BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 11 Mei 2017

VUUR

-vertel ons so ontsettend baie van die Heilige Gees! 


[‘n Voorskou op ons Pinksterrreeks wat DV op 4 Junie sal begin]

Op Pinksterdag gaan die koms van die Heilige Gees gepaard met die teken van vuur! (Handelinge 2) Dis nie maar toevallig nie. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Dink bietjie aan die tema van vuur in die Ou Testament.



God verskyn aan Moses in die brandende doringbos. God se heilige teenwoordigheid op die berg Sinaï is aangedui deur weerlig, vuur en rook. 

“Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ‘n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud,...” (Eksodus 19:16-18) 

Daar is nog verskeie voorbeelde...Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. As Elia bid, dan antwoord God met vuur! Dis nie toevallig dat daar tonge van vuur op Pinksterdag neerdaal op die gelowiges as die Gees uitgestort word nie. Dis ‘n kragtige simboliese boodskap. God is nou teenwoordig in al sy angswekkende heiligheid en allesoortreffende heerlikheid!

In die heerlike bedeling van die laaste dae (na Pinkster) is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Die tempel is vervang deur Jesus en ons as ons aan Hom behoort word deel van die tempel van God. Dit het ook ‘n persoonlike implikasie. Jou liggaam is nou die tempel van God. Die heilige God, die God van vuur!

1 Korintiërs 6:18-20 se boodskap is in ons dag van roekelose seksuele losbandigheid en morele verval in die algemeen krities aktueel. “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”

Mens sou dit so kon stel : Op elkeen van God se kinders as sy tempel rus daar nou ‘n miniatuur vuurkolom. God se teenwoordigheid en heerlikheid word nou nie meer met ‘n tent of gebou geassosieer nie maar met elkeen van sy kinders. Dis ook die implikasie van 1 Petrus 4:14 – “Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ‘n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.” Wat waar was van die tempel en tabernakel is nou waar van God se kinders - elkeen! Kom ons maak dit prakties – sou ‘n gelowige van die ou bedeling dit waag om in die tempel te vloek, te lieg, te hoereer? Dit sou waansinnig wees. Dit sou totaal ondenkbaar wees! Net so ondenkbaar is dit dat ons nou sonde in ons lewens kan toelaat, want ons is tempels van die Heilige Gees! O, mag God vir ons die implikasies hiervan duidelik maak...! Ondersoek jou dade, gedagtes, stokperdjies, modes... pas dit by die woonplek van die Heilige Gees? Die HEILIGE Gees?

Die gedagte van suiwering en reiniging is ook belangrik in die simbool van vuur en dit sluit aan by die voorafgaande. Die Heilige Gees is vuur, ‘n reinigende suiwerende vuur.

In Maleagi kry ons ‘n profesie oor die dag van die Here. (die laaste dae)

“Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers.

Soos iemand wat silwer smelt en suiwer, so sal Hy as regter gaan sit om die Leviete te suiwer, om hulle te louter soos goud en silwer, sodat hulle aan die Here ‘n offer kan bring wat bestaan uit regdoen.

Dan sal die offer van Juda en Jerusalem weer aanneemlik wees vir die Here soos in die ou tyd, soos in jare lank verby.

Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige.”

Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie.

Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers." (Maleagi 3:2-5; 4:1,2) 

Vuur het in hierdie gedeeltes ‘n tweeledige funksie : ware aanbidders sal gesuiwer word en huppel van blydskap, valse aanbidders sal verteer en vernietig word. Vuur simboliseer die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en onsuiwer is. Die Heilige Gees is heilig. Hy maak jou lewe skoon. Hy wys die vuilheid en kwaad uit in ons lewens sodat ons dit kan bely en laat staan. Die Heilige Gees gee lewe (wedergeboorte), maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilige Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. As ons nie toelaat dat Hy ons reinig nie, gaan Hy ons uiteindelik oordeel. Die waarskuwing en oproep in Hebreërs 12:28-29 moet nie ligtelik opgevat word nie. “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur."

Wie erns maak met die Heilige Gees sal erns maak met alle sonde en onreinheid. Dis ‘n onuitspreeklike voorreg om ‘n tempel van die Gees te wees, dis ook ‘n angswekkende verantwoordelikheid. Dit moet ons gebroke maak voor die Here – maar gelukkig het ons die belofte, dat die bloed van Jesus ons reinig van alle sonde. 

Die Heilige Gees wat ons wys op ons sonde is ook dieselfde Heilige Gees wat ons aandag gelowig vestig op die volkome genoegsaamheid van Jesus se offer en die volledige vergifnis en bevryding in Sy Naam!




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.