- die vaste feit wat die verskil maak!
Goeie Vrydag is natuurlik glad nie deur die dissipels aanvanklik as “goed” beleef nie. Allesbehalwe! Probeer jouself indink in die situasie van die destydse dissipels. Hulle het Jesus gevolg en besef Hy is die Gestuurde, die Gesalfde van God, die Messias. Hulle het hulle hoop op Jesus gevestig. Hy gaan God se Koninkryk oprig, Hy gaan ’n einde bring aan al die ellende en verdrukking en ’n nuwe bedeling laat aanbreek. En hulle het inderdaad wonderlike dinge beleef... genesings, duiweluitdrywing, wonders en veral die boodskap van hoop dat die Koninkryk inderdaad nou naby gekom het...
En toe? Toe sterf Jesus aan die kruis. Die gruwelikste en skandelikste marteldood denkbaar. Die dood van ’n veragte misdadiger. Hulle het Hom self daar sien hang. Hulle hoop was verpletter. Ontnugtering. Wanhoop. Hulle harte was leeg en vol niks. Vol vrees, ja. Daar was geen vooruitsig, geen toekoms meer oor nie. Ja, smart, vrees en skuldgevoelens was al wat hulle oorgehad het. (Hulle eie lafhartigheid het immers nog vars in die geheue gelê.) Petrus self is waarskynlik die meeste geteister deur skuldgevoelens. Die haan se gekraai weerklink nog vretend vars in sy ore... ’n Toestand van wanhoop!
JESUS IS NIE MEER TUSSEN DIE DOOIES NIE!
Maar nou kom daar ‘n dramatiese wending en ommeswaai op hierdie wonderlike Sondagmôre! Ons lees dit in Lukas 24:1-12. ‘n Heerlike en buite die bereik van alle woorde tipe verrassing! Die vroue kom by ‘n leë graf en hoor die soetste woorde ooit : “Waarom soek julle die Lewende by die dooies!?” Dis goeie nuus, maar die implikasie is ook ‘n stukkie verwyt. "Hoe kon julle twyfel, hoe kon julle moed verloor, hoe kon julle vrees? Hy het mos gesê Hy gaan opstaan!" Die vroue vertel hierdie verhaal aan die dissipels wat dit eers as onsin afmaak. Petrus se hart word egter geroer en hy hardloop om self te gaan kyk. (Hy was nie ‘n man wat enige ding halfpad gedoen het nie.) Hy gaan ondersoek instel, sommer tot binne die graf! Ja, die graf is leeg en baie belangrik daar lê net doeke. (Dis natuurlik van groot betekenis, want dis ‘n bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, want as jy ‘n lyk wou steel sal jy nie die doeke eers afhaal nie...) Daar kan net een verklaring wees...Jesus leef! Die boodskap van die vroue is waar. Later ontmoet Jesus persoonlik met Petrus. Ook die ander sien uiteindelik die lewende Jesus van aangesig tot aangesig. Vat aan Hom, praat met Hom en sien hoe Hy brood en vis eet voor hulle oë! (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE) Jesus leef inderdaad! Sy lewe beteken ook vir Petrus en die ander nuwe lewe. Die opstanding open ‘n nuwe lewe van vergifnis, 'n nuwe gewaarborgde toekoms, vol blywende hoop!
Die opstanding het van ‘n tragiese Vrydag, Goeie Vrydag gemaak.
Deur die aanskoue van die lewende Jesus is daar weer hoop in hulle harte gebore. Ja, hier was die bewys, die kruisdood was nie die einde nie, Jesus was voorwaar God se Gesalfde. Hier is die lewende onweerlegbare bewys dat al God se beloftes waar is!
OPSTANDING, WEDERGEBOORTE EN HOOP!
Jare later skryf Petrus ’n brief van hoop. Juis vir Christene in moeilike omstandighede, in ’n situasie van vervolging en swaarkry wat hulle maklik moedeloos sou kon maak. Deur sy brief bring hy vir hulle hoop. Meer korrek deur sy brief wys hy hulle op die hoop wat hulle reeds het. hierdie hoop is nie ’n vae mogge troffe hoop nie, maar ’n lewende werklike realistiese hoop. Hy herinner hulle, Christene is mense met hoop! Hoe so?
“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,...” (1 Petrus 1:3)
God self het vir ons hoop gegee deur die opstanding van Jesus Christus! Petrus loof God daarvoor. Die opstanding van Jesus het hoop gebring, want die opstanding beteken dat Jesus leef. Dis rede vir groot blydskap. Dis egter nie al gevolg van die opstanding nie. Jesus se opstanding beteken nie net dat Hy leef nie, maar ook dat ons wat aan Hom behoort leef! Hoe so? Wel, deur die opstanding het God ons weer nuut gebore laat word. God het deur die opstanding nuwe lewe aan Christus gegee, maar ook aan ons! Deur Jesus se triomf oor die dood het God ’n nuwe begin gemaak, maak God alles nuut, maar Hy begin by ons as mense. Terloops wedergeboorte (radikale nuutmaking) is iets wat die hele verdorwe skepping gaan raak en nie net die mens nie. Ons het die nuwe geboorte ontvang deur die opstanding van Jesus Christus. As ons normaalweg die term wedergeboorte gebruik dink ons gewoonlik aan die verandering wat God deur Sy Woord en Gees binne in ons bewerk. En dis reg! Petrus verwys self ook hierna in 1:23-25. Van die mens se kant gesien kry deel ons aan die nuwe lewe wanneer ons God se Woord, die Goeie Nuus van Jesus gelowig aanvaar via die Gees se werk. Hier word die wedergeboorte egter gebruik in verband met die opstanding van Jesus. Hier is die fokus op wat buite ons gebeur het. Toe Jesus opgestaan het, het Hy ons verlossing, ons nuutmaking bewerk en verseker! Omdat gelowiges in Christus is beteken dit dat toe Jesus opgewek is, ons ook opgewek is tot ’n nuwe lewe.
MENSE VAN HOOP
God se mense is mense van hoop! ‘n Vaste onwankelbare hoop op die verlossing wat Hy deur Jesus Christus bewerk het. In ’n swartgallige wêreld vol ellende, sonde, siektes, onreg en Zuma’s -kan elkeen wat in Jesus glo sê : “Ek het hoop. ’n Vaste seker hoop wat God vir my gegee het.”
Wat is die praktiese nut van Petrus se boodskap vir ons? Hy wil ons leer : Fokus op die vaste feit van die opstanding, juis ook in die tye wanneer jy so ellendig voel dat jy selfs sou kon begin wonder oor jou geloof en bedenkinge kry oor jou bekering.
Bedink en herkou die feit van die opstanding!
Jesus se triomf oor sonde Satan, dood en hel aan die kruis is bevestig deur die wonder van die opstanding en daarom onaanvegbaar seker! Dis iets wat HY klaar gedoen het! Dit stimuleer juis weer geloof en dit motiveer ons juis weer tot bekering! Die fokus is dus nie hier op wat ek beleef en voel en ervaar nie, maar op die vaste feite van Jesus se werk. Dis die bron en versekering van ons hoop. Ja, deur die opstanding het ons vandag (wat ook al my omstandighede) weer opnuut HOOP! As jy miskien nou wanhopig en beangs voel moet jy dalk saam met die vroue weer hoor wat die engele vra: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?”
Geliefde kind van God, pasop dat jy nie dalk onbewustelik aan Jesus dink as ‘n dooie veraf historiese figuur van die gryse verlede nie. Jesus is NOU lewend! Hy leef inderdaad en daarom is daar hoop! Hy leef en hierdie feit maak die verskil!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.