BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 06 April 2017

IN MOEILIKE TYE

- BLY STEEDS BY DIE BASIESE BEGINSELS!



Moeilike tye… dit kan seker baie dinge beteken. Vir verskillende mense verskillende dinge. Vervolging, swaarkry, finansiële druk, diefstal van jou eiendom, ervaring van onreg, gesondheidskrisisse, geestelike stryd…(baie mense in Suider Afrika koppel moeilike tye nou sekerlik aan Zuma se katastrofale besluite...) Hoe moet ons optree in sulke tye? Waarvoor moet ons pasop? Wat moet ons onthou?

Mens sou kon sê dat die brief aan die Hebreërs juis geskryf is vir Christene in moeilike tye. Daar was die groot gevaar van afvalligheid, van afdwaling ("wegdrywe" 2:1), van moedeloosheid... Daar was mense met "slap hande en lam knieë". Daar was ook vantevore reeds fisiese swaarkry. Sommiges is blykbaar van hulle goed beroof en dit lyk ook asof van hulle in die tronk gegooi is.

Die sentrale boodskap aan hierdie Christene was : 

Hou vas aan Jesus die volmaakte hoëpriester!

Jesus is God se finale openbaring aan die mens. (1:1) Jesus oortref die engele by verre in heerlikheid en majesteit. Hy is God! Jesus vervang al die offers, tempeldiens en hoëpriesters van die Ou Verbond. Hy het self die pad na God vir ons oopgemaak. Ons kan weet Hy het medelye met ons en ons kan dus met vrymoedigheid na God se genadetroon gaan. 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.” (Hebr 4:14-16) 

Jy wat aan Jesus behoort moet weet dat Hy ‘n volmaakte hoëpriester, Middelaar is wat vir ons toegang tree tot die troon van God bied. En dis ‘n genadetroon! Maak met vrymoedigheid gebruik van die geleentheid om jou hart voor Hom uit te stort en op die regte tyd sal jy gehelp word. Moenie tou opgooi nie, volhard, moenie eers dink aan omdraai nie, hou die oog op Jesus. Onthou Jesus moes ook eers deur lyding en swaarkry gaan voordat Hy sy beloning gekry het.

En onthou – juis in moeilike tye : 

Jesus het nog nooit verander nie! 

 “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (13:8) 



Jesus is volmaak en algenoegsaam. Dis die hooftema.

Hier aan die einde van die brief in hoofstuk 13 vind ons ‘n paar kort praktiese sake wat eintlik al die aspekte van ons lewe dek en wat juis baie sin maak in die konteks van moeilike tye. Dis waarop ons kortliks wil fokus *:

Beoefen broederliefde. (1) So kosbaar juis in moeilike tye. Dis ‘n opdrag wat ons nie moet vergeet nie. Pasop dat moeilike tye jou nie in ‘n dop van selfsug en selfbejammering laat kruip nie. Reik uit na ander deur broederliefde. Dis nie bloot ‘n gevoel nie, maar om ander prakties te help… “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees. Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Johannes 3:16-18) Daar is positiewe krag en genesing in broederliefde, nie net vir die wat die ontvangers is nie, maar juis ook vir diegene wat dit gee… toets dit maar!

Bewys gasvryheid. (2) In moeilike tye moet jy juis jou hart en huis oopmaak vir ander. Ook wat vreemdelinge betref. Die skrywer gee ‘n spesiale aanmoediging tot gasvryheid deur te verwys na Abram wat niksvermoedend engele ontvang het. Die bedoeling van die skrywer is natuurlik nie om te spekuleer of die persoon voor jou deur ‘n engel is of nie. Die punt wat hy maak is, is dat sommige van jou gaste ware boodskappers van God gaan wees wat groter seën vir jou gaan gee as wat hulle van jou ontvang!**

Toon opregte medelye met diegene wat swaarkry selfs ook die wat in die tronk gegooi is. (3) Hierdie lesers het reeds ervaring hiervan gehad. “Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ‘n besitting het wat beter en blywend is.” (10:32-4) Weereens in moeilike tye moet ons pasop vir ‘n selfsugtige beheptheid net met ons eie situasie, maar ons ook probeer indink in ander mense se omstandighede.

Betoon respek vir die heiligheid van die huwelik. (4) Moeilike tye plaas huwelike en sedes onder druk. Mense kan redeneer ons kan nou maar ons eie reëls maak. Hier word twee woorde gebruik naamlik pornous en moigous.*** Dit gaan oor meer as net owerspel of egbreuk maar oor die hele spektrum van ongeoorloofde seksuele verhoudings. Die erns word onderstreep deur die spesifieke vermelding dat die oordeel van God oor hierdie mense sal kom! Ook ander NT skrywers verwys hierna soos Paulus in 1 Tess 4:4-7. “Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe." 

Die media leer vir ons – “alles is maar reg”, die Woord leer dat God hierdie dinge straf!

Pasop vir gierigheid. (5,6) Hoe groter die nood, hoe groter is die gevaar vir gierigheid en vertroue op geld. (ironies) Paniek en selfsug neem so maklik oor! Hier vind ons ‘n heerlike belofte binne die raamwerk van geldsake. Wat egter belangrik is, die belofte kom saam met ‘n duidelike tweeledige waarskuwing en opdrag. Hou jou lewe vry van geldgierigheid. Dis net ‘n ander manier om Jesus se waarskuwing te herhaal : Julle kan nie God en Mammon dien nie! (baie probeer, maar dit bly vandag nog steeds onmoontlik) Die opdrag gaan oor tevredenheid, vergenoegdheid. Ook in moeilike tye wanneer die skoen druk, moet ons tevrede wees. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.” (1Tim 6:6-8) Tevredenheid gaan saam met vertroue op God. Ek vertrou Hom en ek is tevrede met dit wat Hy vir my gee op hierdie stadium van my lewe. Maar juis dan en net dan kan ek verseker wees van sy sorg en nabyheid en hulp. Hy sal my nooit as te nimmer verlaat nie. (Hierdie versekering word baie sterk in die Grieks gestel deur middel van vyf negatiewe) 

As ek hierdie belofte glo word ek bevry van vrees! 



Ja, moeilike tye is nooit maklik nie, maar ook in moeilike tye kan God se kind steeds in blydskap en dankbaarheid lewe sonder vrees! Ja, al maak Zuma nou ook wat...

                                    (foto - Afrisake)                      



*Hier word net aandag gegee aan die opdragte in Hoofstuk 13:1-6. Gaan gerus die hele hoofstuk deur vir die ander opdragte.

**FF Bruce,  The New International Commentary, The epistle to the Hebrews, p391

*** πορνους   en   μοιχους


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.