BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 30 Mei 2019

“DIE HERE HET VIR MY GESÊ”

Hierdie frase is nogal algemeen in sekere Christelike kringe. Wat bedoel mense hiermee? Is dit dieselfde wat Paulus bedoel as hy van die leiding van die Gees praat? Wat is die Bybelse betekenis van “leiding deur die Gees”? 



In Romeine 8:14 maak Paulus ‘n uiters belangrike stelling oor die werk van die Heilige Gees. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” 

Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. 

Paulus stel dit as ’n kategoriese feit. Dis waar van elke kind van God. Die implikasie is duidelik. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie. Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Is dit gelykstaande aan wat mens so dikwels hoor : “Die Here het vir my gesê”? Nee, dis nie primêr wat hier in Romeine ter sprake is nie. 

Natuurlik kan die Heilige Gees ‘n begeerte of indruk op my hart plaas, dikwels ‘n Skrifgedeelte in spesifieke omstandighede. Ongetwyfeld gebeur dit dat God se kinders ‘n dringendheid in hulle harte ervaar om byvoorbeeld spesifiek vir iemand te bid of iemand te gaan besoek. Of 'n besondere gevoel van vrede (aan die anderkant besondere onrus) wanneer moeilike besluite geneem moet word. Dit sou sekerlik ook as leiding deur die Heilige Gees beskou kon word. Ek dink net mens moet baie versigtig wees om sommer oral rond te vertel dat die Gees my so en so gelei het... ons subjektiewe gevoelens is baie onbetroubaar en self die groot evangelis George Whitefield het in sy jong dae hier gefouteer toe hy die “indruk” gekry het dat sy jong seuntjie ‘n groot prediker sou word. (Die seuntjie het egter vroeg gesterf.) 

Die punt is net - die leiding van die Gees waarvan Paulus hier praat is iets baie wyer en algemener as hierdie persoonlike indrukke in sekere omstandighede. 

Die konteks waarin Paulus hierdie uitspraak maak is belangrik. Dit gaan in hierdie gedeelte oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. (Kyk spesifiek na Romeine 8:12-17) 

Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig prakties lei* : 

1. Die Heilige Gees gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk en beskouing. Hy lei my tot 'n nuwe waardasiesisteem. God raak vir my belangriker as geld, goed en genot. “Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.”(1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf? Maak die Bybel sin? Hy wek ook ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse is nou relevant. Die Heilige Gees laat sien my die hele lewe vanuit ‘n ewigheidsperspektief en hemelse hoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word, sien uit na die heerlike erfenis wat alle smart van nou by verre sal oortref! In hierdie einste hoofstuk getuig Paulus hiervan : “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Rom 8:18) 

2. Die Heilige Gees wek in my ’n begeerte om God as my Vader aan te roep en volgens sy wil te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Die Heilige Gees bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader! “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.” (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Rom 8:26) 

3. Die Heilige Gees maak my sensitief vir sonde. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en motiewe wat nog in my binneste skuil. Ek raak oortuig van die sondigheid van praktyke waarmee die samelewing in die algemeen geen probleem sien nie. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens gevoelig vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos Dawid in Psalm 51:6 ervaar het. “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.” Die Heilige Gees stem my versigtig en onrustig oor sekere plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!” Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die navolging van Jesus. 

4. Die Heilige Gees open my oë vir die genade, heerlikheid en genoegsaamheid van Jesus. Juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef my nood, maar juis daarom ook die allesoortreffende waarde van Jesus . Net Hy is die antwoord vir my diepste sondenood en gebrokenheid. Ja, ander mense weet dalk van Hom, maar dis waar dit eindig. Deur die Gees word Jesus vir my ‘n lewende werklikheid en plaas ek al my hoop op Hom! Die Heilige Gees verheerlik Jesus en openbaar Hom en sy werk aan ons. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” (Joh 16:13,14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Is Jesus vir jou oneindig kosbaar? Dis net die Gees wat jou so tot hierdie besef kon lei! 

5. Die Heilige Gees skep in my hart ’n begeerte na geregtigheid, na die doen van God se wil. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13 onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei!  want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Rom 8:13 OAV)  Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree. 

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie, maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die vrugte van die Gees beskryf hierdie positiewe verandering in lewensstyl en gedrag so : “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” (Galasiërs 5:22,23) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef! 

Die Gees lei God se kinders, maar ons moet daagliks doelbewus kies om Hom gehoorsaam te wees! 

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei.

*Hierdie is nie 'n volledige beskrywing van die werk van die Heilige Gees se werk in die gelowige nie, maar die kern belangrike sake wat 'n aanduiding is dat Hy iemand lei. Daar is werkinge van die Gees byvoorbeeld die krag tot getuienis en die gawes in die liggaam van Christus wat glad nie hier bespreek word nie. Ek gee ook graag erkenning aan dr. Martyn Lloyd-Jones se preke oor Romeine 8 as bron vir bogenoemde gedagtes.



                 San broers en susters wat saam die nagmaal gevier het op 19 Mei 2019

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.