BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 03 September 2020

JOU GOD IS KONING!


- DIE GOEIE NUUS WAT VANDAG ‘N VERSKIL IN JOU LEWE KAN MAAK 


Dis ‘n depressiewe prentjie en jammerlike toestand. Dit gaan nie goed met God se stad Jerusalem, (ook genoem Sion) nie. Die eens pragtige stad en indrukwekkende tempel is verwoes. Puinhope, murasies, ruïnes en rommel is al wat jy sien. Dis ‘n neerslagtige toneel. (Dink aan Beiroet na die onlangse reuse ontploffing) Die inwoners is weggevoer in ballingskap na die verre Babel. Kan God weer als nuutmaak? Wil Hy dit weer nuutmaak of het hy sy volk vergeet? Dis waar die wonderlike profesieë van die profeet Jesaja inkom. 

Dit gaan oor God se heerlike beloftes. God gaan sy volk verlos en Jerusalem weer herstel. Ons het ‘n vorige keer gesien hoe Hy vir Kores die heidense koning gaan gebruik om dit te doen. Hier word die beloftes nou in ‘n vorm van ‘n loflied gegee. (Jesaja 52:7-9) Die kern kry ons in vers 7. “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God is Koning!" 

“Jou God is koning!” – dis ‘n kort stelling, maar met heerlike en verreikende implikasies. God het sy volk en stad nie vergeet nie! Hy bring uitkoms, verlossing en redding! Hy maak ‘n nuwe begin! Dis goeie nuus! Omdat Hy koning is, het Hy die mag en gesag om dit te doen. 

Jerusalem jy moet weet, “JOU God is koning!” Hy regeer, Hy is in beheer! Die geskiedenis bevestig, hierdie beloftes het waar geword. Die bannelinge het teruggekeer en Jerusalem sowel as die tempel is herbou!Hierdie boodskap gaan egter oor meer as net die einde van die ballingskap. Dit raak ons. In die Griekse vertaling (LXX) van hierdie gedeelte word ‘n vorm van die woord euangellion* gebruik en inderdaad koppel Paulus hierdie bring van die goeie nuus aan die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus. Die verlossingsboodskap. 

Luister na Romeine 10:14,15 “Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: "Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring." 

Hierdie belofte en loflied in Jesaja het alles te doen met die evangelie van Jesus. 

Jesus se koms het eers regtig die einde van die ballingskap gebring. Omdat God die almagtige verlosser koning is wat getrou bly aan sy beloftes, het Hy Jesus gestuur, sy ware Kneg om te verlos en te herstel! Jesus bring ‘n einde aan die slawerny en verknegting van sonde. Hierdie versekering : “Jou God is koning!” is ‘n heerlike versekering aan elkeen van ons wat die evangelie van Jesus Christus waarlik glo. Dit het praktiese implikasies en heerlike konsekwensies as ek al die evangelie van Jesus geglo en aanvaar het. Kom ons kyk net na ‘n paar: 

  • Aanvaarding van die evangelie beteken ook dat ek God as Koning oor my lewe erken. Om Jesus te aanvaar as Verlosser beteken dus dat ek kies vir ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God en Sy Woord. Ek kan nie sê dat Jesus my Verlosser is en ek volhard onveranderd in my ou leefstyl nie. So dikwels hoor mens: “Ja, ek ken Jesus, maar ek en my meisie bly nog steeds ongetroud saam nie, Ja, ek ken Jesus , maar ek sal daardie ou wat my geld skuld nooit vergewe nie!” Jou God is koning – jy durf Hom nie ongehoorsaam wees nie! 

  • Aanvaarding van die evangelie sal my daartoe bring om raak te sien en te glo dat God koning is bo alle demone, magte en owerhede. Wat ‘n heerlike troos - dis nie bose magte, geheime organisasies of wêreldleiers wat in beheer van hierdie planeet is nie! Die whatsapp profete het dit verkeerd. Nee, JOU God is koning. Die lewende God, die Vader van ons Here Jesus! Dwarsdeur die Bybel is dit die duidelike boodskap. Nie die nasies en hulle konings nie, maar God is in beheer. Dink maar aan die wonderlike Psalm 2 waar vir ons vertel word hoe die Here lag vir die nasies en hulle leiers! God lag hulle uit!** Dink aan die boek Openbaring. Een van die hooftemas is dat God op die troon sit! (Byv. Openbaring hoofstuk 4) Met ander woorde, Hy is in volle beheer! Jou God is koning, jy durf nie meer in vrees en paniek lewe nie. Nee, wat by jou pas is dankbare geloofsvertroue! 

  • Aanvaarding van die evangelie moet my bring by lof en getuienis oor God se koningskap. Vra jouself : “Dra my voete ook hierdie heerlike boodskap, bring my lippe ook hierdie wonderlike getuienis?” Terloops, hierdie is ‘n baie belangrike saak. Paulus gebruik Jesaja 52:7 ook in Efesiërs 6:15 as deel van die wapenrusting van die geloof. “en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.” Om met oortuiging te staan vir die evangelie en dit te verkondig beskerm my teen die aanslae van die bose! 

Jy sien dalk vandag ook net rommel, wrakke en murasies rondom jou! ‘n Stukkende lewe vol chaos. ‘n Warboel van ellende! Jou huwelik en huisgesin lê dalk in stukke! Bekommernisse oor finansies, gesondheid en jou kinders se toekoms wil jou oorweldig. Die ergste – jou eie hart is vol sonde en boosheid. 

Hoor hierdie boodskap – Jou God is Koning! Jou omstandighede en sonde het nie die laaste sê nie! In sy almag en liefde het Hy vir jou uitkoms gebring deur Jesus Christus. Hy het ‘n nuwe begin kom maak. Hy het aan die kruis sonde, Satan, dood en hel oorwin! Kom buig voor Jesus en aanvaar die verlossing wat Hy bewerk het. Vertrou Hom alleen. Begin Hom loof vir sy wonderlike bevryding!



*εὐαγγελιζομένου 
**Psalm 2:4


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.