BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 11 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (4)

WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF TE VERRYK EN STAP DIE VOLLE PAD TOT BY LIEFDE VIR ALLE MENSE! 



Ons het gesien, omdat ‘n kind van God reeds als ontvang het wat nodig is (ONTVANGERS), word ons opgeroep tot kragtige aktiwiteit! Dis voortdurende en harde werk om hierdie eienskappe wat Petrus in 2 Petrus 1:5-7 noem by te voeg by ons geloof. Ons het reeds na ‘n paar elemente gekyk, nou gaan ons aan na die volgende: 



VOLHARDING Dis 'n vrug en kenmerk van ware saligmakende geloof. Die kind van God is 'n ster wat jaar na jaar skyn, nie net 'n meteoor wat vir 'n rukkie vir 'n groot skouspel sorg nie. (Pasop maar vir kortstondige opwindende ervarings... Pasop om nie ‘n konferensievraat te word wat by elke geestelike kamp of konferensie in snot en trane ‘n nuwe oorgawe maak, maar telkens maar weer op die ou pad voortploeter nie...) Hierdie volharding is nie net sommer gewone vasbyt nie, maar dis moontlik omdat die kind van God verby stryd en probleme kan kyk en uitsien na die ewige beloning! Soos Jesus dit gedoen het volgens Hebreërs 12:1-3. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Jesus word hier voorgehou as navolgenswaardige model van volharding. Hoe het Hy dit reggekry? Hy het als verduur ter wille van die vreugde wat vir Hom gewag het! 

Ons ervaar krisisse en probleme en hartseer en versoekings soos alle mense, maar ons volhard omdat ons na al hierdie donker onstuimighede kyk in die kalm lig van die ewige heerlikheid wat God aan die getroues beloof. Ons sien die heerlikheid wat wag en daarom volhard ons. Ons moet, kan en sal juis volhard, omdat ons redding nie iets is wat met ons inisiatief en ons krag gebeur het nie. Dis God se uitverkiesende inisiatief en God se krag! (Vers 3) 

GODSVRUG (Godliness) Dis die bewustheid van God en daarom gehoorsaamheid aan God in elke praktiese aspek van my lewe. Godvrugtigheid is die teenoorgestelde van goddeloosheid. Die term  eushbeia word gebruik in kontras met asebeia (goddeloos) in 2:6.  Die goddelose is teen God, die Godvrugtige is op God en sy eer ingestel! Dis baie belangrik, want daar is 'n gevaar dat die kwessie van redding en meer spesifiek geloofsekerheid vir baie mense 'n selfsugtige, selfgesentreerde saak word– Baie redeneer : "EK moet net seker wees van MY polis teen die hel. Christenskap is maar eintlik net nog een van my selfgesentreerde besigheidstransaksies. Of ek God eer en of ek God gehoorsaam en of ek God behaag is van minder belang. Wat met die kerk van Jesus gebeur traak my ook nie juis nie.." Nee vriend, dit mag nie so wees nie! Verander jou gesindheid - fokus op 'n Godvrugtige lewe. Laat God en sy wil vir jou belangrik raak, dan sal jou sekerheid ook groei! Dit sal ‘n duidelike bewys wees van jou redding, want niemand eer God en niemand het God en sy kerk van nature lief  nie! As hierdie dinge in jou groei is dit ‘n onomstootlike bewys van wedergeboorte! 

BROEDERLIEFDE (liefde onder mekaar) Hieroor het die Here Jesus self en die res van die Nuwe Testament baie gesê. Ons hoor dit so baie, die gevaar is dat ons dit glad nie meer ernstig opneem nie. Dit is 'n onontbeerlike kenmerk van elkeen wat deel gekry het van die goddelike natuur. Dit kom egter nie sommer so van self nie, soos die ander trappe, moet ons alles in die stryd werp om dit prakties te implementeer. Dit beteken o.a. om moeite te doen om mekaar te verstaan en ten spyte van foute te aanvaar, om alles moontlik te doen om eenheid te bewaar deur ons te weerhou van skinder, verdagmakery, afguns ens. Kies om te vergewe keer op keer! Dit beteken dat ons praktiese stappe moet neem om mekaar se laste te dra deur te luister, meegevoel te betoon, praktiese en finansiële hulp te verleen ens. Gasvryheid! Broederliefde is ‘n onteenseglike duidelike bewys van ware Christenskap. 1 Joh 3:14,15“Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” 

Broederliefde het ‘n baie direkte relasie tot ons sekerheid van kindskap! 

NAASTELIEFDE (liefde vir alle mense)) Behalwe vir broederliefde, d.w.s. die liefde vir my medegelowiges, moet die kind van God ook liefde in die algemeen beoefen. Dit is so wyd dit sluit my naaste op alle vlakke van kontak in, selfs my vyande! Dis tog letterlik wat Jesus self gesê het. Dis buitengewoon, bonatuurlik! Ook in hierdie opsig moet ons navolgers van God wees, wat sy reën op goeies en slegtes laat val. Navolgers van Jesus wees, wat terwyl Hy in hegtenis geneem word, 'n oor gesond maak en terwyl Hy in pyn aan die kruis hang nog vir sy vyande bid. Jy vra hoe dit moontlik kan wees? Onthou net weer 2 Petrus 1 vers 3 - "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk..." Hierdie is nie net maar 'n mooi onbereikbare ideaal nie, deur die eeue het die kinders van God dit reggekry en uitgeleef. George Wishart een van die vroeë Reformators in Skotland was so 'n voorbeeld . Net voor hy verbrand is vir sy geloof het die laksman op sy knieë geval en gevra dat Wishart hom sal vergewe. Wishart het hom toe op die wang gesoen en gesê : "Dis die teken dat ek jou vergewe .... doen jou plig" Naasteliefde het nie grense nie, dis uiters radikaal en vreemd aan die gevalle mensdom!

Wat het al hierdie dinge te make met vastigheid en sekerheid? Soos hierdie eienskappe groei sal my sekerheid groei. Sekerheid kom nie weens passiewe spekulasies en rondkrappery in my siel nie, sekerheid groei as ek aktief by my basiese geloof hierdie dinge byvoeg. Die duidelike implikasie is : 

Sekerheid, vastigheid en vreugde is nie beskore en bedoel vir lui of ongehoorsame Christene nie. Positief gestel, sekerheid is ‘n bonus wat saamgaan met geestelike groei, ywer en gehoorsaamheid! 

Die uitverkorenes se verlossing is vas en seker! God sal die werk wat Hy begin het voltooi en niemand kan Hom dwarsboom nie! “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:29-30) Petrus leer dat die uitverkorenes se lewens hiervan ‘n bewys sal lewer deur voortgaande geloof en die dra van vrugte wat by die geloof pas. Hoe meer vrug jy dra hoe sekerder, hoe minder gaan jy struikel... daarom werp alles in die stryd om vrug te dra!

Vir die opvolg, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (5)


Dit was so wonderlik om tydens Pinkster 2019 vir Christoph Gouws  raak te loop. Die seun van 'n ou vriend en 'n jongman wat die Here dien.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.