BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 14 Januarie 2018

Paul Washer

vra vir jou 'n indringende vraag!

Is jy al 'n nuwe mens? Wat vertel jou sosiale media van jouself?


Maak drie minute tyd om dit eerlik te antwoord!

Kliek op WASHER

Donderdag 11 Januarie 2018

’n Vaste Afspraak op God se Almanak

waaroor die “lifecoach” en motiveringspreker swyg!



(en sommige dominees en pastore ook)



Ons ken almal ’n almanak. Hier aan die begin van die jaar maak almal seker dat ons almanakke het. By wyse van spreke kan ons ook sê dat God ’n almanak het. Ons kan nie God se almanak sien nie. Ons ken byvoorbeeld nie ons eie persoonlike sterfdatum nie. Ons weet nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie. Daar is wel vaste afsprake op God se almanak al ken ons nie die datums nie. Sommige van God se belangrike gebeure op sy almanak is reeds verby. Die skepping, die menswording van Jesus, die kruisiging en opstanding, Sy hemelvaart en die heerlike uitstorting van die Heilige Gees. Daar is wel nóg ’n groot gebeurtenis op God se almanak wat in die toekoms lê – die wederkoms en oordeel. Paulus praat ondubbelsinnig duidelik hieroor. Dis ’n vaste seker punt op God se program vir die toekoms. Ons almal is op pad na daardie afspraak. Dalk wonder jy :”Goed en wel, maar is dit relevant om daaroor te praat?” Wel Paulus het so gedink…

Kom ons kyk bietjie na Handelinge 17:16-34. Paulus bevind homself hier in die groot wêreldstad Athene. ‘n Sentrum van geleerdheid. Baie filosowe en 'n menigte van idees. Ook vol afgodsbeelde en verwarring. Hierdie mense ken nie vir Jesus nie, hulle weet niks van die evangelie nie. Tog is hulle baie godsdienstig. Nog kry Paulus die wonderlike geleentheid om op die beroemde Areopagusheuwel die evangelie te verkondig! Hy moet dit goed en wys benut... 

Areopagusheuwel vandag. (Foto  Wiki)

Paulus sluit aan by hulle kennis en omstandighede... Hy is nie lelik en veroordelend nie, eintlik baie strategies en taktvol. Hy begin by die “onbekende God”... Daar is net een God wat aan alles lewe en asem gee. Paulus praat ‘n taal wat hulle verstaan en haal sommer een van hulle digters ook aan. (28)

Dan kom Paulus by die klimaks van sy toespraak. 

""God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30-31) 

Paulus verkondig die boodskap van bekering. Hoe dan anders? Dit was mos die duidelike opdrag van Jesus aan sy dissipels, kort voor sy hemelvaart. 

“Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (Lukas 24:46,47) 

God beveel mense deur sy diensknegte om hulle te bekeer. Wat is bekering? Om ’n keuse te maak! Om van gedagte te verander oor God en sy verlossingsplan deur Jesus. Om anders te dink en te doen. ‘n Bekering na God toe en weg van die afgode. Geloof en bekering gaan altyd saam. Om weg te draai van my verkeerde koers, om van gedagte te verander en op Jesus te vertrou. Terloops die boodskap van bekering en geloof was nie net die boodskap van Johannes die Doper* en die apostels nie, maar ook van Jesus self! 

“Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15)

Waarom is bekering so belangrik? Waarom doen Paulus die moeite om dit met hierdie vreemde Grieke te deel?

Daar is ’n oordeel wat kom. God gaan die wêreld oordeel volgens Sý standaard en norm. Sý wet! (Terloops, die opinie van Die Huisgenoot of Oprah Winfrey gaan nie tel nie!) God gaan mense tot verantwoording roep. Mense sal moet verduidelik. Hierdie waarheid vind post-moderne mense afstootlik, want ons redeneer mos : “Ek kan maak soos ek wil. Daar is nie reg en verkeerd nie, elkeen moet vir homself besluit.” Nee, die Bybel leer anders. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (Romeine 2:16) 

Die mens staan verantwoordelik voor God, want God is ons Maker. 

Of mense in God glo of nie- elke mens gaan verantwoording doen voor God van sy lewe hier op aarde. (Sien Openbaring 20:11-21)

Hierdie naderende oordeel op God se kalender is nie bangmaak stories nie. Die bewys dat God dit regtig gaan doen is die opstanding van Jesus uit die dood. Deur die opstanding het God onteenseglik onomstootlik bewys dat Jesus wel die Seun van God is. 

God gaan die wêreld oordeel. Deur ‘n Man. Jesus Christus. Daar’s baie verkeerde opvattings oor Jesus. Jesus is nie ‘n lewensafrigter of leefstylkonsultant om van ons suksesvolle en gemaklike mense te maak nie. Hy is ‘n Redder van sonde. ‘n Genadige Redder! Maar as Jesus weer kom, kom Hy oordeel. Dan is die genadetyd verby. Nou is Hy nog hier as die Redder van sondaars, maar as Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter!

Wat ‘n geweldige boodskap van die apostel Paulus. So baie- selfs kerkmense glo nie hierdie boodskap van oordeel en bekering nie. Dis al afleiding wat mens kan maak, as mense houtgerus voortleef en op hulle ou paaie van sonde en onverskilligheid volhard. As daar vir als tyd is behalwe vir God se Woord…

Hierdie gedeelte is so belangrik as ons weer wil besef waaroor die eintlike boodskap van die Bybel gaan. Soos ons gesien het gaan Paulus baie slim, ordentlik en diplomaties te werk met sy gehoor. Maar hy bly eerlik. Hy praat oor dit wat waar en relevant is, oor die mens se basiese behoefte. Die noodsaak om betyds vrede met God te vind. Hy vertel NIE vir die Atheners hoe hulle suksesvolle, welaf en gesonde lewens kan kry nie. Nee, hy vertel hulle eerlik van God se naderende oordeel en hoe hulle gered kan word van daardie oordeel! Onverskrokke bring Paulus sy boodskap van waarheid aan die heidense en kritiese Atheners! 

Wat sou die reaksie wees? “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan.‘n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.” (32-34) 

Die waarheidsevangelie bring altyd skeiding. Sommige verwerp dit en lag daaroor**, ander glo. Hier gebeur dit ook weer.

Die Bybelse metode van evangelie verkondiging sluit ook die waarskuwing oor die naderende oordeel in, as ons dit verswyg is ons oneerlik… Moenie die jaar ingaan as ‘n onbekeerde nie. Dit sou dwaas wees! Sorg dat jy die Man wat gaan oordeel, Jesus, ken, dan is jy veilig! AMEN!

*Sien hoe Johannes die Doper bekering baie prakties verduidelik. (Lukas 3:7-14)

**Uit hierdie gemengde reaksie is dit duidelik dat baie mense destyds ook nie in Jesus se opstanding kon glo nie. Geleerdes wat wil maak of geloof in die opstanding sommer net iets is wat algemeen in destyds se “primitiewe” kultuur was, maar slegs in ons tyd nie meer geglo kan word nie, praat dus nie die waarheid nie. Vir die ongelowiges van destyds was die opstanding ook iets belaglik. Om dieper op die sekerheid van die opstanding in te gaan kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE

Donderdag 04 Januarie 2018

MY PLANNE WERK NIE UIT NIE...

WAT NOU? 



AS GOD ANDERS BESLUIT, KAN EK TEVREDE WEES DAT HY WEET WAT HY DOEN!

Ons kry soms van die kosbaarste boodskappe sommer so uit minder opvallende gedeeltes van die Bybel. Hier aan die einde van die beroemde Romeine brief nadat Paulus klaar die groot teologiese waarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid uitgelê het , skryf hy oor sy reisplanne. (Sien ROMEINE 15:23-33) En juis hier as ons die hele konteks van die Nuwe Testament in ag neem kry ons ‘n baie belangrike en troosvolle boodskap!

Paulus vertel aan die gemeente in Rome van sy planne en begeerte om na Spanje* te reis. 

“As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.” (Romeine 1:28)

Dit sou beteken dat hy deur Rome moes reis en dan sou hy ook uiteindelik die geleentheid kry om die kerk daar te besoek. Heel moontlik was sy gedagte ook dat Rome dan sommer as basis kon dien vir sy verdere uitreik na die weste. Voor dit was daar egter eers ‘n baie ‘n belangrike taak wat hy moes afhandel. Hy moes ‘n kollekte van die heiden Christen gemeentes wat hy ingesamel het afbring na die Joodse Christene in Jerusalem. Dit was ‘n barmhartigheidstaak en Paulus het dit as baie belangrik beskou en hy het dit dan ook gedoen… Dit het heel waarskynlik ook vir Paulus om meer as bloot liefdadigheid gegaan, dit was ‘n handeling wat die diepgaande eenheid van die kerk sigbaar sou demonstreer – die feit dat God se kerk, die ware Israel uit gelowiges van beide Joodse en heiden afkoms bestaan. 

Sommige sien in hierdie daad van Paulus die simboliese vervulling van ‘n profetiese teksgedeelte soos Jesaja 66:20. “Hulle (die heidene) sal al julle volksgenote uit al die nasies as ‘n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens, op drastoele, op muile en op kamele. Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe, na Jerusalem toe, sê die Here. Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers in rein skottels na die huis van die Here toe bring.” 

Die heidennasies se bydrae is ‘n simboliese verteenwoordiging van hulleself as offer aan God. Hierdie offer afkomstig van heiden christene sou ook ‘n bevestiging van Paulus se apostelskap wees, spesifiek van hom as apostel wat geroep was na die heidennasies. Hoe dit ook al sy, hierdie reis was vir Paulus van uiterste belang…

God besluit toe anders...

Die volle verhaal van Paulus se reis na Jerusalem word in Handelinge vertel. In Jerusalem het daar egter dramatiese verwikkelinge gekom. Paulus is gearresteer. Handelinge vertel al hierdie gebeure in detail – hoe Paulus voor die Joodse raad en daarna voor goewerneur Feliks, en daarna voor sy opvolger Festus en ook voor koning Agrippa verskyn en getuig het. So het meer as twee jaar verbygegaan. (Hand 24:27) Toe het Paulus hom einde ten laaste op die keiser beroep en daar is besluit dat hy na Rome gestuur moet word om voor die keiser te verskyn. En eers na ‘n baie lang en gevaarlike seereis, wat ‘n skipbreuk op die eiland Malta ingesluit het, het Paulus in Rome aangekom. Hy bereik Rome ja, maar nie as ‘n reisende sendeling op pad na Spanje nie, maar as ‘n gevangene van die keiser! 

Die mens wik, maar God beskik! Ja, God bereik sy doel dikwels met ‘n lang en moeisame ompad en nie sommer met maklike kortpaaie nie!

Het die verandering van planne vir Paulus ondergekry? Het hy tou opgegooi? Het hy vertroue in God se beskerming verloor? Nee! Hoekom nie? Hy het ‘n duidelike doel gehad, wat groter was as sy eie ambisie en begeertes. Reeds op reis na Jerusalem het dit begin duidelik word dat vervolging daar op hom wag in Jerusalem. 

Ons lees daarvan in sy afskeidswoorde aan die ouderlinge van Efese. 

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.
Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:22-24.) 



Hoe kon Paulus ten spyte van terugslae en teleurstellings met BLYDSKAP volhard? Jy sien, Paulus se reisplanne en toekomsvisie het nooit oor sy eie eer of eie plesier of eie avontuurlus gegaan nie. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid aan die opdrag en roeping wat die Here hom gegee het. En toe die Here dus sy reisplanne wysig en bepaal dat dit lyding en tronkstraf moet insluit het hy met blydskap daarby ingeval! Mens sien hierdie selfde gesindheid van oorgawe aan God se besluite en vergenoegdheid in alle omstandighede ook baie treffend in die Filippense brief. Daarin verklaar hy : “Of ek lewe en sterwe maak nie saak nie, solank ek net Christus verheerlik!” (Filippense 1:20,21) 

PRAKTIESE OPMERKINGS: 

  • Ons planne werk nie altyd uit nie, selfs al is ons getroue kinders van die Here, selfs al het ons die beste bedoelings, selfs al bid ons baie oor die planne. Ons moet dus nie moed verloor as als nie verloop soos ons dit voorsien het nie. Dit beteken nie die Here het ons afgeskryf nie. Ons moet net nooit ons passie vir sy eer en sy evangelie verloor nie. Dis wat tel!
  • God is soewerein, sy planne werk altyd uit en Hy bereik altyd sy doel, al is dit op ‘n ander manier as wat ons sou wens of verwag! Niks en niemand kan God keer om sy ewige doelwitte te gebruik nie.
  • Ons moet ons blymoedig onderwerp aan God se planne al behels dit ‘n ander opsie as wat ons vir onsself sou kies. Jy wou dalk graag ‘n reisende sendeling word, maar God het beskik dat jy ‘n siek familielid moet versorg of na jou klein kindertjies by die huis omsien. Of andersom, jy wou dalk graag ‘n ma van klein kindertjies wees, maar nou het God beskik dat jy enkellopend moet wees sodat jy vry is om ander mense te bereik. Jy wil dalk nou iets groots vir die Here doen,maar HY plaas jou eerste deur ‘n toets van lyding, siekte of opleiding. Jy het dalk beplan om die wêreld vol reis vir die evangelie, maar helaas nou is jy op ‘n siekbed... 
Wees geduldig, God het Sy tyd en Sy manier! 

Onthou : Paulus se belofte in Romeine 15:29** het waar geword, maar op ‘n ander manier as wat hy beplan het of seker graag sou wou sien... En beslis op ‘n ander datum as wat hy oorspronklik voorsien en gedink het. Hou dit ook in gedagte as jou planne vir 2018 ook nie altyd gaan uitwerk soos jy dit wou gehad het nie.

Die besondere verhaal van ds. A.A. Louw die pioniersendeling van Masjonaland (Zimbabwe/Rhodesië) is ‘n baie bemoedigende bevestiging van hierdie waarheid dat God SY TYD en SY PLAN het wat die beste is! (Kliek LOUW)


Andrew Louw en sy vrou Cinie

*Het Paulus ooit toe by Spanje uitgekom? Daar is interessante inligting wat moontlik daarop kan dui soos ‘n verwysing van Clemens in die eerste eeu en ook in die Muratoriese kanon. Daar is egter geen duidelike bewyse nie. Sien Morris, Epistle to the Romans, p518 voetnota 119.

** “Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.” Romeine 15:29

Maandag 01 Januarie 2018

‘N NUWE TOEKOMS IN 2018!

- Die sleutel is vertroue op die Woord.

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Ons lees van hierdie gebeurtenis in LUKAS 5:1-11. Petrus moes baie mismoedig gewees het, maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se Woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal. Reg aan die begin hoor ons dat die skare gretig vorentoe beur om God se Woord te hoor. “Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,” (1) 

PERSOONLIKE KEUSE OM DIE WOORD TE GEHOORSAAM

Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) "Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang." Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit! "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

DIE WONDERWERK IN PETRUS SE HART

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. Daar gebeur ‘n groter wonder in sy hart as in die skuit. "Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens."(8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want eintlik dink elke mens ek is goed genoeg of darem ten minste beter as ander mense. Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

DIE WOORD BRING TROOS EN HOOP

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop... En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (dank maar weer aan die geskiedenis van Abram).

Hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons...

Miskien was 2017 dalk vol mislukkings... veral dalk op geestelike gebied... Onthou net, nie jou mislukkings nie en ook nie jou suksesse nie, maar vertroue op die Woord is bepalend vir jou toekoms. Vertroue op die Woord gaan bepaal of jy die roeping wat die Here vir jou in 2018 het gaan volvoer. Vertroue op die Woord gaan jou ewigheidstoekoms bepaal.

2018 lê voor ons. Ons weet nie wat wag nie, maar of ons dit maklik of moeilik gaan hê, of ons gaan lewe of sterwe, net een ding maak saak : Vertroue op God se Woord met ander woorde op God se beloftes, die beloftes wat Hy in Jesus Christus aan ons maak!

Mag 2018 vir jou die jaar van die Woord wees!


Goeie wense van ons hier op Tsumeb!

Donderdag 21 Desember 2017

Nie Ikabod nie,

maar Immanuel!



Name speel ‘n baie belangrike rol in die Bybelse geskiedenis en boodskap en hier tydens die Kersgety word dit weer pragtig onderstreep. Soveel so dat ons die hele boodskap van Kersfees (Jesus se vleeswording) in een naam kan opsom : IMMANUEL!

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (Matteus 1:23)


Kom ons gaan eers ver terug in die geskiedenis, eeue voor Jesus se geboorte…‘n Sterwende vrou wat so pas geboorte geskenk het, gee aan haar seuntjie ‘n buitengewoon dramatiese naam : Ikabod. Ons ken die agtergrond… Weens die goddeloosheid van Eli se seuns het God sy oordele oor Israel gebring en hulle verloor teen die Filistyne in ‘n geveg. Toe dink die volk Israel hulle kan God dwing om hulle in die oorlog te help en hulle vat die verbondsark na die slagveld. Hulle het gedink hulle kon God manipuleer. Dit misluk en lei tot ‘n verdere vernietigende neerlaag en ramp vir Israel. Dis as’t ware ‘n donker uur van Godsverlatenheid en oordeel. Israel se geskiedenis is op ‘n laagtepunt van hopeloosheid en ellende. ‘n Boodskapper kom toe na Eli met die vreeslike nuus van Israel se nederlaag op die slagveld, die dood van Eli se seuns (een van hulle was die barende vrou se man) en die ergste van als - dat die verbondsark self in die hande van die Filistyne geval het… Ons lees hiervan in die hartseer geskiedenis van 1 Samuel 4:17-22. Te midde van hierdie smart en ellende noem die jong ma haar seuntjie, “Ikabod.” Dit beteken : ”Waar is die eer?” Dis ‘n uitroep van wanhoop, van Godverlatenheid, van neerlaag en mislukking. Dit weerspieël ‘n gevoel dat God ver weg is, dat God nie meer by Sy mense is nie, maar hulle afgeskryf het!

In Matteus lees ons weer van die geboorte van ‘n seuntjie : Immanuel. Ook hierdie naam is vol betekenis. Die agtergrond is die voorspelling deur die profeet Jesaja. (Jesaja 7:14) God het sy heerlike belofte van redding en uitkoms waar gemaak!

Ikabod, Immanuel - daar is geen groter kontras moontlik, as die kontras tussen hierdie twee name en waarvoor dit staan nie!

As ons na die wêreld rondom ons kyk, as ons eerlik is oor wat in ons eie lewens en ons eie huisgesinne gebeur wil ons ook miskien uitroep : “Ikabod!”– alles is hopeloos en God is ver! Miskien is jy dalk op hierdie einste oomblik, by Ikabod in jou lewe?

Maar daar is ‘n groter werklikheid. Die evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is die waarheid van Immanuel – God is by ons, met ons!

Die twee name is as’t ware twee vensters van waaruit ons kan kyk… Beide vensters is baie realisties en hou rekening met ‘n stukkende wêreld van sonde en oordeel. Maar daar is 'n reuse verskil:

Ikabod is die venster van wanhoop, moedeloosheid, uitsigloosheid, oordeel....

Die ander venster is die venster van Immanuel.  Dis die hoopbringende venster van die evangelie, wat die lig van God se genade binnelaat tot in die donkerste dieptes van verlorenheid. God kom na ons juis in ‘n stukkende wêreld. Die skrywer van die Matteus evangelie was deeglik bewus van die gebroke werklikheid van hierdie wêreld. (Kyk maar sy geslagsregister wat opmerklik vroue soos Tamar, Ragab, Rut en Uria se vrou insluit...) Stukkend, sondig, gebroke... Maar wat wonderlik is, in hierdie bose en gebroke wêreld is God by ons. God kom staan in ons skoene. Hy vereenselwig Homself ten volle met die mens, soveel so dat Hyself mens word. Nie ‘n super mens of super held nie, maar ‘n gewone mens. Hy het self nie sonde nie, maar Hy kom woon tussen sondaars, Hy identifiseer met sondaars. Hy word versoek soos sondaars, word honger, word moeg en ly en sterwe soos gewone sondige mense. Ja, Hy weet dis ‘n sondige wêreld en Hy ken en verstaan ons hulpeloosheid en verslawing en daarom is daar ook ‘n ander naam wat vol betekenis is, Jesus! Verlosser! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) Hy word juis ‘n mens van vlees en bloed om die doodstraf op Golgota in ons plek te ondergaan sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word.

Ikabod word met Kersfees (dink : evangelie) uitgekanselleer en vervang deur Immanuel! 

Ons hoef nie langer in wanhoop en ellende vas te haak by Ikabod nie, maar ons kan glo in Immanuel en ons elkeen kan die Naam van Jesus aanroep met die heerlike wete dat God met ons is en dat die belofte geld : “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!” (Romeine 10:13)

Stukkende mens in ‘n stukkende wêreld, dis vandag dalk vir jou tyd om van Ikabod aan te beweeg na Immanuel!



Die kenner van die Hai//om taal en kultuur, oom Reinhard Friederich vertel ons hoe die Boesmans hierdie plant se gif aanwend.


Boesmangif (Adenium boehmianum)


Tambotiewoud

Woensdag 20 Desember 2017

HEMEL ÉN AARDE

- hoe pas hemel en aarde by ons lewens in, hier en nou?


“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!" (Lukas 2:14!) 

Hemel én aarde! Ons leef dikwels in ‘n spanning tussen hemel en aarde. Ons sukkel om aan elkeen die regte plek en balans in ons lewens te gee. Ons weet mos - die kind van God is ‘n burger van die hemel*, maar ons leef tog nou op hierdie oomblik op aarde. Dit wek vrae by ons op… Hoe belangrik is die aarde en aardse lewe? Is dit hoegenaamd belangrik en die moeite werd, dis immers relatief bitterlik kort? Mag ‘n kind van God aardse dinge soos lekker eet, wetenskap, huwelik, beroep... geniet? Maak ons aardse lewe sin of is dit maar net ‘n voorbereiding vir die hemel? Wat beteken dit om met ‘n hemelse gerigtheid te leef? Beteken dit om net heeldag te bid, Bybel te lees en aan die hemel te dink? En moet mens nou skuldig voel as jy ook met ander dinge besig is?

Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks! 

Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! 

Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie!

Die geboorte van Jesus, Sy menswording, onderstreep juis die belangrikheid van menswees. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens. Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba! Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog boonop wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling. Maar Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Hy bring Goddelike hoop in ‘n donker situasie. Hy doen ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens-mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy sweet in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig ook die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader.

Miskien dink jy, “dis Jesus ja, Hy is immers uniek, maar wat is die benadering van die apostels en veral Paulus?" Het hulle nie dalk ‘n negatiewe siening oor ons aardse lewe nie? Kom ons kyk na Kolossense 3:1-2. 

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,...”

So op die klank af kan ons maklik ‘n verkeerde afleiding van hierdie opdrag van Paulus maak. Maar kom ons kyk mooi wat hier staan. Dit begin met “aangesien”. Paulus wil sê aangesien julle reeds vrygespreek is, die ou sondige mens saam met Christus gesterwe het, julle as nuwe mense in Christus opgestaan het met ander woorde, aangesien julle ‘n nuwe identiteit het, leef nou nuut! Bedink die dinge daarbo! Leef volgens julle ware identiteit. Wat behels dit? Los julle werk en verantwoordelikhede? Droom oor goue strate? Sing heeldag koor? Nee, hy beveel ons om heilig te leef. Om te los wat sleg is en te beoefen wat reg is in God se oë. Dit gaan daaroor om hemelse standaarde en beginsels uit te leef in die konkrete harde aardse werklikheid. En dan gee hy presiese opdragte oor hoe ons die aardse verhoudings waarin ons leef moet hanteer…(3:18-4:1) Ons het dus ‘n duidelike sinvolle aardse roeping – om in gemeenskap met Jesus, onder leiding van Sy Gees in alle situasies te leef! Dit bring eer aan Hom!

Dis die punt - Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of kloosterlinge nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n onvolmaakte aardse bestaan. Nuwe mans, vroue, ouers, kinders, werkgewers en werknemers wat nou hier op aarde anders moet leef (tussen sondige mense) terwyl ons met ons gewone pligte en vreugdes aangaan. (Vgl.1 Kor. 10:31)

Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil. En dis eers dan wat ons regtig mens is volgens God se oorspronklike bedoeling! Vat nou maar twee omstrede sake : kos en seks! Gaan lees wat Paulus hieroor in 1 Timoteus 4:1-5 skryf! (Jy kan dalk verbaas wees!)  Die hongerdrang en die geslagsdrang is nie boos omdat dit aards en fisiek van aard is nie. Dis deur God in ons ingeskape, dis deel van menswees. Om dit te ontken is om die leringe van duiwels aan te hang. Dis demonies. Wanneer ons vrywillig daarvan afstand doen (soos wanner 'n mens vas) is dit om ons verlange na God te toon, maar dis nie ‘n wet nie. Nee, die Bybel se boodskap is nie om ons God geskape drange of behoeftes te ontken nie, maar om dit met danksegging en in gehoorsaamheid aan God se voorskrifte te geniet.

HEMEL OF AARDE?

Nee, altwee, beide, gelyktydig. Ons moet hemels leef op hierdie aarde solank ons hier is! Ons kan juis nou reeds op aarde binne die gebrokenheid en onvolmaaktheid voluit leef as hemelse burgers omdat ons self nie eers die dood hoef te vrees nie. En terloops, laat ons nooit vergeet nie, ons eindbestemming is die nuwe AARDE. Heerlik anders nuut, vry van sonde en stryd, maar nog steeds aarde! Want die aarde is ook God se AARDE en met hierdie skepping en ons as Sy skepsele het Hy ‘n heerlike doel! Toe Jesus gekom het Hy die hemel aarde toe bring. Op hierdie aarde hier en nou moet ons volgens hemelse, Goddelike beginsels lewe totdat die koninkryk in volmaaktheid aanbreek by sy wederkoms. Daarom is ons wat Hom navolg, eintlik hemelse aardlinge, maar ook aardse hemelinge!**

Gaan leef nou voluit 'n gehoorsaamheidslewe, ook in die feestyd!

*“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” (Filippense 3:20,21)

** Johan Celliers in sy boek, “Die Genade van Gehoorsaamheid.”


Dinsdag 12 Desember 2017

DIAMANTE IN 'N GEROESTE BLIK

EVANGELIESE REALISME EN HOOP

te midde van ‘n gebroke en deurmekaar wêreld!



Hier by die laaste stuiptrekkings van die jaar is dit dalk goed dat ons bietjie voorraad opname maak. Waar bevind ons onsself as kinders van God binne in die konteks van soveel sonde, chaos, verwarring en grootskaalse ellende. Hoe moet ons onsself beskou, waar pas ons in en waarna toe is ons op pad? As kinders van God kyk ons met nederige DANKBAARHEID terug na die verlede en met nugtere REALISME na vandag en met vreugdevolle HOOP na die toekoms. (Altans dit behoort so te wees as ons die Skrif glo) Dis wat die apostel Paulus ook in die besondere ryk hoofstukke 4 en 5 van die 2 Korintiërs brief doen. Die konteks is: Hy verdedig sy apostoliese amp teenoor valse leraars wat dit onder verdenking geplaas het. Hy doen persoonlik verantwoording van wie en wat hy is en waar hy homself bevind. Ons is nou nie apostels nie, tog is die sake wat hy hier noem honderd persent ook op elke kind van God van toepassing. 

VERLEDE. 

Paulus kyk na die verlede, na die genadewerk wat God in hom gedoen het. Hy maak ‘n heerlike en radikale stelling wat waar is van elke wedergeborene. “Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis," het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” 2 Korintiërs 4:5,6 Die wedergeboorte is so ‘n dramatiese gebeurtenis soortgelyk aan die skepping. Dis bonatuurlik, dis menslik onbegryplik en onverduidelikbaar. Ons het baie meer as fisiese lig ontvang, ons is verlig om die heerlikheid van God raak te sien deur Jesus Christus. Dis trouens die groot nood van die mensdom – die mens sien nie die heerlikheid van God raak nie. Daarom kan die sondaar mens God nie waardeer, aanbid, eer en geniet nie! (En onthou dis juis waarvoor ons geskep en ontwerp is!) Die teks by die ingangsportaal van ons kerkgebou verwoord hierdie diepste behoefte van die mens, waar Moses uitroep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eksodus 33:18) Die natuurlike mens is egter geestelik blind en besef nie hierdie nood van sy hart nie. Ja, hy is so blind dat hy nie eers weet hy is blind nie! Daarom hardloop mense agter valse waardes en valse genot aan, wat teleurstel.

Paulus kon egter getuig van hierdie wonderwerk wat hom in staat gestel het (hy wat die kerk wou uitroei) om die heerlikheid van God raak te sien en te bewonder in die aangesig van Jesus! Jy wat kind van God is, kan ook maar net saam bly wees dat God so ‘n genade wonder aan jou bewys het!

HEDE. 

Wat is die realistiese werklikheid die kind van God vandag, hier nou? ‘n Realistiese voorraadopname? Wie is ons, wat het ons? Ons kry die antwoord op ‘n treffende wyse gestel in 2 Korintiërs 4:7 “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” Kleipotte! Hierdie is ‘n uiters veelseggende en ryk beeld. Ons as mense is maar swak – sielkundig, emosioneel, fisies – so broos en breekbaar soos kleipotte, erdekruike. Maar dit maak nie saak nie! Wat tel is die skat binne in ons! Wat is dit? Dis waarvan die vorige vers gepraat het. Hierdie skat is die kennis van die heerlikheid van God wat ons deur die evangelie van Jesus ontvang het. O, ons kon besef hoe wonderlik en aanbiddingswaardig God is, toe ons raaksien, Jesus is die Beeld van die Onsienlike God! (Hebreërs 1:1-3) Hierdie openbaring ‘n kosbare onvernietigbare skat. Niks kan dit verander of wegneem nie. Ons swakheid en broosheid verander niks aan die waarde van die skat nie! Dis die inhoud wat tel nie die houer nie. Die houer kan en sal vergaan, maar die kosbaarheid van die skat bly onaangetas. Dink aan iemand wat diamante in ‘n ou koffieblik versteek. Die blik sal roes en uiteindelik vergaan, maar die diamante se waarde verhoog net! Kind van God, hierdie is so ‘n oneindig belangrike perspektief – moenie fokus op wie jy is nie, fokus op en waardeer die skat binne in jou!

TOEKOMS. 

Dit wat waar is van die verlede en die hede, open ook ‘n heerlike uitsig op die toekoms. Ten diepste is ons natuurlik toekomsmense wat weet dat hierdie stukkende gebroke wêreld nie ons finale tuiste is nie. Hierdie toekomsvisie word treffend gestel in 2 Korintiërs 4:16-5:1.

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

Die werk wat God in ons gedoen het deur Jesus sal standhou tot in alle ewigheid. Die lig wat in ons harte geskyn het, sal bly skyn tot in alle ewigheid. Die duisternis sal dit nie oorweldig nie! Die skat in ons, sal onverganklik bly tot in alle ewigheid. Omdat God ons genadig gewees het, het ons ‘n vaste gebou in die hemel. Dis ‘n permanente onwankelbare erfenis en koninkryk. ‘n Gebou is die teenoorgestelde van ‘n tent. ‘n Gebou is permanent en veilig, ‘n tent is maar tydelik en onvas. Hierdie feite verander ons manier van kyk na die werklikheid rondom ons, dit verander ons lewensbeskouing. Ons oog is nie gerig op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare skat en onbeskryflik heerlike toekoms wat dit meebring! Ons kyk verder en dieper as die standaard wêreldling! Ons fokus dus nie op ons moeilike omstandighede van swakker wordende gesondheid of ellendes en wêreldprobleme nie, of selfs na ons sonde gebrokenheid nie, maar ons kyk met ‘n geloofsoog na die vervulling van God se ewigheidsbeloftes. Die kind van God is nooit ‘n gevangene van sy omstandighede nie, omdat ons deur die geloof die onsigbare werklikheid sien wat God beloof het. En sy beloftes weeg swaarder as enigiets...

Wat is nou die praktiese gevolg NOU van hierdie heerlike perspektief op die verlede hede en toekoms? 2 Korintiërs 5:6-10 vertel ons.

"Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.
Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.
Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.
Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad."

Kom ons konsentreer net op drie sake:

  • Ons lewe nou en vandag is baie belangrik. Ons is op aarde en dis nie toevallig nie. Onthou die engele se boodskap : “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde!” Ons moet volhard tot die einde toe. Ons moet vasbyt in die wedloop van die geloof, want ons sal beloon word vir dit wat ons nou doen! (10)
  • Ons is en mag en moet positief wees. “Ons is vol moed” (6,8) Vgl. ook 4:1. Ons is nie blind vir die ellende van die wêreld en ook nie vir ons eie swakheid nie, maar hierdie heerlike feite rondom die skat in ons en erfenis wat wag kan nie anders as om ons positief te maak nie!
  • Omdat ons soveel het om dankbaar oor te wees het ons net een wens en een begeerte en dis om te lewe soos Jesus wil hê! Die kind van God het altyd (hetsy kind, jongmens, grootmens, bejaarde) ‘n duidelike doel om na te streef : Leef ‘n lewe wat God behaag! Leef dus ‘n lewe wat in ooreenstemming is met Sy Woord. Laat jou begeertes, gewoontes, waardes, doelwitte...in lyn met die Woord van God! Saamgevat : Wees lief vir God en wees lief vir jou naaste uit dankbaarheid wat Jesus Christus vir jou gedoen het. Uit dankbaarheid vir die wonderwerk van verligting wat jy onverdiend beleef het!

Maandag 11 Desember 2017

TRUMP EN JERUSALEM

- moet Christene hande klap?



Trump se besluit oor Jerusalem het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Groot toejuiging van sy kiesers en vanuit sekere elemente in Israel self. Die res van die wêreld en die Palestyne en Arabiere in die algemeen voel natuurlik baie anders oor die saak. Nou, almal wat iets van Amerikaanse politiek verstaan sal besef, Trump se aankondiging dat die VSA amptelik Jerusalem as die staat Israel se hoofstad erken, weinig met oortuiging te make het, maar wel baie met persoonlike populariteit en om die guns van sy groot Joodse casino baas donateur, Sheldon Adelson te behou. En so terloops : Trump se aankondiging is ook nie so dramaties en dapper soos baie van sy ondersteuners graag sou wou glo nie. In sy aankondiging oor die erkenning van Jerusalem was daar ‘n opvallende weglating – Hy het nie die Israelse terminologie oor Jerusalem gebruik nie. Israel verwys na Jerusalem as die “ewige onverdeelde” hoofstad van Israel.* Trump het net na “Jerusalem” verwys en dus die deur oopgelaat dat die grense van Jerusalem nog steeds onderhandelbaar is.



Ek wil egter nie op hierdie fasette konsentreer nie, maar net vra wat die geestelike en Bybelse dimensie van hierdie besluit behels?


JERUSALEM SE BETEKENIS VIR ONS


Hoe belangrik is die stad Jerusalem, spesifiek vir ons as Christene? En as dit belangrik is, in watter sin? Is God op ‘n manier meer daar teenwoordig as op ander plekke? Maak die status van Jerusalem hoegenaamd nog saak vir ons? Behoort evangeliese Christene, Trump se besluit toe te juig?



Histories gesproke in die ontvouing van God se verlossingsplan het Jerusalem natuurlik ‘n sleutelrol gespeel. Dis die stad van Dawid, die setel van die tempel, die plek waar God besluit het om op ‘n besondere manier teenwoordig te wees! As geografiese plek waar ons Here Jesus gekruisig is, het Jerusalem vir ons natuurlik ‘n geskiedkundige belangrikheid. Maar het Jerusalem (en of dit nou amptelik as Israel se hoofstad erken word of nie), enige geestelike betekenis vir ons?

DRAMATIESE VERSKUIWING

Met die koms van Jesus het daar dramatiese verwikkelinge gekom in die rol van Jerusalem. Die geografiese Jerusalem het geen geestelike betekenis meer vir ons nie! Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put het dit vir altyd vir ons opgeklaar!

Die vrou het geredeneer : “Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem."

Jesus sê toe vir haar: "Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.

Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. (Johannes 4:20-23)

Ware aanbidding is gestel in Jesus Christus. Hy het immers die TEMPEL VAN GOD (kliek) vervang en by implikasie daardeur die belangrikheid van die stad Jerusalem gerelativeer! 

Ons moenie vergeet nie, Jerusalem het Jesus verwerp en Jesus het die oordeel oor hierdie stad en die tempel uitgespreek. 

"Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Kyk, nou word julle stad aan julleself oorgelaat. Maar Ek sê vir julle: Julle sal My sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!" (Lukas 13:34,35) 

Later spreek Hy ‘n nog duideliker oordeel uit oor Jerusalem!

"Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is." (Lukas 21:24)

En die geskiedenis leer ons dat die voorspelde oordele wel oor Jerusalem voltrek is...

JERUSALEM SE TOEKOMS?

Die groot vraag is natuurlik nou wat bedoel word as Jesus verwys na die vertrapping van Jerusalem wat ook tot ‘n einde gaan kom? Voorspel dit ‘n glorieryke aardse bedeling vir die geografiese stad Jerusalem? Dis natuurlik hoe die chiliasme, wat 'n duisendjarige aardse koninkryk van Jesus verwag, dit verstaan.**

In die breë Bybelse heilsgeskiedenis, dink ek moet ons nie hierdie uitspraak van Jesus verstaan as ‘n wonderlike toekoms vir die huidige stad Jerusalem nie. Ons moet Skrif met Skrif vergelyk. ‘n Uitstaande belangrike hoofstuk in die Ou Testament wat handel oor die toekoms van Jerusalem is Jesaja 60. (Lees dit gerus, maar onthou dit is geskryf in konkrete Ou Testamentiese taal, segswyse en denkraamwerk.) ‘n Baie belangrike insig word verkry as ons hierdie hoofstuk met Openbaring se beskrywing van die Nuwe Jerusalem (die Bruid van Christus) vergelyk. Die ooreenkomste is verstommend treffend!

“Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God.

Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jesaja 60:19,20)

Vergelyk dit nou met Openbaring.

“Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” (Openbaring 21:23)

“Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.” (Openbaring 22:5)

Jesaja beskryf die Nuwe Jerusalem in profetiese taal! 

Dit word bevestig deur die Nuwe Testament self. Die klem in die Nuwe Testament verskuif van die fisiese stad Jerusalem na die Nuwe Jerusalem. Die teologiese belangrikheid van die aardse stad Jerusalem vind vervulling in die waarheid van die Nuwe Jerusalem! (Kliek op Nuwe Jerusalem) Trouens Openbaring verwys eintlik baie negatief na die aardse Jerusalem as die plek waar ons Here gekruisig is!

“Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.” (Openbaring 11:8)

Ook Paulus heg geen spesiale geestelike betekenis aan die geografiese Jerusalem nie. Trouens om die onversoenbaarheid tussen redding deur die wet en redding deur geloof uit te beeld verwys hy baie sterk negatief na die aardse Jerusalem. En dan maak hy terloops ‘n positiewe verwysing na die hemelse Jerusalem! “Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ‘n beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar die hemelse Jerusalem is vry, en dit is ons moeder.” (Galasiërs 4:25,26)

Donald Trump se besluit (ongeag die applous van baie Christene) is eintlik baie teenproduktief vir die Christelike evangelie se vooruitgang veral in die Moslem wêreld. Dit plaas Arabiese Christene in ‘n baie netelige posisie. (Dink ook sommer, wie is ons naaste broers en susters in die geloof - Arabiese Christene wat in Jesus glo of Sioniste wat Jesus verwerp?)  So het die hoof van Egipte se Koptiese Kerk, Pous Tawadros die Tweede reeds gesê hy weier om die Amerikaanse adjunkpresident, Mike Pence te ontmoet wanneer hy Kairo later die maand besoek. Dis ‘n verstaanbare reaksie. Trump sal dit egter nie verstaan nie. Natuurlik dis te veel verwag van hom wat nie eens die woord vergifnis verstaan nie om diepgaande teologiese insig te toon. Van evangeliese Christene verwag mens egter meer insig en sensitiwiteit... Kom ons lees meer die Bybel en kyk minder TBN...

*Hy het wel dié term in sy verkiesingsbeloftes gebruik.

** Meer spesifiek, pre-millenialisme.
Diana Butler Brass som dit baie goed op:
I doubt that President Trump could explain dispensational pre-millennialism. I doubt he knows the term. But his evangelical supporters know it. Some of his advisers are probably whispering these prophecies in his ears. Trump might not really care how they interpret the Bible, but he cares that white evangelicals continue to stand with him. Moving the embassy to Jerusalem is one way to affirm his commitment to these evangelicals -- reminding them that he, Donald J. Trump, is pressing biblical history forward to its conclusion and that he is God's man in the unfolding of these last days.

Vrydag 01 Desember 2017

GOD SE WISKUNDE

- die onlogiese rykdom van genade wat ons verstand te bowe gaan! 



Wiskunde is nie almal se sterk punt nie. Dit laat baie van ons struikel, om dit nou maar sagkens te stel. Maar weet jy, God se wiskunde, God se genadewiskunde* soos spesifiek Jesus dit vir ons leer, is vir die verdorwe prestasie georiënteerde mens nog moeiliker en nog meer onlogies as skoolwiskunde. Kom ons dink aan ‘n paar evangelie verhale wat die andersheid van God se wiskunde vir ons uitwys. Dis onlogies omdat dit genadewiskunde is, en genade is vir die menslike verstand en houdings onlogies en onaanvaarbaar. Maar dis juis God se onlogiese genade wat vir ons hoop gee.


Die gelykenis van die werkers in die wingerd. (Matteus 20) Die wat die hele dag gewerk het, het presies dieselfde loon gekry as die wat net ‘n uur voor tjailatyd begin werk het. Dit klink vir ons wiskundige gevoel so onregverdig. Maar dit wil sê : Genade is werklik genade, dit word nie verdien nie en kan nie bereken word nie. Almal het genade nodig. Moenie afgunstig wees as die Here vir iemand anders (soos vir jou) ook genade bewys nie!

Die arm weduwee wat die twee klein geldstukkies in die tempelskatkis ingegooi het. (Lukas 21) Jesus sê, sy het meer ingegooi as die ryk mense wat baie geld ingegooi het. God kyk anders as mense!

Maria wat nardusolie wat ‘n jaar se loon werd was op Jesus se voete uitgooi! (Johannes 12) Dit maak nie logies sin nie. Die geld kon seker baie beter gebruik gewees het. Maar Jesus keur dit goed. Liefde vir Jesus kan nie in geld bereken word nie. Die allesoortreffende waarde van Jesus maak alle ander dinge slegs relatief waardevol.

Ook in LUKAS 18:10-17 sien ons in twee verhale hoe God se wiskunde, hoe God se sienswyse en berekenings radikaal van die mens s’n verskil. 

'n Gelykenis. ‘n Vrome Fariseër wat al die verkeerde dinge vermy het en al die regte dinge gedoen het, word nie as ‘n regverdige deur God beskou nie. Skokkend, totaal teen die verwagting en menslike berekenings in! Dink net, hy het twee keer ‘n week gevas en ‘n volle tiende van sy inkomste vir die Here gegee! Ons sou seker juig as ons meer sulke lidmate gehad het. Maar nee, volgens Jesus gaan die sondaar wat niks gehad het om oor goed te voel nie, maar net een kort stotterende opregte gebed gebid het, daar weg as ‘n regverdige! God kyk anders, God bereken anders! Inderdaad soos on lees in die profeet Jesaja, juis in die konteks van God se ruim genadige uitnodiging : “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;” (Jesaja 55:8)

En dan die baie bekende voorbeeld van Jesus wat aandag en kosbare tyd aan die kindertjies wy. Veral in destyds se samelewing het kinders glad nie getel nie. Kinders kon vir Jesus van geen hulp wees en vir Hom geen aansien bring nie. Kinders, (Sulke lasposte!) kon eintlik maar net mens se kosbare tyd mors. Daarom probeer die dissipels Jesus beskerm en raas hulle met die mense wat hulle kindertjies na Jesus bring. Jesus kyk egter heel ander na die saak, sy berekening van wie waardevol is verskil totaal van die mens s’n... Jesus kyk met ‘n Koninkryksoog. Jesus bereken mense se waarde met ‘n ander soort wiskunde. Vandag nog verwerp mense Jesus se wiskunde en waardebepalings. Ons hoor hoe mense redeneer: Kindertjies kan nie glo nie, kan nie bekeer nie, daarom kan hulle nie ten volle deel wees van die kerk en die koninkryk nie... Wel, Jesus wat volgens Goddelike berekening en logika dink, oordeel anders... 

AARDSE EN HEMELSE WISKUNDE

Daar is ‘n reuse verskil tussen ons aardse wiskunde en God se logika. Vir aardse wiskunde het mens ‘n goeie verstand nodig, vir hemelse wiskunde het mens ‘n nuwe hart nodig. Aardse wiskunde gaan oor logiese prestasie, hemelse wiskunde gaan oor onlogiese genade.

As ons waarlik kinders van God en burgers van sy koninkryk is, dan sal ons wiskunde ook verander. Met ander woorde ons manier van kyk, bereken en oordeel! Kortom ons hele waardesisteem en lewensbeskouing. Ons sal op ‘n ander manier berekenings doen oor genade, geld, tyd, mense, moeite en vergifnis…

Genade is regtig genade en kan op geen manier verdien word nie. Regte genade bevry ons van vergelykings tref met mekaar, van jaloesie, want ek het darem meer gedoen as jy vir die Here en ek moet dus beter behandelinge en beter erkenning kry... Niemand kan deur selfs die geringste prestasie kwalifiseer vir genade nie - nee, ons "kwalifiseer" vir genade deur juis ons geestelike bankrotskap te erken en behoeftig soos die tollenaar in die gelykenis uit te roep : "O, God wees my sondaar genadig!" (Lukas 18:13)

Geld en besittings se waarde sal ons meet aan dit wat dit werd is vir die koninkryk en of ons Jesus daarmee kan dien. Dis nie ‘n maatstaf om sukses in hierdie lewe te meet of mense te klassifiseer nie. Ons sal dit nie meer beskou as sekuriteit nie, maar as ‘n gebruiksmiddel in die Koninkryk. Dis maar net 'n gawe van God wat dankbaar in sy diens gebruik moet word.

Tyd en die sin van die lewe se waarde sal ons bereken aan hoe ons daarmee God kan eer.

Ons sal na mense kyk met die oog van genade en nie uitreken hoeveel hulle ons skuld, wat ons uit hulle kan kry en hoeveel hulle vir ons werd is nie, maar hulle waardeer as beeldraers van God. Ja, in almal van ons is die beeld van God geskend weens die sonde, maar in sy kinders is Hy besig om dit te herstel sodat ons al meer soos Jesus lyk. Dis hoe ons mekaar veral binne die gemeente moet raaksien en waardeer ten spyte van soveel gebreke en gebrokenheid.

Inderdaad sal ook anders na klein kindertjies kyk! Ons sal hulle sien soos Jesus na hulle kyk... Kindertjies wat deel is van God se koninkryk en kerk. Ons moet hulle liefhê en oppas en ook besef hulle is in hulle eenvoud en eerlikheid rolmodelle vir ons.

KYK NUUT NA JESUS!

Ons sal veral met nuwe oë na Jesus kyk. Hy het Sy bloed vergiet en sy lewe prysgegee vir rebelse sondaars, vir sy vyande, vir ondankbare mense, vir grootmense, maar ook vir kindertjies, vir jou en vir my... Dit maak nie sin nie, maar onthou dis genade wiskunde. Sy offer is onberekenbaar groot en daarom sal ek as dit by dankbaarheid kom nie meer allerhande suinige menslike sommetjies maak nie. Jy ken daardie sommetjies – “ek het mos darem nou genoeg tyd, genoeg geld en genoeg moeite aan die koninkryk bestee, ek het nou genoeg vergewe, genoeg verdra, ek het darem nou genoeg kerk bygewoon vir die jaar ("dis immers mos vakansie" ...” Nee! Ek sal besef, Jesus het sy alles vir my gegee en ek kan Hom tot in ewigheid nooit genoeg dankbaar wees nie!

Die grootste voorbeelde van God se dramaties ander wiskunde vier ons tydens Kersfees en Paasfees. God maak Homself ‘n minus, Hy maak Homself swak, ‘n hulpelose baba... En dis nie al nie, Hy word nog ‘n verdere minus, ‘n sterwende gevangene en veroordeelde misdadiger aan ‘n houtkruis.... Dit alles met die doel om by ‘n plus uit te kom, om ons verlossing te bewerk en so eer aan Homself te bring, Hom aan wie alleen alle eer toekom! 

*Met erkenning aan Phillip Yancey – “Wat is so onbeskryflik groot aan Genade?” p65ev



Ken jy hierdie historiese geboutjie?