BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 05 Mei 2017

BID MET (DIE REGTE) VERWAGTING!

- want Jesus waarborg gebedsverhoring.


Hoe bid jy? Ek bedoel nie of jy nou sit of staan en watter tipe woorde jy gebruik nie. Ek bedoel – Hou jy aan met bid en bid jy met ‘n opgewonde verwagting dat die Here jou gaan verhoor? Of is ons houding : “Ag kom ek bid maar, dan kyk ons wat sal gebeur, maar ek dink nie dit gaan juis ‘n verskil maak nie…” Nadat Jesus basiese lering oor gebed gegee het (in die vorm van die Onse Vader) gaan Hy voort om verdere onderrig oor hierdie groot saak te gee in LUKAS 11:5-13.

Jesus vertel eers ‘n gelykenis en dan versterk Hy die boodskap van die gelykenis met ‘n direkte drieledige belofte! 

Die gelykenis handel oor ‘n man wat nie skaam is om teen middernag vir sy vriend hulp te vra nie. Hy weet seker dis ‘n baie ongeleë tyd, maar hy hou onbeskaamd aan met vra. Hy word gehelp, al is dit dan nou ook net omdat hy sonder skaamte aanhou vra. Die punt is dit : as selfs ‘n aardse vriend hulp gee as ons aanhou vra, (maak nie saak wat sy motief is nie) hoeveel te meer sal ons Hemelse Vader wat net suiwer motiewe van liefde het, ons gebede ruimhartig beantwoord.

Dis ook miskien belangrik om raak te sien dat hierdie man se versoek om hulp nie oor sy eie gerief en gemak gegaan het nie. Hy het juis gevra om ‘n vriend van hom te help. Gebed mag nooit om selfsug en eiebelang draai nie, maar staan binne die konteks van Liefde vir God en liefde vir die naaste!

Jesus gaan dan voort en maak ‘n drieledige belofte oor die effektiwiteit van gebed. Hy wil daarom sê, ons kan met verwagting en vrymoedigheid bid, ons Hemele vader sal ons verhoor. “Vra, soek, klop…” Moontlik word hier ‘n stygende skaal van intensiteit bedoel. “Vra” veronderstel nederige afhanklikheid. Ek het nie, U moet my gee. “Soek” is nog meer intens, dis vra plus aksie. “Klop” kom neer op vra en aksie, maar aanhoudende dringende aksie. Die groot punt is egter dat Jesus waarborg dat daar ‘n effek sal wees op hierdie versoeke. Let op – “Elkeen” sal voor gegee word, sal kry, sal voor oopgemaak word. Wat ‘n heerlike versekering uit Jesus se eie mond! Dit sluit my en jou in! Glo ons dit? En bid ons regtig? En bid ons met hierdie verwagting?

Ons kan en moet met gelowige intense verwagting bid en weet ons gebede sal verhoor word. Miskien is die grootste rede vir gebrekkige gebedsverhoring is dat ons hoegenaamd nie bid nie, of heeltemal te min tyd en energie aan gebed bestee. Maar ook dat as ons hoegenaamd tog nog bid, dikwels met verkeerde verwagtings en bedoelings bid. Daarom word ons so dikwels teleurgestel in gebed en dan bid ons nog minder. ‘n Bose kringloop! Hier kan ons gerus na Jakobus luister : “Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” (Jakobus 4:2,3) 

Weereens, gebed wat in diens staan van bose en selfsugtige begeertes is gedoem tot mislukking en is net ‘n bewys van ‘n lewe wat ver van God se wil is!

Wanneer het ons verkeerde misplaaste verwagtings in ons gebede? (mens sou baie dinge kon noem, maar uit die onmiddellike konteks is twee sake duidelik) Ons het ‘n verkeerde verwagting in gebed…

~As ons gebede se fokus en motief nie inpas by die voorafgaande gebed wat Jesus geleer het nie. (Onse Vader) Die fokus en die raamwerk van ware gebed is duidelik, ‘n soeke (verlange na, passie vir) na God se eer, God se Koninkryk en God se wil. En as God self ons eerste prioriteit geword het kan en mag ons ook vra dit wat ons nodig het (binne die konteks waarin Hyself eerste prioriteit is) naamlik : daaglikse versorging, vergifnis en beskerming teen die bose. Het ons gebede die strekking en beklemtoning van die Onse Vader?

~As ons nie verstaan dat ons Hemelse Vader ‘n alwyse en almagtige Vader is, wie se wil altyd die beste is nie. Die klem val sterk in hierdie gedeelte op God se Vaderskap. Ons praat nie met ‘n bankoutomaat wat kliniese opdragte uitvoer volgens ‘n kille program nie, maar met ‘n liefdevolle alwyse Vader. Dis ‘n reuse verskil! Maar die Vader se wil verskil nogal dikwels van ons wil. Dis logies dit sal, Hy is immers volmaak heilig, ons is gebroke sondaars. Hy sien en weet onbeperk, ons sien net wat nou voor oë is. So bid Paulus vir die wegneem van die “doring in die vlees” (drie maal), maar hy vind berusting in God se verhewe doel met hierdie stuk swaarkry in sy lewe. Jesus pleit met passie dat die beker (van die kruis) Hom gespaar mag bly, maar Hy onderwerp Hom ook aan die verhewe doel van die Vader! God se Vaderlike (en vir ons dikwels onverstaanbare) wysheid impliseer ook dat sy antwoorde en reaksie in alle gevalle nie dieselfde is nie. In Handelinge lees ons dat Jakobus onthoof word. Petrus word ook gevang en dieselfde lot wag op hom, maar hy word op dramatiese wyse uit die tronk bevry in antwoord op gebed. Ons kan aanneem dat daar ook vir Jakobus gebid is, maar dat God besluit het dat hy op ‘n ander manier eer sou bring aan die Here se naam. Gebed is uiteindelik ‘n oorgawe aan God se wil. En sy wil is goed, want Hy is ‘n liefdevolle Vader!

~As ons ‘n verkeerde waardasie maak van wat goeie dinge is. As ons kortsigtig is ten opsigte van wat regtig die belangrikste is. Die grootste en belangrikste saak waarvoor ons moet en kan bid is die Heilige Gees in ons lewens. “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Anders gesê, die Heilige Gees is die kosbaarste geskenk wat God aan ‘n mens op aarde kan gee. Die toppunt van gebedsverhoring! Begeer jy bo alles om onder beheer van die Heilige Gees te leef, besluite te maak onder sy leiding en Hom gelukkig te maak? So nie, is ons gebede by voorbaat skeefgetrek.

Ware gebed tot God in die naam van Jesus ons Middelaar word altyd verhoor. Dit sal beslis verhoor word. Dis die punt wat Jesus wil maak. Nie altyd presies soos wat ons wil hê nie, maar dit sal altyd ‘n positiewe Godverheerlikende verskil in ons lewens maak. Die verskil gaan daaroor dat God in oorvloedige mate sy Gees aan sy kinders gee sodat ons Hom kan verheerlik met blydskap,  maak nie saak wat gebeur nie. Ja, sodat ons Hom kan verheerlik in lewe en sterwe omdat ons juis deur die Gees verseker word dat ons aan Jesus Christus behoort. 

Laat hierdie belofte van Jesus ons elkeen opnuut aanspoor om met geloof en verwagting te bid… Vra...Soek…Klop…


[foto - Jonette de Koning]





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.