Jesus in sy volle majesteit, mag en heerlikheid! Dit gaan nie nou oor ‘n detail ontleding nie, maar die oorkoepelende geheelbeeld. Kyk, kyk en sien en hoor : Sy oë wat soos vuur vlam, ‘n swaard wat uit Sy mond kom, die  stem wat klink soos die gedruis van ‘n  watermassa, Sy voete wat gloei soos koper in ‘n smeltoond,  sy hele voorkoms wat skyn soos die son op sy helderste! Goddelik, glorieryk! Angswekkende mag en gesag,  verblindende heerlikheid!

G’n wonder nie, dit blyk Johannes kry ‘n floute en raak soos ‘n dooie... 

Maar dan raak Jesus met sy regterhand aan Johannes  en hy hoor die gerustellende woorde : “Moenie bang wees nie” En Jesus gaan dan voort : “dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Geliefde, as jy hierdie woorde gelowig hoor en jou eie maak, sal jy ook “voel” hoe Jesus aan jou raak en jou gerusstel en troos! Nou!

Ek wil net ‘n paar gedagtes met julle  wissel oor die woorde : 

“Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” 

Om die sleutels van ‘n bepaalde deur te hê, is om die mag te hê om daardie deur oop of toe te sluit! Absolute beheer!

Die dood van ‘n geliefde bly vir ons ‘n pynlike, ontstellende en  hartseer ervaring. Veral as dit nie weens natuurlike oorsake is nie, soos ‘n plaasaanval. Behalwe die “normale hartseer” kan so ‘n oorsaak by ons verdere  twyfel, vrees of selfs bitterheid wek. 

Ons moet vandag duidelik hoor, Jesus het die sleutels van die dood en doderyk en daarom: Geen moordenaar, geen noodlot, geen duiwel het die finale sê oor lewe en dood nie. Jesus Christus het! Prakties is die implikasie,  nie een van ons sal een minuut langer of korter leef as wat Hy bepaal nie! Dis ‘n baie belangrike perspektief om selfs in die donkerste tye te behou! 

Maar eintlik gaan hierdie versekering van Jesus oor iets dieper. Dood en doderyk verpersoonlik die magte van die Bose wat teen God in opstand is.** Jesus het deur sy dood aan die kruis die dood se mag gebreek. Hy het die verskrikking van die dood uitgewis. Hoe so? Dood,  leer ons reeds in Genesis is mos ‘n gevolg van die sonde. Die duiwel het weens ons sonde,  ‘n mag oor ons gekry. Omdat ons gesondig het en skuldig is kan hy ons bangmaak en afpers met dood, oordeel en hel. Jesus het egter deur sy sterwe die sondestraf gedra van God se kinders. (Jesaja 53:5,6) Die dood hou daarom vir die kind van God nie meer ‘n verskrikking in nie (want daar is nou nie meer iets wat gestraf moet word nie), dis bloot  ‘n deurgang na ons finale en veilige bestemming. ***

Die verheerlikte Christus! Die klem val hier op die almag van Jesus Christus. Niks kan sy mag meer inperk nie.  Juis dit wat by ons die grootste vrees inboesem, naamlik die dood is deur Hom oorwin en bestaan nou slegs  onder sy beheer! 

Nog iets belangrik  vanuit Jesus se oorwinningsmag vir ons om nou van kennis te neem : Omdat Jesus die absolute Oorwinnaar is, is Hy ook die Groot Regverdige Regter en kan ons met gerustheid alle onreg in sy hande laat. Hy sal oordeel, Hy sal finaal straf! Natuurlik, moet die aardse reg sy gang gaan (die owerhede is immers daargestel deur God om oortreders op aarde te straf), maar die groot saak om raak te sien is dat dit nie nodig is vir God se kinders om slawe te word van bitterheid en wraaksug nie! Ons saak is in goeie Hande!

Om saam te vat : 

Sien die prentjie van Jesus en wees getroos! 

In jou persoonlike omstandighede van hartseer, droefheid, twyfel... Draai om en kyk na Christus. Binne die wêreldomstandighede van onreg en chaos... Draai om en sien Jesus ! .... en moenie VREES nie!

Laaste, maar nie, die minste nie. Ons moet altyd  eerlik omgaan met God se Woord. Jesus  bring troos vir elkeen wat gewas is in Sy bloed, en net vir hulle! Met ander woorde vir  elkeen wat op grond van Jesus se kruisdood, persoonlike vergifnis en kwytskelding ontvang het en so deel geword het van Sy kerk, die Bruid! Jesus se heerskappy bring troos vir die verlostes. As jy aan Jesus behoort en Hom as Verlosser ken vat hierdie seënbede vir jou in vers 4 : “Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen! 

As jy Jesus nog nie waarlik ken nie,  wil ek by jou pleit. Onderwerp jouself aan Hom. Hy is die Oorwinnaar. Sorg dat jy aan sy kant is - dan het ook jy niks te vrees nie!.

* Sien die reeks : MAAK OOP BY OPENBARING
** Du Rand
*** Hebreërs 2:14,15


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.