BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 07 April 2016

BLINDE BYBELLESERS

- mis die lewe en bly vir altyd in die duisternis!

“Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” Wat ‘n skrikwekkende en hartseer verwyt wat uit die mond van Jesus persoonlik kom. Dis nog meer hartseer as mens besef dat hierdie mense wat nie na Jesus wil kom nie, nie kommuniste, terroriste, misdadigers, korrupte presidente, Moslems of bankrowers is nie, maar ja, hoor mooi, Bybellesers! Ernstige bekwame Bybellesers! Mense wat die Skrifte noukeurig ondersoek het, met ‘n bepaalde doel naamlik om die ewige lewe te verkry! Dis juis vir hulle wat hier deur Jesus uitgetrap word!

“Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.” (Johannes 5:39,40)

‘n Paar praktiese waarhede en belangrike vertrekpunte kom hier na vore :

1.Nie almal wat die Bybel het, lees of selfs ken het al die lewe nie. 

Nie alle Bybellesers is kinders van God nie. Hierdie Jode was ywerige Bybellesers, hulle het groot respek gehad vir die heilige Skrifte, maar tog was hulle verlore. Paulus self was ‘n geleerde kenner van die Skrifte, maar voor sy ontmoeting met Jesus was hy ‘n verlorene en vyand van die waarheid! Dis moontlik om ‘n doktorsgraad in die teologie te verwerf en steeds die ewige lewe mis te loop!

2.Dis moontlik om baie dinge van die Bybel te ken, maar die kernboodskap mis te kyk. 

Wat is die kernboodskap van die Bybel in geheel? Wel , ons weet die Nuwe Testament gaan oor Jesus Christus, maar wat van die Ou Testament? In die Johannes evangelie is daar ‘n hele paar plekke wat dit direk of indirek duidelik maak dat die Ou Testament oor Jesus gaan. Kom ons kyk sommer wat word reg aan die begin van die Johannes evangelie al vir ons gesê in Joh 1:45. “Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: "Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef." (Vgl. ook Joh 2:21,22; 3:10; 5:45-46; 20:9) Ook in die ander evangelies maak Jesus dit baie duidelik dat die hele Ou Testament oor Homself gaan. (Lukas 24:27,44,45) Die Bybel is nie ‘n doel opsigself nie, die Bybel is God se Woord waardeur Hy ons wil lei na ‘n lewende verhouding met die lewende Jesus Christus.*

3. Die Bybel vertel ons van Jesus en as ons na Hom kom kry ons die lewe. 

- Jesus het gekom om vir ons die lewe te gee. Wat beteken dit? Om dit te verstaan moet ons net vinnig weer terug gaan na die tuin van Eden. Met die sondeval het daar skeiding gekom tussen ons en God. Soos wat die takke van ‘n boom afgebreek word en afgesny word van die bron van die lewe. Van nature is ons so afgesny. Dood is skeiding. Daarom kan ons net soos ‘n tak wat los is van ‘n boom, nie lewe nie, laat staan nog van vrugdra en groei. Daarom help dit nie om mense wat nie vas aan Jesus is se gedrag te probeer verander nie! ‘n Tak los van ‘n moederboom, sê nou maar ‘n mangoboom , sal nie vrugte dra nie, al doen jy wat. God het sy Seun Jesus na ons gestuur, nie om ons te veroordeel nie, maar om vir ons redding met ander woorde lewe te bring. Kom ons lees die bekende Joh 3:16, maar ook vers 17. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” Jesus het nie gekom om ons te veroordeel nie, maar as ons Hom nie aanvaar nie, dan bly ons in die dood, bly ons onder die oordeel van God.

- Kom na Jesus is die groot uitnodiging. Jesus het na ons gekom, maar ons word nou uitgedaag om na Hom te kom en so die lewe deelagtig te word. Dit was die groot fout van hierdie mense wat die Bybel wel geken het, hulle het ten spyte van hulle kennis geweier om na Jesus te kom. Hulle het Jesus dus nie aanvaar nie, nie aangeneem nie, nie waarlik in Hom geglo nie. Om Jesus aan te neem, om na Jesus te kom, om waarlik in Jesus te glo is presies dieselfde ding. Dis sinonieme in die Johannes evangelie. Die implikasie is: As jy Jesus nie aanneem nie, verwerp jy Hom en bly in die dood, as jy Jesus aanneem word jy ‘n kind van God en kry deel aan die ewige lewe. “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh 1:11,12) Jesus verwyt hierdie mense met hulle Bybelkennis en al dat hulle nie na Hom wou kom nie. Waarom wou hulle nie na Hom kom nie en wat is vandag nog die kernrede dat mense nie na Jesus wil kom nie? Joh 3:19-21 gee vir ons ‘n duidelike antwoord. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."

Let op : Dis ‘n morele rede, dit het niks met slimgeit of domgeit te doen nie. Jesus is die Lig en ‘n ontmoeting met Hom beteken ook dat ek gekonfronteer word met die werklikheid van my sonde. Hy is soos ‘n lig wat in ‘n vertrek skyn en al die stof en gemors uitwys. Dis die eintlike rede hoekom mense van Jesus wegskram, want hulle wil nie hê dat Jesus die verkeerde dinge in hul lewens ontbloot en hulle daarvan bevry nie! Maar onthou, Jesus laat die lig val op die verkeerde dinge in ons lewe, nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te help. Dit laat mens amper dink aan ‘n kind wat kruppel loop, want daar’s ‘n doring in sy voet. Met groot liefde kyk ‘n pa na sy kind en wil hom help. Daar is net een manier om werklike hulp te bied, die doring moet uitgetrek word. Maar die kind is bang daarvoor. Dalk bang vir die pyn. Dalk bang vir ongemaklike vrae, want miskien het hy die doring opgetel toe hy een aand skelm uit die huis geglip en toe in die donker in die doring getrap... Die kind besef nie, sy pa wil hom nie veroordeel en uittrap nie, maar help... Maar solank die kind bang is om na sy pa te kom kan die probleem nie verwyder word nie. Waarom is jy bang om na Jesus te kom? Watter sonde is vir jou te kosbaar, wat bly steek jy weg? Moenie dwaas wees nie. Die weiering om na Jesus te kom, om waarlik in Hom te glo het skrikwekkende implikasies. “Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe." (Joh 8:24)

Vriend, Jesus wil jou nie veroordeel nie, maar red!

Geliefde, miskien ken jy die Bybel al baie lank. Jy ken al die verhale. Jy het moontlik selfs al ‘n Bybelstudie kursus of twee voltooi. Maar jy skram weg van Jesus. Jy het nog nooit die saak met Hom uitgemaak en jou vertroue kinderlik op Hom alleen gestel nie. So bly jy in die duisternis. Jy mis die lewe...nou en ewig. Hy nooi opnuut : “Kom” En Hy gee vir elkeen wat kom ‘n wonderlike belofte. “"Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37)

Waarom nie sommer nou jou kinderlik in die arms van Jesus werp nie??

*Dis daarom ‘n skreiende skande dat daar op teologiese fakulteite geleer word dat Jesus nie in die Ou Testament te vinde is nie!




 Die grootste nombessie/wilde dadel (Berchemia discolor) wat ek nog gesien het. Oppad na die plaas Mylpaal, noordoos van Tsintsabis. 'n Boom is so 'n pragtige voorbeeld van lewe, maar demonstreer ook doeltreffend wat dood beteken. 'n Tak wat afgebreek word is dood, want hy kan ie sonder die lewensbron bestaan nie. Ons is geestelik dood, geskei van God en moet weer op Jesus (Immanuel - God met ons) ingeënt word om die lewe deelagtig te word.

1 opmerking:

  1. Ja Johannes, ek kyk so rondom my en dan wonder ek so oor die mens en ween saam met God oor alles wat so rondom ons aan die gang is. Die mens, ons mense, wat so leef in vlees en wereldse gemors........waar is hul in Jesus? Jy stel dit so reg, Hy het nie gekom om te oordeel nie, maar om ons bewus te maak van die verkeerde sodat ons kan bely en gered kan word. God se seen jou toegebid met jou toewyding en jou eer aan Hom.

    AntwoordVee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.