BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 14 September 2021

NG Kerk Tsumeb doleer!


Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op sy vergadering van 13 September 2021 eenparig besluit om te doleer deur middel van die onderstaande verklaring:

NG Kerk Tsumeb doleer.

Die NG Kerk Tsumeb se kerkraad gee hiermee kennis aan die ring van die Noorde, die moderatuur van die NGKN en die NGK in breër verband dat ons formeel doleer (treur) en voortaan amptelik bekend sal staan as die NG Kerk Tsumeb (dolerend). Hierdie is nie ‘n ligtelike stap nie en moet verstaan word teen die agtergrond van die Sola Scriptura verklaring wat reeds in 2019 deur hierdie kerkraad en leraar goedgekeur is. (Sien Bylaag A)


Ons mag nie meer stilbly nie.

Om te treur oor die benarde toestand van God se volk is ‘n handeling wat duidelik in die Skrif gefundeer is. Twee bekende voorbeelde van sodanige treur oor die vervalle toestand van God se kerk is te vinde by  Esra en Daniël. (Esra 9:3; Daniël 9:3) Ons neem die besluit tot dolering (treur) met volle bewustheid van ons eie gebrokenheid en tekortkominge as gemeente van ons Here Jesus. Tog mag ons nie stilbly oor die dwalinge wat in ons kerkverband gepropageer en geduld word nie, want :

Ons het Jesus lief en as ons Hom lief het moet ons sy opdragte uitvoer.  (Johannes 14:15)

Ons as gemeente het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van die beskerming van die waarheid. “Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” (1 Timoteus 3:15)

Ons besef die gevaar van valse lering wat in die kerk geduld word. Dit vernietig mense se geloof. (2 Timoteus 2:18)

Ons vrees nie mense nie, maar God wat beide siel en liggaam in die hel kan werp. (Matteus 10:28)

Ons mag nie skaam wees om Jesus te bely voor die mense nie, al is ons uit pas met die tydsgees.  (Matteus 10:32,33)

Ons sou dwaas wees om dinge te doen of goed te keur wat God se toorn opwek. (Romeine 1:18-32)

Ons verstaan van ware liefde is juis om medegelowiges teen dwaling te beskerm en dwalendes tot bekering op te roep. (Galasiërs brief)

Ons leer uit die Skrif dat dit gemeentes se plig is om alle kompromie met dwaling en sedeloosheid te vermy en aan te spreek. (Openbaring 2:1-3:21)

Waaroor treur ons?

Ons treur oor die Algemene Sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging  en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat.  Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverbintenisse nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word.

Ons treur oor die toelating van leerdwaling in die NGK en die Teologiese fakulteite waar voornemende leraars van ons kerk opgelei word. (Voorbeelde hiervan is die ontkenning van Jesus se liggaamlike historiese opstanding en ‘n radikale feministiese teologie wat daartoe aanleiding gee dat God met vroulike terme aangespreek word.)

Ons treur ook omdat NGKN (of ons dit wil weet of nie) geassosieer word met die dwalende AS en NGK in Suid-Afrika ten spyte daarvan dat daar reeds by die NGKN sinode van 2016 ‘n sterk gevoel was ten gunste van afskeiding van die AS. 

Ons treur omdat die NGKN se leierskap skynbaar nie ons bekommernisse, angs en getuienis oor die verval in ons kerk  kan begryp nie. (So is daar geweier om Sola Scriptura se verklaring in reaksie op die AS 2019 se besluite oor selfdegeslagverhoudings in die Feldmuis te plaas ten spyte daarvan dat ‘n beduidende aantal bedienaars van die Woord in die NGKN dit onderteken het.)

Die doel van ons treur.

Met ons dolering wil ons die hartseer vervalle toestand van ons dierbare NGK onder die aandag bring van almal wat belang het by die welstand van die kerk van Christus ter wille van die eer van God.

Deur ons openbare treur distansieer ons onsself van die leerdwaling wat tans in ons kerkverband geleer en geduld word.

Ons wil hierdeur die NGK as geheel en sy onderskeie vergaderings soos die AS tot bekering oproep. Bekering terug na God en sy Woord.

Ons wil op so ‘n wyse weereens by die NGKN pleit om so gou moontlik die bande met die AS te verbreek op grond van Artikel 37 in die Kerkorde.

Deur ons getuienis wil ons ook ander gelowiges aanmoedig om op te staan vir die waarheid en die eer van God.

Ten slotte

Ons besef natuurlik dat verootmoediging en bekering eerstens by onsself moet begin. Dit mag ons egter nie keer om ook die wyer kerkverband tot berou en bekering op te roep nie.

Dolering is vir ons ‘n eerste stap. As bekering by ons kerkverband wegbly sal ons indringend na alternatiewe wyses van optrede en kerkwees in die praktyk moet kyk.

Goedgekeur deur die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb (dolerend) op sy vergadering van 13 September 2021

Voorsitter : Herman Fuls

Skriba : Ria Struwig              

Leraar : Johannes de Koning

 

 

 

 

BYLAAG A VERKLARING 2019

 

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees. 

 

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11). 

 

Ons doen hierdie verklaring met ’n besef van ons eie gebrokenheid en worstelstryd teen sonde en met die vaste wete dat net die vryspraak van Christus ons red. Ons is oortuig dat homoseksualiteit, soos enige ander sonde, siekte, lyding en onvolkomenheid, die gevolg is van die gebrokenheid wat met die sondeval in die wêreld gekom het. Ons wil daarom medegelowiges wat worstel met hul homoseksuele oriëntasie, in liefde vashou en begelei om hul Godgegewe roeping as kinders van God uit te leef. Ware lewensvervulling as kind van God word immers nie gevind in die uitleef van enige seksuele oriëntasie nie, maar in gehoorsaamheid aan my Goddelike roeping en in die uitleef van my identiteit in Christus: 

 

· Ons glo heelhartig dat, in ons nadenke oor selfdegeslagverhoudings, ons alleen die Woord van God as ons vertrekpunt en finale gesagvolle bron kan gebruik om God se wil te onderskei. Die Woord, en nie die jongste navorsing uit die vloeibare menswetenskappe nie, het altyd die laaste woord te spreek. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel ons leer dat die huwelik tussen een man en een vrou, saamgebind deur die liefde van Christus, ’n lewenslange verbintenis is en God se wil vir sy kerk is. Dit is ook die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kan kom. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle seksuele verhoudings buite die huwelik as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. 

 

· Ons glo heelhartig dat die Bybel alle homoseksuele dade in die sterkste sin as sonde en opstand teen God se wil veroordeel. Soos met alle ander sonde, is daar ook vir die sonde van homoseksuele dade vergifnis en vrymaking moontlik deur die krag van die bloed van Christus. 

 

· Ons glo heelhartig dat die integriteit, geloofwaardigheid en heiligheid van die kerk van Christus op die spel is wanneer mense wat bely dat hulle Christene is, terselfdertyd ook volhard in ’n lewenswyse van homoseksuele dade. Sodanige homoseksuele lewenswyse, soos trouens met volharding in enige ander sonde soos beskryf in 1 Korintiërs 6:9-11, diskwalifiseer sulke persone vir enige ampte in die kerk van Christus, sowel as vir die Koninkryk van God. 

 

· Ons bely en erken die menswaardigheid van alle mense voor God, omdat alle mense geskep is na die beeld van God en Jesus Christus vir alle mense gesterf het. Daarom staan ons deure en harte oop om met die deernis en liefde van Christus, alle sondaars, ongeag hul seksuele oriëntasie, te verwelkom, te bedien en pastoraal te begelei met die evangelie van liefde in Christus Jesus. 

 

Gedring deur Christus se liefde, moet ons mekaar se sonde ernstig opneem, sodat ook in die NG kerk ons op geen ander plek skuiling sal soek as in die vryspraak en bloed van Jesus Christus nie. In Christus wag die oorwinnaarskroon anderkant die graf en sal ons aardse stryd teen sonde vir ewig verby wees. 

 


4 opmerkings:

  1. Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.

    AntwoordVee uit
  2. Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.

    AntwoordVee uit
  3. God leer ons deur Paulus in Gal 5:
    En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.

    Weet, as jy skuldig is aan enige sonde, is jy verlore, Jy behoort nie aan God nie.
    Jy is bestem vir die ashoop.

    Genade by God, is slegs vir elkeen wat bekeer én, afstand doen van die ongeregtigheid.

    AntwoordVee uit
  4. Groot waardering Johannes en Tsumeb gemeente met die verklaring en die besluit.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.