BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 01 Julie 2016

TUSSEN ROKENDE RUÏNES

- kry God se kind weer nuwe hoop!



[Wat maak jy as die pôpô die fan strike?]

1 Samuel 30 is ‘n aangrypende verhaal van uiterste benoudheid, geloofsvertroue en triomf... soos dit gebeur het in die lewe van Dawid.

Vooraf : Op hierdie stadium was Dawid nog nie koning van Israel nie, maar ‘n vlugteling vir koning Saul. Vir veiligheid het hy tussen die Filistyne gaan bly en ‘n vertroueling van die Filistynse koning Agis geword. Agis het die stad Siklag aan Dawid en sy vriende as woonplek gegee het. (1 Sam. 27:6) Die Filistyne het hulle nou weer gereed gemaak vir ‘n groot geveg teen Saul en die Israeliete en Dawid wat nou ‘n onderdaan van Agis was het hom en sy manskappe by die Filistynse soldate gevoeg. Dit was natuurlik vir Dawid en sy manne ‘n baie moeilike saak om teen hulle eie volk te gaan veg. Gelukkig het sommige van die Filistyne beswaar gemaak teen hulle teenwoordigheid en so is hulle verlos uit hierdie ongemaklike dilemma. Agis stuur toe Dawid en sy manne terug na hulle woonplek Siklag. Toe hulle daar aankom wag ‘n aaklige verrassing op hulle – in die tyd was hulle weg was het die Amelekiete die stad aangeval, hulle vroue en kinders ontvoer en die stad aan die brand gesteek. 

GROOT BENOUDHEID TUSSEN DIE SMEULENDE PUINHOPE

Ons het dit seker al almal beleef – daardie tye wanneer als wat kan skeefloop, skeefloop en alles wat verkeerd kan gaan verkeerd gaan. Die ergste in hierdie tye is wanneer jou eie mense naaste aan jou, ook nog teen jou draai, jou verwyt en jou wil stenig. 

As selfs jou eggenoot, kinders, familie en vriende, jou afskryf of wil vernietig... Groot benoudheid! Wat maak jy dan? 


As almal jou die rug keer, waarheen gaan jy? Groot moeilikheid – dis waar Dawid hom op ‘n dag bevind het. Sien die hartseer Dawid staan tussen die smeulende puinhope van sy woonplek Siklag. ‘n Toneel van smart en verwoesting... Hierdie dapper krygsmanne het, het soos kinders gehuil oor hulle weggevoerde gesinne. “Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.” (4) 

Maar dis nie al nie, dit lyk of hierdie manne in hulle bittere smart alle sin vir rede verloor en vir Dawid die sondebok gemaak het . Nou wil hulle hul woede en hartseer op hom uithaal. Hulle dreig om hom letterlik te stenig! Dinge het uiters lelik gelyk... wat nou gemaak? 

KIES OM BY GOD TE SKUIL

Wel, Dawid gee nie moed op nie, hy gee nie iemand anders die skuld nie, hy draai nie teen God en verwyt Hom nie. Wat doen hy? Vers 6 stel dit pragtig helder : “..maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.” (OAV)

Wat beteken dit nou prakties? Belangrik weereens, Dawid gee nie boedel oor nie. Dawid gaan sit nie op ‘n hopie en bejammer homself nie. Hy slaan nie paniek en vlug die vlaktes in nie. Ja, alles lyk donker en almal is negatief, maar God is nog steeds God! God het nog nie verander nie, God is nie oorweldig nie, God is nie verslaan of verslae nie. Hy wend hom dus tot God, Hy soek die aangesig en teenwoordigheid van God op. Hier word nie veel uitgewei daaroor nie, maar as ons ook bietjie nadink oor die Psalms kan ons ‘n paar afleidings maak vanuit die konteks:

  • Dawid beoefen geloof in God. Sy geloof in God wat ons kan aflei hy reeds as jong skaapwagter gehad het, wat hy in sy geveg teen Goliat beoefen het, word nou weer in werking gestel. Hy maak opnuut ‘n keuse om hom nie deur die bittere omstandighede te laat onderkry nie, maar in die lewende God te glo. Geloofskeuse! Herhalende keuse! Dis prakties gesproke ‘n keuse om by God te skuil (Vergelyk Ps. 11:1, 16:1, 18:3 ) Dis ‘n keuse om te besef, God is groter as my slegte, hartseer en benouende omstandighede. God is sterker as my vyande oftewel my vriende wat nou my vyande geword het! Hoe kry Dawid dit reg? Hy het in ‘n geloofsverhouding geleef met God – “sy God” Hy moes dit nou net prakties weer in werking stel. Ek en jy moet telkens weer kies om te glo, ongeag ons sigbare omstandighede! “...want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” (2 Kor. 5:7)

  • Dawid dink weer aan God se karakter en God se handelinge met hom in die verlede. God het hom in die verlede gehelp teen die leeu en beer, teen Goliat en hoeveel kere het God nie sy lewe uit die jaloerse Saul se hand gered nie? Dawid dink nugter oor die grootheid en die getrouheid van God en laat nie toe dat sy gevoelens met hom weghardloop nie. Wie aan die getrouheid van God dink moes sekerlik aan sy verbond gedink het met Abram Isak en Jakob. Geliefde, dink terug aan God se getrouheid deur jou lewe, maar nog belangriker dink aan die hoogtepunt van God se goedheid, liefde en getrouheid- die kruis van Jesus! Niks kan ons van hierdie liefde skei nie! “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom 8:38,39)

  • Dawid soek wysheid by God. “Dawid het vir die priester Abjatar seun van Agimelek gesê: "Bring tog vir my die skouerkleed nader." Abjatar het die skouerkleed vir Dawid nader gebring. Dawid het die Here geraadpleeg: "Moet ek hierdie bende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?" Die Here het hom geantwoord: "Ja, want jy sál hulle inhaal en jou mense red." (7,8) Destyds is die skouerkleed en die urim en tummim gebruik om God se wil te soek. Ons het nou die Woord en die Heilige Gees wat die Woord vir ons uitlê. Ons kan bid. Jakobus moedig ons aan om wysheid by God te soek. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jakobus 1:5) Kind van God, onthou, die Woord het iets vir jou te sê in jou huidige omstandighede... Doen moeite om dit uit te vind en toe te pas.

‘N RAMP OMGEKEER TOT WINS!

Jy bevind jouself dalk ook op hierdie oomblik tussen rokende ruïnes – alles is stukkend en swart gebrand, onheilsrook prikkel jou neusgate – jy beleef benoudheid en angs, jou huwelik is besig om te verbrokkel, jou finansies is donker, jou vriende het teen jou gedraai... alles en almal is teen jou. Hoor dan : God is nog daar. Aan sy liefde het nog niks verander nie. Die kruisboodskap bly ‘n onwankelbare feit, 'n vaste baken van God se liefde in alle omstandighede!

NOU...Nou is die tyd om opnuut die aangesig van die Here te soek. Nou is die tyd om weer te kies om kinderlik te glo. Nou is die tyd om die wysheid van die Woord te gehoorsaam. Kom na die Here en jy sal vind hoe waar is Psalm 46:1 se woorde : “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.”


God is getrou! 

God se getrouheid het nie gekeer dat Siklag geplunder word nie, maar God se getrouheid het Dawid wel deur die krisis gedra en daar was ‘n heerlike en gelukkige einde en groter doel agter als. (gaan lees gerus die res van 1 Samuel 30) Dawid verslaan die Amelekiete en maak ‘n baie groot buit. Hy toon sy wysheid deur die verstandige manier waarop hy die buit verdeel en so word sy posisie as toekomstige leier van Israel versterk. 

God verander ‘n ramp in ‘n wins!

2 opmerkings:

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.