BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 19 September 2020

VREEMDE TRANSAKSIE

 - die "gewone stukkie grond" met die buitengewone waarde

‘n Man betaal ‘n besondere hoë prys vir ‘n stukkie grond. Buitensporig hoog, ver bo markwaarde, soveel so dat hy al sy bates eers moes verkoop om die grond te kon betaal. Almal dink hy is mal en het ‘n reuse fout begaan.  Mense skinder en spot… Totdat hy met ‘n enorme skat te voorskyn kom; die Krugermiljoene was al die tyd op die stukkie grond begrawe en dis nou miljarde Rand werd! Hierdie man het geweet wat hy doen, hy het doelbewus, met ‘n plan als verkoop om uiteindelik ‘n onvergelykbare groot skat in die hande te kry… 


Dis hierdie storie wat Jesus vertel om ‘n baie belangrike waarheid oor die koninkryk van God oor te dra. Ons lees dit in Matteus 13 vers 44. 



"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land." (NAV)

"Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand." (OAV)

Jesus vergelyk die koninkryk van God met ‘n kosbare skat. Dis nie vreemd nie. In ‘n tyd waarin die groot meerderheid mense baie arm was en maar van die hand na die mond geleef het was ‘n skat iets besonders, ‘n baie kosbare meevallertjie wat vir jou ‘n nuwe toekoms geopen het. As die gelykenis bloot gesê het dat die koninkryk soos ‘n skat was sou dit dus nie juis iets besonders gesê het nie. 

Die besondere en opvallende element is dat die skat verborge  (weggesteek) was in ‘n saailand! 

Sommer ‘n gewone stukkie grond, niks besonders nie. Dis nie die skat wat gekoop word nie, maar die saailand. Hierdie gewone stukkie grond is toe al die tyd baie meer werd as wat enigeen sou kon besef!

Die koninkryk word met ‘n skat vergelyk. Maar wat sou die betekenis van die saailand wees? 

Die kosbare koninkryk van God is te vinde in die oënskynlik onbelangrike en vernederde Jesus! 

Hierdie gelykenis sinspeel op Jesus. Jesus lyk so onbelangrik. Hy is ‘n inwoner van Nasaret, een van die mins belangrike dorpies in die plattelandse streek van Galilea. In die Johannes evangelie lees ons hoe Natanael verbaas uitroep : “Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?” 

Merkwaardig! God laat sy koninkryk kom nie deur ‘n groot filosoof soos Plato nie, nie deur ‘n beroemde krygsman soos Alexander die Grote nie, nie deur ‘n magtige skynende engelwese nie, nie deur 'n invloedryke besigheidsman nie, maar deur ‘n timmerman van Nasaret. Hy skryf nie boeke nie, Hy maak nie ‘n leër bymekaar nie, Hy besit feitlik niks (hoor die vals profete van die CRC dit?). Nederig en onbelangrik leer Hy die kindertjies en arm mense op straat en dan sterf hy die skandedood van ‘n misdadiger! Hy lyk so waardeloos, alledaags en onbelangrik! MAAR in Hom en Hom alleen is die kosbare skat van die koninkryk te vind!

Dis eers as mens  ontdek het, in hierdie vernederde Jesus is die koninkryk te vind dat ek tot die oortuiging kom dat sy waarde alles oortref! Dan raak ek bereid en gewillig om alles prys te gee om Hom te ken en te volg! In hierdie “kaal stukkie akker” lê ons ewige toekoms. Dis net geloof bewerk deur die Heilige Gees wat dit kan raaksien.  Dis net geloof wat die allesoortreffende waarde van Jesus besef. 

Dis geloof wat mens laat uitroep soos Paulus in Filippense 3:8-11.  “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo. Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood."

KOM ONS RAAK PRAKTIES

1. Die wêreld sien geen waarde in Jesus nie.  "Ag, wat Hy kan Hy vir my doen? Dis tog malligheid om ‘n gekruisigde Jood te aanbid!  'n Bloedoffer? Dit klink middeleeus..." Ook baie kerkmense sien geen besondere waarde in Jesus nie – "Ag, jy weet dis nou maar ons kultuur om die kerk in stand te hou, bietjie aandag aan godsdiens te gee en af en toe na ‘n mooi boodskap te luister, maar ek sien geen rede om opgewonde oor Jesus Christus te raak nie! Nog minder rede om myself aan Hom oor te gee en Hom in alles te gehoorsaam." Die  voorspoedteologie/prosperity gospel aanhangers (CRC, Joel Osteen, Joyce Meyer...) sien ook geen waarde in die vernederde gekruisigde Jesus nie en daarom het hulle in hulle gedagtes (en valse reklame) ‘n eie mensgemaakte Jesus geskep wat gedurig geld en gesondheid uitdeel soos wat die mens nodig het. Wat van jou? Het jy al die waarde van die gekruisigde Jesus persoonlik besef? Kan jy saam stem met Paulus as hy in Galasiërs 6:14 sê : “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” Die kruis van Jesus is vir my so waardevol, niks anders is, geen ander opinies maak meer regtig vir my saak nie!

2. Wie die waarde van Jesus besef is bereid tot groot opoffering. Hierdie man het alles verkoop wat hy het om daardie stukkie grond te kan besit. Vra jouself, begeer ek Jesus bo alles? Wat hinder my nog om Hom te dien en te volg? Dalk my rykdom, my onvergewensgesindheid, my jaag na plesier? Dalk ongelowige vriende of sondige vriendskappe? 'n Buite egtelike verhouding?

3. Ons moenie die element van vreugde miskyk nie.  “en uit blydskap...” (OAV) Omdat hierdie man weet van die kosbare skat in die saailand is die aankoop van die land vir ‘n baie hoë prys, nie vir Hom ‘n saak van hartseer nie, maar vreugde. Jy is nie ‘n ongelukkige verloorder as jy besluit om Jesus te volg nie. Jy is ‘n ewige wenner, al beskou die mense rondom jou jou as ‘n dwaas!  Is jy bly oor Jesus? BLYDSKAP WYS DAT ONS REGTIG GLO!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.